NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Jaco Botha
is op 17 September 1972 gebore. Hy gaan skool op Worcester en voltooi sy tersiêre studies aan die Universiteite van Stellenbosch en Kaapstad. Verskeie van sy artikels, prosa en gedigte verskyn in publikasies in Suid-Afrika en Nederland. Sy mees onlangse publikasie is ’n bundel kortverhale getiteld Sweisbril en word uitgegee deur Human & Rousseau
  Jaco Botha

Om die laaste woord in te kry

Jaco Botha

Op die tweede dag ná Kersfees reën dit. Ons is as gesin saam by die see en het al dié seisoen van strandtennis, tot veerpyltjies, tot brug teen mekaar gespeel — ons is maar ’n kompeterende spul.

My pa is besig om sy koerant te lees. My ma was die skottelgoed en die wolk wat om haar kop hang, is bykans donkerder as die reënwolke buite. Niemand was lus om saam met haar op George te gaan fliek nie.

Ek is besig om ’n muurbalballetjie met perfekte reëlmaat teen die plafon te bons wanneer my broer vra: “Is iemand nie lus vir ’n gamepie Scrabble nie?”

My pa laat val sy koerant en ek verloor beheer oor die muurbalballetjie en vernietig só amper ’n keramiekblompot.

Tot almal se verbasing is dit my ma wat sê, “Ja, kom ons speel.” Is dit dan nie juis sy wat verlede jaar gesê het “Nooit weer nie!” Effe bewerig onthou ek hoe ek en my pa derduisende glasstukkies moes opvee nadat Moederliefde se woord deur ons, die paneel, verwerp is. Sonder ’n woord het sy die HAT deur die toe vensterruit na buite geslinger. “Nooit weer nie!” het sy ’n uur later vanuit die slaapkamer geroep.

Met ’n groeiende gevoel van bekommernis help ek om die bord, letters en voetstukkies uit te pak. “Onthou, dit was net eergister Kersfees,” maak my pa vroegtydig voorbrand, terwyl ek die woordeboeke uit die rak lig.

“Onthou, dis net ’n game,” voeg my ma by — leë, leë woorde.

En dan, teen alle verwagtinge in, begin die spel eintlik heel beskaafd. “KERK” word uitgebou tot “KERKSAAL” en hieruit spruit dan ook “KRUIS” — alles mooi in die gees van die seisoen. Nog een of twee mindere woorde volg om die valse vrede te versterk, maar dan verskyn “RENJAS” en “DUIMSALF” wat besliste wenkbroue laat lig. “MEERKAT” kalmeer vir ’n oomblik weer die gemoedere, totdat my broer met ’n verbindings-”s” “SMEERKAT” en “STROT” bou. Hy probeer nog verduidelik dat smeerkat “road kill” is, maar my ma het reeds ’n “N” by “STROT” ingevoeg en ek beweeg solank die swaarder woordeboeke eenkant toe.

My pa, wat in hierdie stadium geloof en belangstelling in die spel begin verloor, pak ’n moeë “KRYTE”.

“Wat is ‘kryte’?” vra my ma terwyl sy krities na die woord kyk.

“Bokskryte, stoeikryte.”

My ma trek die woordeboek nader.

“Haal dit af,” sê sy ná ’n paar sekondes se deurblaai. “Dit kom nie hierin voor nie.”

My pa lyk werklik geskok.

“Maar kryte is tog reg,” sê ek met my ingebore sin vir regverdigheid en my graad in Afrikaans, en is onmiddellik spyt daaroor.

“Goed,” sê my ma, “‘Kryte’ kan staan, maar dan kan hierdie woord sekerlik ook.”

“Wat beteken dit?” vra my broer terwyl sy vorige woordjie “JA” uitgebrei word na “JAPZIPKIP”.

En indien enige iemand anders ook gewonder het: “JAPZIPKIP” beteken, om die laaste woord in te kry en om vredesontwil daarmee weg te kom.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.