NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Elsa Engelbrecht
Ek het op Elliot in die Oos-Kaap grootgeword en matriek daar gemaak. Daarna is ek na die Vrystaaste universiteit waar ek my man ontmoet het. Vyf kinders — maar gelukkig in daardie stadium nog nie kleinkinders nie — later is ons geskei. Ek woon nou op Dewetsdorp in die Suid-Vrystaat.
  Elsa Engelbrecht

Tant Jantjie gaan huis toe

Elsa Engelbrecht

Die dag toe tant Jantjie die eerste keer val en haar heup breek, is sy eintlik baie gelukkig; sy val in haar huis, naby die telefoon, en die hou wat haar kop met die valslag kry, stel haar net sowat drie ure buite aksie. Toe sy wakker word van die vretende pyn in haar heup, is sy koud en duiselig en vir ’n tyd lank skoon deurmekaar. Sy besef egter gou dat, as sy nie daar op die vloer van haar huisie wou sterf nie, sy ’n plan sou moes maak. Skreeu sou nie help nie, want die erwe is groot en die bure sou haar yl stemmetjie nooit hoor nie Daar is dus vir haar net een genade: sy sal die telefoon moet probeer bereik en die sentrale se aandag probeer trek. Op haar maag, met die af-heup wat agterna sleep en vlae van pyn en mislikheid wat haar kort-kort oorval, seil sy al hoe nader aan die telefoon totdat sy daarin slaag om dit af te trek van die kassie waarop dit staan. Gelukkig vir tant Jantjie besef die sentrale baie gou dat daar fout is en stuur dadelik die dokter en die polisie na haar huis. Die gevolg is dat sy nog daardie selfde dag na die naaste groot hospitaal geneem word waar ’n heupoperasie op haar gedoen word.

Hier loop dinge vir die ou mens egter lelik skeef. Sy doen nie net longontsteking op nie, maar die vreemde omgewing, die pyn van die operasie en die baie medisyne, is vir haar net een te veel en sy raak die kluts skoon kwyt. Dae lank hang haar lewe aan ’n draadjie en voer sy ’n newelagtige bestaan waar drogbeelde haar bewussyn oorheers. Haar kinders kom tot die gevolgtrekking dat haar dae getel is en begin om haar beste meubels onder mekaar te verdeel. Haar hoenderboerdery, waarop sy baie trots is, maak hulle tot niet, maar besluit voorlopig om haar huis nie te verkoop nie - nie totdat hulle seker is na watter kant toe die wind waai nie.

Hulle reël dat sy sommer in die stad in ’n ouetehuis opgeneem word en voor die ou tannie mooi weet waar sy is, deel sy ’n kamer met drie ander ou dames. Al die veranderinge ontstig die ou mens tot so ’n mate dat sy dié nag so skreeu en te kere gaan dat niemand in daardie kamer ’n oog toemaak nie.

“Tannie,” wil die suster die volgende dag weet, “wat op die aarde het verlede nag met tannie aangegaan dat jy almal so ontstig het?”

“Ai, suster, ek het die hele nag so ’n stryd gehad met die hoenderhane dat ek nooit geslaap het nie. Sulke heldergeel hoenderhane, met yslike blou snawels en bloedrooi kamme. Hulle hang hier bo teen die plafon en een ou grote het die ganse nag hier op die katelstyl gesit en na my voete gepik. Skuif ek my voete hierdie kant toe, dan pik hy hierdie kant toe, skuif ek my voete daardie kant toe, dan pik hy daardie kant toe. Ek was later so flou dat ek nie eers meer kon skreeu om hulle te verwilder nie.”

“Ja, suster,” gooi een van die ander tannies ook ’n stuiwer in die armbeurs, “julle moet haar hier uitvat, want sy baklei die hele nag met die hoenderhane, g’n mens kan geslaap kry nie.”

“Suster,” kom ou tant Jantjie nou ook weer by, “julle sal asseblief vir my my eie kamer moet gee. Ek kan nie saam met ander ou vrouens in ’n kamer bly nie. Dit sal nooit deug nie.”

“Word nou maar eers sterker dan gesels ons weer daaroor. En los tog nou die hoenderhane vannag uit dat almal hulle rus kan kry.”

Die hoenderhane laat hulle egter nie so maklik hokslaan nie; die volgende week of wat wissel tant Jantjie tussen oomblikke van absolute helderheid, waartydens sy net lus het vir baklei, en oomblikke van hallusinasies, waartydens die hoenderhane die kamer regeer. Die oomblikke van helderheid word egter al hoe langer en daarmee saam groei tant Jantjie se ongeduld oor haar omstandighede. Gelukkig word daar baie gou ’n kamer beskikbaar en is dit moontlik om vir haar ’n enkelkamer te gee.

Dit word egter gou duidelik dat die weelde van ’n eie kamer nie meer goed genoeg is vir die ou mens nie. Tant Jantjie is reeds uitgekuier by die ouetehuis en die hoop dat sy wel sal aanpas, vervaag sommer baie gou.

Die maatskaplike werker probeer verskillende moontlikhede waarheen tant Jantjie uitgeplaas kan word, maar niemand wil haar hê nie. Tant Jantjie skiet self die idee af dat sy by een van haar kinders kan gaan bly:

“Nee, mevrou, dit sal nie deug nie. Ek het my kinders vingeralleen grootgemaak en nooit enige hulp van iemand gevra nie, maar ’n kind ken mos nie dankbaarheid nie.”

“Ai, tannie, ek is seker dat daar darem iemand sal wees wat sal help. Waar kan ek hulle kontak?”

“Vergeet maar daarvan, mevrou, my kinders wil my nie hê nie; ons storie het nie mooi geloop nie.”

“As tannie wil vertel, ek sal luister en miskien kan ons tog ’n plan maak.”

Die verhaal wat sy te vertelle gehad het, het getuig van haar moed en volharding, maar ook van haar onversetlikheid. Haar man, Hendrik, was maar versukkeld en hulle het ’n karige bestaan gevoer uit ’n groenteboerdery op ’n erfie teenaan die dorp, en deur los werkies wat hy gedoen het. Dit was juis toe hy besig was om ’n windpomp te herstel dat hy in ’n onbewaakte oomblik verkeerd getrap het en na sy dood getuimel het.

“En jy moet weet, mevrou, daar bly sit ek toe met die vyf kinnertjies sonder geld en sonder dat ek weet waar die volgende stukkie kos vandaan sou kom. En ek was mos nou nie mooi van aansien dat ek kon hoop ’n man sou verby die kinnertjies kyk en my raaksien nie.”

“Ai, tannie, dit is mos darem nie waar nie.”

“Ja, my kind, dit help nou nie om doekies om te draai nie; die waarheid is die waarheid, al maak dit ook seer. Nee, daardie moontlikheid het nie vir my bestaan nie; ek sou my kinders alleen moes grootmaak. Die kerk het darem gehelp, daardie eerste paar maande, anders sou ons sekerlik honger gely het, maar dit was die laaste keer dat ek enige hulp van iemand aanvaar het; daardie vyf kinders was my verantwoordelikheid en ek sou self vir hulle moes sorg.”

“Wat seker maar moeilik was vir ’n vrou alleen?”

“Praat jy, maar ek het dit so verkies al was dit bitter swaar, want as mense jou help dink hulle mos hulle kan jou voorsê. Nee, ek het maar voortgegaan om klere te maak vir die ryk vrouens van die dorp soos ek altyd gedoen het. Ek en die kinders het ook ingespring in die groentetuin en aangegaan waar Hendrik opgehou het. Later het ek begin met ’n hoenderboerdery: eiers verkoop aan die dorpsmense en ook geslagte hoenders.”

Sy bly ’n rukkie stil, asof diep ingedagte, en gaan dan mymerend verder: “Die kinders moes maar help of hulle nou wou of nie, want daar was nooit geld om vir werksmense te betaal nie. Net met die uitlê van die lyke wou hulle nie help nie; glo nagmerries gekry daarvan. Ek het maar aangegaan daarmee, want elke pennie was nodig om al die gate toe te stop, en buitendien skrik ek mos nie maklik vir koue pampoen nie.”

Inderdaad. Nie vir koue pampoen nie, maar wel vir die ingehoktheid van haar huidige bestaan, en vir die aflegging van haar selfstandigheid, want in die outehuis kan sy nie kik of mik sonder die goedkeuring van die saalsuster nie.

Tant Jantjie se een seun kom haar kort daarna besoek. Hy maak ook ’n draai by die maatskaplike werker en brei verder uit op wat sy ma vertel het: “Ons het bitter swaar grootgeword. Dit was my ma teen die res van die wêreld en sy het ons klompie kinders op sleeptou saam met haar geneem. Dit was moeilike tye; moeiliker gemaak deur my ma se onverbiddelikheid omdat sy geen hulp wou aanvaar nie, selfs al sou dit die lewe vir ons almal makliker gemaak het. Ons kinders het almal half verbitterd geraak en die dorp verlaat sodra ons klaar was met skool. Nie een van ons het ’n baie goeie verhouding met my ma nie.”

“Kan jy my nie help om haar hier uit te kry nie? Sy pas nie aan nie en haar gesondheid ly daaronder.”

“Mevrou, dit is nou vir my pynlik om dit te moet sê, maar nie een van ons sien kans om haar by ons te neem nie, en nie een sien kans om haar hier te kom haal en na haar eie huis te neem nie. Elkeen is te bang dat my ma dan sy verantwoordelikheid sal word indien sy weer verswak. Ons is maar almal half versigtig vir my ma, mevrou. Jy moes seker al agtergekom het: sy lyk so breekbaar en tingerig, maar sy is so taai soos ’n seningrige stuk biltong en net so onverteerbaar.”

Ná haar seun se besoek belewe tant Jantjie weer ’n insinking. Sy treur en wil nie getroos word nie. Sy verlang na die lewe op haar tuisdorp en na die geliefde goed wat sy daar moes agterlaat en niks wat iemand sê, kan die lewe weer vir haar goed maak nie.

“Dit help nie julle sukkel so met my nie, mevrou, ek sal nie hier aanpas nie.”

“Tannie kan mos nie weer alleen in jou huisie gaan bly nie. Volgens wat ek verneem, is dit redelik vêr van die naaste bure en wat gebeur nou as tannie weer val? Om nie eens te praat van die gevaar wat misdadigers inhou vir ’n ou mens wat alleen bly nie.”

“Wat jy sê is waar, my kind, maar wat sal ek nou tog maak? Hier kan ek ook nie bly nie: dan begrawe julle my nog voor my tyd.”

Sy bel haar seun en pleit by hom om haar te help. Die gevolg is dat hy die maatskaplike werker bel met die opdrag: “Mevrou, reël asseblief dat haar goed ingepak word en kry haar gereed vir die reis. Ek skakel solank ’n taxi om haar daar te gaan oplaai en na haar huis te neem, maar onthou: niemand mag ooit weet dat dit ek is wat die taxi-man opdrag gegee het nie.”

Om twee-uur daardie middag verlaat tant Jantjie vir oulaas die ouetehuis nadat sy so gemaklik moontlik gemaak is vir die lang reis na haar tuisdorp.

Die maande gaan verby en word later ’n jaar, twee jaar, drie jaar. Met tant Jantjie gaan dit goed. Haar gesondheid het baie mooi herstel en sy het ook feitlik al haar vorige aktiwiteite weer begin opneem. Kort ná haar tuiskoms het tant Jantjie ’n brief aan haar kinders geskryf wat sy by die skool laat afrol het sodat elkeen dieselfde brief sou kry:

Liewe Kinders

Soos julle seker weet is ek nou terug hier in my ou plekkie  ...

Eers wil sy iets bitsigs kwytraak toe sy na die half leë vertrekke kyk, maar besef dan weer dat die tyd vir baklei verby is.

Die meubels is nou wel min, maar ek het darem genoeg om mee aan te gaan. Gelukkig is die stoof nog hier en ou meneer de Waal het vir my ’n ou yskas geleen. Dit is goed genoeg vir my behoeftes.
      Ek sal bly wees as julle almal Kersfees hierheen kan kom sodat ons kan gesels oor die ou dae en kyk of ons nie die strydbyle kan begrawe nie. Ek sal graag wil hê dat daar vrede tussen ons moet kom sodat ek in vrede kan gaan as my tyd daar is.
     Julle liefhebbende moeder,
     Jantjie
     NS. Ek het weer ’n paar hoenders aangeskaf.

Ná hierdie brief en die daaropvolgende kuiers, is die verhouding tussen tant Jantjie en haar kinders die beste wat dit in jare was. Vir die eerste keer besef die ou mens dat ’n mens van brood alleen nie kan lewe nie.

Die tweede keer toe tant Jantjie val en haar heup breek, val sy buite in die tuin toe sy besig is om gesiggies tussen die affodille uit te plant. Die klip wat haar kop tref met die valslag, is hard en ongenaakbaar en veroorsaak ’n gat waaruit die bloed stadig begin sypel.

Die son begin sak, ’n koel windjie styg op uit die vlei en ’n hanetreetjie van waar tant Jantjie lê, word haar hoenders rustig ná hul geskarrel om slaapplek vir die nag. Van al hierdie dinge is tant Jantjie egter salig onbewus; sy het reeds huis toe gegaan.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.