|
|
Francken se vroueJaco FouchéAand in Kaapstad. Vroegsomersaand in Kaapstad: skemer lig talm tussen die geboue en oorheen verdonker die blou. Pieter Francken en Lotie Maartens stap oor Groentemarkplein waar die stalletjies opgeruim is en in stapels metaalwerk op die plaveisel lê. By die kerk staan straatkinders. Mense sit voor die verligte restaurant op die hoek en vanaf die Ierse pub speel ‘n televisie-sokkerwedstryd luid. By die gebou wat die St Michaelis-kunsversameling huisves, is ‘n funksie aan die gang: mense in formele drag gaan teen die trappe op en lyk eksoties en onbereikbaar, geraam in die verligte ingang en verhewe op die balkon. “God,” sê Maartens hard en ongeskik toe hulle verby ‘n netjiesgeklede man loop. Francken kyk verontwaardig na sy metgesel. Die netjiesgeklede man ignoreer hulle soos dit netjiesgeklede mense waarskynlik betaam en gaan by die trappe op. “Lotie,” begin hy, maar Maartens steun en Francken vra eerder: “Waarheen gaan ons?” Maartens snuif asof hy gemeen wil klink en sê: “Ek is in ‘n filosofiese bui: ek wil drink tot ek doodgaan.” Francken dink daaraan dat hy gerus maar kan afskeid neem en stasie toe stap. Dit is die verstandige ding om te doen, en nie net omdat Santie toornig gaan wees nie. Die tyd waarin hy met Maartens ‘n sinvolle gesprek kon voer, is ook verby, en hy kan tot tyd en wyl net sowel maar voortgaan met sy stom rol in die driepersoonsirkus by die huis. “Hier is ‘n drankprobleem met my naam op,” sê Maartens voor ‘n ingang. ‘n Traliehek staan oor die sypaadjie oop. Daarbo is woorde geverf: “CAPE OF STORMS One kazillion crazy customers served.” Die plek prikkel ‘n mens se belangstelling. Francken dink aan die maande wat verby is en die gesukkel met die opstel van die kursus en met materiaal wat hy nie altyd goed verstaan nie en hy dink dat hy wragtig ‘n tydjie kan afvat en die wêreld kan verken. Daar is immers die avontuuraspek van die aand: hoe gereeld sal ‘n man ouer as sewe en dertig nog hierdie soort van ding beleef? Die lewe het baie vervelig geword en die oplewing en stimulasie wat daar nog is, is gereeld nie van die aangename soort nie. En daarmee verstaan hy goed waarom Santie op Maartens besluit het. Net binne die ingang staan ‘n elektroniese spykertafel en raak klanke kwyt asof R2-D2 in ‘n geselserige bui is. Hulle gaan by ‘n smal trap op. Die lug ruik na ou sigaretrook en, toe hulle bo kom, ‘n soeter kruid. “Lotie, wat ruik so?” vra Francken versigtig, en wonder meteens oor sy avontuurlus en die verstandigheid daarvan dat ‘n voorstedelike man sy heil ver buite die middelmoot probeer vind. Maar eenkant is ‘n wit man en ‘n swart vrou besig om mekaar ‘n elaborate Franse kus toe te dien en Francken word die slagoffer van ‘n bietjie verwondering en heelwat nuuskierigheid. Daar is rede om te bly: as leke-kultuurkenner behoort hy waarskynlik kennis te neem van subkulture en antisosiale gedrag en die plekke waar hierdie gedrag geduld of aangemoedig word. Wie die musiek geskep het wat oor die luidsprekers speel, is onbekend. Francken het nog nooit so iets gehoor nie. Dit spoel soos water oor ‘n mens, seewater, seewater vol seelewe wat allerhande geluide maak. Daar is walvisroepe, dolfynfluite, die steun van robbe, die breek van branders. Teen die mure sluit paneelskilderye by die musiek aan in wilde verfwerk. Daar is die suggestie van wind, orkane, storms; daar is tierende windgode in die hoeke van ou maritieme kaarte: “Here be dragons,” lui die waarskuwings dramaties, maar Francken kan nie glo dat hulle op hom betrekking het nie. * “Lotie, oor die huishoudelike situasie …” begin Francken. Maartens trek ‘n gesig en vra: “Gaan jy net daar sit en niks drink nie?” en kyk op insolente wyse om hom rond, asof hy iemand soek om te begin treiter. Hy het baasspelerig geword en Francken praat nie eintlik met hom nie, deels uit irritasie, deels uit versigtigheid, skud net nou sy kop en vou sy hand om die glas lemoensap. Hy dink daaraan dat ‘n mens soms heeltemal goed verstaan waar die berigte in die Sondagkoerant vandaan kom oor mense wat mekaar jare lank ken en dan eendag in ‘n bloedbad van al daardie tyd se spanning en ongelukkigheid ontslae raak. Die lemoensap smaak skerp, dit moet al ‘n bietjie oud wees, maar genadiglik is daar geen alkohol in nie. Wat die res van die aand ook al oplewer, hy wil dit met ‘n helder verstand meemaak. Hulle sit by ‘n groot houttafel met plek vir seker twaalf mense. By ‘n toonbank staan ‘n kelner en ‘n kroegman, albei in T-hemde met CAPE OF STORMS oor die bors, en gesels. Dit is waarskynlik nog te vroeg vir die skares, hoewel daar ‘n drietal paartjies in die vertrek is, twee mense by ‘n tafel, twee by die toonbank, twee by ‘n videospeletjie wat blykbaar van die algemene-kennis-soort is, want keuses bly op die skerm verskyn: “Palahniuk Ellis Coupland”, “Best Grobbelaar Beckham”. Francken sit effens vooroor oor die tafel, die gewig van sy bolyf op sy elmboë. Maartens het ‘n voet op die bankie langs hom gesit en sy broekspyp trek op, wat sy enkelstewel ontbloot. Sy regterarm hang oor sy knie en sy linkerarm is dubbelgevou oor die rugleuning van sy stoel. Die hemp bly laag oopgeknoop en die medaljon blink. Maartens lyk asof hy uit die sewentigs uit weggeloop het. Francken dink daaraan dat hy hom ‘n paar jaar terug sou verskoon het uit die man se geselskap en dat hy daarna teenoor iemand ‘n grappie sou gemaak het oor sekere mense en hulle koddige standaarde. Maar dit is alles nonsens, weet Francken deesdae. Hy is nie meer in staat om te dink daar is mense wat sy teenwoordigheid nie werd is nie, al grief van hulle hom soms. Verby is die dae toe hy gemeen het hy is nie soos sommige ander mense nie. Die waarheid oor homself is: hy is wel soos hierdie mense. Hy het saam met hulle skoolgegaan en hy het saam met hulle kattekwaad aangevang in Parow se strate en hy is, uiteindelik, een van hulle. Daarmee het hy vrede gemaak toe hy ‘n jaar of twee terug sy pos as bestuurder opgegee het en van Skuldbult af Goodwood toe getrek het. Maar dit daar gelaat. Waar hy hom deesdae wil bewys, is nie op ‘n sosiale speelveld nie; hy glo, of hoop, dat sy beskeie akademiese bedrywighede hom toelaat om grotendeels buite die sosiale hiërargie, buite die stryd, te staan. Die agtergrondmusiek is nou Queen, miskien helaas al ‘n bietjie uit die mode, maar altyd luisterbaar vir sekere ouer wordende mense. Die liedjie wat op die oomblik speel, is egter ‘n bietjie somber vir ‘n stadskroeg so vroeg in die aand: dit gaan oor tyd wat daar nie is nie en plek wat daar nie is nie en daar word gewonder oor die drome wat gebou word rondom die liefde net om weggeneem te word. Francken merk ‘n vrou op wat die vertrek binnegekom het, ouerig, miskien vyftig, met ‘n bos wit hare waarvan die kartel waarskynlik natuurlik is – dit is moeilik om te dink dat ‘n vrou in swart denims en swart leerbaadjie begaan sal wees oor haarkrullers. Haar gesig is sterk geplooi, maar ‘n soort aantreklikheid het gebly en sy het ‘n mooi mond en oë. Die uitdrukking waarin haar gesig geset het, is een van kalmte en ‘n bietjie hooghartigheid. Sy lyk sterk en selfversekerd. Maartens sê iets, maar Francken moet hom vra om dit te herhaal. “Joan Dreyfus,” sê Maartens en knik vernaam. “Bekende sangeres. Sy was vroeër ‘n regular daar in ons wêreld.” Die vrou sit ‘n kitaarboks teen die toonbank neer en omhels eers die kelner en dan die kroegman, sommer bo oor die toonbank. Daar is iets teenstrydig aan die gebaar: ‘n mens sou soveel demonstratiwiteit eerder verwag by ‘n jong vrou. Maar dat dit dien om ‘n man se belangstelling te prikkel, is beslis waar. “Are you well?” vra die kroegman. “Brilliant, lovey.” En die vrou kyk glimlaggend deur die vertrek en vang Francken se oog en hulle is vir ‘n lang oomblik in een van daardie rare ontmoetings vasgevang: nie een wil of kan wegkyk nie. “Sy check jou uit,” sê Maartens. “Of is dit dat jy haar uitcheck?” Die vrou draai nog glimlaggend weg en Francken kyk in sy lemoensap. Op ‘n verhogie gaan sit ‘n man agter ‘n dromstel en begin bedees geraas maak, waarskynlik ter opwarming. ‘n Ander man raak doenig met ‘n elektriese kitaar wat hy by ‘n koord inprop en waaraan hy dan ‘n paar eksperimentele snaarplukke gee wat via ‘n versterker momenteel bo die Queen uitstyg en afwagtend in die lug hang. “Hier’s dan nog niemand,” sê Maartens. “Pleks hulle die Queen maar laat speel.” Joan Dreyfus het nog nie weer vir hom gekyk nie, maar Francken het besluit hy wil kennis maak. Net ‘n gesprek, dit is al wat hy in die vooruitsig stel; hy gesels graag en hy hou van die meeste vroue (sy eie en haar ma is miskien die enigste belangrike uitsonderings) en hy wil opsluit nou kennis maak. Maar hy wag om te sien of sy weer na hom kyk. “Ou Pieter het die skoot hoog deur,” sê Maartens en leun vooroor en vat weer aan Francken se arm. Die luim tussen hulle het beslis gemoedeliker geword. Francken glimlag, maar bly die vrou dophou, wil haar dwing om weer na hom te draai sodat hulle die lang kyk kan herhaal. “Sy kom van Durban af,” sê Maartens. “Sy was jonk en sy het ‘n sangstem en kitaarvingers gehad en sy het Kaap toe gekom om hier naam te maak. Daar was ‘n storie – ‘n boyfriend wat reeds ‘n girlfriend gehad het en die cops een aand laat. Toe klim sy maar op die pad.” “Wanneer was dit?” praat Francken weer met sy metgesel. “Hier in 1980 rond. Ek kan onthou hoe ons na haar geluister het – slip saans uit en gaan sit in die kroeg en probeer hard lyk asof jy oud genoeg is om daar te wees. Sy het ‘n kamer naby Parow-stasie gehad, naby vervoer en min of meer in die middel van die noordelike voorstede, sodat sy enige kant toe kon werk.” Francken kyk hoe Joan Dreyfus ‘n akoestiese kitaar uit die boks haal en oor die snare vee. Sy lag vir iets wat die tromspeler sê. “Sy is tough as nails,” sê Maartens. “Ek sê jou maar dat jy weet.” “Ek beplan nie ‘n verhouding met die vrou nie,” sê Francken. “Ha,” sê Maartens. En dan kyk sy weer in hulle rigting en Francken sit onwillekeurig regop en sy lag en kom na hom toe. Sy haal ‘n pakkie sigarette uit ‘n baadjiesak. “Het jy vir my ‘n light?” vra sy, haar hees stem die ene kinkels, van ondeundheid, van ironie, wie sal weet? “Nee,” sê Francken teleurgesteld. “Ek rook nie.” “Maar allow me,” sê Maartens en hou ‘n Zippo-vlammetjie uit. “Dankie, lovey,” sê sy na sy aan die sigaret gesuig het en dit brand. Sy blaas rook eenkant toe uit en kyk na Francken, glimlag weer. Daar is goudwerk in haar tande. “Wat maak ‘n ou soos jy in ‘n plek soos dié?” vra sy. Maartens lag. Francken bloos. “Hy soek geselskap,” sê Maartens. “En dié dan?” vra sy en druk haar vinger op Francken se ring. “Toemaar, hy sukkel om sy vrou te verdra,” sê Maartens. “Dit is dan darem baie lojaal om nog die ring te dra.” “Hy kan sy vrou se boyfriend ook nie altyd verdra nie,” sê Maartens. “Dit klink ingewikkeld,” sê sy. Sy merk waarskynlik dat Francken ongelukkig met die trant van die gesprek is, want sy sê: “Maak ook nie saak nie. ‘n Mens bewonder lojaliteit altyd. Dit is een van die moeilike deugde.” “Wat sal ‘n maklike een wees?” vra Francken, wie se wind weer in sy seile is. “Al die goedkoop deugde, soos geduld, wat net ‘n rookskerm vir passiewe aggressie is, en liefde, wat mense altyd probeer laat instaan vir lojaliteit. Ek is bly jy is hier.” Francken is sewentien jaar oud en ‘n meisie in die kerk het in sy rigting gekyk. “Wil jy sit?” “Dankie lovey, maar ek moet my uurtjie insit, dan kry ek ‘n break en dan sal ek by julle kom aansluit.” “Dis nog maar baie stil,” sê Francken. Om hulle staan die tafels nog meestal leeg. “Dit is, maar rules are rules. Ek speel nou vir ‘n uur, rus ‘n halfuur, speel ‘n uur, rus ‘n halfuur, en maak dan klaar.” “Maak jy dan klaar?” vra Francken. Hy weet nie wat hy bedoel met die vraag nie. Dalk is dit maar net dat hy iets wil sê. Hy hoop nogal so. “Ja, lovey. Dan maak ek klaar.” Weer ontbloot sy die goudwerk, trek aan die sigaret en blaas die rook eenkant toe. Sy lyk vir Francken uiters aantreklik, die toonbeeld van ‘n vrou met ondervinding wat Francken nie noodwendig seksueel wil noem nie, maar dit is ‘n kwalifikasie wat ook nie te veel sal pla nie. Maartens leun weer oor om aan Francken te vat en nou ook breed te glimlag. “Sy naam is Pieter Francken.” “En ek weet wie jy is,” sê Francken vir die vrou en wonder of hy in die skuld staan by Maartens. ‘n Tromsolo klink op die verhoog op en Joan Dreyfus sê: “Ek moet besig raak.” Sy en Francken kyk weer lank na mekaar en dan stap sy weg om te begin musiek maak. Maartens sê: “Niks soos om lucky te raak nie.” Francken sê geduldig: “Niemand gaan lucky raak nie. Sy kom soek ‘n bietjie geselskap.” “Hei, ek roep hulle soos ek hulle sien. En ek sien ‘n huisie by die see, vier kinders en ‘n hond in wie se tande daar gereeld ‘n been vassit.” “Vervlaks tog,” vererg Francken hom en Maartens lag. Die vrou sing meestal liedjies wat Francken nie ken nie. Maartens neurie soms saam of hou tyd met sy vingers of voet, duidelik meer in pas met heersende musiekmodes, of dalk selfs met die lewe oor die algemeen, as Francken. Die plek word besiger, en luidrugtiger. Die klante is nie te jonk of te professioneel nie, wat Francken goed pas: die druk is nie groot nie en ‘n mens hoef nie te ys vir die betragting en oordeel van enige sosiale meerderes nie. Dit is buitendien aangenaam om omring van die joligheid te wees en uit te sien na ‘n gesprek met ‘n nuwe vriendin. Hy drink nog twee lemoensappe, gaan een keer toilet toe waar ‘n jong man in ‘n toiletbak opgooi, omkyk en om verskoning vra. Maartens het in gemoedelikheid verval, maar het nog steeds ‘n triomferende air aan hom; dit is asof hy iets gewen het wat hom onderskei van die massas, ‘n kosbare ding, ‘n Harley Davidson, dalk, raai Francken terwyl hy die man se motiewe van sy inebriasie probeer skei. Of dalk is dit Francken se guns wat hy meen hy gewen het. Tog kry hy dit weer eens reg om Francken te irriteer toe hy homself aan die kroegman voorstel: “Die naam is Sirrose, Lewer Sirrose.” Joan Dreyfus sing in ‘n diep stem, nou stadig aan ‘n liedjie wat bots met die keuses van vroeër; dit is iets van Herman van Veen, besef Francken: “Hilversum III”. Na die liedjie lag en wuif sy vir die mense voor haar, en die kolligte wat op haar geskyn het, gaan dood en dowwe gloeilampe skyn weer in die hoeke en die algemene atmosfeer is somberder toe opgeneemde popmusiek weer begin speel. “Ja, en toe?” sê Joan Dreyfus toe sy kom sit en ‘n sigaret aansteek. Francken lek oor sy lippe en dink solank aan iets om te sê, maar Maartens keer hom met: “Kry vir die cheri ‘n drienk, hoe gaan jy aan?” “Ja, ja … Wat sal dit wees, Joan?” “Jy is ‘n darling. ‘n Glas witwyn.” “Seker droog,” raai Maartens, tot Francken se ergernis, want hy sou halfsoet geraai het. Maar Joan Dreyfus sê: “Maak nie saak nie. Enige witwyn.” En Francken gaan na die toonbank, waar hy gou geholpe raak. Tot sy frustrasie sien hy die vrou en Maartens in gesprek verval en hy is verlig om terug te kom by die tafel, al voel hy verspot oor die vlaag jaloesie. ‘n Mens sou nou dink jy ontgroei sekere dinge: die behoefte aan ‘n beste vriend, jaloesie oor ‘n vrou wat jy nie ken nie. “Ek hoor jy is in academia,” sê Joan Dreyfus. Die woord is nogal sterk vir waarmee Francken hom besig hou, en hy wonder of dit Maartens was wat hom uitsonderlik gevlei het, maar hy knik. “Dit is ‘n kollegekursus wat ek aanbied. Ek is besig om die tweede een op te stel.” “En waaroor gaan dit?” “Ag, dit is maar populêre kultuur. Hoe tegnologie op ons lewens inwerk en hoe maatskappykulture funksioneer, daardie tipe van ding.” “Fassinerend. Ek neem aan jy is opgelei? Jy lyk na Stellenbosch-materiaal.” Dit is duidelik dat sy spot. Hy lag maar, hoewel die verwysing hom ontgaan, skud sy kop. “Nee, ek is opgelei as rekenaarprogrammeerder. Ek was by ‘n handelskollege.” Hy kom agter hy gesels oor homself asof hy wil indruk maak, maar die probleem is dat dit presies is wat hy wil doen, hy kan nie net ophou daarmee nie. “Dit is maar die afgelope tyd dat ek my slim probeer hou.” “Hierdie man het ‘n kop aan sy lyf, hoor,” sê Maartens. “Ek check hom so uit.” Francken hoop weer die man gaan nie besonderhede oor hulle huislike omstandighede kwytraak nie, maar dalk onderskat hy Maartens, want die man sê: “Ek gaan ‘n bietjie pinball speel. Ek het gesien hier staan ‘n tafel hier onder.” En hy staan van die tafel op. Daarmee is Francken en die vrou alleen. Hy voel baie gelukkig. “Drink jy net lemoensap?” onderbreek Joan wat ‘n ongemaklike stilte kon geword het. “Ja, ons het vanmiddag potspel gespeel en bier gedrink.” Hy praat maar oor die bier. ‘n Kroegsangeres hoor waarskynlik graag dat ‘n man drink. “Nou is ek maar rustig.” “Kom jy gereeld in die stad?” Hoekom praat hulle net oor hom? Dringend probeer hy aan ‘n intelligente teenvoeter dink, maar verder as “Nee” kom hy nie, en: “Dit is maar ‘n uitstappie, so ‘n bietjie van ‘n boys’ aand,” verduidelik hy, om dan Maartens se terminologie te gebruik. “Jy moet na my kom luister,” sê die vrou, “wanneer ek gigs doen. Ek speel oral in die stad. Jy is seker ook van die noordelike voorstede af?” “Ja.” Natuurlik is hy. “Daar het ek vroeër jare baie gespeel. Jou vriend sê hy onthou my van daardie tyd af. Ag jy weet, dit is lekker om die ou mense weer teen te kom. ‘n Mens voel al hoe meer dit is ‘n jongmenswêreld waarin jy probeer oorleef. Dan is dit nice om iemand teen te kom wat jou onthou uit ‘n ander tyd. Maar jy moet regtig kom luister. Ek dink dit sal gaaf wees.” Francken dink aan sy vrou en sy dogter en die gesin wat toe nie ‘n gesin is nie. Hy is momenteel spyt oor die ring aan sy vinger wat hy, ten spyte van alles, nog hardkoppig dra, maar ook trots op die opmerking wat Joan Dreyfus gemaak het oor lojaliteit. Ja, hy is wel ‘n lojale mens, maar hy weet nie meer of dit ‘n mens werklik iets in die sak bring nie. Tog is integriteit seker werklik integriteit eers wanneer dit ‘n mens niks ooglopend in die sak bring nie. Inbors is seker sy eie beloning, of, waarskynlik meer akkuraat, vind daardie beloning in die skaars oomblikke dat ander mense dit opmerk en daaroor goedkeurende kommentaar lewer. “Wat maak jy vanaand?” vra Joan Dreyfus. “Ek bedoel, laat vanaand, wanneer ek klaar gespeel het?” Die woorde hang in die lug soos die klank van die elektriese kitaar vroeër het. “Ek moet huis toe.” “Regtig? Moet jy? Jy praat dan van ‘n ekskursie. Moenie dat die aand so vroeg ophou nie.” Hy kyk in die vrou se oë, weet dit behoort teen hom in te druis, wat sy voorstel, weet hy behoort kapsie te maak. Hy weet ook dat hy vroeër sou, sê maar toe hy nog in die diens van die maatskappy was, sê maar voor Lotie Maartens by hulle ingetrek het. “Dit gaan moeilik wees,” sê hy. Maar wat sal? Om dit van Maartens en dus van Santie te weerhou? Maar na die middag en aand saam met Maartens twyfel hy of die man sommer sal verslag doen aan Santie: Maartens het, vermoed hy, ‘n ingewikkelde stel reëls wat instaan as beginsels, en een van hulle betrek natuurlik daardie getrouheid aan ‘n maat, ‘n drinkebroer, ‘n vriend. Sekerlik is ‘n mens iets verskuldig aan die man by wie se vrou jy slaap? “Dit is nou en hier moeilik,” sê Joan Dreyfus. “Hierdie gesprek is die moeilike deel. Vergeet jou dramatjies. Ons het almal dramatjies. Dit is jou aand hierdie. Vat dit af en maak wat jy wil en dêm die gevolge.” Francken lag verleë. Hy is reeds halfpad omgepraat. Hy wil saam met ‘n ander vrou verkeer, weet hy. Hy weet dit snags wanneer Santie en Maartens nogal onsag te werk gaan in hulle liefdemakery, wanneer hy op die opslaanbed in die kamer by die voordeur lê en kyk na die straatlig wat deur die ligte gordyn skyn. En hy wil saam met hierdie vrou verkeer, sy wat liedjies sing en so iets gee aan die wêreld waaroor hy ydel is, al is hy self nie ‘n kunstenaar nie, sy met die goudwerk in haar tande en die asem wat na rook ruik en die mond wat na sigarette en wyn sal smaak. En tog is daar die aanslag van al die dae wat voorlê en die gedagte aan die berou wat hy weet sal volg. Iewers het hy dit teëgekom dat ‘n mens in jou optrede twee dae vooruit moet dink, om impulsiwiteit te bekamp. Waar was dit nou weer? Hy weet nie meer nie. “Ek sal nie kan nie,” sê hy en weet nie of dit in edelheid of lafhartigheid is nie. Hulle glimlag vir mekaar. Joan Dreyfus vat sy hand en druk dit. Hy voel omtrent twaalf jaar oud, maar terselfdertyd ‘n eeu. “Kom luister eendag weer wanneer ek sing,” sê sy. “Ek moet gaan.” Hulle groet nie. Sy staan net op en stap weg tussen die tafels deur, en die pas afgelope minute gaan van Francken weg en is in sy gedagtes reeds die ene melancholie en bittersoet berou. * Francken tref Maartens by die spykertafel onder langs die trap aan. Hy is in ‘n gesprek gewikkel met twee meisies wat lag vir alles wat hy sê. Francken vermoed dadelik hulle spot met die man, maar hy vermoed ook die man weet dit en gee nie eintlik om nie, sodat dit seker nie saak maak nie. Een van die meisies het ‘n armvol los rose in plastiek by haar. “Die ding met bus mechanic wees,” sê Maartens, “is dat jy jou plek ken. Jy is altyd vol ghries en op die grond onder die ding. Daar is nie van airs aansit en begin dink jy ruik die ene laventel nie.” En die meisies lag. “Wat is die moeilikste aan busse regmaak?” vra die een. “Om te onthou waar jy jou drank wegsteek,” sê Maartens en knipoog vir Francken. “Want sien, ons mechanics is so: soggens sukkel jy om te onthou omdat jy ‘n afgryslike babelaas het, en smiddae sukkel jy om te onthou omdat jy al weer dronk is.” Francken dink daaraan dat hy sy loseerder onderskat. Daar is sowaar ‘n snydende iets aan sy woorde en dit is eintlik jammer dat hy sy satire nie loslaat op ‘n meer volwasse gehoor nie, iemand wat dit eerder verdien en sal begryp en daardeur dalk tot nadenke gestem sal word. “As ek net nie so lui was nie,” konstateer Maartens, “kon ek vandag ‘n fokop gewees het.” Die meisies lag weer, buitensporig hard, met die selfvertroue van meerderwaardige mense, klein verwaande flerries wat hulle is, en Francken steur hom nie verder aan hulle nie. “Tyd om te gaan,” sê hy vir Maartens. “Ja, ek stem saam.” “Wil meneer nie ‘n roos koop nie?” vra die meisie met die blomme. Francken wonder of Maartens ook as meneer aangespreek is. “Ek is ‘n goeie fee wat vir ‘n goeie saak werk.” Op haar bors is ‘n etiket met die woorde “Cape Town Children’s Foundation”. “Goeie fee?” sê Maartens. “Laat jy wense waar word?” En hy kyk oordrewe belustig na die meisie. Sy is vir ‘n oomblik van stryk gebring, maar sê dan gevat: “Net klein kindertjies s’n.” “Aangenaam om te ontmoet, dames,” sê Maartens en lig ‘n denkbeeldige hoed, wat weer ‘n lagbui ontlok. “Pieter, gaan jy ‘n oomblik wag?” vra hy en beduie verby die spykertafel na die woord “Gents” teen ‘n deur. Francken knik en luister, terwyl Maartens wegstap, na die twee meisies se stemme. Hulle staan nog by die spykertafel en gesels en lag onderlangs. Hulle moet darem al sewentien of agtien wees, maar put nog steeds die ene adolessente genot uit hulle omgewings. Hy hoop sy eie dogter is op daardie ouderdom so vrolik. Maar dan, met beklemming, wonder hy hoe die mense daar sal uitsien vir wie sy sal lag. Joan Dreyfus se stem klink op en sy sing oor Parys en ‘n straatkafee wat sy, of die liedjieskrywer, daar onthou. ‘n Eie adolessente genot raak aan Francken se hart en hy sê: “Juffrou, wat kos die rose?” Hy kies een met besonder donker blomblare en vra: “Sal julle dit gaan gee aan die vrou wat daar sing?” “Is sy vir jou mooi?” vra die een meisie skepties. “Sy is so oud.” “Lyk hy vir jou jonk?” vra haar maat haar. “Gaan gee net vir haar die blom, asseblief.” “Dit moet true love wees, ek sê,” sê die meisie minagtend en haar maat lag weer. Maar hulle gaan met die trap op en Francken bly agter met net die stem om hom geselskap te hou. Die gedagte aan die roos staan hom aan: laat die ontmoeting dan op so ‘n romantiese manier afgesluit word, ter wille van die jare wat kom waartydens ‘n mens af en toe sal terugdink aan hierdie aand. Hy stap genoeglik by die deur uit. Buite skyn die straatlig en die motorligte beweeg oor die teer. Dit is nog warm, op ‘n wyse wat Francken laat dink daar sal later mis uitsak. ‘n Motor hou stil en jongmense klim uit en gaan die klub binne. Oorkant die straat staan ‘n vrou in ‘n ligkleurige rok voor die toe ingang na ‘n motorhandelaar se perseel: agter die glas blink nuwe modelle. Francken sien haar omdat haar liggaamshouding spanning verraai. Die vrou bly haar hande voor haar maag vou wanneer sy nie aan haar hare vat nie en sy kyk aanmekaar rond, versit haar voete, vat weer aan haar hare. Die twee meisies met die rose kom uit en merk blykbaar sy belangstelling, want die een vra: “Moet ons vir haar ook een vat?” “Wat sê die sangeres?” vra Francken vinnig, maar die meisies lag net en stap met die sypaadjie langs. Agter hom hoor hy nog steeds Joan Dreyfus se stem, aan die sing oor verveling en die felheid van die liefde. Maar dit is die opsigtelike ongelukkigheid van die vrou oorkant die straat wat sy aandag in beslag neem. Of dalk is dit die nadraai van die nogal intieme gesprek met Joan Dreyfus en die daaropvolgende gebaar met die roos wat hom edel en rein laat voel, en dus met die verpligtinge laat om nog meer edel en rein op te tree. Maartens kom staan by hom. “Jammer vir die wag. Daar was nie papier nie en ek moes –” Francken hou sy hand op. Dit wil hy wragtig nie hoor nie. Maar Maartens was blykbaar moedswillig, want hy proes. “Sy lyk nie goed nie,” sê Francken. Die vrou oorkant die straat druk haar hand teen haar mond. “Wat? Uhh. Kom. As ons nou loop, vang ons die tien-dertig.” “Is alles reg met daardie vrou?” “Watse ‘daardie vrou’? Dis ‘n hoer daai.” “Nee, ek dink nie so nie.” “Pieter, dit is ‘n hoer. Los uit. Wat is dit vanaand met jou? Is hierdie tough streetwise cookies skielik in die mode of wat?” Hulle begin stap, maar toe Francken na die vrou terugkyk, kan hy sweer haar wange blink. “Lotie, die vrou huil. Daar vee sy nou trane af.” “Sou jy nie ook nie? Dis ‘n goor job. Ons gaan laat wees.” Francken gaan staan weer. Hy wag vir ‘n motor om verby te ry en dan begin hy oor die teer stap. Na weerskante brand ligte en strek die straat weg. “Ag Here, Pieter,” sê Maartens agter hom. Dertig meter verder merk hy nog ‘n vrou op die sypaadjie, daardie een in ‘n kort swart romp en ‘n lae pienk bostuk, en hy twyfel meteens, maar dit is te laat. Hy is reeds by die eerste vrou, wat nou na hom kyk en met haar pols onder haar neus vee en haar bolip vasbyt. “Juffrou, is alles reg?” vra Francken. Dit kan tog nie ‘n prostituut wees nie. Die vrou se hare lyk so konserwatief gekap en die rok is so sakkerig en die skoene is goedkoop en die punte daarvan vierkantig, soos dié van skoolskoene. Sy het groen of ligbruin oë, moeilik om te sê in die gelerige lig. Dit lyk asof haar wenkbroue nie eintlik aandag kry nie. Sy wag net; iemand het haar in die steek gelaat. Hy is seker dit is wat die geval is. Die vrou se gesig vertrek en sy draai weg, hande voor haar mond gehou. Sy is aan die snik. “Juffrou, het iets gebeur?” vra Francken. Sy skud haar kop en kry haar emosies blykbaar onder beheer en sê: “Loop net.” “Ek kan nie net loop –” “Jy verstaan nie. Loop net. Asseblief, meneer, jy gaan baie moeilikheid maak.” “Nee, nee, dit is nie wat ek wil doen nie. Ek wil jou –” “Pieter!” roep Maartens van die oorkant van die straat. Hy staan hande in die sye. Hy wys ‘n entjie met die straat af. “Kom, ons moet loop. Ons is laat.” Hy sê dit onnodig hard; dit is asof hy ter wille van iemand anders praat. Tien meter weg staan ‘n rooi Escort. Daar sit ‘n man agter die stuurwiel. Aan sy snor en kenbaard lyk hy of hy Maartens se kaliber mag wees, hoewel sy hare langer, heelwat langer, is en in ‘n poniestert vasgevat is. Daar is niemand anders in die motor nie. “Pieter! Los dit!” roep Maartens vermanend. “Luister na jou maat, meneer. Jy moet dit los,” sê die vrou. Die man in die motor is besig om te praat. Francken kan nie hoor wat nie, maar sy gesig vertrek soos hy die woorde uiter. Hy wend hom na die vrou: “Juffrou, as jy regtig in die moeilikheid is, kan ons dalk ‘n plan vir jou maak.” Sy huil. Die Escort se hoofligte gaan aan en die enjin grom en dan swiep die motor nader. Dinge gebeur vinnig. Die man agter die stuurwiel hou stil en klim uit en vra: “En wat dink jy is jy besig om te doen?” “Meneer, wag nou –” “Jy neuk met dinge wat jy glad nie verstaan nie.” Die man slaan die motordeur toe. Dit is nou duidelik dat hy ‘n wielsleutel in die hand het, dertig sentimeter of langer, blink, metaal. Francken se hare staan orent. “Kom ons kom tot bedaring,” sê Maartens dan. Hy het oor die straat gekom en staan nou tussen Francken en die ander man. “Draai weg van die ou af,” sê hy vir Francken. “Moet nie na hom kyk nie.” Francken gee gehoor en kyk eerder straat op. Die ander vrou wat hy gesien het, staan nog waar sy gestaan het, haar een been gebuig by die knie. By die ingang na Cape of Storms staan ‘n man arms gevou. Dit is net musiek wat van daar af speel, die elektriese kitaar melancholies; hy hoor nie Joan Dreyfus sing nie. “Wat is die vent se storie?” hoor hy die man wat uit die Escort geklim het, sê. En Maartens: “Wat nou, wag nou. Hy bedoel niks nie. Ons het ‘n bietjie baie gedrink vanaand en –” “As hy die meisie wil hê, moet hy betaal.” Francken hoor die vrou snik en kyk na haar en sê: “Juffrou …”, wat ‘n uitroep van die man ontlok: “Jy bly verdompsontwil weg van haar af, jou vark! As jy darem dink daai maniertjies van jou moet my beïndruk …” “Moet net niks sê nie,” hoor hy Maartens sê. “Stap weg. Stap weg, Pieter, stap weg.” Francken moet Maartens bewonder. Maar of hy gaan wegstap, is hy nie so seker nie. “Ek kan nie toelaat wat hier aan die gang is nie,” sê hy en draai na die man en stap tot drie of vier treë van hom af, darem buite bereik van die slaanding. “Meneer, werk sy vir jou?” Die man sê niks. Dit lyk asof hy sy opsies oorweeg, of dalk die aantal potensiële getuies, so kyk hy rond. Francken is dankbaar vir Maartens se kalm gestalte by hom. Voor die ingang na Cape of Storms staan nou ‘n paar mense. Waar is die uitsmyters van die nagklubbedryf met hulle berugte aggressie en gretigheid vir fisieke konfrontasie? wonder Francken. “Meneer, ek kan sien sy is ongelukkig,” sê Francken in die redelike stemtoon waarmee hy orde gehandhaaf het onder sy werknemers, daardie beskaafde dae by die maatskappy. “Ek kan sien –” Die man tree vorentoe en stamp die punt van die stuk metaal in Francken se bors vas. “Daar gaat jy,” sê hy. “Op jou coyote.” Dalk bedoel hy “cayuse”, wonder Francken. “Gaan weg.” Francken tree terug. Die man tree weer vorentoe. En stamp weer met die stuk metaal. Dit is pynlik genoeg om Francken te laat dink hy gaan skraapmerke en kneusplekke hê, môre. “Los dit,” sê Maartens weer. “Pieter, stap weg.” Die man met die slaanding grynslag en maak ‘n gromgeluid. “Ek sê loop!” En hy swaai met die wapen, nie baie vinnig nie, nog net waarskuwend, en Francken kry kans om te koes. En toe Francken eers aan die retireer is, moet hy bly terugstaan en die man kom op hom af en bly beduie en swaai met die wielsleutel. Maar so bedag is die man op sy woede jeens Francken dat hy Maartens verontagsaam en hom kans gee om nader te kom en hom aan die arm te gryp, in ‘n greep wat hy waarskynlik afgekyk het by die karatefilms waarvoor hy, tot Francken se Vrydagaand-frustrasie, lief is. Maartens swaai die man in ‘n halfsirkel en sit hom, byna sagkens, op die teer neer, in ‘n vertoning van hoe om net-die-nodigste geweld aan te wend. Ongelukkig neem hy nie onmiddellik die wapen af nie en die man op die grond swaai dit na Maartens se been en tref die knie hoorbaar. Maartens skree en sak self neer, sy hande om sy been gevou. “Dan bars julle maar almal!” sê die man met die slaanding en kom weer orent en mik na Francken, wat ter wille van Maartens bly staan het waar hy was. Daar is niks wat Francken kan doen nie. Hy besef hy kry vanaand slae en moet wonder wanneer laas so iets met hom gebeur het. Maar terwyl die vrees vir die man voor hom bekend voorkom, kan hy nie dink dat hy al voorheen in ‘n situasie was waar die dreigement so direk was nie. “Andrew, wag,” kom die vrou met die haarstyl en die rok tot sy hulp. Sy het tussen hulle ingestap en praat pleitend. “Hy weet nie wat hy doen nie. Jy hoor mos hulle het gedrink. Jy het hulle mos nou gewys.” “Mmmm ja, maar gaats,” sê die man, en sy woede lyk of dit geblus is. “Dan moet hulle gaan. Ek wil hulle nie hier sien nie.” “Meneer, jy moet loop,” smeek die vrou by Francken, wie se moed laag is, sodat hy self dink dit is ‘n goeie idee. “Ek het so ‘n idee dit is pal ‘n vrou wat jou uit die moeilikheid moet kry,” sê die man vir Francken. Hy het beslis bedaar, maar praat nog hard, en met die gesag en gebrek aan finesse wat Francken assosieer met skunnige kindertye en noustraatwoonbuurte, en skoolboelies met al die impotente woede in die wêreld in hulle opgesluit. Vroeër het Francken gedink hierdie man en Maartens is van soortgelyke stoffasie, maar hy dink nie meer so nie. Maartens het ‘n sekere optimisme in hom wat vergoed vir enige bekveldneigings, ‘n vriendelikheid en liefde vir mense wat opmaak vir sy gebrek aan etiket en maniere. Maar genoemde Maartens, hy van die optimisme en vriendelikheid en liefde vir mense, het intussen agter die man met die slaanding opgestaan, op die een been, en hy het nadergehink en is nou in die posisie om die man van agter af met die plathand teen die kant van die kop te klap. Dit is ‘n slag. Die man steun en laat val die slaanding en hou sy kop vas en begin in ‘n klein sirkel loop terwyl hy kla en vloek. “O Heretjie Jissis, my oor, my oor.” “Andrew? Andrew?” sê-vra die vrou met die rok en steek haar hande na die man uit, probeer hom voorkeer sodat hy ophou beweeg, maar hy stamp haar van hom weg en haar trane loop weer. “Wat het jy gemaak?” vra die man aan Maartens terwyl hy bly rondtree, sy gesig vertrek. Sy hare het gedeeltelik losgekom uit die poniestert en lokke hang oor sy gesig. “Jy het my oordrom gebars.” “Pieter, dit is hoe ‘n stootmoer lyk,” sê Maartens. “As jy hom van agter sien, wil jy hom stoot en as jy hom voor af sien, wil jy hom moer.” Maartens buk om die wielsleutel op te tel, maar die vrou met die rok spring hom voor, druk sy hande weg en raap die implement op. En dien Maartens daarmee ‘n hou teen die kop toe. “Julle vuilgoed!” skree sy. “Julle vuilgoed!” Francken dink dat lyding mense verspot laat lyk. Maartens en die man wat hy geslaan het, hou nou beide kop vas en grynslag van die pyn. Dit is asof hulle nooit ooit weer aan enigiets anders as hulle pyn gaan aandag gee nie. Maar dan moet hy self bontstaan, want die vrou het haar blik op hom gevestig en swaai met die wielsleutel na sy kop. “Wag nou, juffrou. Wag nou.” “Hoekom los julle ons nie uit nie?” “Juffrou, ek wou jou help.” “Help? Watse help? Wat laat jou dink ek het hulp nodig?” “Maar jy het ontsteld gelyk. Jy het gehuil …” Haar gesig vertrek in leed en die trane loop. Sy laat val die wielsleutel om albei haar hande voor haar gesig te hou. “Wat gaan help help?” hoor Francken haar onduidelik sê. “Help help nie meer nie.” Sy wend haar na die man met die seer oor, wat stiller is en sy hand inspekteer, die een wat hy teen sy oor gehou het. Daar is ‘n kol bloed in sy handpalm. “Ek hoor net so ‘n gesuis,” sê die man bekommerd. Francken merk dat Maartens die wielsleutel opgetel het en skud sy kop en wuif met ‘n hand. Hy wil nie eintlik praat nie, want hy hoop om nie die ander twee se aandag op verdere moontlike geweld te vestig nie. Maar die man met die oor se oë makeer niks en hy kyk na Maartens en sê met afkeer: “Tipiese Maitland-mentaliteit.” “Ek kom van Goodwood af!” snou Maartens hom toe. “Meneer, ek verstaan nie wat julle situasie is nie,” sê Francken aan die man met die oor, “maar ek en my maat gaan nou net op pad wees.” “O, nou wil jy loop. Sommer net so. Nou wil jy kamtig niks weet van die hoer langs die straat vir wie jy wou bevriend nie. Tipiese Bellville-mentaliteit!” “Hy kom ook van Goodwood af,” sê Maartens, vir wie onderskeide van hierdie aard blykbaar belangriker is as vir Francken, en dam die man by met die wielsleutel, slaan hom op die skouer. Maar sy knie swik onder hom en hy is die slaanding kwyt, wat dan deur die vrou opgetel word. Maartens konsentreer nog op sy knie, wat hy weer vashou, en hy is blootgestel vir die houe wat volg. Die vrou slaan hom oor die kop en in die gesig, vier maal, vyf maal, en sy skree terwyl sy dit doen en hou dan hygend op toe Francken haar om die skouers gryp en wegtrek. Sy is weer aan die snik en laat vaar dadelik haar greep op die wielsleutel. Die man wat uit die rooi Escort geklim het, het terugbeweeg na die motor en klim nou in, slaan die deur toe, skakel die enjin aan, wag dat die vrou inklim en trek weg. Dit is óf sy instinkte óf sy ore wat goed is, want ‘n sirene klink kort daarna op, saam met so drie swaaie van die blou lig, en dan kom ‘n polisiebakkie om ‘n draai en trek teen die randsteen af en twee polisiemanne klim uit. Lotie Maartens lê roerloos en bloei op die sypaadjie. * “Meneer, die raad vir ordentlike mense in situasies soos hierdie is dat hulle hulle maar eerder bly ordentlik hou,” sê die polisieman aan Francken, wie se verklaring pas afgeneem is. “Dit is tog net ordentlik om hulp aan te bied,” sê Francken verleë. “Nee, ordentlikheid moet homself oppas. Bly weg van hierdie soort van mense.” “Ek is een van daardie soort van mense,” sê Francken koppig. Die polisieman kyk na hom asof hy hom die eerste keer sien, stap dan sonder kommentaar na sy kollega, wat met ‘n ambulansdrywer praat. Lotie Maartens is in daardie ambulans. Hy het nog nie weer sy oë oopgemaak nie en sy kop het begin swel. Francken is bekommerd oor die man, maar ‘n meer onmiddellike kwelling is dat hy ‘n bietjie verlore voel sonder hom. Die heelmiddag en vanaand het hy in ‘n mate staat gemaak op die man se selfversekerdheid en leiding en nou moet hy vir homself besluit. Francken voel soos ‘n gek. Hy moes skeptiese vrae verduur oor die vrou oor wie hy hom ontferm het, en toe ‘n bietjie ongeloof oor sy die een was wat die slaanwerk met die wielsleutel gedoen het. Hy gaan staan op die trap voor die motorhandelaar waar hy haar die eerste keer opgemerk het. Sy hart gaan nog steeds uit na haar toe, maar daar is net mooi niks wat hy kan doen nie. Hy onthou hoe sy gelyk het toe sy en die man wegry in die Escort. Sy het gemerk dat hy haar beskou en toe haar gesig wegdraai. Dit pla hom dat sy so kwaad was vir hom. ‘n Mens kan net dink oor haar nag en inderdaad haar lewe vorentoe. Maar dit is te veel verantwoordelikheid vir een nag, ander mense. Miskien is die polisieman reg. Miskien is dit verspot en hopeloos om te dink jy kan uitreik en jouself assosieer met mense wat jy nie altyd te goed verstaan nie. Dit kom by Francken op dat die polisie nie te gretig is om te help nie en hy stap agter die polisieman aan. “Wat gebeur verder?” vra hy. Die twee mans kyk blykbaar vieserig na hom en hy skud sy kop. “Ek was nie ‘n klant van die vrou nie.” Maar duidelik gaan hy hulle van niks oortuig nie. “Is daar ‘n kans dat ek dalk ‘n geleentheid kan kry?” vra hy. “Ek dink ek is te laat vir die laaste trein.” “Meneer, die SAPD is nie ‘n huurmotordiens nie. Ons kry gedurig versoeke van hierdie aard en dit is regulasie dat ons nee sê.” “Maar dit is tog ‘n uitsonderlike geval,” probeer Francken. “Ek sal nie vra as dit nie dringend nodig is nie.” “Meneer, wees eerlik met my. Hoeveel het jy gedrink vanaand?” Toe Francken nie antwoord nie, sê die man: “Die publiek is soos kinders wat droogmaak en die polisie moet net regmaak. Geld vir die volgende drankie is daar altyd, maar vir huis toe gaan? Frik, het jy klaar geskryf?” vra hy toe aan sy kollega. “Ek wil ry.” “Ek het hom! Laat ons departeer.” “Wat van die vrou?” vra Francken. “Wat van haar?” “Gaan julle haar nie probeer opspoor nie?” “Wat pla ‘n hoer jou so?” Francken staar terug na die polisieman, probeer ‘n simpatieke reaksie uit die offisieuse stroefheid wring. “Sy is ongelukkig. Daar is iets fout.” “Skerp oog wat jy daar het. Daar is wel iets fout met enigiemand wat haarself toelaat om in so ‘n gemors te beland. Maat, vergeet nou die hoertjie en gaan huis toe na jou vrou toe. Kom, Frik.” Die ambulans en die polisiebakkie vertrek en straatlig sleep oor die motorruite. Mismoedig merk Francken hoe een van die polisiemanne deur die venster na hom kyk en iets sê wat ongetwyfeld onvriendelik is. Daar staan nog mense rond, die meeste blykbaar klante van die Cape of Storms wat nou weer begin terug beweeg soontoe. Francken kyk hoeveel geld hy by hom het. Sewe-en-twintig rand. Daaruit moes aandete ook nog kom, die aandete wat hy by die huis moes voorberei en saam met sy wanfunksionele huishouding moes nuttig. Daar is ook ‘n foonkaart, van die voorafbetaalde soort wat hy deesdae met hom ronddra by gebrek aan die selfoon wat hy ‘n paar weke terug kwyt is. Taai tye, sou Maartens op die gedagte sê. Hy dink aan wat hy aan die polisieman gesê het: “Ek is een van daardie soort van mense.” Belaglik, eintlik, om selfbewus te voel. Op sewe en dertig moet ‘n mens darem al weet waar jy in die wêreld inpas, en met wie jy wil praat en wie met jou wil praat. Glo middelklas-obsessies, al die gebeur na ‘n hoër stand en die minagting vir mense wat jy as jou mindere ag. Maar hoe groot is daardie klas nie, die middelklas. Almal wat hy ken, behoort daartoe. Hy wat Francken is, is egter nie middelklas nie. Hy weier om te wees: die spanning is net te erg. Dan maar eerder laer rondkyk vir ‘n plekkie in die son.
Hy dink vir oulaas aan die vrou en oor wat sy oupa altyd Kristelike plig genoem het, stap dan oor die straat na die Cape of Storms se ingang. Iemand staan nog op die sypaadjie en kyk nuuskierig na hom toe hy verbyloop.
Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |