NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Henning Pieterse (1956)
is ’n Afrikaansonderwyser aan Hoërskool Overkruin in Pretoria. Hy verwerf die M.A. (Afr.) en D.Litt. in Afrikaans oor die literatuuropvatting van T.T. Cloete aan UP. Talle van sy artikels, oor onderrigaspekte in Afrikaans, is gepubliseer in Tydskrif vir Letterkunde en Klasgids. Hy is tans ’n eksaminator van Afr. in Gauteng (gr. 12) en tree op as redaksionele adviseur van Klasgids.
  Henning Pieterse (1956)

Selfsinopsis in voëlvlug

As daar nou een ding is wat sy nie kan verdra nie, is dit vinnig bewegende voorwerpe, veral lewendige goed. As kind moes Pa of die bediende altyd help as daar per abuis ’n veldmuis in die huis beland het. Vandat haar man minder tuis is, voel sy toenemend onveilig. Tog het hy die vorige nag vir ’n verandering weer langs haar geslaap. Met sy vertrek vanoggend het sy gewens dat sy saam by die deur kan uitglip om vry te wees. Maar sou sy só kon ontvlug?
     Miskien oorbrug die baba later wel die kloof tussen hulle, hoop sy en maak ’n venster op ’n skrefie oop om vars oggendlug te laat inkom. In die kombuis skakel sy die radio aan en op die stoof maak sy ’n eier gaar. Vir hom maak sy melk warm sodat hy pap kan kry voordat hy blou van die honger begin skree en die nuwe dag nog triestiger laat voel.
     ’n Tiptol moes by die een bolig ingevlie het, want duidelik hoor sy die fladdering van verwilderde vlerke en waar die eerste ligstrale by die sitkamer-venster inskyn, dwarrel-hang ’n gelerige donsveertjie in die lug.
     Die volgende oomblik sirkel die verwilderde voël in die kombuis bokant haar kop rond en dit lyk kompleet of hy na haar toe wil afduik. Koue rillings vul haar liggaam en sy voel weerloser; magteloos soos ’n kindjie teen die onvermydelike aanslae van buite.
     In die kamer verraai sy huil dat hy wakker is. Sy durf nie nou die gang afloop nie want sê nou die voël vlieg in haar vas? Sy durf ook niemand bel nie, want sy moet presies weet waar die voël is.
     Die draaiende voël roep ou herinneringe op: Die dag toe sy met die tennisbal teen die garagemuur gespeel het en dit twee keer na mekaar mis geslaan het, het die vreeslikste woedebui in haar ontvlam; só erg dat sy haar raakgebyt het, die raket teen die harde stene vermink het en met ’n groot vaart teen die muur aangestorm het om haar kaal voet teen die steenharde konstruksie te pynig.
     Toe sy die pyn voel, het dit haar tot besinning gedwing en toe Pa daarvan by oom Tom, die buurman hoor, het hy gesê dat dié gebeure haar verdien-de loon was.
     Helder onthou sy die dag toe die ou tannie langs die pad gelê het. Kermend van die pyn. ’n Swart man het haar met sy motorfiets raakgery en is sonder om stil te hou daar weg. Self het sy neus in die lug by haar verbygeloop en gehoop dat die spreekwoordelike Samaritaan binnekort sou opdaag. Dié Sondag het Dominee oor naasteliefde gepreek. Vir ’n hele maand lank het sy nagte lank wakker gelê.
     Kyk net hoe verwilderd fladder hy met sy vlerke op soek na uitkoms. En sy help hom nie. Sy durf nie ’n hand lig nie. Sy kan nie! Die aaklige krieweling in haar nek en die vrees dat die ding in haar gesig sal vasvlieg, weerhou haar van enige handeling. Die kind huil en sy kan nie tot sy redding kom nie.
     Sy wonder of haar koketterie nie die oorsaak vir die haglike situasie is waarin sy nou sit nie. Sy kon tog so impulsief op ’n sensuele blik reageer en vir dae lank broeis daaroor bly.
     Die kind huil en die vingers aan albei haar hande voel soos duime. Daar is so baie ander dinge wat sy liewer opgelos sal wil hê. Om eerlik te wees — as die skreeuende bondeltjie nie daar was nie, was sy nou ’n vry mens.
     Ander vroue van haar ouderdom lyk so selfstandig en vry, maar sy sit dagin en daguit tussen die vier mure van ’n mynhuisie vasgekluister. Tog het sy alles wat ander vroue het?
     Die benoude voël mis en die blerts beland reg voor haar op die tafel. Dit ruik bedompig, benoud. Sy besef daar is te min vensters oop in die vertrek en met die volgende duikbeweging stamp sy refleksief die bottel tamatiesous om en met dié beweging swaai haar een arm die deur toe. Nou is sy van die res van die huis afgesny. Dis net sy, die voël en haar gewete.
     Hoe langer die voël sirkel en duik hoe moeër raak hy. Bokant die opwas teen die venster, sien hy ’n weerkaatsing van sy beeld.
     Die verbouereerde voël mis weer op die tafel. Die kind huil al hoe harder en dringender, al is die deur toe. Hoor niemand die kind dan huil nie?
     Skielik ruk die buurvrou aan die agterdeur. Dit is gesluit. Sy hoor natuurlik die kind huil! Maar ek kyk haar dan nooit eers aan nie, dink sy — dis tog onmoontlik! Die voël vlieg lank nie meer rond nie, maar sit nou weer teen die toe ruit en kweel van plesier oor sy beeld wat in die venster weerkaats. Intussen het die buurvrou se man opgedaag. Toe hy die deur oopforse-er, het die tiptol ongeërg by die opening uitgevlieg.
     Met die kind, nog onophoudelik aan die skreeu, skakel sy die radio af, verwens haar pa, oom Tom, haar man en die ontydige kind; die hele gemors waarin sy vasgedraai sit. Met dié dat haar een oog op die voëlmis val, word sy mislik en bly onvergenoeg in ’n sweetbad sit.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.