NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Martin Labuschagne
is in 1971 gebore uit 'n lang bloedlyn van wit Afrikane wat hulle stamboom kan terugvoer na Memnon, die koning van Ethiopië. Hy verwerf sy BA-graad in Sielkunde en Duits aan die Universiteit van Pretoria (hoewel sy grootste belangstelling nog altyd die filosofie was). Daarna voltooi hy sy LLB-graad en is sedert 1999 in die regsberoep. Tans werk hy as regsadviseur by 'n Johannesburgse versekeringsfirma.
Martin is die outeur van twee tienerboeke, Kodenaam: Centaurus en Op Eie Risiko. Hy het poësie en verskeie kortverhale geskryf wat onder meer in New Contrast, Litera en Die Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer is.
Hy skryf ook soms onder die name jmt labuschagne jr en Lucky Labuschagne.
  Martin Labuschagne

’n Gyselaarsdrama

Vir Liam

Martin Labuschagne


Lettie sit by die venster op die rusbank, reg teen die gordyne.

Sy sit haar teekoppie op die piering wat sy in haar hand hou, neer en loer na Loekie waar hy in sy rolstoel sit. Hy glimlag toe sy sy oë vang en probeer iets sê, maar sy kakebeen vertrek net onwillig om ’n woord uit te kry. Hoeveel jaar probeer hy nie al iets sê, maar kry dit nie reg nie? wonder sy.

Haar elfjarige seun maak rukbewegings met sy hande en brandmaer armpies. Nie een van sy spiere wil luister na die seine van sy brein nie. Hy is hulpeloos teenoor hierdie gedrog: spierdistrofie. Dit gee Lettie altyd ’n steekpyn om hom so te sien.

Sy kyk weg en trek die gordyn eenkant om uit te loer. Buite skyn die laatoggendson op die teerpad en sypaadjie. Hulle tuintjie bestaan maar uit ’n paar meter se grasperk en een ry rose. Sy wou ’n groter bedding gehad het, maar Lukas (haar man) kon net dié plek bekostig toe sy werk hom na hierdie godverlate plek oorgeplaas het. Wat kan ’n mens nou doen? Werk is werk en dis deesdae so skaars soos hoendertande. Jy moet maar gaan as hulle jou stuur.

Met ’n sug tel sy die koerant op en kyk na die voorblad. In groot, swart letters proklameer die Afrikaanse dagblad: Callie en Monique — uiteindelik vry.

“Ai, dis darem ’n tragiese ding wat met hulle gebeur het,” sê Lettie hardop en skud haar kop. “Om te dink dat hulle so aan die genade van ander mense uitgelewer was. Dis net te onchristelik.”

Minah kom die kamer binne en Lettie sit die koerant neer. In Minah se hande is ’n skinkbord met ’n bord pap op. Dit is Loekie se kos. Langs die bord lê ’n lepel. Lettie sug toe sy dit sien, ofskoon sy hom al duisende kere gevoer het, kan sy vandag net nie die krag vind om dit te doen nie. Sy wil net hier in die sonnetjie sit — die hele dag. Dit moet hierdie affêre met Callie en Monique wees wat haar so ontstel, besluit sy. Sy volg die storie elke dag en knip die toepaslike koerantberigte uit. Die uitknipsels lees al soos ’n sepie-vervolgverhaal. En sy is tog so mal oor die sepies!

“Minah, gaan jy nie dié naweek Pietersburg toe nie?” vra Lettie toe Minah die skinkbord op die koffietafel neersit.

“Nee, miesies,” antwoord Minah en sug, “die geld hy is klaar.”

“Is jou pay op?”

“Ja, miesies. Dis Jack, miesies. Hy het weer moeilikheid gemaak by die sjebeen. By die court hulle soek hom die geld vir die bail, anders hulle gaat hom nie los nie.”

“Ai,” sê Lettie en skud haar kop. “Daai kind van jou maak baie moeilikheid, jy moet hom uitskop daar by jou huis.”

“Ja, miesies, maar waar gaat hy slaap as ek hom wegjaag?”

“Hy moet gaan job soek!”

“Miesies, die werk hy is op. Die mense het nie meer geld nie, so ons kan nêrens loop nie.”

“Ja,” sug Lettie, “nêrens sonder geld nie.” Ingedagte herhaal sy die woordjie nêrens. Toe sy weer wakker skrik, is Minah klaar weg. Dis net sy en Loekie wat in die vertrek is. Hy kyk met groot oë na sy papbord en na haar, maar sy maak asof sy dit nie sien nie.

Nie nou nie, dink sy, nie nou nie.

Sy kyk weer by die venster uit. Buite stap ’n man die pad langs. Sy herken hom: dis Maans. Sonder om op haar horlosie te kyk weet sy dat dit elfuur is, want hy stap stiptelik dieselfde tyd voor haar huis verby. Sedert hy daardie hartaanval gehad het, moet hy elke dag oefen. Lettie kyk na sy gladde kuite. Hy gaan eendag mooi sterk kuite hê, dink sy. Vir ’n rukkie hou sy hom dop, maar ’n steekgevoel in haar bors laat haar wegkyk.

Sy kyk weer na Loekie wat vol afwagting na haar kyk, maar sy ignoreer hom net en tel haar koerant op. Sy kyk na Callie en Monique wat arm om die nek saam met Mbeki staan. Sy dink aan Lukas. Hy is heeldag op die pad en as hy huis toe kom, dan is hy lus vir niks nie. Nie vir TV kyk nie, nie vir koerant lees nie, nie vir ... vir niks nie.

“Dit is darem erg as mense jou met geweld dwing om iewers te bly waar jy nie wil wees nie. Gelukkig is hulle nou weer by die huis,” sê Lettie met ’n sug.

Sy sit die koerant neer en staan op. Loekie hou haar elke beweging dop — sy mond vertrek elke keer as hy iets wil sê. Lettie tel die bord pap op en gaan sit op ’n stoel langs sy rolstoel.

Loekie glimlag krom.

Sonder ’n verdere woord begin sy met die lang prosedure om hom te voer, soos elke dag van haar lewe.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.