NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Jaco Botha
is op 17 September 1972 gebore. Hy gaan skool op Worcester en voltooi sy tersiêre studies aan die Universiteite van Stellenbosch en Kaapstad. Verskeie van sy artikels, prosa en gedigte verskyn in publikasies in Suid-Afrika en Nederland. Sy mees onlangse publikasie is ’n bundel kortverhale getiteld Sweisbril en word uitgegee deur Human & Rousseau
  Jaco Botha

Die jag op JJ Harmse

Jaco Botha

Toe Joey van die badkamer af terugkom, is sy wit tot onder haar kiewe. Sy nader die tafel soos ’n Boeing wat sy aanloop na ’n lughawe maak — haar oë wyd gefokus op die kerse bo-op die tafels weerskante van ons s’n. Haar een vlerk lig so ’n bietjie om beter tilt te bewerkstellig en vir ’n oomblik lyk dit of sy haar balans gaan verloor en neerstort. Maar dan gryp sy ’n bottel rooiwyn vanaf ’n verbaasde kelner se skinkbord en herstel in die proses haar brose ewewig.
         “Fffff,” maak Joey wanneer sy kom sit en voltooi so die perfekte straleranaloog.
         “Joey,” vra ek in my strengste stem, “waar is die coke?”
         Sy probeer iets sê, maar die gawe van spraak het haar vir die oomblik verlaat. “Bllll,” is al wat sy kan uitkry, terwyl sy met haar hande iets probeer beduie.
         Sy klap amper die kelner raak wat nou met ’n kurktrekker die gehijackte bottel wyn benader.
         Ek is self so woedend dat ek ook nie ’n dooie woord oor my lippe kan kry nie. Ek knik bloot formeel vir die kelner wanneer hy aanbied om te skink. In my geestesoog sien ek vir Joey in een van die toilethokkies vorentoe leun. Waarskynlik het sy met ’n onskuldige lyntjie begin en toe het die kokaïenlus van haar besit geneem — tot so ’n mate dat sy vir haar ’n monsterlyn gesny het.
         Ek verbeel my hoe sy die plastieksakkie eers versigtig lostorring en dan sommer skeur; hoe sy vir haar ’n wit dwelmovaal om die toiletring sprinkel en dit dan sommer deur die kartonpypie van ’n leë rol kakpapier insnuif.
         In my geteisterde gemoed is dit ook nie meer een gram coke nie, maar sommer ’n halwe knapsak. Hoe kan ek dit stel: ek is die bliksem in vir Joey.
         “Ag jirre, Joey,” sê ek wanneer Roy en Slimjannie in die restaurant se ingang verskyn. Ek voel bitter en verraai. ’n Hele aand in die geselskap van my bekwame vennote sonder enige farmaseutiese bystand voel vir my na ’n onhaalbare vonnis. Ek skop vir Joey onder die tafel, maar sy ril bloot liggies en glimlag skeef in ’n onbepaalbare rigting.

“Dag, dag!” en “hooi, hooi!” groet Roy en Slimjannie onderskeidelik wanneer hulle by ons tafel arriveer. Roy gee die restaurantbestuurder, wat hulle tot by ons tafel vergesel het, ’n allemintige klap tussen die skouerblaaie. “Dankie, Fred,” sê hy en lag, “hier is die twee ou duifies.”
         Ek voel ’n bietjie meer op my gemak wanneer ek die rooi toestand van hul oë sien en Slimjannie se asem ruik.
         “So hoe was die rugby?” vra ek en merk dan op dat hulle nog iemand saam met hulle het.
         “Uitmuntend!” sê Roy. “Hulle het ons net probeer doodmaak met al die lekker Jack Daniels in die boks, maar wag, ek sal netnou als vertel. Hier is ’n maat van ons wat ons graag aan julle wil voorstel.”
         “Papi, Papi Sedeko, this is my friend and partner, Murray, and his beautiful girlfriend of the last three months, Joey,” spring Slimjannie Roy voor.
         ’n Swart seuntjie van ongeveer tienjarige ouderdom steek skugter sy hand na my toe uit.
         “Pleased to meet you, Papi,” sê ek en help hom vinnig om ’n stoel te kry.
         Joey glimlag liefies vir Papi. Hulle oë is ongeveer ewe groot.
         Roy en Slimjannie, wat ook nou albei hul sit gekry het, praat gelyk en deurmekaar oor hoe hul Papi buite die restaurant ontmoet het, en oor hoe begaafd en talentvol hy is.
         “Ons het besluit om vir Papi aandete te koop,” sê Slimjannie en maak met sy wuiwende hand ’n flambojante gebaar in die rigting van die swart seuntjie.
         “Come on, Papi, show them your trick,” roep Roy opgewonde en neem ’n lang sluk rooiwyn, sommer direk uit die bottel.
         Die straatkind lyk effe onseker, maar staan dan teësinnig op. Hy lig die pante van sy veels te groot hemp en begin om die knope van sy broek los te maak.
         Daar daal ’n stilte oor die naburige tafel.
         “No, no!” roep Roy haastig en dan sagter, “not your dick, your trick, with the yo-yo.”
         “Ja, ons wil nie daai trick sien nie. Ons kan dit self doen,” lag Slimjannie en soen die hand van ’n kelnerin wat ekstra wynglase op die tafel neersit. “Much obliged,” sê hy vir haar, terwyl hy diep in haar oë kyk.
         Papi bring nou ’n ietwat deurleefde Coca-Cola-yo-yo uit sy broeksak te voorskyn en begin met ’n heel bekwame “walk the dog”, opgevolg deur ’n “round the world”.
Almal, selfs Joey, klap hande aan die einde van sy vertoning. Papi gaan sit weer verlig. Hy kruis sy hande op sy skoot en kyk reg voor hom terwyl hy gedwee en breed bly glimlag. In die proses raak hy en Joey sielsgenote — bondgenote aan ’n tafel vol joviale vreemdelinge.

Die klein schnafi wat ek en Joey in die motor buite die restaurant gevat het, gaan my nie lank hou nie — om presies te wees, dit is bloot genoeg om my paranoïes oor Joey se klaaglike toestand te laat voel.
         Beide Roy en Slimjannie is uit Calvinistiese hout gesny. Hul het albei hul opvoeding aan voorstedelike Afrikaanse skole ontvang en vir hulle is dagga gelykstaande aan satanisme en die anti-Chris. Hoe hulle, selfs nou so vrolik van al die drank, oor kokaïen sal voel, wil ek nie eers oorweeg nie. En Joey is tans nie regtig ’n advertensie vir recreational drug use nie.
         Kyk, dié wat nog nie die voorreg van ’n schnafi ervaar het nie, sal nie heeltemal Joey se dilemma verstaan nie. Hoe kan ek dit verduidelik? Een schnafi is basies soos om ’n moerse beker koffie in te drink. Jy ruik die heerlike aroma van als rondom jou; jy merk die mooi grein van houtmeubels op; als voel soos ’n loom, helder herfsmiddag; jy is vol praatjies. Wat Joey aan haarself gedoen het, was basies om ’n fles stomende koffie met een gulsige teug te down — derhalwe die tydelike verlies van die meeste van haar fakulteite, die BITCH!
         Met die laaste ou wittigheidjies in my gestel kyk ek met die verwondering van ’n kleuter hoe ’n klein stroompie vog uit Joey se neusholte begin afloop. Ek besef dat sy haarself tot in haar ma se baarmoeder teruggesnuif het en voel heel aangedaan oor hierdie gewaarwording. Ek probeer ongemerk met my handpalm die neustraantjie opvang en van haar wang wegdroog.
         “Dis nou liefde vir jou,” sê Roy terwyl ek my hand sorgvuldig aflek.
         “Ja,” sê Slimjannie, met sy oë toe en sy gedagtes duidelik by ’n ander manifestasie van die liefde. “Waitress!” roep hy na die vrou op wie hy nou tot in sy hart verlief geraak het, en dan sagter, effe mompelend: “My kelnerin, my kelnerin, waarom het jy my verlaat?”
         Ek kyk na Roy en Slimjannie, en trek my lip dun. Ek het besluit om hulle te oordeel, voor hulle die kans kan kry om my en arme klein Joey te veroordeel. Die feit bly, ek hou nie van alkohol nie. Dit is vir my so ’n kru en oudmodiese dwelm. Kyk, ek het niks teen ’n sprankelende glasie witwyn, langs die see, terwyl die son sak nie; of ’n volronde bolglas cognac na ete saam met ’n goeie Kubaanse sigaar nie — dit is ’n gesofistikeerde tydverdryf. Maar, soos hierdie perde suip is gewoon net barbaars. Dan kan mens net sowel ’n bynaam soos Bees, of Bosveld, of Kalahari hê, jou vrou slaan en jou vriende dwing om saam met jou oordadig te drink. Ek is skielik so woedend en opgeklits dat ek met my plathand op die tafel slaan en roep: “Alkohol is die brandstof vir vroueslaners en kindermolesteerders!”
         Daar is ’n geskokte stilte aan die tafel, maar ek kan in my siel voel dat Papi met my dit eens is.
         “Stadig, ou perd,” sê Roy, “ons is almal vriende hier.”
         “Ja, moenie skiet nie, dis ons mense,” sê Slimjannie en dan lag ons almal weer.
         Ek lag uit my hart uit. “Verskoon my gou,” sê ek dan, en met trane wat uit my oë uit loop, stap ek vinnig in die rigting van die badkamers.

Die deur van die damesbadkamer staan oop en op die oog af is daar niemand daarbinne nie. Ek wik en weeg vir ’n oomblik in die gangetjie en is dan met twee lang treë tot binne die helderverligte vertrek.
         Op die spieëltafel staan ’n oop handsak en ’n los lipstiffie. Ek kyk vinnig rond en merk dan die toilethokkie met die toe deur. Ek sal moet haastig maak, dink ek en glip by die eerste oop hokkie in.
         Binne inspekteer ek die toiletbak, die ring en die vloer, maar niks vang my oog nie. Ek hoor hoe die vrou in die verste hokkie effens steun.
         In hokkie nommer twee let ek dadelik die verflenterde plastiekpakkie agter in die hoek. Ek sluit sorgvuldig die deur agter my en gaan op my hande en my knieë op soek na enige oorskot wat Joey mag agtergelaat het. Ek roep amper uit van blydskap wanneer ek die sakkie lig en daaronder nog ’n skaflike snuifseltjie poeier opmerk.
         My hande bewe effens wanneer ek met my kredietkaart die klonte uit die krummels kokaïen druk en dit in ’n mooi lyntjie sny. Ek rol haastig ’n R10-noot in ’n silindriese vorm en SNUIF!!!!
         O.
         Ek rus vir ’n oomblik met my voorkop op die koel badkamerteëls terwyl ek die salige gevoel in my rondrol en kan voel hoe ek by die sekonde meer ontspan. Die een of twee voortjies vloeistof wat tussen die teëls syfer, pla my nie in die minste nie — om presies te wees, dit herinner my bloot aan die frisheid van pas natgeleide landerye onder ’n blou Vrystaatse oggendhemel.
         Ek staan behaaglik op en trek my klere reg. Wanneer ek op die punt is om die hokkie te verlaat is daar egter skielik twee gewaarwordinge: die eerste is die geluid van vrouestemme buite die deur, en die tweede is my maagwand wat effens saamtrek.
         “Ag, ek is nou hier,” prewel ek saggies vir myself en maak dan maar my broek los en gaan sit.
“Hey, Murray, waar was jy so lank?” vra Slimjannie wanneer ek weer by ons tafel aankom. “Ons het solank begin met ’n uiters interessante filosofiese gesprek, ’n gesprek oor die aard en omvang van die menslike bestaan.”
         Joey knik.
         “Wat is daar nog van waarde?” vra Roy terwyl Slimjannie die kelnerin se oog probeer vang. “What is still worth doing?”
         “Or who? Maar kom ons bestel iets,” stel Slimjannie voor, “ek is rasend van die honger.”
         Joey skud haar kop.
         “Ons het klaar ietsie geëet, dankie,” sê ek en bestel bloot ’n beker water en koeldrankglase vir my en Joey. “Maar eet, eet, manne,” vuur ek vir Roy, Slimjannie en Papi aan om my en Joey se gebrekkige eetlus te verberg.

Met ’n moerse stuk rump steak op die bord voor hom, en die eerste paar happe in sy maag, voel Roy hom gereed om verder oor die menslike kondisie te filosofeer.
         “Wat?” vra hy weer, “wat is daar nog om te doen wat van waarde is?” Hy sluk. “Ek bedoel, kyk maar net na karre, Mercedes-Benz as ’n voorbeeld.”
         Op hierdie punt is dit dalk belangrik om te noem dat Roy ’n Mercedes-Benz-fanatikus is. Hy het nog nooit ’n ander fabrikaat motor bestuur nie — selfs as student het hy ’n vroeësewentigs-dieselmodel gehad wat sy pa vir hom by ’n bankrot boer op Piketberg gekoop het. Tans staan daar twee van die nuutste modelle in sy motorhuis in Westcliff.
         “Jy begin miskien met ’n gebruikte model, so ’n ou vaal cream een, en voel soos die kat,” vertel hy verder, “dan begin jy werk en sien ouens met nuwer modelle. Dan is die beste nuwe Merc wat jy kan bekostig ’n C-klas, of dalk ’n twee jaar oue E-klas en jy voel weer dat jy die MAN is: dat die koppe draai; dat jou vriende jou beny; dat jy in beheer is. Van daar koop jy miskien ’n tweedehandse SLK en so gaan jy aan, tot jy ’n gesin het, en die nuutste S-klas ’n meer aangewese keuse raak.”
         “Wat is jou punt?” vra Slimjannie, sy mond halfvol steak.
         “My punt is, dat later besef jy dat die S-klas eintlik jou vrou se kar is, waarmee sy die kinders rondry, en jy besef dat jy weer die wind in jou hare nodig het, en dan kom McLaren met hul Mercedes-Benz SLR, Super Sportster vorendag, en jy weet nie of jy dit moet koop nie, al kan jy dit altemit bekostig. Want jy weet, ná daardie motor het jy jou eie pinnacle bereik. Selfs al kom hulle dan weer met ’n beter, vinniger, sterker, veiliger en meer luukse motor uit, sal als vir jou van daar af tweedehands voel. Dis seker ’n bietjie soos om Cameron Diaz te steek — van daar is als afdraandepad.”
         “Sies, man!” sê Slimjannie verby die blosende kelnerin en wanneer sy weer weg is, “you wish. Maar wat van ’n Ferrari?”
         “Ferrari!” sê Roy gebelg. “Dis vir my so ’n hangsnor-statussimbool uit die jare tagtig. Temperamenteel en arrogant soos ’n meisiekind in haar twintigs.”
         “Maar die vering,” mompel Slimjannie ingedagte en ek kan sien hoe hy hom verbeel hoe hy en ons kelnerin die draaie kap.
         Ek self voel nog sterk en lekker slim na my besoek aan die damestoilet en besluit om tot die gesprek toe te tree. “Kyk,” sê ek met outoriteit in my stem, “als is maar bloot tydsgebonde. As ons byvoorbeeld vyftien jaar gelede in hierdie restaurant gesit het, het een van ons drie waarskynlik ’n Ferrari gery en was trots daarop. Ons sou waarskynlik eerder hier gesit het en ’n plan beraam het oor hoe om Nelson Mandela te bevry, of PW Botha uit te vat.
         “Was dit aan die ander kant die jare sestig, sou PW Botha waarskynlik by ons aan hierdie tafel gesit het, en ons sou geperve het oor Elizabeth Taylor, of ’n traan gestort het oor die mooie Marilyn Monroe.
         “Roy, en jou heel eerste motor was toe bloot ’n droom, ’n supermotor in wording.”
         “Huh,” sê Roy.
         “Nee, nee, ek sou veel eerder saam met ’n charismatiese ou soos Ernesto Ché Guevara of Frank Sinatra aan ’n tafel wou sit. Fok PW Botha,” sê Slimjannie.
         “My punt,” sê ek dan, “is dat die lewe juis gaan oor om die mees fashionable ding wat ’n mens kan doen, in jou leeftyd te doen. Vir JFK was dit om geskiet te word; vir Neil Armstrong was dit om op die maan te loop; vir Ché was dit om onrus te stook en vir Julius Caesar was die mees fashionable ding om te kom, te sien en te seëvier.”
         “Kyk, van geskiedenis kan jy my miskien baie leer, maar van fashion kan jy my fokkol vertel,” sê Roy. Hy staan op en draai een maal in die rondte sodat ons sy safaripak van alle kante kan betrag.
         Papi klap hande en sê: “Very smart.”
         Roy tik Papi waarderend op die skouer. Hy merk dan Papi se leë bord op en bulder in die rigting van die kombuis: “Bring the boy some pudding!” Dan gaan sit hy weer swaar.
         “Jy, Roy,” sê ek, sonder om van stryk gebring te word, “jy moet daardie SLR koop, al beteken dit jou einde.”
         “Ja,” mymer Roy. “Hulle noem dit ’n Gran Turismo vir die 21ste eeu; ’n motor met die spoed om beide ’n Ferrari Enzo en ’n Lamborghini Murcielago se gatte te kan skop, maar met die gerief en praktiese oorwegings van ’n Aston Martin Vanquish.
         “’n Gran Turismo vir die 21ste eeu. Mmmm.”
         “Gran Turismo — wat beteken dit?” vra Slimjannie geïnteresseerd.
         “Ek is nie heeltemal seker nie, maar dit klink befok. So stylish en los van die swaartekragte van hierdie ou droewe wêreld. Gran Turismo,” herhaal Roy weer saggies.
         “Ek sal julle sê wat Gran Turismo beteken,” sê ek steeds vol slimmigheid. “Dit beteken basies get up and go! Derhalwe is die Mercedes-Benz SLR in wese ’n ontbytkos op wiele.”
         “Nee, man!” roep Roy en Slimjannie albei met soveel heftigheid dat ek amper al my stoom verloor.
         “Graanvlokkies,” sê Roy verder, en skud sy kop in skok en ongeloof.
         “Wag, laat ek eers gaan pie,” sê Slimjannie, en “Wag vir my, ek kom saam,” sê Roy. “We are getting up, and we’re going,” sê hy oor sy skouer vies terug in my rigting.

Ek kyk vir Joey wat lyk of sy ook graag êrens heen wil gaan, maar nie die nodige krag daarvoor bymekaar kan skraap nie. Skielik is ek met ’n verskriklike angs vervul dat sy haarself dalk kan natmaak. Ek sien voor my haar verwese nat kleinbroekie en voel ’n bietjie aangedraai. Dan kry ek beheer oor myself en dink: “Ruk jouself reg, jou sieko!”
         “Sorry?” vra Papi, ineengekrimp op sy stoel.
         “No, no, don’t worry,” lag ek en bepaal myself dan weer by my eie gedagtes.
         Die probleem met kokaïen is, mens wil net nog en nog en nog hê. Dit is basies die motiverende torpedo wat Joey se skippie gesink het. Ek wonder of Papi nie dalk ’n bietjie gom of selfs poppers aan hom het nie. Ek wonder hoe ek sal kan uitvind. Gom en poppers, dit is nou drugs wat amper so sleg soos alkohol is — dit sny in effek jou brein se suurstoftoevoer vir ’n wyle af en wanneer ta weer opkom vir asem, is daar ’n rush, ’n warm flush. Ek leun vorentoe en vra: “So, Papi, how are you doing?”

Toe Roy en Slimjannie van die badkamer af terugkom, lyk hulle in ’n voortreflike luim. Ek wonder vir ’n oomblik of ek hulle nie dalk verkeerd opgesom het nie, of hulle nie dalk ook van tyd tot tyd ’n schnafi geniet nie, maar dan merk ek die bottel Tequila in Roy se regterhand op. “Hey, ouens, kyk wat het ek by die vriendelike barman oorgekoop,” lag hy, en “’n lekker ou padkossie,” voeg Slimjannie sy stuiwer by die armbeurs.
         “Kom, kom,” sê Roy, “maak klaar, dis tyd om te gaan.”
         Ek voel verlig — hulle’t duidelik van my ontbytkos-opmerking vergeet.
“Waarheen wil julle nou gaan?” wil ek tog versigtig weet.
         “Ons gaan aan jou bewys dat Gran Turismo meer as bloot Post Toasties is.”
         “Ons gaan iets fashionables doen!”
         “Wel, ons weet nog nie regtig watter spesifieke fashionable ding ons gaan doen nie,” sê Roy, “maar ons gaan begin deur vir JJ Harmse op te donder.”
         “JJ Harmse?” vra ek verbaas. “Die rugby-ou van Rapport?”
         “Einste,” sê Slimjannie.
         “Ons vat die Jeep,” sê Roy, “ons sal almal gemaklik daarin pas.”
         “Dit gaan oor passion,” verduidelik Slimjannie. “Ons bitch en moan elke Sondag oor die kopse kak wat hy in die koerant skryf, maar doen nooit iets daaromtrent nie. Ek en Roy het juis tydens die rugby weer oor hom gepraat — hy is so ’n pom-pom girl vir die Blou Bulle. Geen perspektief nie.”
         “Ja,” voeg Roy by, “dis mense soos hy wat ons rugby plat hou. Hy moet eerder netbalverslaggewer vir Pretoria News word. Om hom op te donder sal die pad oopmaak na ons fashionable oomblik op hierdie planeet.”
         “Gran Turismo!” roep Slimjannie uitbundig wanneer dit vir hom lyk of ek beswaar wil aanteken. Ek kyk vir Joey — ek het regtig gedink dit sal een van ons twee wees wat vanaand die stront veroorsaak. Wys jou net, dink ek, die lewe laat haar nie voorsê nie.
         “Let’s get up and go!” sluit Roy die gesprek af. “Van sit en staan kom fokkol gedaan.”

Buite die restaurant het ’n donderbui tot ’n mosreëntjie afgeplat. Die neon-uithangbord van die steakhouse weerkaats rooi en groen teen die nat swart teer, terwyl druppels water van verligte vensterrame hang.
         Joey voel knus in my arms. Ek dra haar half oor die skouer, soos ’n baba, en kan voel hoe ’n spiertjie kort-kort in haar binnebeen spring. Klein Papi kyk met ’n bekommerde gesig op na ons. Hy raak met koue vingers aan Joey se loshangende arm.          “She will be okay,” sê ek terwyl ’n brullende Mercedes-Benz Roadster in ’n sproeireën van water langs ons tot stilstand kom.
         “Ons kry julle oor ’n uur by my huis!” roep Roy terwyl die dak van die sportmotor stadig oopgly. “Moenie raas nie, hoor, Anna slaap,” sê hy voordat hulle vinnig in die pad af versnel.

Wanneer ek vir Joey aan die passasierskant van my motor inlaai, tilt haar kop effe agteroor. In die lig van die straatlamp lyk haar gesig selfs bleker. Ek kan hoor sy probeer iets sê en hou my oor nader aan haar mond.
         “Shattered, shattered,” fluister sy terwyl ’n helder, ronde traantjie uit haar een oog biggel.
         “Haai Joey,” sê ek, al minder kwaad, “ag, huil maar ’n bietjie, jong, dit sal jou laat beter voel.” Die bandjie van haar toppie het oor haar skouer geglip. Sy is so kwesbaar, dink ek terwyl ek my baadjie oor haar gooi, daar waar sy in ’n bolling op die motorsitplek lê.
         “Okay, Papi,” sê ek terwyl ek die passasiersdeur van my motor versigtig toedruk, “it was good meeting you.” Ek steek my hand na hom toe uit. “Your tummy should be nice and full, hey?” lag ek.
         Papi gee ’n verleë en verlore glimlaggie terwyl hy met groot oë na Joey deur die toe motorruit loer. “I like you,” sê hy en druk my hand. Dan draai hy om en stap in die rigting van ’n steeg tussen twee skemerverligte geboue. Op die sypaadjie fladder ’n nat stuk koerant met een droë bladsy teen die bleek aandwind.

“Weet jy, Joey,” sê ek terwyl ons op die snelweg op pad is na haar woonstel toe, “dit is vir my eintlik vreemd dat jy so gefok is.” Ek draai vir ’n oomblik weg van die hipnotiese geswish van die ruitveërs om na haar te kyk. “Ek bedoel, coke is tog veronderstel om ’n upper te wees.” Ek dink vir ’n oomblik. “Ag wat, ek skat binne die volgende uur of twee sal jy weer uit jou dop kruip en raai wie gaan dan kaatjie van die baan wees?” Ek glip my hand onder die baadjie in en streel in sirkelbeweginkies oor haar gladde skouer.

“Jy moet pak,” sê ek wanneer ek die slaapkamerlig in Joey se woonstelletjie in Rosebank aanskakel. Sy het intussen ’n bietjie van ’n come-back gemaak.
         “Hoekom?” wil sy weet. Sy gaan sit-lê op die rand van haar dubbelbed, duidelik uitgeput van die trappies klim tot bo by die woonstel.
         “Want ons gaan Pretoria toe.” Daar is tans natuurlik geen twyfel in my gedagtes dat ons beslis nie die reis sonder Joey kan aanpak nie. Ek is ’n sensitiewe mens en Roy en Slimjannie is albei in effek boere-filistyne. Ek het die sagte hand van ’n vrou soos Joey op my skouer nodig om ’n sekere balans te kan handhaaf. Veral wanneer mens onderneem om ’n moeisame en gevaarlike reis tot anderkant die Jukskei aan te pak, moet ’n mens voorsiening vir jouself maak.
         “Hoekom?” vra Joey. Sy kyk gefassineer na ’n mot wat teen die plafon na rigting soek.
         “Want ons gaan vir JJ Harmse opdonder.”
         “Ek ken nie eers vir JJ Harmse nie — wie is hy?”
         “JJ,” sê ek geduldig terwyl ek die eerste laai van Joey se klerekas ooptrek, “is die netbalverslaggewer vir Pretoria News.”
         Joey knik. “Maar Pretoria is net ’n uur se ry — hoekom moet ons pak?”
         “Ons weet nie hoe lank ons na hom gaan soek nie,” sê ek dan, “hy is glo ’n glibberige kalant.”
         Sy wys met ’n uitgestrekte hand na bo-op die hangkas waar twee tasse lê. Dan lê sy terug op die bed en sug skielik behaaglik. “Sjoe, eindelik!” sê sy. “Ek voel nou skielik baie, baie beter.”

“Watter een verkies jy?” vra ek vir Joey en hou om die beurt ’n seegroen en ’n frillerige rooi kleinbroekie uit.
         “Hoe lank gaan ons?” vra Joey.
         “Ek weet nie — seker so ’n paar dae.”
         “Dan kan ek seker albei vat,” lag sy.
         “Ek weet nie,” sê ek, “ek laaik dit wanneer jy kaalbas loop.”
         “Kaalbas sal dit dan wees. Kaalbas in die reën,” lag sy en sit regop. “Ek is in ieder geval gatvol vir panties. They cramp my style.”
         “Your wish is my command,” sê ek terwyl ek met ’n grootse gebaar die kleinbroekies teruggooi in die laai. Ek hoop inniglik by myself dat Joey net so jimpels — so jags en so simpel — soos ek voel vanaand. Ek lig ’n pragtige bra uit die laai en hou dit uit na Joey.
         “Niks onderklere nie,” sê Joey en rol soos ’n hondjie op haar dubbelbed. My oog het egter iets wat onder die bra weggesteek lê, gevang.
         “Okay,” sê ek en wanneer ek seker is dat die swart plastieksak-bolletjie wel is wat ek hoop dit is, roep ek, “prys die Here!”
         Ek spring bo-op Joey en gee haar ’n paar nat soene. “Hoekom het jy nie vir my gesê dat jy verdowingsmiddels in jou laai wegsteek nie?” Ek gaan sit bo-op haar maag en hou die sakkie triomfantelik uit.
         Wanneer Joey sien wat in my hand is, deins sy terug en hou haar hande beskermend voor haar gesig. “Kannie meer nie, korporaal,” sê sy, en “die hele ding moet in, al huil ons albei,” maak ek die gesegde klaar.
         Ek rol van Joey af en gaan sit op die stoeltjie voor die spieëlkas terwyl ek behendig die sakkie kokaïen oopknoop. Ek sny vir my twee lekker lyne en schnaaf dit voordat jy kan sê mes.
         “Beter?” vra Joey wanneer ek terugsit.
         “Jip.”
         “Ek dink ek sou nou eers ’n bietjie vasbyt voordat ek weer daai paadjie loop,” sê sy wanneer ek langs haar op die bed gaan sit.
         “Ja, so leer ’n mens,” sê ek terwyl my een hand, asof vanself, aan die gespe van Joey se beltjie begin torring.
         Ek kyk op na haar en is dan skielik vreeslik uitbundig en bly om te sien dat ek en Joey in sync is.

Joey trek haastig haar toppie oor haar kop terwyl ek sommer gelyktydig haar jean en kleinbroekie oor haar heupe en voete trek. Dan lê sy daar voor my, knieë effe gelig, met slegs haar bra aan.
         “Trek dit uit,” sê ek terwyl ek self vinnig van al my klere ontslae raak.
         Sonder om teë te stribbel buig sy haar skouers terug en klik haar bra los. Sy laat val dit op die hoop klere wat reeds langs die bed lê.
         Ek begin by haar voete en voel hoe die gladde vel van haar been teen my wang skuur. “Mmmm,” sê ek terwyl ek met ’n nuuskierige tongpuntjie aan haar binnebeen proe. Ek ruik haar velroom en haar lus vir my. Dan lig ek skielik en soen ons.
         Joey gee altyd haar tong soos ’n roomys vir my aan. Sy proe selfs soos ’n roomys, iets tussen appelkoos en perske. Ek maak my oë toe en sweef in die soen. Joey se lyf is hard, ferm en vol passie. Sy slaan haar bene om my en krom haar rug. Wanneer ek my oë oopmaak, is haar oë twee blinkende blou albasters.
         Haar hand beweeg af en streel oor my maag. Vir ’n oomblik raak ons rustiger, meer speels. Sy lag en knibbel effe aan my oorlel.
         Dan voel ek haar hand wat streel in my lies en tot op my penis verskuif.
         “Ai,” sê sy wanneer ons gelyktydig die klaaglike gebrek aan ’n noemenswaardige ereksie ontdek. Sy is egter gaaf met my en voeg by: “Hoe mooi en sag en warm is hy nie — nes ’n klein katjie.”
         “Die bleddie coke,” sê ek verleë en rol op my rug, “it always adds to the desire, but subtracts from the performance.”
         Joey begin om saggies van my enkels af teen my been op klein soentjies en happies uit te deel. “Moenie worry nie,” sê sy sag, terwyl ek kyk en voel hoe sy met die stywe puntjies van haar hangende borste oor my streel. “Ons sal hom reg dokter.”
         Ek voel die eerste bewegings van ’n spook-ereksie tussen my lieste en maak my oë weer toe wanneer Joey se warm lippe my voorvel terugdruk. “Ja,” fluister ek en dan bewe die hele bedkassie soos my selfoon daarop begin lui en vibreer. Joey se kop lig.
         “Ag, fok tog,” sê ek en lig die foon van die bedkassie. “God, dis Slimjannie,” sê ek en sit regop terwyl my binneste steeds “fok, fok fok!” uitroep. “Yes, ons is nou daar,” antwoord ek Slimjannie se vraag en “ja, ek weet julle het gesê een uur — ons maak so vinnig soos ons kan. Drink solank ’n doppie terwyl julle vir ons wag.”
         “Ons moet roer,” sê ek aan Joey en kyk weemoedig na my ereksie wat nou net begin lyf kry het.
         “Ag shit,” sê sy en skuur haarself ’n laaste maal teen my voordat sy oorleun vloer toe om haar denimbroek op te tel. “To be continued?” vra sy met ’n stoute glimlag oor haar skouer.
         “For fucking sure,” sê ek en begin ook my klere bymekaar te skraap.

“Wat het julle so lank gevat?” fluister-vra Slimjannie wanneer ek my motor voor Roy se imponerende huis in Westcliff afskakel.
         “You should never rush a lady,” sê ek en glimlag in Joey se rigting. Ek druk my motor se toeter wanneer Roy op die balkon voor sy en Anna se slaapkamer verskyn.
         “Shhhh,” maak hy en hou sy vinger voor sy mond “almal slaap.” Hy druk die knoppie van ’n afstandbeheerder en beduie dat ek my motor moet intrek. “Stap agter op. Ek kry julle in die kombuis,” probeer hy saggies met ’n skor dronkmanstem fluister.

Roy se motorhuis is helder verlig. Die Mercedes-Benze staan blink in ’n ry. Deur die oop agterste deur van die 4x4 kan ek tasse en bokse en ander proviand sien. Die twee jaggewere in hul kakiesakke stem my bietjie bekommerd maar ek sê niks.
         Ek lig ons tasse uit die kattebak van my motor en plaas dit saam met die ander bagasie agterin die Jeep. Dan volg ek vir Slimjannie en Joey teen die trap uit.
         “Dames en here, ons toerleier,” stel Slimjannie grapperig vir Roy voor wat met ’n safarihoed op langs die kombuistafel sit. Daar staan twee glase op die tafel en die bottel Tequila staan reeds onder die halfpadmerk.
         “Julle is nogal swaar op brandstof,” sê ek en gaan sit ook.
         “Moes julle so raas?” vra Roy. “Julle het amper vir Anna wakker gemaak en dan sou die hel los wees.” Hy vat nog ’n lang sluk Tequila. “Luister, Murray, jy sal moet bestuur,” begin hy en dan kyk hy skielik rond. “Waar is Papi?”
         “By die restaurant waar ons hom gelos het,” sê ek en staan weer op om vir my ’n glas uit die rak te gaan haal. “Jy ook, Joey?” vra ek.
         Sy knik en ek haal twee glase uit die rak. “Hy is vir my so oulik,” sê sy dan, “daai Papi-kind.”
         “Maar ons het gedink jy bring hom saam,” sê Roy. “Ons kan nie sonder hom ons mission aanpak nie.”
         “So, dit is nou opgegradeer na ’n mission,” sê ek en kyk na die spensdeur waaragter ek ’n gekerm en gekrap hoor. Ek stap nader om ondersoek in te stel.
         “Moet hom nie uitlaat nie!” probeer Roy te laat en te hard roep. ’n Wit Maltese poedel wriemel by die halfoop spensdeur uit en gee my ’n paar uitbundige lekke.
         “Bienkie, gaan slaap,” sê Roy streng, maar dan is die poedel by die trap af en by die garagedeur uit. “Ag jirre,” sê Roy wanneer ons die fyn blaffies buite in die agtertuin deur die oop kombuisvenster hoor. “Ons sal haar moet vang voordat ons ry,” sê hy en staan op.
         “Maak klaar julle doppe — ons het reeds al die Harmses in die Pretoria-telefoonboek gemerk.”
         “Dis mos hoe die Terminator gemaak het,” lag Slimjannie.
         “Is daar ’n JJ?” vra ek.
         “Nee — hy moet óf ongelys wees óf nog by sy pa-hulle bly.”          “Dis wat ek dink,” sê Slimjannie.
         “Ek glo weer,” reken Roy, “dat sy soort in Sunnyside of Pretoria-Oos sal hou — in ’n flat daar êrens. Maar, moenie worry nie, ons sal hom kry — sy nommer is op.”

“Nee, wat, ons gaan haar nie hier uitkry nie,” brom Slimjannie, wat half ingeseil onder ’n aalwynbos lê. “Shhh, shhhh,” fluister hy wanneer Anna se skoothond vir hom kef. “Okay, man, jy kan net hier bly,” sê hy en kruip onder die vetplant uit.
         “Hy sal wel môreoggend sy pad weer tot in die huis vind,” sê ek aan Roy, wat net pas ’n kat tussen ’n lappie roosbosse geskiet het.
         “Bleddie Mexikaanse kak — Tequila, dis gif,” sê hy en vee vies sy mond met die rugkant van sy mou af. “Speel jy maar met hierdie katjie,” snou hy Bienkie toe en ontketen so ’n nuwe sarsie geblaf. “Kom,” sê hy nadat Joey op haar knieë weer vir Bienkie tot stilte gepaai het, “kom ons pak klaar en gaan tel vir Papi op.”
         Ons almal ken Roy goed genoeg om nie eens te probeer teëstribbel nie. Joey trippel en maak ’n paar bokspronge op pad terug na die huis toe. “Pretoria Jakarandastad,” sing sy saggies en ek kan sien dat die coke nou lekker met haar woel.
         “Wat het jy aan haar gedoen dat sy nou skielik so vol sights en sounds is?” vra Slimjannie en pomp my speels in die ribbes. “In die restaurant was sy so stillerig en bedeesd.”
         Ek lag bloot suggestief en vrywe stadig oor my arm. “Ag, ek het maar net vinnig haar motortjie opgewen,” sê ek en volg dan die huppelende Joey teen die tuinpaadjie op.
         “Jou bliksem! Dis hoekom julle so lank gevat het,” brom Roy agter my en tik-tik met sy flitslig teen Slimjannie se skouer. “Ek het jou gesê, maar jy wou my nie glo nie. Jagse wetters.”

Die garagedeur sak stadig en brommend en die elektroniese motorhek skuif oop.
         “Almal aan boord?” vra ek en kyk terug na Roy en Slimjannie wat op die agterste sitplek kussings en komberse regskuif.
         “Ja, let’s go,” sê Roy, en “dis bleddie koud, man, maak daai sondak toe.”
         “Dis nie so koud nie — dis net lekker fris,” sê Joey. “Ag toe, Oom, net tot ons op die snelweg is,” pruil sy verder in Roy se rigting en dan druk ek die 4x4 in trurat en trap die petrol.
         Die manjifieke voertuig is nogal meer kragtig as wat ek gedink het en ek voel hoe ons oor ’n tuinbedding of iets dergeliks hop onderweg na die hek. Ek trap vinnig briek en draai dan die stuur om die hekpaal te kan omseil.
         “Wat de fok doen jy?” brom Roy, en “Moet ek eerder bestuur?” vra Slimjannie besorgd.
         Ek trap weer rem en draai na hulle. “Ek is fine,” sê ek, “moes net seker maak of hierdie ’n regte 4x4 is.” Wanneer ek weer vorentoe draai, sien ek vir Anna soos ’n bose voorbode op die balkon voor haar en Roy se slaapkamer staan. Haar lang, swart hare waai effens in die wind en haar gesig is strak.
         Skielik is Joey op, en peul sy met haar bolyf deur die sondak. Dan lig sy die voorkant van haar toppie vinnig en stel haar pragtige borsies in die blou maanlig bloot.
         Anna maak ’n vies beweging met haar hand en draai terug kamer toe.
         “Wat het jy daar bo gedoen?” vra Roy wanneer Joey weer ten volle geklee terugsak tot op haar sitplek.
         “Ag, sommer bietjie asemgeskep,” lag Joey onskuldig.
         Ek sien hoe Anna die glasskuifdeur agter haar toetrek. Ek besluit om die gesig van Anna, en Joey se boob-flash, eerder vir myself te hou.
         “Genoeg van die gerondfokkery, kom ons ry nou,” sê Slimjannie wat homself reeds lekker snoesig toegewikkel het in ’n kombers.
         “Ja, ja, die son trek water,” voeg Roy by en ek kan hoor hoe ’n bierblikkie oopgemaak word. “Die trekduiwel is los,” roep hy dan uitbundig wanneer die kragtige Mercedes-Benz-enjin brul en ons in die voorstedelike straat af verdwyn.

Wanneer die son in ’n skerp oranje punt opkom, is ons op die snelweg tussen Johannesburg en Pretoria. Wat ons egter nie kan sien nie, is hoe Anna, in haar pajamas en kamerjas, hek toe stap om die opgerolde Sondagkoerant te gaan haal. By die hekpilaar ontdek sy die koue lyk van Bienkie, die poedel.
         Ons sien nie hoe Anna plat op haar boude langs Bienkie op die bakstene van die inrit gaan sit nie. Ons sien nie hoe sy oor die kromgetrekte lyfie vrywe en ook nie hoe sy uit haar keel uit huil nie. Sy huil oor die dood van haar lieflingshond; sy huil omdat sy veertig is; sy huil oor al die godsverskriklike stilte; sy huil oor haar simpel, simpel lewe en al die verlore liefde.

In die vaal Gautengse oggendskemer suis ons voort op die betonsnelweg. Almal behalwe ek en Joey is half aan die slaap. Na ons tweede besoek aan Frank’s Grill, vroeg in die oggendure, is Papi darem nou ook aan boord.
         “Papi! Papi!” het Roy al twee blokke weg deur die oop motorruit gebulder en, asof so afgespreek, het Papi inderdaad uit die skadu’s van die restaurant verskyn. Hy het iets aan iemand agter hom beduie.
         “Versigtig,” het Slimjannie gemaan, “hierdie is en bly Johannesburg.” Sy argument het egter opgedroog toe slegs Papi, kombersbondel op die skouer, onder die lig van die straatlamp verskyn.
         “Papi, do you want to come on an adventure with us?” het Roy deur die oop ruit gevra.
         Papi het half onseker na ons gestaan en kyk. “Where are we going?” het hy gevra.
         “Pretoria,” het ek gesê.
         “Tshwane,” het Joey oor my skouer bygevoeg.
         “Huhhh?” het Roy gevra.
         “Dis die nuwe naam vir Pretoria, man,” het Slimjannie ook bygevoeg.
         “I do not know that place,” het Papi gesê. “What do you want to do there?”
         “We are going to teach a man a good lesson,” het Slimjannie vinnig geantwoord.
         “Ja, he is a racist,” het Roy bygevoeg.
         “Nee, man, hy het darem altyd een of twee bruin ouens in sy span,” het Slimjannie vir Roy reggehelp.
         “Ek probeer net vir Papi ’n bietjie op-psyche, okay,” het Roy geantwoord en toe is dit asof daar ’n lig in sy oë opgegaan het. Hy het homself teruggestrek na die bagasieruim en ’n derde geweersak onder die twee jaggewere uitgehaal. “Look what I’ve brought you.” Hy het die rits van die geweersak oopgetrek en ’n netjiese windbuks te voorskyn gebring.
         Papi het ’n tree of twee teruggestaan toe Roy met die geweer in sy hande uit die 4x4 klim.
         “Don’t worry, man, it is for you,” het Roy hom gerusgestel en die geweertjie na Papi uitgehou. Terwyl Papi versigtig die geweer ondersoek, het Roy oor sy skouer na ons gelag. “Ek sê julle wat, ons hou vir JJ vas terwyl Papi hom met ’n paar pellets pot. Wat dink julle?”
         Vyf minute later was Papi tussen Roy en Slimjannie op die agtersitplek en ons op ons pad na die onherbergsame Noorde.

Wanneer ons die Jukskeirivier oorsteek, skrik Roy uit sy sluimering wakker. Hierdie wêreld laat ook vir hom met koue rillings in sy are. Al is hy Calvinisties, en in wese self beperk as mens, sukkel selfs hy om in die benouing wat Pretoria en omgewing is, behoorlik asem te kry.
         Hy staar met ’n triestige, halfdronk gesig by die venster van die Jeep uit en is dan skielik wawyd wakker.
         “My fok,” sê hy en kyk verder oor sy skouer, “is dit dan nie my motorkar nie?”
         In die truspieëltjie sien ek die rooi blits van ’n Mercedes-Benz Roadster wat vinnig nader beweeg. Ons almal hoor die histeriese geskreeu van die sportmotor se enjin, self bo die rustige gezoem van ons 4x4.
         “Dis Anna!” roep Slimjannie wanneer die Roadster tot net regs van die 4x4 beweeg het en dan “Koes!! Koes!!” wanneer die eerste 9 mm-koeël ’n gat in die ruit net links van sy gesig slaan.
         Alles begin skielik stadiger beweeg. Ek hoor nog een of twee plofgeluide van ’n ligte handwapen en dan is daar die stamp van metaal teen metaal. Skielik hink die Jeep na links en dan is ons uit teen die wal en rol ons terwyl glas om ons breek en die wêreld draai.

Ek kyk op en kan deur die gebreekte ruit sien hoe Anna die sportmotor dwars oor die pad tot stilstand gebring het. In die neus van die Benz sit ’n enorme duik waar sy ons getref het en klein glasdiamantjies skitter oor die breedte van die snelweg in die vroeë oggendlig.
         Anna sukkel by die Roadster se deur uit, die 9 mm-pistool steeds in haar hand; haar oë wild — sy skreeu iets.
         Maar dan word haar stem uitgedoof deur die brom en getoeter van ’n vragmotor, die sis en geskreeu van lugremme en dan ’n slag.
         ’n Vervormde stuk rooi metaal val op die teer net langs my gesig. Ek probeer myself draai om te sien wat gebeur het, maar iets druk my vas. Dan vind ek die gespe van die veiligheidsgordel en seil onder die lugsak uit.
         Die trok het veertig meter anderkant die plek waar hy Roy se manjifieke sportmotor getref het, tot stilstand gekom. ’n Man in ’n blokkieshemp beduie verwilderd terwyl hy met iemand op sy selfoon praat.
         In die pad lê ’n enkele pienk pantoffel waar Anna vaneffe gestaan het.

“God,” sê Roy terwyl hy by die verfrommelde wrak van die sportmotor inloer. Daar loop steeds ’n dun straaltjie bloed van sy linkerslaap af. Hy buig vorentoe en leun in die wrak in. Wanneer hy sy lyf weer uit die kajuit uit trek, is die lyk van Bienkie, die poedel, half toegerol in die Sondagkoerant, in sy arms. Hy kyk na my.
         “Kom hier — kom hier!” hoor ons vir Slimjannie tussen die bosse langs die pad roep. “Ek het vir Papi gekry.”
         Roy sit die dooie hond langs die wrak neer en ons draf oor die snelweg, na waar ons vir Slimjannie steeds kan hoor roep.
         Agter ’n ry struike kry ons hom waar hy langs Papi kniel. “Hy moes uitgeval het toe ons rol,” sê hy en gaan sit dan plat op die grond langs die swart straatkind. Papi lê met sy knieë opgetrek, asof teen die koue. Daar is ’n blou skynsel agter sy wange en sy kop hang lomp en skeef.
         Roy trek sy bebloede baadjie uit en gooi dit oor Papi se gesig.
         Nie een van ons weet wat om te sê nie. “Die polisie en ambulans sal seker nou-nou hier wees,” sê ek dan maar en stap terug pad toe waar Joey in die stof sit en voor haar uitstaar.
         Dan kom sit Roy en Slimjannie ook maar by ons langs die pad en wag vir die nooddienste om hul opwagting te maak. Die lorriebestuurder sit in sy trok en kyk vir ons — sy swart gesig is wit van die skrik.
         Slimjannie vat die koerant wat Roy steeds in sy hande geklem hou en vou dit oop. Hy lees vir ’n oomblik of twee in stilte. “Wil jy weet wie in die Bokspan is?” vra Slimjannie dan aan Roy en hou die koerant weer na hom toe uit.
         Joey sit en bewe liggies onder my arm.
         “Wat maak dit tog saak?” vra Roy en staan moeg op. “Wie gaan oor tien jaar daaroor omgee?” Hy stap tot in die middel van die stil snelweg en skop ’n wieldop van sy Mercedes-sportmotor wat skeefgebuig oor die witstreep lê. Die dop ratel en rol tot in die bossies aan die ander kant van die pad. Dan draai Roy homself dat hy noord, al teen die snelweg op kyk. Hy lig sy hande in ’n moedelose gebaar en skreeu dan in ’n skor en dun stem: “Fok jou!!! Fok jou, JJ Harmse!!”



LitNet: 26 Mei 2004

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.