NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Liewe Lena

Jaco Fouché

Lena is op 49 nog mooi so met die eweredige tande en die donker oë. ’n Netwerk plooitjies trek oor haar gesig wanneer sy glimlag, maar dit doen sy nog steeds nie gereeld nie – in elk geval, nie in my geselskap nie. Ons is soos altyd strammerig vir mekaar. Weer wonder ek hoekom. Is dit die voor-die-hand-liggende moontlikheid, naamlik seksuele spanning? Sy’s natuurlik van postuur ’n groot mens, hoewel sy haar figuur dophou en nie eet wat ons eet nie, maar haar eerder wend tot allerhande groentegebaseerde konkoksies wat sy in die mikrogolfoond warm maak. Sy het lang, krullerige hare, en ’n stem wat seker nie baie sterk is nie, maar dit is myne ook nie. Ek weet nie of ek haar aantreklik vind nie. Ek dink ek wil eerder met haar gesels as om haar die hof te maak; ek dink ek wil eerder net hierdie jarelange gegriefdheid opklaar voor ek teruggaan Bellville toe.

Maar hoe doen ’n mens dit? Gisteraand by die braai in die agterplaas praat ek met D oor Benjamin Kapp se boek Die Toedrag van Sake, toe kom Lena se stem skerp uit die kombuis waar sy en ’n vriendin die braaibroodjies maak en oor iets by haar werk gesels: “Snob!” Is ek wel een deur oor boeke met hierdie mense te praat? Dis moeilike geselskap om in te wees. Amerikaanse mense word sonder skroom opgehaal en opgehemel (al die film- en televisiesterre), maar moenie ’n Suid-Afrikaanse en veral Afrikaanse naam noem nie. Nou die aand toe die jonge tannie Kate hier was (die vroue in hierdie familie is almal aantreklik), het Lena gepraat oor die aktrises wat Cagney en Lacey in die destydse televisiereeks gespeel het. Een van die twee is deesdae in Judging Amy te sien. Die ander een is glo lesbies, ’n brokkie nuus wat my ore dadelik laat regop staan het. Ek voel soos Walter Matthau in die fliek Grumpy Old Men: “Lesbians … Yummy!”

Ek dink aan Kapp wat in Toedrag skryf oor sogenaamde werkersklaswoede. Daardie woede strek volgens hom waarskynlik uit na die ander subindelings in die gemeenskap – die laer middelklas met hulle penpusher-aspirasies is net so beduiweld, en die middel-middelklas wat Sion in die verte kan sien, maar nie die dagreis soontoe kan aflê nie, seker ook. Maar die klasse hoër as dit het aan die ander kant ’n verspotte gesindheid: hulle bly hulleself verwar met vriende van Marie Antoinette; hulle bly die dag van revolusie vrees waarna hulle byvoorbeeld kafee toe sal moet stap in plaas van ry. Of so maak ek die sakie af.

Eers het ek die opmerking oor, of waarneming van, werkersklaswoede aanstootlik gevind. Kapp gee my gereeld aanstoot en dan sit ek sy boeke neer, net om oor ’n paar dae weer te lees. Ek moet soms wonder wat weet ’n mens met ’n universiteitsgraad eintlik van die lewens van diegene wat nie net geen tersiêre opvoeding het nie, maar ook glad nie belangstel daarin nie. Ek bedoel, ek ervaar nie eintlik woede in myself oor my posisie in die samelewing nie (in elk geval nie sover ek weet nie). Ek is eerder begaan oor my produktiwiteit – of is dit op die ou end een en dieselfde kwelling? Beteken die werk my enigste kans op ’n noemenswaardige posisie en is dit hoekom ek dit doen? Miskien moet ek myself nie te raak probeer eien nie; dit breek dalk my hart ...

Maar dit is so dat ten minste sommige mense ontevrede is. Waar gaan ’n mens egter heen met die gevoel? Mense praat nie sommer oor hierdie dinge nie, behalwe in oorvereenvoudigde en afbrekende terme: hierdie een is ’n snob, daardie een is kommin-met-’n-k, ’n derde een weet nie wáár hy inpas nie. Wie spreek die probleem aan? Kommuniste en vakbondleiers, ja, maar wie anders? ’n Verdwaalde skrywer hier en daar, en miskien ’n sosioloog of twee. En dalk psigiaters.

Lena is ’n kenner van afwykings. Ons kyk ’n fliek in die sitkamer oor ’n vrou wat van dranksug gerehabiliteer word en Lena praat oor die Twaalf Stappe en berading en die belangrikheid daarvan om te besef jy moet tot jou eie redding kom. Daardie laaste deeltjie roep by my op ’n godsdienstige iemand op skool wat gesê het die Christendom is die enigste godsdiens wat nie sê jy moet jouself help nie, maar hulp van ’n lewende God verwag. Daardie persoon het gesê: wat ons onderskei van die heidene, is dat ons God leef. Dit was destyds vir my ’n treffende stelling, maar jare later het ek met ’n familielid gepraat wat pas ma geword het, en ek het gewonder hoe moes kinders versorg vir die heel eerste gesinne gewees het, en die familielid het gesê: die heel eerste gesin het God geken; hulle het al die hulp gehad wat hulle ooit sou nodig kry; hulle het dadelik geweet wat om te doen. Toe het die idee van goddelike ingryping vreemd voorgekom – ek was reeds ’n heiden.

Miskien sal Lena weet. Dis geen groot geheim dat sy haar al van psigiatriese hulp bedien het nie, en ook nie dat sy selfs al kranksinnig was nie. Sy het duiwels en gode leer ken so in haar dwalinge en hallusinasies. Ek ken nie die storie baie goed nie; weet net dat sy ’n werk verloor het en aan die dwaal geraak het in die stad, waar die polisie haar na ’n paar dae gekry het en weer na haar mense gebring het. Sedertdien gebruik sy medikasie. Sy werk nou as klerk in ’n musiekwinkel hier op die dorp, terwyl sy eens ’n bemarkingsbestuurder by ’n platemaatskappy in die stad was. Praat van onderpresteer, maar blykbaar wil sy die minimum spanning in haar lewe hê. Maar meer as dit, het sy eenmaal gesê, het sy geleer wat belangrik is in die lewe. Sy het nie meer lus vir wedywering met ander skerp verstande en groot aptyte nie. Sy het haar baie ambisie ingeruil vir ’n bietjie tevredenheid. Sy werk nog steeds met musiek en sy geniet dit om albums by voornemende kopers aan te beveel, omdat sy een en almal ken.

Ons eet ontbyt in die eetkamertjie terwyl ons om ’n tafel sit op bankies. Lena bly nie hier nie, maar kom soggens en saans by haar ma om om te hoor of daar iets is wat sy vir haar kan gaan kry. Hallo, sê sy wanneer sy inkom, mooi opgemaak en aangetrek vir die dag in die musiekwinkel. Sy praat oor ’n nuwe plaat waarvan ek dalk sal hou. (Miskien is ek vergewe vir my snobistiese streep.) Die plaat is een van daardie konsepalbums en herinner haar aan Rick Wakeman en Roger Waters. Sy moet eers aan my verduidelik wie Rick Wakeman is of was en sê dan dat hy dekades terug ’n album gemaak het na aanleiding van ’n Jules Verne-boek, Reis na die Middelpunt van die Aarde. Dis ’n geleentheid om te gesels en ek luister na haar tot sy moet gaan werk.

In die dag stap ek deur die dorp en loop iemand raak wat saam met my op skool was. “Hoekom sien ons jou so min?” en “Waar werk jy nou?” hoor ek. Publikasie is nog nuut genoeg vir my om my opgewonde te maak, maar ek skram weg van die onderwerp, gedagtig aan Lena se aanklag uit die kombuis gisteraand. Die idee van kuns skep (of dalk máák of jy kuns skep) besiel, of obsedeer, nie almal nie.

In die middag eet ek iets van KFC en sit ’n halfuur op ’n bankie in wat hulle deesdae die Groen Sone noem en kyk na die rivier. Maar ek voel soos ’n leeglêer, veral toe ek twee mans sien naderkom wat lyk of hulle mens vir vyf rand sal vra, en ek gaan help eerder Lena se ma met bakwerk. Ons gesels oor jare terug. Die kombuis ruik heerlik en ek wens eintlik hulle wil nie die binnedeur toehou nie, sodat die kosreuke deur die hele huis kan trek.

In die aand kom Lena weer om. Sy lyk ’n bietjie ontsteld oor iets. Dis waarskynlik aan die siekte te wyte dat sy soms bot, soms geselserig, soms ontevrede is, bespiegel ek. Geringe dingetjies krap haar om, hoewel sy lewenstrategieë het, soos om te leer onderskei tussen belangrike spanning en onbelangrike spanning. Dit het sy my vertel toe sy in ’n goeie luim was. Sy maak weer ’n eetding wat haar van ons onderskei, iets met hopeloos te veel spinasie en pietersielie na my sin. Ek eet hoenderpastei; ek gooi blatjang daarop.

Ons kyk weer ’n fliek: dit handel oor twee broers in ’n afgesonderde plaasgemeenskap wat in ’n ooptopmotor rondry en meisies in kroeë ontmoet. Die twee broers kry stry en ’n vete ontstaan, maar dis als jeugdige oordaad en hormonale wanfunksie wat uitgebeeld word. Aan die einde verenig hulle weer en boer saam. Dis Bellville-boys, dink ek. As Bellville-boys moet emigreer, sal hulle die beste in die suide van Amerika aard. Ek kyk van tyd tot tyd na Lena, maar sy kom dit agter en frons vir my. Wat ’n ergerlike soort mens – of is ek orig? Sy laat my steeds voel soos ’n skoolseun, aan die loer na sy maat se mooi ouer suster.

Toe ons tee drink, praat sy oor die dag in die winkel. Iemand is gevang CD’s steel, vier of vyf albums van die Doors. Dit maak dit moeiliker om te prosedeer, want die persoon wil kennelik ’n versameling begin of aanvul en is dus ’n gelykdenkende soort mens, iemand so na ’n musiekliefhebber se hart. Hoe kan sy iemand kwalik neem wat goeie musiek wil luister? Ek wonder wat Benjamin Kapp oor diefstal sou skryf, maar sê niks.

Ons verseker mekaar om ’n ander fliek te siene te kry, ’n woestynverhaal vol ontbering en onvervulde liefde en, belangrik vir mans (of hierdie man), ’n jaagtog en ’n vuisgeveg. Lena loop laataand en ek en haar ma bly agter. Ons drink ’n nightcap en lag oor iets wat Lena se broer eenmaal gedoen het.

In die oggend staan ek vroeg op en stap in die koel, geurige oggend by die hoërskool om. ’n Mens sal later die veld nog duideliker ruik, wanneer dit warm geword het. Agter by die ou jukskeibane groei die bossies hoog om die jukskeiputte, wat daar lê soos vlak grafte. Boemelaars het in ’n geboutjie ingetrek, sien ek te laat – ek en een van hulle kom van aangesig tot aangesig op die hoek van die geboutjie. Hy groet en ek knik en stap weg. Daar’s te veel boemelaars in my lewe, of dalk is ek net te bewus van ellende.

Ek stap verder. Vyf en twintig jaar terug was hier iewers ’n trimpark waar iemand eendag geval het en toe gelag het daaroor. Maar die rugbyklub is nog hier en die krieketklub, waar ek eendag gaan help het. Wat het ek gedoen? Ek dink ek het koeldrank verkoop of aangedra. Agter die skool kyk ek oor die veld uit en onthou dat ek gesweer het ek trek nooit van hierdie dorp weg nie en onthou ook daardie gedig van Lawrence wat eindig: “My memory’s cast down in a flood of remembrance. I weep like a child for the past.” Maar ek is nie vroegoggend in die bui vir nostalgie nie en stap eerder huis toe om met Lena se ma te gesels en te wag dat Lena daar omkom.

Toe sy so maak, sê sy sy bring iemand die aand oor, dan kan ons weer braai. Later stap ek veld toe met die rivier langs en verkyk my aan ’n plaat lusern omhein met draad waarteen perde staan (so ’n regte goedkoop-skilderytjie-toneel, reg in my kraal), maar vind ook dat ek nie heeltemal “hier” is nie. Die Karoolug ruik nie so skerp as wat ek dit onthou nie en die kleure is nie so helder nie. Dis ’n mens se sintuie wat verswak, dink ek. ’n Mens neem net vir ’n tyd die wêreld regtig goed waar. Daarna beter jy hoop jou geheue is doeltreffend. Tog is dit lekker om by ’n draai in die rivier te sit en te kyk hoe die brandertjies uitstoot en oor die sand lig en sak en in sulke puntjies water teen die klip klots.

By die braai praat ek met die nuweling. D ken ek natuurlik al jare lank, maar die nuwe man is Bryan, jonger as ek, maar reeds met ’n groot lyf aan hom. Nietemin ’n geselserige man, wat my pas, want ek luister eerder as praat. Dis dalk ’n selfsugtige ding: ek sleep my dalk net deur ander gesprekke in die hoop op iets wat neerskryfwaardig is. Ons braai en drink brandewyn. D reken die brandewyn is geparfumeerd en hy verkies eerder gewone hardehout, maar ek hou van die soeterige smaak. Bryan en D praat oor werk, waarvan ek op die oomblik nie veel weet nie, synde ’n voltydse skribbelaar tot tyd en wyl. Bryan vra wanneer Lena se broer huis toe kom en ek sê dis eintlik hoekom ek hier kuier, ek wag op my ou maat.

Laataand sing ons sag Simon & Garfunkel-liedjies en ek bieg byna-byna teenoor my nuwe vriend Bryan dat ek Lena soms aantreklik vind, maar hy snuif toe maar net en bly stil. Die twee van hulle het iets aan, sien ek later. Hande word gevat en glimlaggies word uitgedeel en maak my net melancholies.

In die bed lê ek en dink aan ’n dagboek. Ek hou een, maar skryf slegs so aan en af daarin. Die hele idee, toe ek drie jaar terug daarmee begin het, was om materiaal bymekaar te kry vir ’n roman oor die lewe van ’n skrywer. Maar nou dink ek ek sal bloot ’n kortverhaal skryf, want so min gebeur wat noemenswaardig is. As ek volgens my eie ervaring moet gaan, sou ek sê die lewe van ’n skrywer is afgryslik onindrukwekkend. Dis ’n bleddie skande. Waar is die wilde partytjies en die kennisse, die associates, die mense met bedenklike waardes en gewoontes? Waar is die slegte vroue en die slegter vriende?

By ontbyt nooi Lena my na ’n ete by ’n restaurant die aand. Elkeen betaal vir sy eie kos. Ek stem in en die aand sit ons in ’n plek met ’n kaggelvuur en stil musiek. Daar is gays wat ek kan onderskei in die geselskap, maar dit gaan moeiliker om die letties te identifiseer. Hulle is inkommers, hier met hulle stadsgewoontetjies en stadsmenings. Ek wonder of ek my in well-heeled geselskap bevind, maar besef ek sal tog nie die verskil ken nie en besluit om ’n crush op die kelnerin te kry. Sy bly egter kil, waarskynlik omdat ek nie die plaaslike bier wou bestel wat sy aanbeveel het nie. Ek het vermoed dit sal die ene water wees. Dis seker die bier wat ek toe wel drink (’n goedkoper en swaarder een as wat sy voorgestel het), of dalk ’n bietjie senuwees, maar my tong knoop. Later vra ek haar reguit vir haar telefoonnommer, maar dis net ’n vertoning van brawade. Sy draai om en stap weg en een van die gays lag, darem simpatiek. Ek kyk hoe twee mans mekaar omhels. Dis vreemd hoe die liggaamstaal verskil saam met oriëntasie. Sommige homoseksuele mans tree op asof hulle geen spiere in hulle liggame het nie.

Ek het te veel gedrink by die ete. Lena kom laai my by die huis af en wil nie inkom nie. Dalk gaan sy vir Bryan ontmoet. Ek weier speels om uit die motor te klim. Sy begin lag toe sy besef ek is ’n bietjie dronk, maar vir ’n verandering is ek op my stukke en selfs ’n bietjie onderhoudend en ons sit ’n ruk en gesels. Ek vra haar iets wat ek lankal wil weet: Wat gaan jy verder vorentoe maak? En sy sê sy bly maar in die musiekwinkel, al is die salaris swakkerig. Dan is ’n mens darem op jou tuisdorp – en buitendien kan min mense sê hulle bly in ’n mooi landstreek. Ek raak grootmond en haal Benjamin Kapp aan (die deel waar hy skryf: “… ons het almal ’n stukkie dorpsheid in ons geskiedenis”), maar die opmerking, of dalk die noem van Kapp, geval Lena nie en sy raak ongeduldig en ek klim uit en gaan slaap, spyt dat sy my nie oor my lewe uitgevra het nie. Ek wil my teorieë oor klas en kredo op iemand toets, hoor wat dink ander mense wat uit dieselfde substratum as ek kom. Maar blykbaar dink niemand anders dis die moeite werd om jou só oor jou stand te kwel dat jy ’n el by jou lengte voeg nie.

In die bed lê ek en dink aan ’n storie vol paranoia en vergete artistieke ambisie. Miskien iets oor iemand wat net ’n rukkie het om te leef … Wat raak ’n mens nie alles kwyt in jou laaste dae nie, net om die tragedie van jou situasie onder iemand se aandag te bring? Dis ’n corny idee, maar effektief ook. Ek dink aan Benjamin Kapp wat skryf oor ontmoetings en kerkhowe en wonder hoe sy einde sal lyk. Miskien moet ’n mens hom oorgee aan vadermoord, die ding waarvan sommige ouer Afrikaanse skrywers sommige jonger Afrikaanse skrywers soms beskuldig. Kapp prikkel my kompeterende drange en ek wil metafories moor.

Maar na die maan met skrywers. Ek verlang skielik na Bellville, die stasie, die vyftien minute of wat se stap van die woonstel in Durbanweg tot by die werk, die werk self waar ek agter ’n rekenaar sit en die bronkode van vorige geslagte programmeerders ontsyfer, die CNA in Voortrekkerweg waar ek die bestuurder met die hoë, ligrooi hare effentjies ken en van tyd tot tyd inloer, die Silver Spur in Durbanweg waar die kelnerin my kom vra waar ek alleen sit of ek nie belangstel in ’n afspraak met die braaier nie. Toe ek verras na die braai-area kyk, is dit darem ’n vrou wat daar staan en wuif. ’n Ander keer het ek in ’n vuilerige kafee in Voortrekkerweg by ’n plastiektafel gesit en ’n pastei geëet en ’n koeldrank gedrink toe die man agter die toonbank na my kom en sê: “As jy raad soek, dis verniet.” Dit was op ’n Nuwejaarsdag met stil strate en ek was ’n bietjie eensaam en baie verveeld, maar moes die indruk van groot ongelukkigheid geskep het. Die bitterbekke is verkeerd oor die wêreld: daar is wel bedagsaamheid en ondersteuning en liefde. Welwillendheid en barmhartigheid loop soms los in die strate en van tyd tot tyd voel die sinikus met reg bedreig.

By ontbyt is Lena haastig en ek dink ek moet iets aan die sakie doen. Moet ek vir haar blomme koop? Dalk net een. Dalk moet ek net ’n madeliefie pluk of ’n vygie of wat ook al hierdie tyd van die jaar blom en dit vir haar gee om in haar hare te druk. Maar sy’s 49, nie 14 nie. Later die dag gaan val ek haar lastig by die werk en sy wys my ’n paar ongewone albums. Sy ken regtig haar storie en ek wens ek kan onthou wat sy als vertel oor musiek met progressie en tema. Ek kan darem saamgesels oor Roger Waters, wat die heerlike vermoë het om drie liedjies se musiek in een liedjie te sit. Sy lag, hoewel ek nie die opmerking as grap bedoel het nie. Middagete stap ons na ’n vis-en-tjips-winkel en gaan sit toe by die rivier en probeer voëls met tjips voer. Die vis is heerlik, die tjips vol sout en asyn. Lena sê haar broer kom vanaand en dat ek seker bly is, want dan het ek uiteindelik ’n bietjie geselskap. Ja, dis tyd dat hy kom, sê ek en wens hy bly weg. Lena is so mooi dat ek ’n klip in die water gooi en sodoende ’n spiertjie in my skouer rek.



LitNet: 13 Junie 2006

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.