NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



André Krüger
Ek is gevaarlik naby aan veertig en gee tans met wisselende grade van onbeholpenheid voor om ’n professionele beroep te beoefen. Intussen droom ek van ’n beter, meer ordentlike lewe. Ek het meer as een, maar minder as vyf grade. Soms wens ek dat ek nog Gitanes gerook het.
  André Krüger

Ek en André Stander

André Krüger

Ja, ek weet ek lyk nie nou na veel nie, maar daar was ’n tyd, my ou, ’n tyd wat ek famous was. Ek was nie altyd so down-and-out nie, ek’t ’n job gehad en alles. Oukei, nie net ’n job nie, ek het baie jobs gehad, so oor die jare. Kry nêrens ingepas nie, sien, ek’s altyd net vir ’n rukkie daar en dan’s daar moeilikheid. Maar in die eighties was ek nog oukei; ek’t toe nog gescheme ek gaan ’n trade hê. Ek’s uit die skool uit, sien, in standerd agt, in eighty one — kon dit net nie handle nie. Selfs toe hulle my in die praktiese klas sit, fokôl gehelp. Ek kon skool net nie vat nie, nie die onnies nie, nie die ander kinders met hulle fancy pa’s nie, nie die cherries met hulle pienk knieë nie, niks. Ek was altyd in die moeilikheid, en toe reken daai doos van ’n meneer Noordwyk mos ek’s dom. Ek’s nie fokken dom nie — dit vat my net so bietjie tyd om by te kom. Maar dink jy hulle wou my die kans gee? Uh-uh, not on your life, toe vat ek maar my goed en toer. Die army wou my ook nie hê nie. Ek scheme dis oor die asma, ek’t maar altyd gesukkel daarmee, al het die een loet ook iets gesê van stupit. Hulle moere, anyway, ek’t ’n goeie tyd gehad terwyl al die ander ape moes gaan suffer in daai kakbruin overalls. Ek’t gescheme dis die hemel, daai eerste jaar of so uit die skool uit — magic. In die buitekamer daar by my ou lady se huis in Germiston, en as sy weg is werk toe, in die huis in sodat ek video’s kan kyk — lekker movies soos The Exterminator, Rockey one en two, Green Ice, Not Now, Darling en selfs ou movies soos Death Wish, met Charles Bronson.

Daar was ’n videowinkel net so ’n entjie weg in Lambton, agter ’n kêffie, met ’n ouerige cherrie wat daar gewerk het. Sy’t my gesmaak daai een, altyd haar oë groot gemaak vir my en oor die counter geleun of langs die rakke gebuk as ek daar was. Sy’t my movies laat leen sonder om te betaal, en ek was elke dag soontoe op my fiets om vir my te gaan kry. Of course, toe ek eendag lekker jags word toe sy weer so buk, en so bietjie teen haar druk, toe freak sy heeltemal uit en sê sy gaan die cops op my sit. Ek’t toe maar eerder nie weer soontoe gegaan nie en, anyway, eventually het dit ook maar boring geword by die huis, en my ma het my ’n harde tyd begin gee — gesê ek moet ’n job kry en ophou om op my gat te lê en niks doen nie. Sy’t my getune sy’t nie geld om agter my te kyk nie. Kak, man, ek weet van al daai manne van die werk met wie sy rondgehang het, ou, getroude manne met geld. Ek het hulle gecheck deur die venster as hulle haar kom aflaai, met hulle Merc’s en hulle BMW’s, dan is sy lekker gepis as sy by die deur inkom, en haar hare deurmekaar.

Dit was ’n ou ding van haar daai — vandat my pa sy gat gesien het op sy Kawasaki op pad terug van die myn af — dat sy so met die mans rondhang.

Soms is sy weg vir die hele naweek, Sun City toe, vir werk, het sy altyd gesê, maar ek’t geweet dit was saam met een van daai mans. Anyway, ek’t ook maar gatvol geword om net so by die huis te lê en die video’s oor en oor te rewind en te speel oor die stukkies waar dit lyk of jy ’n cherrie se tiete kan check. Mens kan ook net so baie keer draad trek in ’n dag.

Sy organise toe vir my ’n job by die OK Bazaars in Germiston, en ek’t daar gegraft vir ’n paar maande. Rakke reggepak, gehelp stock vat en so, maar ek was maar meer in die pakhuis agter waar al die groceries ingekom het in bokse. Ek’t die bokse oopgemaak en die goed uitgepak sodat dit op die rakke in die shop kon kom.

Dit was nogal oukei vir ’n rukkie, hulle het my darem betaal so ek het bietjie geld gehad en kon darem toe my eie skywe koop. My ou lady het lankal gebitch dat sy vir my my Winfields moes koop en dan steel ek nog haar Benson&Hedges ook.

Nou en dan kon ek ’n paar biere drink ook, maybe selfs ’n klippies-en-coke so once in a blue moon. Ek’t ook ’n paar nice manne ontmoet daar, anderster karakters wat ook daar gewerk het, en ek was ’n paar keer saam met hulle Vrydagaande met die trein in Joey’s toe, net om bietjie te suip en kak te maak — niks heavy nie.

Maar toe raak my ou lady mos nou serious met hierdie een ou, word skielik sommer half respectable — fok, en dit alles vir ’n sweterige ou bal met ’n pens en sy bietjie hare so geolie en platgekam van die een kant van sy kaal kop af tot by die ander kant. Ek weet nie wie’t hy gedink hy fool nie, ek meen, jissis, om ’n paar slierte hare oor jou kop vas te plak steek mos nie daai fokken groot kaal gat weg nie!

Check hie’so, ek meen — check net hier, al my hare is nog hier! Dis nou een ding, ek’t nog altyd hierdie bos hare gehad. Ek dink nie daar het al een uitgeval in my hele lewe nie, so ek lag eintlik lekker vir al die bles ou ballies.

Any case, hy reken toe hy gaan my uitsort en reël vir my dat ek ’n appie op die myn kan word. Eers was ek lekker die hel in, wou nie weggaan van die OK af nie, maar toe ek eers daar op die myn in Randfontein is, toe gaan dit eintlik nogal lekker. Die enkelkwartiere was oukei, en die, eh, bantoes, op hulle plek. Ek’t lekker gewerk daar aan my apprenticeship en oukei geld verdien, maar daai fokken toets kon ek nie deurkom nie. Dis toe nou juis dié — ek’t die donnerse ding vir die derde keer opgefok, aan die einde van eighty three, ek onthou dit goed — en vat toe die trein Pretoria toe. Jissis, ek onthou nou nog daai naar gevoel op my maag as ek daar na die Olifantsfontein Trade Test Centre toe moes gaan vir die toets. Ek’t elke keer gedink ek gaan óf myself bekak, óf kots, en elke keer het ek dit goed opgefok. Any case, ek voel toe so kak na die tyd, ek scheme ek sal bietjie by die ou lady gaan kuier, maar toe ek by die treinstasie aankom, toe check ek dis nog te vroeg in die oggend, en net daar — ek weet nie wat my gemaak het nie — net daar klim ek op die trein en moer Pretoria toe.

Ek was nog maar net ’n paar keer vantevore daar gewees en het eintlik nie ’n clue gehad hoe dinge daar werk nie. Ek’t afgeklim en daar op die perron gestaan met daai reuk van yster en olie, toe stap ek maar in na die stad toe. Dit was nie so ver nie, maar dit was Desember en fokken warm, so ek’t gesweet soos ’n vark.

Ek weet nie mooi hoe’t ek daar gekom nie, maar ek check toe naderhand ek is in Esselenstraat in Sunnyside. Daar’s baie flats daar en eetplekke en kêffies en so, en ek was warm en moeg, al was dit net so bietjie na tien in die oggend, toe check ek ek het darem genoeg geld vir ’n coke. Ek’t daar by die een kêffie net by die Trust Bank een gekoop en sommer so daar op die sypaadjie gestaan en drink — sodat ek die bottel kon teruggee vir die deposit — en gewonder wat ek met myself gaan maak die hele dag in die stad.

Dit was seker so teen halfelf, toe check ek hierdie moerse koel cabbie park daar by die bank. Ek’t hom sommer van ver af gecheck aankom want dit was een wat ek kwaai gelaaik het. Hy’t netjies gepark daar in die straat en twee ouens het uitgeklim en in die bank ingestap. Ek’t nie eintlik vir hulle gekyk nie, net vir die cabbie. Dit was so baby-blue (soos my ou lady sou sê), Ford Cortina eks-er-ses Interceptor met mags. Die ouens by die myn het baie oor dié karre gepraat en daar was selfs een wat een gery het. Daar was net tweehonderd van hulle gemaak en hulle was lekker warm, met drie carbs en alles. Ek’t nader gestap om te check, so van die sypaadjie af, mens wil darem nie te naby kom nie want netnou vat die drywer offence en klap jou daar weg, ek meen, dis darem nie sommer ’n hierjy kar nie.

Ek’t gecheck die kar is oorgespray en dat dit maar ’n kakkerige sprayjob was. Dit het gelyk of die kar eintlik wit was en iemand sommer so oor al die pinstripes en alles gespray het. Ek kon nie glo dat iemand so iets aan so ’n smart kar sou doen nie en my kop geskud. Ou Fanie in die paintshed sou ’n toeval gekry het as hy dié moes sien, het ek gedink, toe kom die twee ouens weer uit die bank uitgestap. Die een — hy’t so ’n blou sak in sy hande gehad — stap om die kar en klim agter die wiel in en die ander een wou net inklim, toe check hy my daar staan. Hy’t ’n broek en baadjie aangehad, soos van ’n suit, maar sonder ’n das. Sy kraag was oop en hy’t so ’n dik snor en sidies gehad. Ek’t eers gedink hy gaan my uitkak toe hy my so check deur sy donkerbril, maar toe tune hy my: “Hoe lyk dit, soek jy ’n lift?”

Ek’t hom eers net so gecheck, gescheme hy sukkel net met my, maar toe maak hy die agterdeur oop en hou hom so vir my.

“Genuine?”

“Ja, klim lat ons ry,” tune hy, en ek klim toe in en hy klap die deur agter my toe.

Die ou wat dryf wou-wou nog iets sê, maar hy gee hom toe net so ’n kyk, toe draai hy daai wiel en trek met ’n spoed weg.

“Waarheen gaan jy?” vra hy my toe so oor sy skouer daar van die voorste seat af.

“Uh, Joey’s,” chat ek hom toe, na ek eers bietjie moes dink en onthou wat ek nou eintlik daar maak.

“Oukei, gee jy om as ons op ’n paar plekke stop?”

“Nee, of course nie. Dis moerse nice van julle om my ’n lift te gee.”

“Dis niks, wat’s jou naam?”

“Gawie, eh, ek meen, is eintlik Gabriël, maar my ou lady noem my nog altyd Gawie. Gawie Ackerman.”

“André,” sê hy toe en wys na homself. “En die bedonderde een is Allen.”

Die ander ou het hom net so ’n vinnige check gegee, toe floor hy die kar en sy gat sak sommer so soos hy wegspring. Jissis, daai cabbie het gefokof! Ek sit nog so en kyk hoe ons by die ander karre verbymove, toe stop ons in Verwoerdburg, voor die Barclays Bank.

“Sal jy hier wag?” vra die André-ou my. “Ons gaan net gou ’n withdrawal maak.”

“Sure, ek sit net hier.”

Hulle is daar uit met die sak en ek’t bly wag, lekker vol van myself as mense verbystap en my check daar in die kar. Miskien scheme hulle dis my cabbie, het ek gedink, en gewonder of ek nie voor moet gaan sit agter die wiel nie, sodat almal wat verbykom my daar kan check, maar toe onthou ek daai Allen se gesig en dog hy sal glad nie dink dis ’n joke as hy terugkom en my daar kry nie. Toe sit ek maar net daar agter en smile vir almal.

Hulle was nie lank weg nie, toe’s ons weer aan die gang. Die André-ou lyk toe nou heavy ingenome met homself daar voor in die kar toe ons weer die pad vat.

“So wat het jy in Pretoria kom doen, Gawie,” vra hy my. “Besigheid?” En hulle twee kyk vir mekaar en lag.

“Nee, ek was in Olifantsfontein vir my Trade Test,” antwoord ek toe, nie seker wat hulle so tickle nie.

“En hoe het dit gegaan?”

“Nie so goed nie, ek dink ek het my gat gesien.”

“Sorrie om dit te hoor,” chat hy my toe. “So wat doen jy toe in Sunnyside, bly jy daar?”

“Nee, ek bly eintlik in Randfontein, op die myn. Maar ek weet nie vir hoe lank nog nie, noudat ek die toets opgefok het nie.”

“Wel, moenie worry nie, die myn is nie die enigste plek in die wêreld nie. Kry vir jou ’n beter job, hoekom nie? Iets waar jy lekker geld kan maak, soos ons,” tune hy my toe en hy en Allen lag weer lekker saam daar voor.

“Wat doen julle?”

“Ons is bank robbers,” praat Allen toe die eerste keer.

“Kak, man, julle sukkel nou net met my,” sê ek en hoop hulle pluk nie hulle moere vir my en sit my uit die kar uit nie.

“Nee, genuine, ek is André Stander en dis Allen Heyl.”

Ek check hulle toe net so en hy draai om in sy seat, sit sy arm so langs die bokant en kyk vir my.

“Herken jy ons nie? Kyk jy nie TV nie?”

Natuurlik het ek al van hulle gehoor, maar ek kon nie glo dis hulle nie. Ek dog net hulle soek kak met my.

“Maar julle ... jy lyk nie soos hy nie?”

Hy lag toe en haal sy donkerbril af, en toe trek hy die wig van sy kop af en wragtag, toe check ek dis hy.

“My fok! Dis jy! Jy’s hy!” Ek’s so opgewonde ek moer sommer so oor my woorde.

“Ja, dis ek,” en hy lag toe lekker, en ek lag saam.

“Hel, julle ou’s is famous. Hoeveel banke het julle nou al gerob?”

“Baie,” sê Allen en kyk vir my in die spieëltjie.

“Jis, ek kan dit nie glo nie, hier sit ek fokken wragtag in André Stander se eks-er-ses Interceptor,” sê ek en toe tref dit my: “Fokkit, is dit wat julle nou net gedoen het? Het julle nou net ’n bank gerob terwyl ek saam met julle was?” Ek voel toe skoon naar van ek weet nie wat nie: banggeit, opgewondenheid, ek weet nie, maar ek begin sommer so te bewe.

“Ja, ons het nou net die Barclays geroof, en vroeër, daar waar ons jou gekry het, die Trust Bank,” verduidelik Stander en vryf aan sy snor so met sy regterhand, so asof hy terugdink daaroor en lekkerkry.

“Jissis, hoeveel het julle gekry?” vra ek voor ek myself kan keer.

“Genoeg om lekker te kan lewe,” sê Allen toe en kyk weer vir my in die spieëltjie so met sy bril en al.

“Jy gee seker nie om as ons net gou so ’n draai deur Kempton ry nie, nè?” vra Stander my en beduie vir Allen die pad agter deur Pretoria na Kempton Park toe.

“Nee, of course nie, gaan julle nog ’n bank rob?”

“Miskien.”

“Fok, niemand glo my ooit as ek die storie vir hulle vertel nie,” sê ek en toe kyk Stander om na my en sy gesig word so stil.

“Jy sê nie ’n fokken woord nie, het jy my? Anders skiet ek jou nou en los jou lyk hier langs die pad vir die honde,” en skielik het hy hierdie moerse groot rollie in sy hande en hy wys hom so na my.

“Weet jy wat dié is?” vra hy my en ek sien hoe blink daai staal in die sonlig as hy hom so diékant en dan daaikant toe draai.

“Dis ’n gun,” is al wat ek toe kan uitkry.

“Ja, dis ’n punt drie-vyf-sewe magnum. Een skoot van dié een en hy maak jou kop oop soos ’n rou eier en al jou breins vlieg die hele wêreld vol. Jy hou jou bek, oukei?”

“Oukei,” sê ek toe, maar dit gaan maar swaar want my bek is skielik droog en my tong voel sommer so dik en swaar.

Toe relax hy en die rollie is weg.

“Moet nou nie alles opfok nie, ons’t jou opgelaai en gee vir jou ’n lift, dis mos al.”

“Of course,” chat ek toe vinnig. “Ek sal julle mos nooit grief gee nie. Fok, julle ouens is heroes!”

Ons praat toe lekker op pad Kempton toe en hulle vertel my van al die lekker karre wat hulle ry, drieliter Fords, BMW’s en Allen tune my van die lekker five-fifty Yamaha bike wat hy mee ry.

“Hoe lyk dit met die cherries, Gawie?” vra Stander my êrens langs die pad.

“Ag, jy weet.”

“Nee, nie regtig nie. Kry jy darem vir jou so ietsie nou en dan?” vra hy en Allen lag weer daar voor.

“Jy weet ... Cherries is maar vol kak.”

“Dit klink nie goed nie, maar jy het darem al, of hoe?”

Ek kyk maar weg by die venster uit en check hoe die veld verbyvlieg.

“Gawie, moet nou net nie vir my sê nog nooit nie?” lag Stander en ek dog daai Allen pis homself nat van die lag daar agter die wiel.

“Dis nie so maklik nie,” tune ek hulle toe en voel hoe word my gesig rooi. Dit was nie so lekker nie, maar toe smile Stander vir my: “Moenie worrie nie, ou Gawie, elke hond kry sy dag.”

“Ja, en André is ’n hond wat sommer baie dae kry,” scheme Allen toe.

“Hei, wat kan ek sê — die cherries soek my lyf.”

“Maar hoe doen julle dit?” wonder ek toe. “Ek meen, die cops soek julle orals, waar kry julle cherries?”

“’n Jags cherrie sal altyd ’n manier kry,” lag Stander toe en slaan sommer so op die dash van lekkerkry. “Hê, ou Allen, of wat praat ek alles?”

Hulle lag so lekker daar voor dat ek skoon uit voel. Ek wil rook maar het nie skywe nie. Ek wou ook nie vra nie want dit lyk nie of hulle rook nie, toe hou ek maar my bek en sit net daar.

“Gawie, daar’s altyd iets vir die man met geld. Het jy nog nie van escort agencies gehoor nie?”

“Hoere?”

“Dis ’n lelike naam, maar ja — jy betaal hulle en dan doen hulle net wat jy wil hê.”

Ek’t nie geweet wat om toe te sê nie, en skielik voel ek toe sommer jags ook. Allen het vinnig gery, so met sy een hand op die wiel en die ander een by die venster uit.

Net daar by Pomona verby check Stander toe twee perde op een van die plotte staan. Hy kyk hulle so toe ons verbyry, draai sommer sy kop om om hulle te kyk, toe’s hy vir so ’n rukkie stil.

“Fok, ek mis my honde,” tune hy toe en hy lyk sommer sad, maar dit hou toe darem nie lank nie. “Allen, draai hier regs sodat ons in Weststraat kan kom. Check hier, Gawie, hier aan die regterkant, dis die Kempton Park-polisiestasie. Ek was hier gestasioneer gewees.”

“Genuine?”

“Ja, ek was hoof van die Misdaadondersoek-eenheid hierso.” Toe crack hy op van die lag. “Dit was die dae gewees daai: Kaptein Stander, crime fighter. Weet jy wat het ek gedoen? Ek het in die oggende vir my tweede-in-bevel gesê hy moet na sake omsien, dan ry ek Jan Smuts toe en klim op die vliegtuig Durban toe. Veertig minute later land ek daar, dan huur ek ’n kar en ry tot by ’n bank. Ek sit vir my ’n wig en sonbrille op, stap in die bank in en druk my pistool onder die teller se neus in en vat al sy geld. Dan ry ek terug lughawe toe, op die vliegtuig en dieselfde middag nog terug op kantoor.”

Hy lag so dat hy amper verstik, toe wys hy vir Allen om te stop.

“Oukei, Gawie, ons gaan jou nou hier moet los want die Allied Bank wag vir ons.”

Ek wou nie, ek wou keer, toe tune ek hulle dat ek saam wil gaan, maar hy’t net sy kop geskud en sy donkerbril opgesit. Toe klim ek maar uit en staan daar op die sypaadjie net so skuins oor die polisiestasie. Net voor hulle ry, druk hy sy arm by die venster uit en roep my.

“Vat hier, Gawie,” tune hy my en druk so ’n bol tienrandnote in my hand. “Kry vir jou ’n cherrie, ok?”

En toe’s hulle weg, daai Ford se motor brul sommer so soos Allen hom rev, weg om die hoek.

Ek’s toe maar stasie toe en met die trein terug na Germiston toe, maar ek het geweet ek sal nooit weer dieselfde wees nie.


Ek kon nie al daai stories glo wat ek van hom op TV gehoor het nie, en toe hulle wys hoe sy lyk daar in Amerika op ’n stretcher uitgedra word, met net sy voete wat so onder die kombers uitsteek, het ek lekker kak gevoel.

Maar ek’t ook bietjie koerant gelees, en toe check ek daai storie van die twee jong meisies wat hy gerape het. Hei, ek’t gedog hy’s ’n oukei ou, maar toe’s hy maar net nog ’n doos.

Ek’t na die polisie toe gegaan in Randfontein en ’n statement gemaak, hulle alles gechat wat daai dag gebeur het. Behalwe van die geld, of course, ek’t gedog wat gaan dit tog help ek tune hulle daarvan, ek’t dit anyway lankal gespend en netnou soek hulle dit terug. Toe interview die koerante my en skryf die storie, met photies en al. Ek’t dit als uitgeknip en in ’n boek geplak. My ou lady het gescheme dis nogal moerse dat haar laaitie famous is, en vir ’n rukkie was sy nie so gedisappoint met my soos gewoonlik nie.

Maar dit alles het ook maar oorgewaai en ek’t aangeneuk.


Ek’t darem myself ’n Ford gehad vir ’n rukkie, in Carltonville. Nou nie ’n Interceptor nie, maar darem ’n sestienhonderd sport, so ’n gele met mags en ’n louvre, maar ek kon nie die payments byhou nie, toe vat die bank hom terug.

Die myn het my toe gefire na ’n paar jaar en ek het maar ander jobs loop soek. Vir ’n rukkie was ek op die railways, en later vir ’n paar jaar in ’n scrapyard in Wadeville. So gaan ek toe maar aan en raak maar gewoond. Jy trek maar so rond van job na job en buitekamer na garage, en eendag kry jy jouself dink dis nie ’n skande om stompies in die straat op te tel om vir jou ’n skyf te maak nie.

Ek kon nooit uithou by ’n werk nie en die geld was maar altyd min gewees. Mens raak gewoond en dan cope jy maar net met minder en minder. En jy neuk maar aan, tot jy tot hier kom.

Ek weet ek sal seker nie weer in ’n kroeg kan sit soos nou nie, en ek weet hulle gaan my uit die losieshuis skop omdat ek nie meer geld het nie. Maar dis oukei, mens kom maar net met minder oor die weg en dis tog nie so bad om buite te slaap nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.