NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



André Krüger
Ek is gevaarlik naby aan veertig en gee tans met wisselende grade van onbeholpenheid voor om ’n professionele beroep te beoefen. Intussen droom ek van ’n beter, meer ordentlike lewe. Ek het meer as een, maar minder as vyf grade. Soms wens ek dat ek nog Gitanes gerook het.
  naam

Somervakansie

André Krüger

“Ek was nog altyd bang vir die weerlig,” sê sy en wonder of hy gaan belangstel in haar storie. “Van kleins af, van die keer dat dit my amper raakgeslaan het.”

Hy sê niks en sy kyk hoe sy hande oor mekaar gevou lê op die tafel voor hom, sy vingers effens gekrul asof hulle dink hulle moet iets vashou.

“Ek was op pad terug van die skool af. Daar was ’n veld waaroor ek moes loop om by die huis te kom. Die weer was swaar, maar ek was al dertien en het gedink dis hoog tyd dat ek ophou om bang te wees. Dit het gerammel en geblits, maar ek het my arms gevou en met my oë op die grond voor my geloop, te bang dat as ek sou opkyk, ek moed sou verloor en begin hardloop.”

Sy kop is weggedraai en sy oë volg die slingerpad wat ’n kelnerin tussen die tafels deur vleg.

Hulle sit buite op houtbankies vasgebout aan vierkantige pyptafels met plankblaaie. Seemeeue krys waar hulle met geboë vlerke laag oor die water draai. Dis ’n warm Saterdagmiddag in Kaapstad, en net die tweede keer in haar lewe wat sy by die V&A Waterfront is. Sy is gewoond aan die droë hitte van die Transvaal, en al die water om haar maak haar effens benoud.

“Julle kry nie sulke swaar weer hier nie, nè?” vra sy.

“Nee,” antwoord hy en skud sy kop, kyk steeds nie na haar nie maar vroetel met die plastiektamatiesousbottel voor hom op die blad van die tafel.

“Ook nie weerlig nie?”

“Nee.”

“O,” sê sy dan en wonder of sy moet voortgaan.

Sy swart hare is kort geskeer, korter as wat sy dit onthou, en sy let nou op dat sy haarlyn besig is om hoër teen sy voorkop op te kruip.

“Dit was een van daai Hoëveld-donderstorms, die soort wat ons in Desember en Januarie kry, as die hele lug so dreigend blou word en alles donker, net die elektriese wit van die weerlig wat nou en dan die wêreld helder maak.”

By die tafel agter haar lag ’n vrou hard en sy loer oor haar skouer. Sy is dik en baie wit, haar boarms bobbel saam met haar lyf, ingeprop in ’n T-hemp wat te klein vir haar lyf is. Sy het ’n bofbalpet op haar gekrulde bruin hare met die letters N en Y inmekaargestrengel op die voorkant. By haar aan tafel sit ’n skraal man en drie kinders, die oorblyfsels van hul visdis oor die oppervlak gestrooi tussen leë koeldrankblikkies. Die man lyk verveeld en kyk op sy horlosie.

Sy kyk weer voor haar en sien dat hy steeds met die tamatiesousbottel besig is, sy gesig strak en sy donker oë onsigbaar agter die swart glase van sy sonbril.

Is hy ook verveeld? wonder sy en voel skielik paniekerig. Sy verskuif haar gewig op die bankie waar haar boude lam geword het van die harde hout. Straks stel hy regtig nie meer belang nie, dink sy dan, en sit sy nou daar en maak ’n gek van haarself. Tog begin sy weer praat.

“Net voor dit was daar ’n harde slag en al die ander kinders het begin hardloop, maar ek het verseg. Maak nie saak hoe hulle gelag en geskree het nie, hoe hulle my aangepor het om ook te hardloop nie, ek het steeds bly loop teen net dieselfde pas.”

Sy hou op praat as die kelnerin aangestap kom na hulle tafel met ’n skinkbord vol gelaai met borde, blikke en glase. Sy sit die gebraaide vis en skyfies voor hulle neer, laai die glase en blikke af en glimlag vir hom. Hy glimlag terug en sy voel sommer vies, kyk af na die verlepte slaaiblaar en papierdun tamatie op haar bord en wonder of sy dit met opset so vir haar opgedis het.

Hy gooi bier in sy glas, stadig, en versigtig gekantel sodat die skuim nie te hoog opbou nie.

Sy volg sy voorbeeld, ook versigtig om te wys dat sy weet wat sy doen, maar kry dit tog reg dat die skuim oor die rand loop. Sy suig aan die glas om te keer dat meer nie uitloop nie. Vir die eerste keer voel sy sy oë op haar en haar gesig voel warm, nie net van die son nie.

Dis warm buite en sy probeer onder die skadu van die groen sambreel wat bo hulle koppe oopgeslaan is bly, maar elke keer as sy vergeet en haar arm op die blad sit, brand die son haar vel en dan sien sy hoe sweet tussen die haartjies op haar voorarm uitslaan. Die houtoppervlak van die tafel is hier en daar taai van gemorste koeldrank en bier, en sy probeer om net die punte van haar elmboë daarop te rus.

Miskien het sy ’n fout gemaak om hom hier op te soek, dink sy as sy aan ’n aartappelskyfie kou. Miskien wou hy haar nie regtig weer gesien het ná die naweek in Johannesburg nie.

Hy was daar met besigheid en hulle het by haar werk ontmoet, waar hy ’n lesing oor finansiële beplanning en modulering aangebied het, onthou sy terwyl sy oor die kabbelende water uitkyk. Sy het onmiddellik van hom gehou, van sy breë glimlag en wit tande, sy dik vingers en gewrigte, selfs die swart borshare wat sy onder sy losgetrekte das kon sien later die aand, toe ’n klomp van hulle na ’n restaurant by die waterfront in Randburg toe is om te gaan eet.

Van waterfront tot waterfront, dink sy en vat nog ’n sluk bier. Sy is nie seker dat sy so helder oordag wil sit en bier drink nie, maar deels weens die invloed wat dit dáárdie keer op haar gehad het, het sy klaar besluit om haar skrikkerigheid oorboord te gooi en in te gee, om te probeer om die gees terug te vind wat hulle albei daardie aand beetgepak het. Hulle was tot in die vroeë oggendure in die restaurant, later na ’n raserige drinkplek langsaan waar die oorverdowende musiek hulle gedryf het om te dans tussen die ander dronk jongmense, waar hy in haar oor gefluister het dat hy van haar hou en dat hy aan haar wil vat, waar sy haarself oorgegee het aan die oomblik en haar hand onder die tafel tussen sy bene ingedruk het, hom gevryf het todat sy gevoel het hoe hy onder haar hand styf word. Sy het hom saam met haar teruggeneem na haar meenthuis, net om die draai, en hulle het liefde gemaak, sommerso op die mat op die vloer van haar sitkamer, en hy het gesukkel om sy ereksie te hou - te dronk, het sy besef - maar het aangehou todat hy later ’n orgasme van soorte gehad het. Daarna is hulle bed toe, en het later die oggend, net voor die son opgekom het, weer, en dié keer baie meer suksesvol, seks gehad. Sy was bly dat dit nog nie lig was nie, dat hulle albei nog aangeklam was, sodat sy haar nie hoef te bekommer het oor haar lyf nie, dat hy haar sou sien nie, en het haar oorgegee aan die sensasies, en ’n sidderende, rug-buigende orgasme gehad wat haar skoon uitasem gelaat het.

“Ek is nie gewoonlik so skrikkerig nie, selfs nie toe ek ’n kind was nie,” gaan sy voort en dwing haar gedagtes weg van haar herinneringe af. “Maar die weer het my nog altyd geïntimideer.”

Sy sien hoe hy die vis met sy mes sny, hoe hy dit met sy vurk in sy mond druk en kou.

Die aartappelskyfies is verbasend lekker en sy druk die een na die ander met haar vingers in haar mond, sluk nou en dan aan haar bier en vee haar vingers aan ’n papierservet af. Sy het net met haar vingers begin eet toe sy sien dat hy dit ook doen - nie omdat sy sy goedkeuring gesoek het nie, maar omdat sy nie onbeskof wou wees nie.

“Elke jaar as die somer kom het my pa my begin spot, my gevra of ek weer onder die bed gaan wegkruip …”

Hy kyk na haar; sy neem aan dat dit ’n vraende blik is want sy een welige wenkbrou staan brug oor die bokant van sy sonbril.

“Ja,” lag sy vir haarself. “Ek het eenkeer daar weggekruip toe die weer buite slaan. Ek was seker so vier of vyf jaar oud, en het my dinges afgeskrik toe daar ’n harde slag langs die huis was.”

“Nie die huis raakgeslaan nie?” vra hy en sny nog ’n stuk vis.

“Nee,” sê sy en skud haar kop, verlig dat hy gepraat het. “Nie eers amper nie, maar dit was so ’n harde slag dat ek gedink het die huis gaan ontplof.”

Ná hulle oggend van hartstog in haar bed het hulle tot laat geslaap, onthou sy weer as sy kyk hoe hy eet; metodies en sorgvuldig, elke krieseltjie opgeskraap op sy vurk en versigtig na sy mond gekarwei, so asof hy konsentreer om elke smaak en sensasie te onthou vir latere gebruik. Sy het gestort en aangetrek terwyl hy nog gelê en slaap het, omdat sy nie wou hê dat hy haar moes sien nie. Dis nie dat sy lelik of te vet is nie, het sy gerasionaliseer, maar sy het tog skaam gevoel, en al die klein dingetjies wat haar van haarself pla - haar hare wat te dun is, haar bobene en enkels te dik en haar boude te groot en gedimpel - alles het skielik vir haar veel erger as gewoonlik gelyk in die harde daglig in haar badkamer.

Teen middagete is hy daar uit, terug na sy hotel, en sy het aardig gevoel toe hulle ongemaklik in die kar soen waar sy hom voor die gebou afgelaai het.

Hy het haar telefoonnommer gevra en sy het dit op die agterkant van ’n advertensie, een wat sy onder haar reënveër gekry het, geskryf, landlyn en selfoon, en was baie afgehaal toe hy haar nie dié aand bel nie.

Maar hy het haar die Sondagoggend gebel, en sy het hom gaan oplaai, geklee in ’n nousluitende swart T-hemp met ’n lae hals wat haar borste beklemtoon het - een wat sy nie gewoonlik sommer gedra het as sy nie wou aandag trek nie - en stywerige jeans wat netjies om haar boude gepas het, en hulle is na die vlooimark in Rosebank toe waar hulle rondgedwaal het tussen die mense en die stalletjies, waar hulle blikkies koeldrank gedrink het en waar hy vir haar ’n etniese armband gekoop het. Later het hulle geëet in die Thaise restaurant net daaronder, en vonkelwyn gedrink, tot so negeuur die aand, todat hy voorgestel het hulle weer na haar huis toe gaan.

Hulle het daardie aand twee keer seks gehad; heerlike, ongeïnhibeerde vleeslike omgang wat haar vol en warm laat voel het. Die volgende oggend, ligdag, het sy hom teruggeneem hotel toe en hy het vir haar sy nommer in Kaapstad gegee, haar gesoen en gevra dat sy hom moet bel, hom moet kontak as sy daar is.

Sy het ’n paar dae gewag, maar ná ’n week het hy steeds nie gebel nie, en sy het hom, na baie wroeging, nog vyf dae later by die werk gebel. Hy was baie besig, kon nie lank praat nie, maar het gesê hy is bly om van haar te hoor. Daarna het hulle redelik gereeld, elke week of so, met mekaar gepraat, maar dit was maar altyd oor dié of daai - nooit regtig iets ernstigs of diepsinnigs nie; nooit iets intiems of persoonliks nie; niks oor wat tussen hulle gebeur het nie. Uiteindelik het sy hom vertel dat sy die Desember afkom Kaap toe. Hy’t gesê sy moet hom bel as sy hier aankom, en sy het.

Nou sit hulle daar.

Sy kyk na sy hoekige kakebeen en sien dat hy nie geskeer het nie. Sy brand om aan hom te vat, maar is te skrikerig, te onseker oor hoe hy voel.

Hy was laat, hier by die eetplek waar hulle afgespreek het om te ontmoet, en sy het naderhand gewonder of hy sou opdaag. Miskien is hy getroud, het sy gedink en onthou dat hy nie ’n ring dra nie. Miskien wóú hy haar nie regtig ontmoet nie, ten spyte van wat hy gesê het. Miskien was dit vir hom net ’n los naweek - anonieme kondoomseks met iemand wat hy nie juis weer wou sien nie. Miskien wou sy iets maak van niks, en miskien was hy vies omdat sy hom so agtervolg het, het sy ook gedink en al die gesprekke probeer onthou wat hulle gehad het - elkeen ontleed om alle moontlike betekenis daaruit te myn todat sy opgekyk en haar hart in haar keel gespring het toe sy hom sien aangeloop kom. Sy bene was bruingebrand, fris en harig onder sy kortbroek, en sy het onmiddellik onthou hoe sy gewig op haar gelê het, hoe haar dye seer geword het toe sy onder hom oopgespalk was. Hy is die grootste man met wie sy nog geslaap het, het sy gedink, en gevoel hoe haar hele lyf warm word. Hulle het omhels en mekaar gesoen, maar redelik kuis, soos dit vriende gewoonlik betaam.

Hy’s mooier as sy, het sy ook gedink toe hulle gaan sit en sy het haar sweterige handpalms teen haar dye afgevee toe paniek en ’n besef van haar dwaasheid haar wou oorweldig.

Vir ’n rukkie eet en drink hulle albei in stilte, dan begin sy weer praat as sy onaardig voel.

“Dis nie altyd maklik om vir iemand te verduidelik hoe geweldadig die weer op die Hoëveld kan wees nie. Hoe hard dit kan donder en hoe heftig dit kan reën nie.”

“Dit reën mos hier ook,” sê hy en sit sy mes en vurk netjies langs mekaar neer op die bord.

“Ja, maar dis nie dieselfde nie. Julle het so … so ’n beskaafde soort van weer hier. Sulke sagte, ekskuus-my-dat-ek-op-jou-reën soort van reën.”

Dit lyk of hy wil-wil glimlag.

“Ons weer is wild en woes. Die soort van: hardloop-jou-donder-of-ek-kry-vir-jou tipe.”

Hy drink sy glas leeg en kyk om, soekend na die kelnerin. Sy kom nadergestap met ’n glimlag en ’n gans onnodige wikkel van haar heupe en hy bestel nog twee biere, sonder om haar eers te vra. Sy wil eers keer, voel klaar effe lighoofdig, maar besluit dan te hel daarmee - sy is immers met vakansie.

Sy was so bly toe haar vriendinne haar uitnooi om saam met hulle Kaap toe te gaan dat sy onmiddellik ingestem het, opgewonde oor die geleentheid om hom weer te sien, selfs nog voor sy eers met hom gepraat het om te hoor of hy háár sou wou sien.

Vandag is al drie haar vriendinne op die strand by Clifton, en sy sal hulle later bel om te hoor waar hulle mekaar moet ontmoet, mits ... maar sy wil eerder nie aan die mits dink nie en eet gou haar laaste stuk vis voordat sy ook haar eetgerei rangskik en die bord van haar wegstoot.

Die kelnerin daag op met die twee vars blikkies en hy skink dit in skoon glase - hierdie keer vir hulle albei - terwyl sy die laaste van haar eerste wegsluk.

’n Boot kom verby ge-putter en sy kyk na die mense in kortbroeke en T-hempde wat op die dek rondstaan, kyk af na die water as sy sien hulle wys, en sien hoe ’n rob homself op sy rug draai en die mense op die boot aanstaar met groot swart oë.

“En toe?” vra hy en gee haar glas aan, sy donker oë steeds agter die lense van sy bril verberg.

“O,” sê sy en onthou eers weer waar sy in haar verhaal was. “Ek stap nog so, koponderstebo, met die gerammel en geblits bokant my, toe word alles skielik helderwit, en toe gitswart. Ek het verstar, vir ’n oomblik net so in my spore bly staan, maar die volgende oomblik was daar ’n geweldige slag, so hard dat die aarde geskud het en daar was ’n reuk in die lug … ek weet nie hoe om dit te beskryf nie: soos van elektrisiteit, as ek so kan sê, al weet ek nie hoe elektrisiteit ruik as dit by die huis is nie.”

“Die weerlig,” por hy haar aan.

“Ja, die weerlig. Dit moes baie naby aan my geslaan het, maar ek het nie gekyk nie, net begin skree en vinniger gehardloop as wat ek nog ooit vroeër in my lewe het. Ek het nie eers geweet ek skree nie. Die slag was so geweldig dat ek niks kon hoor nie, net so ’n harde suising in my kop, maar my ma het my gehoor aankom, al skreeuende, en my by die tuinhekkie ingewag. Ek’t haar sommer uit die pad uit gestamp en in die huis in gehardloop, reguit kamer toe en onder die bed in.”

“Jy moes jou gat af geskrik het,” sê hy met ’n halwe glimlag wat sy mondhoeke laat opkrul en sit sy hande om die half gedrinkte glas bier voor hom.

Sy knik, drink ook bier en wonder hoekom sy die storie in die eerste plek begin vertel het. Seker maar omdat sy verleë en onseker gevoel het, seker maar omdat sy weet sy kan hom maak lag - dit was hoeka nog altyd haar beste wapen.

“My ma het my onder die bed uit gekry, maar ek kon nie lekker hoor wat sy sê nie. Ek’t gesien hoe haar mond beweeg en haar lippe woorde maak, maar die geraas in my kop was te hard vir my om haar stem te hoor. Ek kon vir dae daarna nie goed hoor nie, en dit het weke gevat, en twee afsprake by ons huisdoktor, voor ek weer ordentlik kon hoor.”

Sy dik bietjie aan, maar hy glimlag en dit spoor haar aan. Sy maak of sy weifel, asof sy nie weet of sy nog wil vertel nie, maar praat dan tog, en voel onthuts as sy voel hoe haar wange onverwags begin gloei.

“En dis nie al nie …”

“Wat nog?” vra hy.

“Nee, ek wil eerder nie sê nie.”

“Hoekom nie?”

“Dis ’n … verleentheid.”

“Jy kan mos nie ’n storie begin en dan nie klaarmaak nie,” sê hy en klink verontwaardig.

Sy wag todat sy skat die oomblik reg is.

“Ek’t my broekie natgemaak …” begin sy, maar kan nie verder nie want hy bars uit van die lag.

“Dis nie snaaks nie!”

“Nee, jy’s reg, jammer - dis nie snaaks nie,” vra hy verskoning. Hy skuif sy donkerbril op en balanseer dit bo-op sy kop. Sy glimlag is wyd om sy breë tande en die lagplooie om sy oogkaste lê diep in sy gesig gekerf. Met sy swart glimlaggende oë op haar sien sy hy probeer om nie weer te lag nie, reik oor die tafel en vat haar hande in syne en sy dink: dis OK, ek’s OK, hy hou van my, en sy lag saam met hom.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.