NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Gelkie virre brooikie

Hannes Steyn

Hy het die drie begin dophou die oomblik toe hulle om die hoek kom. Kon hulle nie eintlik miskyk of mishoor nie, die skril stemmetjies wat die parkharmonie sny.

Hier so skaars vyf treë van sy oop motorvenster tjirp ‘n paar mossies onverpoosd in een van die akkerbome. Dalk het hulle kapsie teen sy teenwoordigheid, dink hy half gekrenk. Oorkant die straat koer ‘n tortelduif op die kragdrade.

Die laat-Augustus-briesie swiep teen sy twee dae oue stoppels. Hy mik-mik om die ruit toe te draai, maar besluit daarteen.

Hy sit nou al langer as ‘n uur hier en tob. Kon net nie langer die gemoanery verduur nie. “Wanneer kry jy vir jou werk? Hoekom lig jy nie eerder jou alie en was die kar nie? Hoekom maak jy jouself nie respektabel nie … is dit nodig om daai hemp twee dae na mekaar te dra? Bla bla bla …” Ten einde raad het hy die karsleutel gegryp en die huis uitgestorm. Hy wou aanvanklik Gordons toe gery het, maar die moeë petrolnaald het hom genoop om langs die verlate parkie te stop.

“Selfs nie eens die see sou my beter kon laat voel nie,” redeneer hy by homself terwyl hy sy ore spits om te probeer hoor waaroor die kinders so uitgelate is. En dit met die vakansie wat nog maande weg is!

Orrelpypies, hier so om en by die ses, ag en twaalf. Netjies en gemaklik aangetrek, merkbaar onbewus van die ongemaklike suidooster wat om hul kaal beentjies loei. Dit lag en gil en stamp uitgelate. Dan sien die ouer seun die torrie op die draad en hy mik vir ‘n kluit. “Agbert, moenie jou simpel hou nie, netnou breek jy ‘n venster,” raas sy ousus kliphard en pluk hom aan sy kraag.

Die man versit hom effens en trek die Distrikspos ongemerk nader. Hy maak of hy lees, maar hou hulle oor die rand van die stuurwiel dop.

Toe hulle so twintig treë van die voertuig kom, rem die einste Agbert die ander tot stilstand en wys na die motor. ‘n Ernstige debat, gepaardgaande met armswaaie en kopknikke volg. Agbert is obviously die voorbok. Ousus die konserwatiewe. Die kleintjie is op hierdie stadium meer geïnteresseerd in die duif op die draad. “Snotneus”, doop die man hom in sy gedagtes toe hy die agtermiddagson teen die nat streep op die wang sien weerkaats.

Net toe dit lyk of ouderdom tog die deurslag gaan gee, pluk Agbert hom los van die argument en skuifel nader. Die ander twee drentel agterna.

“Hier kom dit,” dink die man met groeiende afwagting en lig die koerant effens hoër.

“Môre Meneer, het die Meneer nie …”, maar dan begewe sy moed hom en hy loop-hardloop vinnig verby die motor.

“Môre … middag, seun!” roep die man terwyl hy die koerant laat sak en sy nek agter die outjie aan draai. Hy maak asof hy die ander twee wat so ongemerk moontlik probeer verbyskuif, nou eers sien.

“Middag julle, lekker dag nè?” laat hy hulle verstaan dat alles nie verlore is nie. “Sou graag wou weet wat daai outjie my wou vra,” mompel hy onderlangs, net hard genoeg vir die twee om te hoor.

“Mirrag Meneer,” koor die twee terwyl hulle hul pas versnel.

Die man verstel sy truspieël en merk hoe die drie hulle sameswering hervat. Sussie is nou net so opgecharge.

Hierdie keer word besigheid bedoel, want Agbert kom meer selfversekerd teruggeloop.

“Verskoon my Meneer, maar het die Meneer nie vir ons ‘n gelkie virre brooikie nie?” – dit terwyl hy so honger en respekterend moontlik probeer lyk.

“Hoe? Wat?” Kamstig asof hy dit nie verwag het nie.

“’n Gelkie, Meneer … virre brooikie. Ons het … e … e ... twee dae laaste geëet,” lieg die knaap terwyl hy die man vol in die oë kyk.

Die man was voorbereid hierop en het klaar sy strategie in plek.

“Jammer ou seun, ek het nie vir jou ‘n geldjie vir brood nie … net vir sweets”, en daarmee draai hy sy rug op die verdwaasde seun en wend hom tot sy koerant.

“’Skuus Meneer, wat het die Meneer gesê?”

“Ek sê ek het nie geld vir brood nie, net vir sweets.”

Nou het hy reg gehoor.

“Haai julle, die lanie hettie geld vir brotie, net vir sweets! … Dis dan goed so, Meneer, ons sal dit maar so vat.”

Die blikskottels, so asof hulle my ‘n guns bewys, dink die man goediglik, sy swartgalligheid vergete.

“Kom Gladys, kom hier!” soek Agbert versterkings. Dan is dit haar naam – Gladys!

Soos blits sak die drie gesiggies die oop venster toe.

Nou is die man in sy element; die aas het gewerk.

Hy trek sy beursie uit sy gatsak. Met groot melodrama ondersoek hy die inhoud, alte bewus dat dit net die kleingeld van die koerant bevat – R7, om presies te wees.

Hy haal eers die R2 uit en merk hoe afwagting in teleurstelling verander. Dan plaas hy die onwelkome muntstuk terug en na vele krappery kom die grote uit. Hy aarsel ‘n oomblik, maak kamstig sommetjies op sy vingerpunte en plaas dan die muntstuk in Gladys se uitgestrekte hand. “Dankie Oom, baie, baie dankie,” koer Snotneus, die respekvolle aanspreekvorm vergete.

Voor Gladys haar handjie kan terugtrek, hou die man dit vir ‘n oomblik vas, maak oordrewe keel skoon, en terwyl hy om die beurt na al drie kyk, lewer hy die vonnis: “Dogterjie, sorg dat die geld presies tussen julle verdeel word. En ek meen presies!”

“Seker, Meneer,” kom die oorgretige antwoord, maar dan dring die werklikheid van die driemaal-tafel tot haar deur.

“E ... e ... moet dit presies wees? Lionel is veel kleiner as ons”, en sy mik haar vinger na Snottie se knieë, natuurlik om die verskil in grootte soveel moontlik te aksentueer.

“Presiés, sê ek vir julle. Presiés.” Hy leun by die ruit uit en wys na die kleintjie. “Sno– … ek meen Lionel … moet dieselle as julle kry. As dit nie moontlik is nie, bring julle die res terug vir my. Ek is ‘n regverdige mens. ‘n Regverdige lanie, vertel ek nou vir jou.”

Die verdwaasde uitdrukking op die kinders se gesiggies is te veel vir die Samaritaan. Hy moet sy kop noodwendig skuins draai en homself dwing om nie hardop te lag nie. Hy wonder of dit die moeilike som of die verwysing na sy integriteit is wat die kinders so confuse. Seker maar die sommetjie.

Sonder om haarself te verskoon, trek die meisie vir Agbert sypaadjie toe. Vinnig word ‘n kol skoongekrap. Die stof het skaars gaan lê, of daar word vurig met ‘n stokkie aan die deelsommetjie gewerk.

Dis net Lionel wat by die ruit agterbly. Snuitend en met openlike heldeverering betrag hy die motor. Die man vang sy oog, knik en strek sy arm uit om die kort steekhaartjies te vryf, maar die seun draai verleë weg en skuifel na die ander twee toe.

Na veel geredekawel, selfs met irriterende insette vanaf Lionel op die kantlyn, is die afvaardiging gereed met hul oplossing. Agbert het die eer om te verduidelik.

“Meneer sien, die saak staan so. As ons die R5 tussen ons deel, kan elkeen van ons R1,65 kry en bring ons vir Meneer die change … e … e … die res van vyf sent. Wat is vyf sent tog maar?” – en met dié trek hy die skouertjies op en vlek sy palms na bo vir bevestiging. “Maar as ons die hele R7 kry, sal ons elkeen net R2 vat en …. en ons gee die anner rand vir iemand wat dalk ‘n gelkie soek. Vir ‘n brooikie of so iets.”

Volpunte vir innovasie, dink die afgetrede onderwyser terwyl hy selfvoldaan na sy beursie reik.


LitNet: 9 Mei 2006

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.