|
|
My straat se menseSkuins oorkant ons bly n klein, ou vroutjie nog haar hele lewe lank. Dou voor dagbreek vee sy haar stoep en dan, voor die kinders skole toe marsjeer, voer sy n gesprek met die plante. Die huisie lyk klein van voor, maar binne bly al drie haar seuns, hul vroue en selfs n klein sproetgesiggie of twee. Haar ouderdom kom met groot gebreke, tog sien sy nog vroeg elke Saterdagmôre kans om die lang pad winkels toe op haar twee bene aan te durf. Nee, dankie, sê sy tog te gereeld vir dié wat tydige hulp wil aanbied en druk haar handsak nog stywer onder haar arm. As die pad vir haar te veel raak, sal sy vir n oomblik stilstaan, die sakkies vir n wyle neersit en dan maar weer haar eie gang gaan. Bedags maak sy getrou die huis skoon en saans staan sy voor die kospotte. Niemand in daai huis wil n vinger lig nie, skinder die mense in my straat. Die arme vrou moet self sien en kom klaar. En dan moet sy boonop elke maand haar pensioengeldjies bymekaar skraap om al wat rekening is te betaal. Maar een weeksdagoggend sien ek hoe haar oudste seun, lankal nie meer nat agter die ore nie, die geel kar uittrek en hoe sy daarin klim. Sy het anders as gewoonlik n bont doek om haar kop gedraai en een groot reistas self agter in die kattebak gelaai. Vir reis is sy beslis te oud, en familie had sy lankal nie meer nie. Vir die volgende twee weke het ek soos gewoonlik vroeg die gordyne oopgetrek en met n koppie koffie in die hand tevergeefs na Miesies Solomons in haar tuin gesoek. Die bome het hul groenheid verloor en die katjiepiering, net voor die tuinhekkie, se spierwit blom het op die aarde gaan lê. Niemand wat ek ken het ooit met haar geselsies aangeknoop nie, al het sy altyd dit waarmee sy besig is vir n oomblik laat staan om verbygangers te groet of nooit n kwadewoord teen kind of kraai gespreek nie. Of enigiemand agtergekom het dat sy nie meer daar is nie, weet ek nie. Toe, laat een Vrydagmiddag, het dieselfde kar weer by die groot hek ingetrek. Op die agterste sitplek kon ek haar klein koppie van ver af sien. Haar kinders het almal uitgekom; die vroue met hul geblomde voorskote het met hul hande in die sy gaan staan en haar twee jonger seuns het nader gegaan. Miesies Solomons kon nie self uitklim nie en het met die sterk arms van haar twee seuns die huis binnegegaan. Die derde het haar tas uit die kattebak gelaai. Niemand het n woord gerep nie en die stiltes het aan almal gegroei. Waarom het hierdie reeds oue vrou vir my skielik nog ouer gelyk? Ek was nie die enigste wat hul aangegaap het nie, het ek gou agtergekom. Al wat buurmens is, was aant wonder. Uncle John het by sy venster uitgeloer, aunty Ria en ouma Helen het op hul stoeppe gaan staan. Die kinders in die straat moes dit ook agtergekom het, want hul het ophou sokker speel en dié storie oopmond staan en dophou. Hul voordeur was skaars toe of die Hadjih het met n vuil kerrievadoek na aunty Ria gehardloop. Dit was lank byna aandete, maar dié het nog in nagklere paradeer en met n kous op haar kop die strate regeer. As daai vrou nie siek issie, wil ekkie my naam hê nie, het Hadjih met haar mond vol goue tande gesê en n sigaret aangesteek. Op sterwe na die dood, sieker kanker. En so het die mense vir die eerste keer oor haar begin praat. Miesies Solomons se kinders was van kleins af reeds die talk of the town eers die skandaal toe die oudste se meisie hoog swanger haar matriekeksamen moes aflê, en na mate hul ouer geword het hul onvermoë om ordentlik vir hul ma te sorg. Maar oor haar het niemand ooit gepraat nie. Nou sê dié wat weet dat sy nooit weer iemand kon liefhê na haar man se dood dertig jaar terug nie; dat sy nou die duur rekening van haar kinders betaal. Of sy rêrig kanker het, sal die straatmense nooit weet nie. Almal vrek van nuuskierigheid, maar niemand het genoeg murg in hul pype om dié familie te nader nie. Miesies Solomons het steeds nie meer soggens in haar tuin kom werk nie, en al water wat die plante gekry het was dit wat uit die hemele kom. Wat eens n goed versorgde tuin was, het gou net soos die meeste mense in my straat sn begin lyk. Sy self het nooit onkruid gesaai nie, maar oral het bossies vuilgoed begin opgaan en gou-gou die blomme begin verdring. n Maand of twee later het manne in swart pakke en groepies somber vroue elke aand daar kom biduur hou. Buite kon mens die gesingery hoor, en as jy fyn luister ook die prediker. Só het dit vir weke aangegaan. Weer het die mense in my straat begin praat oor Miesies Solomons. Jirre, Ria, die vrou is sieker op haar laaste, het Hadjih gefluister. Hulle het begin wonder oor dinge soos wie nou sorg dat die koskaste vol is, die huis skoon is en die rekeninge betaal. Maar steeds wou niemand saans die bidure bywoon nie, want ons hang in any case nie die Apostoeliese geloef annie. Toe, vroeg een oggend toe ek soos gewoonlik met n koppie koffie deur die venster staar, merk ek n ry karre voor Miesies Solomons se deur. Buite sit n vreemde groepie mense vervaard op die stoep; n man klou, met sy een been teen die muur, aan n sigaret vas. Die nuus het soos n veldbrand versprei en die hele week lank het mense van heinde en verre gekom om die trane te probeer afdroog. Selfs die mense in my straat. Ouma Helen het blomme gestuur, aunty Ria en Hadjih n kaartjie en uncle John se predikantskind het selfs een aand n biduur waargeneem. Vir hulle was dit blykbaar geen probleem om soos wafferse vriende in die kombuis te help tee maak vir die besoekers, en saam met die Apostoeliese te bid en oor Miesies Solomons se lewe te bepeins nie. Met haar begrafnis die Saterdagmôre het almal opgedress en trane gestort toe haar kinders die klein, swart kissie uit die huis dra. Hul het in die voorste banke van die kerk gaan sit, hul koppe geskud as ander van haar goeie lewe praat en selfs die laaste sand op ou Miesies Solomons se graf gegooi. Van die dood in die lewe gekom het, sê die mense in my straat, kan n mens nie meer van jou eie so seker wees nie. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |