NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Diana Ferrus werk as administrateur, Departement Bedryfsielkunde, Universiteit van Wes-Kaapland. Sy het so pas haar Honneurs in Vrouestudies voltooi en beoog om haar Meestersgraad hierdie jaar te begin. Sy is veral geïnteresseerd in die optekening van swart Afrikaanse vroue se stories en is tans besig om kortverhale van vroue bymekaar te kry vir ’n beoogde bundel. Hierdie voorneme spruit uit haar navorsing oor die swart Afrikaanse vroueskrywer.
 

Om huis toe te gaan

Sy lag as sy my groet. Soos gewoonlik gee sy haar wang. Ek merk die grys hare, ongekam - die oggend is amper verby.

“Gits,” sê sy terwyl ek stadig agter haar instap na die kombuis. Haar potte op die ou kombuiskas se glans is weg. “Ek het jou eers môre verwag.” Haar groot swart oë blink. My hart smelt en krimp tegelykertyd as ek na haar kyk. Die groen rok is myle te groot, haar sewentig jaar is vinnig besig om te wys.

Terwyl ek my tas in die slaapkamer uitpak, hoor ek haar vroetel met die ketel. Die onopgemaakte bed en die toegetrekte kleurlose gordyne pla my.

“Hoe gaan dit met Mammie?” Die verrimpelde hande met die baie bruin vlekkies hou ’n koppie koffie na my toe uit.

Sy draai stadig om. “Soos altyd, wat help kla? Het jy gesien hoe lyk Ta Sara langsaan van kla?” En nou lag sy weer. Haar oë trek skrefies en dit blink nog. “Maar jy ken my mos, where I rule I do rule supreme en ek kla nooit!”

Ons al twee skater en ek kyk haar weer so. Hierdie vrou met haar wil van staal, alleen in haar munisipale viervertrek woonstel. Hoe vertel ek haar? Ek kry koud as ek dink aan ’n moontlike reaksie.

“En jy? Hoe gaan dit in die Kaap?”

“o.k.”

My sagte antwoord laat haar vinnig opkyk en haar skerp neus wys punt in my rigting. Haar oë trek vraagtekens. Sy bly egter stil. Dis moeilik om die frons tussen haar oë te ignoreer. Ek weet onmiddellik die magic is verby. Sy voel dit. Sy weet ek het nie net kom kuier nie.

“Jy moet maar sien wat is hier vir jou om te eet, Katie gaan eers later winkel toe vir my. Moet ook nie vir lekker goed hier soek nie. Ek eet net ’n bietjie jellie en custard, dan is ek vol vir die hele dag.”

Sy’t dit altyd gedoen. Sodra sy vermoed of verwag het dat daar gepraat moet word oor iets, het sy haar aanvalsbaadjie aangetrek. Ons drie ken dit al so goed. My broer het gevra dat ons haar moet los, sy’s oud. My suster voel soos ek, ons is grootmense. Dis tyd dat sy ons so behandel. Vandag is my kans, dis nou of nooit. Pa se kans is lankal begrawe.

Dit voel of ek al ure voor die yskas staan. Sy praat nog steeds niks en probeer hard om die skottelgoed in die wasbak te was. Ek tel weke se borde en koppies. Die yskas is amper leeg, my hand beweeg instinktief om die potjie met die vrot geel custard uit te haal, maar ek ruk dit terug en maak die yskas toe.

“Ek sien die kar, Carol! Hello, wanneer het jy gekom?”

Ant Pinkie kom tot my redding. Die stilte het ongemaklik geraak. Ant Pinkie is deesdae die enigste persoon, hoor ek, wat in Ma se huis toegelaat word. Sy’s ’n kleinniggie van my pa en net so oud soos Ma. Haar groot donker gesig glimlag altyd. Maar haar lywige liggaam is nie goed vir die hartkwaal wat sy nou al jare aan ly nie.

“Hello, Antie Pinkie, ’n rukkie gelede eers hier gekom. Hoe gaan dit met Antie Pinkie en Uncle John?”

“Nee, jong, moet my nie uitvra van die jong nie, as hy ka’ syp, dan’s hy o.k.”

Ek en Ma lag weer saam. Ma lyk sommer ontspanne en vra vir Antie Pinkie om vir haar ook ’n sigaret aan te steek.

“Julle twee sterf nog van hierdie giftige goed.” Ek kan net nie die kans laat verbygaan nie. “Wat sê die dokter van Mammie se longe?”

“Wat kan hy sê, as daar niks verkeerd is nie.”

“En Antie Pinkie?”

Die twee geniet dit om my te treiter, die glimlagte sit groot op hulle gesigte.

“Nee, my kind, ek rook dan al al die jare. My enigste plesiertjie. Met jou Uncle John se suipery ... ek kom maa’ net na Mammie toe en ko’ maak ’n rokie hier. Ek worry my nooit.” Ek wonder of Antie Pinkie weet ek weet, dis by haar dogter Merna waar ek dit gehoor het. Ek moet haar tog alleen kry.

Terwyl die twee in die voorhuis gaan sit met ’n asbak voor elkeen, gaan ek buitentoe. Dis ’n pragtige dag op Worcester. Die Brandwagberge is op hulle blouste, dis altyd so in Oktober. Die rustigheid van die dag staan in skrille kontras met wat in my binneste aangaan. Hierdie naweek weet ek sal ek dit moet oorkry, ongeag die gevolge. Tyd raak min.

“Stel haar voor ’n ultimatum.” Brian se stem was ongeduldig. My ma kan hom nie verdra nie. Hy blameer haar vir my onwilligheid om te trou. Ons twee se verhouding het krisispunt bereik. Brian beskou ’n verhouding van agt jaar as veels te lank. Hy wil ’n finale antwoord hê so gou as moontlik.

Dis skemer wanneer ek my ma wakker maak op die sofa waar sy aan die slaap geraak het. Sy gee twee slukkies aan die sop wat ek haar gee en glimlag. “Hoekom het jy my nie wakker gemaak nie?”

“Mammie, ek weet.”

Sy loer so bo-oor die sopkoppie en die glimlag verdwyn. “Wat?” Ek skrik nie vir hoe hard sy dit sê nie. “Die brand ... laas week ... jy kon dood gewees het.” Ek maak haar stil met my hand. “Jy’t geval en was bewusteloos. Jy laat niemand in die huis meer toe nie. Jy’t Ta Sara van die lelikste goed geskel, die mense kom leen geld en jy kry dit nie terug nie. Jy vergeet mense se name, jy onthou nie wat jy gesê het nie!” Ek praaat hard en vinnig. Die knop in my maag is weg.

Vol vuur wag ek vir die aanslag. Maar voor my sien ek hoe haar skouers verder ineenkrimp. Sy staar voor haar uit. Die beeld voor my is verslaan.

Veg, wil ek sê, moenie so sit nie. Sê vir my hulle lieg, sê vir my dit was maar net tydelik, dat jy sal regkom. Maar daar kom niks uit nie. Ek gaan langsaan haar op die sofa sit, steeds staar sy voor haar uit. Die halwe koppie sop staan koud op die vuil tapyt.

Dis laatnag wanneer ek vir Brian skakel. “Dis oor, ek kom nie weer terug nie. Die dokter sê dis ’n kwessie van maande en dit sal nie makliker word nie. Die brein is alreeds aangetas. Ek bly hier, sy is immers my ma en om by haar te wees, is al wat ek kan doen in haar laaste dae.”

Sy’s saggies weg op ’n warm somersaand in Februarie. In die klein tuintjie van ons woonstel was die tamaties wat ek en sy met soveel plesier geplant het, amper ryp.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.