NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Diana Ferrus werk as administrateur, Departement Bedryfsielkunde, Universiteit van Wes-Kaapland. Sy het so pas haar Honneurs in Vrouestudies voltooi en beoog om haar Meestersgraad hierdie jaar te begin. Sy is veral geïnteresseerd in die optekening van swart Afrikaanse vroue se stories en is tans besig om kortverhale van vroue bymekaar te kry vir ’n beoogde bundel. Hierdie voorneme spruit uit haar navorsing oor die swart Afrikaanse vroueskrywer.
 

"Five Down", die trein wat met die donker kom

Diana Ferrus

Die nag kan net nie gou genoeg verbygaan vir die elfjarige Talitha nie. Sy is bang om nog 'n keer om te draai. Haar suster Hester, wat aan die voetenent van die enkelbed slaap, skop haar elke keer as sy aan haar raak.

Talitha is gewoonlik bang vir die donker. Toe sy kleiner was, kon haar ouers nie die kers doodblaas voor sy nie vas aan die slaap was nie. Slapenstyd was 'n ergernis vir die Februarie-gesin van Agterstraat in Worcester. Kleine Talitha het 'n ongewoon diep stem vir 'n meisiekind en om haar geskree te moes verduur was 'n aakligheid. Wanneer Talitha ontdek het dat die kers uitgeblaas was, het sy losgetrek met 'n bui donderslae wat alles om haar in chaos gedompel het. Die ouers het uit hul kamer gevlieg en haar ouer suster en jonger broers het ontstoke vir haar geskree: "Hou jou mond, vir wat is jy bang?"

Maar vir Talitha was die donker vol monsters en spoke wat mense doodmaak deur hulle kele toe te druk sodat hulle nie kan asem kry nie en dan sterf.

Nou lê sy egter met oë styf toegedruk. Selfs die donker sal nie haar volgende twee dae kan bederf nie. "Wanneer, o wanneer kom die nuwe dag?" het sy haar afgevra.

Haar pa, oudste suster Hester en twee kleiner broers, Mattie en Sep, was salig in droomland. Hulle was skynbaar nie bekommerd dat hulle sou verslaap nie. Dit het al gebeur dat Mr De Villiers net drie maal getoet het en as die voornemende passasiers te lank gemaak het na sy sin, dan het hy net gery sonder om selfs te skree: "Ek ry maar weer!"

Mens kon hom seker nie verkwalik nie. Hy moes halfvyf sy passasiers oplaai, want Five Down ry stiptelik om vyfuur en as die mense nog moet kaartjies koop, kan dit 'n lollery wees as die tou meer as tien mense lank is. Dit was hoeka Saterdagoggend en seer sekerlik sou daar meer as net hulle vyf op die stasie wees.

"Five Down, Five Down," sing sy in haar hart.

"Five Down neem my Kaap toe, daar waar die miljoene liggies helder skyn, die grote Kaap met sy baie winkels en double-decker busse …"

Sy wou in die grote Kaap wees waar haar antie Maxie en uncle Pieter nou woon met haar twee niggies en hulle vyf broers. Sy het gehoor dat haar antie weer verwagtend is. Natuurlik mag sy nie daaroor praat nie. Voor haar ma na die hospitaal toe is, het haar ma met antie Mieta van langsaan gesels. Die twee wis nie dat Talitha onder die vyeboom naby die wasgoedlyn sit en lees het nie. Antie Mieta was nogal verbaas oor die swangerskap en wou iets sê soos "alweer?", toe val Talitha se ma haar in die rede en sê dat antie Maxie en uncle Pieter nog 'n kind kan bekostig. Uncle Pieter, het haar ma trots vertel, is nou 'n voorman by die lapfabriek waar hy as 'n weaver gewerk het. Hy pay by die maand en het onlangs vir hulle 'n bakkie gekoop met 'n kap op.

"Nee maar goed," het antie Mieta ewe verleë gesê, "ek moet loop, my pot kook seker oor", en toe is sy daar weg.

Talitha kon duidelik hoor hoe haar ma saggies vir haarself sê: "Jy wil mos busybody wees."

Toe is haar ma om die hoek met die klomp wasgoed oor haar arm. Talitha het stilletjies gelag. Haar ma het net gepraat wat sy wou. Hulle kinders het geweet hulle ma is vir niemand bang nie.

Nou is haar ma in die Kaap by haar suster, antie Maxie, want Talitha se broertjie Archie se oog het seer gekry. 'n Kind van die straat het Archie per ongeluk op die onderkant van sy oog raakgegooi. Haar ma het die oog self probeer dokter, maar moes toe uiteindelik na Dr Levinsohn gaan. Hy het dadelik 'n afspraak vir Archie by Groote Schuur gereël. Nou is hulle al twee weke in die Kaap. Archie is in die hospitaal en haar ma en antie-hulle gaan besoek hom gereeld. "Seker met uncle Pieter se bakkie, of miskien ry hulle ook met die double-decker bus," dink Talitha.

Talitha wil weer uitbars van die lag, maar bedink haar gou-gou. Sy dink aan die laaste keer toe hulle in die Kaap was en met die double-decker bus gery het. Sy en haar suster en niggies het upstairs gesit. Toe, terwyl die bus nog aan die beweeg was, staan haar niggies op en beweeg met die trappe na onder. Talitha was erg bekommerd en vra toe: "Gaan ons dan uitspring?"

Daar was vir dae lank die spot gedryf met haar. Gelukkig het haar niggies nie vir die mense in Worcester vertel nie, anders sou sy nooit weer haar gesig by hulle huis se deur uit gewys het nie.

Daar kraai 'n haan. Dis seker nou al vieruur. Hulle moet opstaan. Talitha wil haar pa roep, maar dink dat haar suster netnou gaan kwaad word. Dié kan tog te vol fiemies wees as dit haar pas en Talitha wou dat niks hierdie dag, hierdie naweek, vir hulle moet bederf nie.

Dis nie lank nie of sy hoor haar pa inkom by die kamer met 'n kers in die hand.

"Opstaantyd; dis vieruur."

Talitha is onmiddellik op. "More Daddy," sê sy vrolik.

"More; kon Daddy se kind darem slaap?"

"Ja, soos 'n klip!"

Die glimlag sit blink in haar oë. Die sewejarige Mattie strek sy armpies uit en sê: "Daddy, ek is nog vaak."

"Nee, jy moet nou op, anders gaan ons laat wees vir die trein. Five Down wag vir niemand."

In 'n japtrap het haar suster die primus-stove aangesteek. Later word die warm water in die kom gegooi. Talitha en Esther was die twee seuns. Toe is dit hulle beurt. In die tussentyd het Talitha se pa nog water op die primus-stove gesit en toe kon die twee susters in skoon water was. Mattie en die vyfjarige Sep kon hulle al self aantrek en het nou wildwakker gesing: "Ons gaan Kaap toe, ons gaan Kaap toe!"

Halfvyf op die kop, met almal blink en skoon, toet Mr De Villiers buite. Die seuns is eerste by die deur. "Wag julle, dis pikdonker buite."

Haar pa, met suitcase in die hand, maak stadig die deur oop en skree hard: "Ons kom, Mr De Villiers."

Mr De Villiers het nie sy motor afgeskakel nie. Die gedreun klink hard in die stilte van die vroeë oggend en die ligte skyn helder, so helder dat dit 'n gedeelte van die straat verlig. Talitha moes haar oë twee keer knip. "Dat 'n motor soveel lig kan maak," dink sy.

Op pad stasie toe het net haar pa en Mr De Villiers gepraat. Talitha kyk deur die agterruit en probeer uitmaak wat sy in die donker kan sien. Dit is winter en koud; sy kan net die huise se rande sien en die groot boom wat voor antie Enid se huis staan.

Op die stasie is die perron helder verlig. Hier en daar loop 'n paar mense op en af. Mr De Villiers haal die suitcase uit die kattebak. Toe krap haar pa in die sy baadjiesak en betaal hom. Terwyl hulle by die suitcase wag, gaan haar pa gou die kaartjies koop. Hy was skaars klaar, toe kom Five Down ingestoom met 'n lang fluit van "Ek is hier, ek is hier."

Toe is daar 'n gewoel. Eers tel Talitha se pa die twee seuns in die trein en toe klim sy en haar suster die trappe op wat hoog en wyd uitmekaar is. Haar pa het tweedeklaskaartjies gekoop. "Dis seker omdat hy gepay het," dink sy.

En asof haar pa haar gedagtes kon lees, sê hy vir hulle: "Ons sit in tweede klas, dan kan ons alleen in 'n compartment wees. Die mense kan partykeer net 'n steurnis wees."

In die compartment sit haar pa die heater aan. Haar twee broertjies klim onmiddellik op die boonste bed, spring af en hardloop in die gang rond tot ergernis van haar suster.

Dit was nog steeds pikdonker buite, behalwe vir die perron, wat helder verlig is.

Talitha is ongeduldig. Sy wil hê dat die trein moet ry. Die trein vat 'n volle vier ure om in die Kaap te kom. Uncle Pieter gaan vir hulle op Bellville-stasie kom haal, want die trein stop nie op Elsiesrivier waar uncle Pieter en antie Maxie woon nie. Archie sal ook seker bly wees om vir hulle te sien. Miskien sal Archie dan saam met hulle huis toe kom, want twee weke was darem lank om in 'n hospitaal te lê, en so alleen! Maar miskien het Archie nuwe maatjies ontdek. In die hospitaal kry die kinders speelgoed en pudding. Talitha het dit gesien toe hulle antie Wiesie se kind Petronella in die hospitaal gaan kyk het. Petronella het dit nie gemaak nie. Sy was maar ses jaar oud. Skielik maak Talitha haar oë styf toe - sy wou nie daaraan dink nie. "Archie is tog nie so siek nie. Dis maar net sy oog."

"Haai, kyk julle, daar is Boetie," ruk haar pa se stem haar tot die werklikheid terug. "Tommie, Tommie, Boetie," skree haar pa.

"My magtig," kom dit van Boetie, "wat 'n surprise, Karel."

"Kom sê more vir Boetie!"

Die kinders soengroet vir Boetie deur die oop venster. Boetie, of Tommie, is Talitha se pa se oudste broer. Hy is 'n posman en sorg dat die groot possakke op die trein kom. Die possakke is bedoel vir die hoofposkantoor in die Kaap, vanwaar die briewe na verskillende dele in die land gestuur word.

Talitha se broertjies is weer in die trein se gang af. Haar suster sit ingedagte met die koekblik vol gekookte eiers en hoenderboudjies op haar skoot. Talitha sluit haar oë en lê plat op die bank met haar kop na die venster. Haar pa en oom is druk in gesprek. Sy wens die trein wil ry.

Dan spits sy haar ore. Haar pa het Engels begin te praat. Haar hart gee een ruk. Sy hou haar asem op. Haar voete is yskoud. Sy maak nie haar oë oop nie. Skielik gee die trein een ruk, 'n tweede ruk …

"Kom julle," sê haar pa, "kom sê goodbye vir Boetie."

Haar broertjies skree kliphard: "'Bye, Boetie!"

Haar suster mompel saggies. Talitha kan nie haar kop oplig nie.

Die trein ruk al vinniger en die wiele begin te draai op die spoor, vinniger en vinniger. In haar brein draai haar pa se woorde vinniger en vinniger … "His eye is getting worse, so much so that it is affecting the other one. They will have to remove his eye to save the healthy one, that is why we are going - they need me to sign the papers."

Na 'n ruk maak Talitha haar oë oop. Haar suster sit toe oë en haar pa staar hartseer by die venster uit, staar die donkerte in. Talitha maak haar een oog toe. Sy snak na haar asem. "Is jy okay, my kind?" Daar kom niks uit haar keel nie.

Die trein het die daglig stadig binnegevaar, die rukkende wiele loodswaar op die spoor. Daar was 'n swaarheid oor Talitha se hart. Sy wens sy kon dit weer vieruur in die more laat wees, vieruur in die more met die pikdonkerte om haar, die donker vir wie sy nooit weer bang sou wees nie.





LitNet: 28 Julie 2005

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.