NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Elsa Engelbrecht
Ek het op Elliot in die Oos-Kaap grootgeword en matriek daar gemaak. Daarna is ek na die Vrystaaste universiteit waar ek my man ontmoet het. Vyf kinders — maar gelukkig in daardie stadium nog nie kleinkinders nie — later is ons geskei. Ek woon nou op Dewetsdorp in die Suid-Vrystaat.
  Elsa Engelbrecht

Die vrou langsaan

Elsa Engelbrecht

Die vrou langsaan het teen hierdie tyd soggens al ’n hele klomp stof opgeskop, maar sy is nou dood. Sy het glo die een of ander manie gehad, of obsessie of so iets, wat gemaak het dat sy aanmekaar wou skoonmaak. Glo iets wat skeef geloop het in haar verlede. Die veëry was die ergste: feitlik van die môre tot die aand, elke geslane dag was dit sy en die besem en die dorre erf. Geen sprietjie het meer daar gegroei nie; alles moes swig voor die aanslag van die besem. Skaars bo uit dan vat sy die erf weer van onder af, dag ná dag. Maar sy is nou dood.

Party dae as die wind gewaai het was die stof so erg dat ’n mens moeite gehad het om asem te haal. Dit was dan dat Ma se stem uit die kamer weerklink: “Barend, jy moet iets doen om daardie vrou tot haar sinne te bring; so kan dit nie aangaan nie.”

“Ja, Ma.”

“Jy moenie net daar staan en ‘Ja, Ma’ nie. Jy vergeet hoe swaar ek aan jou grootgemaak het en noudat ek sieklik hier in die kamer lê en nie myself kan help nie, is dit al waamee jy vorendag kan kom. Jou pa was reg toe hy gesê het daar sal niks goed van jou kom nie.”

Deur die venster staan ek en kyk hoe die vrou vee en ek sien die sweet op haar gesig en onder haar arms uitslaan. Eens moes sy aantreklik gewees het, maar nou is sy verrinneweer deur die son, maer en verskrompel, met hare wat wild om haar kop staan. Ek hoor nog steeds Ma se gekerm in die kamer, maar ek hoor nie meer die woorde nie: deur die jare het ek geleer om die woorde by my te laat verbygaan en net te reageer op wat noodsaaklik is.

Ek stap buitetoe en probeer ’n geselsie aanknoop met Hessie, die vrou met die besem. Sy kyk skaars op toe ek langs haar praat, maar vra darem so deur haar hare: “Is die ou heks se bors weer toe vandag dat sy so baie te sê het daar uit die kamer?”

“Jy moenie so praat van Ma nie, Hessie; haar bors is regtig sleg en die stof help nie om dit beter te laat word nie.”

“Sy moes lankal na ’n ouetehuis gegaan het. Al jou lewe moes jy na haar kyk en sy maak jou net gedurig sleg. Watter soort ma is dit?”

Ek verwonder my aan Hessie wat skielik met soveel wysheid vorendag kom, maar, ek antwoord haar nie. Dat sy bydra om die lewe vir my moeilik te maak, sê ek liewer nie, want sy weet dit tog.

Ou Hessie is nog nie klaar met haar tirade nie: “Kyk hoe lyk jy. ’n Regte skarminkel. Gee sy jou dan nooit geld om vir jou klere te koop nie of hou jy daarvan om so te lyk? ’n Uitgegroeide man wat nog onder sy ma se hiel staan, a nee a, man!”

Dat sy self na ’n skarminkel lyk sê ek liewer nie; ek draai net om en loop weg, want ek voel weer die gedruis in my kop. Dit gebeur altyd as Ma so kerm en wil hê ek moet dinge doen wat ek nie kan nie. Partykeer word ek bang vir myself, vir die vreeslike gevoelens wat dan by my opkom. Dan help dit as ek ’n rukkie in my kamer gaan lê, met die gordyne dig en alles doodstil; dan bedaar die geraas in my kop.

Ma wil egter nie die saak daar laat nie en dreig om te prosedeer as ou Hessie nie ophou met die stofmakery nie. Ma praat kort-kort van prosedeer, maar ek dink nie sy weet regtig wat dit beteken nie. “Jy gaan roep vanaand vir ou Giel as hy sy voete op daardie werf sit. Ek sal maar self iets aan die saak moet doen; jy is mos niks werd vir ’n mens nie.”

Oom Giel is self nog vol stof van sy dag se werk toe hy in Ma se kamer kom staan met sy hoed in sy hand, sy gesig bloedrooi in kontras met die spierwit voorkop wat bedags deur die hoed beskerm word. Oom Giel, ’n padskraper, is nie min trots op sy werk nie. “Jy weet, Barend, man, as ’n mens darem met daardie groot padskraper werk; jy laat sak daardie lem en jy sien hoe vat hy die grond weg om die pad gelyk te maak, dan swel die ou hart darem van trots dat jy die een kan wees wat dinge so kan regvat.”

Vanaand staan hy verleë voor Ma terwyl sy hom uitkryt vir ’n swak mens om toe te laat dat ou Hessie sy naam so deur die modder sleep met haar malgeit. “Ag, miesies Plessie,” probeer hy later, “ou Hessie is nie ’n gesonde mens nie. Ek praat en ek praat en partykeers help dit ’n rukkie, maar dan raak die kop weer te deurmekaar en begin sy weer met haar dinge.”

“Ek gaan prosedeer as dinge so aanhou, Giel. Ek waarsku jou.”

“Ai, miesies Plessie, moet dan tog nie so hard wees nie, jy weet mos hoe dit is om met iemand saam te lewe wie se kop nie reg werk nie.”

“Sal jy nou my kind kom staan en vergelyk met jou ou mal Hessie! Loop liewer voor ek my vervies en iets sê wat ek nie moet nie.”

Ek stap saam met oom Giel voordeur toe en sien die seer in sy oë: “Ek is jammer, oom, dat my ma so ongerekend met oom gepraat het. Sy kan party dae maar moeilik wees.”

“Ou Barendjie, Hessie kan ook maar nie help dat sy so is nie. Ek weet dit is party dae vir julle baie ongerieflik, maar hoe moet ek nou maak? Ek kan nêrens heen trek nie, want waar sal ek weer ’n erfie kan bekostig?”

“As Ma tog net nie so aangegaan het nie, oom. Sy maak my party dae omtrent mal soos sy aangaan. En alles is my skuld. Ek is dan nie vir haar ’n kind op wie sy kan trots wees nie en sy moes haar al die jare vir my skaam oor hierdie siekte van my en so gaan sy aan.”

“Ai, Barend, man, jy lyk dan deesdae vir my soveel beter, kan jy nie weggaan en vir jou ’n werk iewers kry nie? Dan is jy mos darem onder haar oordeel uit.”

“Wat sal dan van Ma word, oom? As ek die pille drink, gaan dit goed met my, maar dit is sy wat nie wil hê dat ek moet gaan werk of op my eie gaan bly nie.”

“Sy kan ’n bediende kry om haar te versorg, maar sy sal jou nie maklik laat gaan nie, my kind, want waar sal sy weer so ’n gewillige slaaf kry wat haar so hand en voet bedien?”

Ná oom Giel weg is, druis my kop eers, maar daar is nie tyd om op die bed te gaan lê nie, want Ma se aandete moet gemaak word. Gewoonlik val sy gretig weg aan die kos net om agterna te kla oor hoe onsmaaklik dit is, maar vanaand het sy ander dinge op die hart.

“Wat het jy en daardie Hessie so lank met mekaar te prate gehad vanmiddag daar buite?

“Niks nie, Ma.”

“Jy moet nie vir jou staan en slim hou met my nie, mannetjie. Ek het duidelik gehoor sy sê iets van klere.”

“Sy het net gesê my klere lyk nie goed nie, Ma.”

“Verbeel jou! Ou Hessie stel haar aan om kritiek te lewer op ander mense se klere! Iemand sal nog eendag daardie vrou se mond vir haar moet stilmaak, maar ek sal dit seker maar self moet doen, want van jou kan ek geen hulp verwag nie. Loop uit en los die kos hier dat ek in vrede kan eet.”

Die vrou langsaan is nou dood; die stof het gaan lê en dit lyk selfs asof daar weer grassies op die werf wil begin groei. Ou Giel het by ’n suster van hom gaan bly, want hy het nie kans gesien om aan te bly in die huis waarin ou Hessie vermoor is nie. Die polisie het hom ’n ruk lank verdink van die moord, maar daar was nie genoeg bewyse nie en hulle moes hom laat gaan.

Nou is dit net ek en Ma wat oorbly en ’n mens sou reken dat sy nou rustiger sou wees, maar moenie glo nie. Dit is asof sy al erger word noudat sy net vir my het om haar misnoeë op uit te haal. Niks wat ek doen is ooit reg nie en die stroom verwyte hou nooit op nie. Dit is eers toe ek die belt om haar nek sit en hom al hoe stywer trek dat die woorde op haar lippe stil word. Net soos dié van die vrou langsaan.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.