NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Kirby van der Merwe
is ’n beeldhouer en ’n skilder. In sy vrye tyd ry hy fiets. Sy debuutroman Klapperhaar slaap nie stil nie verskyn in 1999 by Kwela.
  Kirby van der Merwe

Huis met voëls en bonsai

Sy het opgehou om die plante nat te maak, sit net by die oop skuifdeure van die klein geplaveide patio. Die huis met sy eierwit mure, erkers en witgeverfde hortjies kyk vanagter ’n hoë sekuriteitsmuur op die besige hoofstraat uit. Sy gee nie meer die plante in die potte water nie. In die sementblombakke staan ou potgebonde struike wat lankal uitgeplant moes gewees het. Moeë plante met naas hulle ’n toegerankte sementbeeld van ’n jong seun - bros, verswak deur lange jare se sproeierwater.
     Toe hy nog hier was, haar man, het hy sy hand op alles gehou. Dit was toe groen en koel hier in die klein voortuin waarin die son nou begin opdam. Dit was tóé. Maar nou, merk sy op, nou bly die plante dors. Al laat loop sy die sproeier heelnag. En die groot populier is besig om die plaveisel op te lig soos ’n hand wat onder die baksteenlaag ingesteek word en suutjies begin vuismaak.
     Hy was lief vir dié tuintjie en vir haar. En vir sy bonsai. Met liefde het hy hulle wortels tussen deur en oor klippe gedwing met sagte draad, met die snoeisker, met die mes. Die wortels met net genoeg grond en lagies mos bedek. Die bonsai staan nou loom en dronk van dors in hulle handjies vol grond. Dwerge met stamme geknoets van ouderdom en wind en weer en van die verbygaan van tyd.
     Flardes stemme dryf oor die hoë wit muur na haar toe. Sy hoor die armes, die verdruktes, die stenen des aanstoots. Ook die gedreun van karre.
     As lafenis teen die hitte gaan haal sy iets koels. Roomys en kaaskoek. Spierwit roomys wat smelt oor melkwit kaaskoek. Op wit porselein. Onder die roomys lê die blou vispatroon soos ’n blou aar. ’n Skoon blou aar. ’n Koel blou aar - polsaar, boudaar.
     Tussen die happies deur maak sy met haar vulpen notas in haar dagboek:

     Ek het ’n boek, ’n eerlose boek.
     In my eerlose boek uil ek. Stort ek woorde.
     Mis ek, mis ek jou,
     hier en nou.
     got, mis ek jou
     eet ek uileier.
     Oor jy nie terugkom nie.
     Omdat jy nie wíl terugkom nie.Oor jy móét terugkom.
     Na dié stil huis met die stemme en die stil voëls.

Daar sit jy, oorkant my. Ek uitgedos, feather boa om die nek. Ons wag vir die gaste. Hoe bekend was ons nie vir ons onthale nie! Hoe het ons nie in dié huis onthaal nie! Ek was altyd wel ter tale. “Die pad na hierdie vrou se hart loop deur haar mond en maag,” sê ek.
     “Wil jy iets hê? Is jy honger?” vra jy.
     Ja, het ek met my kop geknik.
     Toe het jy die vlak bord kwarteltjies voor my kom neersit. Twintig voëltjies - geslag, gestroop, geskrop, gestop en diep gebraai. Op hulle ruggies gerangskik, maar met die pootjies steeds behoue. Soos ’n winterwingerd net voor die snoeisker ingelê word het die vlak ovaal bord van ’n afstand gelyk. Soos wingerdstompies oortrek van droë rankers. Ek tel ’n kwarteltjie aan die verskrompelde pootjies op. My tong vee oor my lippe. Dan byt ek deur die velkorsie in die kwartellyfie.
     “Eet, eet,” por ek. “Jy het nooit eetlus nie. Jy eet soos ’n voëltjie, pik net aan die kossies.”
     Maar jy wou nie eet nie.
     Toe sê ek moedswillig: “Jy doen dit nie vir my nie. Nie meer nie.”
     “Wat sê jy?” vra jy. Seergemaak kon ek sien. “Wat wil jy eintlik sê?”
     Ek kyk jou reguit in die oë: “Jy doen dit nie meer vir my nie.”
     “Na al die jare?” vra jy gekwes
     “Jy is oud in jou denke,” sê ek.
     “Maar ek is lief vir jou.”
     Jy het jou arm om my kom sit. Maar ek het jou weggedruk.
     “Moenie meer aan my raak nie.”
     “Maar jy maak vir my saak.”
     “Jy is oud in jou optrede.”
     “Maar ek gee om vir jou.”

Toe een oggend hang daar ’n uil aan ’n toutjie uit die plafon in die gang. ’n Uil met ’n figuursaag uit plywood gesaag. Hy het vol afwagting gelag toe sy die gang af kom, asof sy bly sou wees. “Kyk wat het ek vir jou gemaak.”
     Hy het gewys - die toutjie onder die voël se pens ’n ligte trek gegee sodat die voël stadig, egalig vlerk begin klap het. In die gang begin vlieg het. Begin wieg het omdat die balans tussen liggaam en vlerke deur die trek versteur is.
     Die vlerkklap was net ’n soek na balans en toe die ewewig weer herwin is, het die geflapper verstil, het die voël met die geverfde uilgesig en groot lumineuse oë ophou vlieg.
     “Dis heeltemal onvanpas in die huis,” het sy gesê en verbygeloop kombuis toe vir haar ontbyt. By die tafel het hy haar stom aangestaar met sy hartseer uilgesig, met sy diep uiloë. Toe sug hy: “Ek is moeg vir krummels, korsies; vir oorskiet.”
     En toe is hy weg, haar man. Gaan reis. Oorsee, op soek na die vabond-somerdae van sy jeug, sy Europese voorgeslagte. Maar nie voor hy nog ander hangende voëls ook gemaak het nie. Die hele gang vol. Tot uit die dak van hulle slaapkamer het hulle gehang.

Sy skryf in haar dagboek:

Ek het jou weggedryf. Nou speel jy: swaarvlerk - donkervlerk, flap-flap-flap. Voor jy vort is, los jy die huis vol onsinnighede van ’n ander aard vir my: Papiertjies, velletjies met notas, aantekeninge: Ek sal weer gevlerk wees. Weer geteer en geveer wees met sagte donsveertjies, borsveertjies. Blink gatvere.
     Ook dié lysie wat ek nou eers verstaan, later eers ontsyfer het:

  1. Vrou verleidende wese van lae status.
  2. Augustinus koppel seks aan aartssonde. Mag plaasvind, maar sonder plesier.
  3. Selibaat, hoër geestelike bevrediging.
  4. Zinzendorff: seksdaad - fokus op Christus terwyl dit plaasvind.
  5. Seks is afstootlik. Vrou moet man terwille wees.
  6. Corpus Christi
Jou wroegings met geloof. Oor my ongeloof.
     Corpus Christi. Wees die liggaam van Christus. Neem ander se laste op jou.
     Is dit ’n opdrag? Is dít wat jy van my wil hê?
     
     Dan besluit sy: Wanneer jy terugkom, sal jy my kan vra: “Vrou, waarom is jou bobene so blou; hoekom is jou liggaam so gekneus, my vrou?”
     Toe sy die gonser hoor, druk sy die knoppie wat die hek laat oopswaai.
     Die bonsai-boompies het finaal in die son verstar.
     Hy kom staan by haar. “Brood en water,” vra hy.
     Sy gaan lê woordeloos op die warm bakstene. Sy bedien die sakrament aan hom: Neem, eet, dit is my liggaam … Kom julle ook, almal wat moeg en honger is …
     Op haar knieë; op die naat van haar rug. Meer as een keer per dag. Buite, in die volle son agter die wit veiligheidsmuur waar die hitte opdam.
     Dan op ’n dag swart man op wit vrou. ’n Swetende man wat stink van straatmoegheid, van mismoedigheid, lê in haar naaktheid, lyf op lyf, vel teen vel. Missionary position, dink sy. Vir hom en vir die ander wat ook ingekom het. Sy hoor sy stem: “Doen dit, net nie ter wille van my nie. Nie oor die voëls … nie oor die sterwende bonsai nie.” Toe weet sy nie meer nie.
     Later kom sy op haar bed in die hoofslaapkamer by. Die maan hang broeis en ooglik in die dakvenster. Voor die maan beweeg iets verby. ’n Uil? Of is dit dalk net ’n vlotter in my oogbal, wonder sy. Dan weer swart mans op wit vrou, in die hitte en die sweet. Oor en oor asof hulle ’n groot honger het. Corpus Christi. Weer en weer, sonder verposing, asof hulle onversadigbaar is.

’n Huis met stemme. ’n Oumenshuis. Die maan hang in die dakvenster en in die donker gang sweef voëls bewegingloos en bedek grys matte die vrot vloerplanke. Teen die mure sit geraamde foto’s - Europees: ou geboue, stadspleine, Gotiese katedrale met dakspuiers wat op mensvlermuise lyk.
     In die gang sluip ’n klein vaal huismuis al teen die vloerlys langs, stop en lig hom op teen die muur asof hy uitreik na die maan, ’n skietgebedjie opstuur - ’n oggendgebed na die maan in die dakvenster. Bo hom hang die voëls, sug die voëls; hang die uil, die slap reier, die kokkewiet en ’n baba muisvoël.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.