NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Etienne Marais

Ek het in Kaapstad grootgeword en toe ’n B.Comm.Hons. in kosterekeningkunde aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Ek het etlike jare gewerk as rekenmeester, maar toe ek my siel amper heeltemal verloor het, het ek van beroep verander. Ek het ’n rekenaarkursus gedoen en twee jaar lank as programmeerder gewerk. Die siel het ook nie daarvan gehou nie ... Nou gee ek Engels in Taipei (maar nog net vier maande hier). Ek het intussen ook in Johannesburg en in London gebly en gewerk. Skryf is ’n passie wat ek eers etlike jare ná skool ontdek het.

  Etienne

Urbane Legende

Etienne Marais

4:30. Hy breek die greep wat die horlosie se hipnotiese wysers vir ’n oomblik op sy oë gehad het en laat val sy lang, skraal arm tot langs sy sy. Klas van agtuur vanoggend to 4:30. Dis malligheid! dink hy en begin by die pad afloop met sy grys cardigan oor sy voorarm gedrapeer, Dorpstraat se rigting in. Hy is moeg en voel lus vir ’n koppie koffie iewerster by ’n wit tuintafel onder ’n groen akkerboom.

“Hardus!” weergalm sy naam oor die straat en as hy omkyk, sien hy die vet, klein meisietjie oor die straat aangehardloop kom. Sy is rooi en uitasem as sy uiteindelik langs hom tot stilstand kom.

“Hallo, jy!” giggel sy opgewonde met die klem op die ‘y’. “Ek hardloop al van daar agter soos ’n besetene agter jou aan!” sê sy en beduie met haar regterhand in ’n rigting iewers tussen die stopteken en die dak van Huis Dagbreek. Die sweet slaan soos boomgom teen haar skurwe vel uit en haar borste beweeg op en af soos hulle smeek om asem.

Vir ’n oomblik voel hy naar. Sy oë voel soos groot, ronde glasballe wat stadig om en om draai sodat dit soos silwer albasters onder sy lang, swart wimpers uit weerkaats.

“Ek laaik jou broek,” sê sy vol entoesiasme en onbehoorlik opgewonde. Opgewonde in die hoop op ’n tweerigtinggesprek? Opgewonde vir ’n koppie koffie? Of dalk ’n bietjie meer  ...

“Dankie, by my ma gekry,” sê hy van die donkerpers fluweelbroek wat hy self gemaak het, terwyl ’n pynlike trek ongeduldig oor sy gesig vertrek. Ongeduldig met homself, ongeduldig omdat hy weereens die agterdeur oopgelos het. Die agterdeur waar wellustige wesens inkruip om te kyk waarop hulle kan teer  ...

Hy sit sy sak neer en vroetel in sy broeksak rond vir die pakkie Lucky Strike-sigarette, maar sy vingers raak verstrengel in die kleingeld en ’n bos sleutels. Wanneer hy die boksie uiteindelik losgewringel kry, haal hy ’n sigaret uit en plaas dit tussen sy perfek gevormde lippe, meer aan die regterkant as die linkerkant van sy mond. Hy haal ’n pakkie vuurhoutjies uit en, deur net een hand te gebruik, haal hy ’n vuurhoutjie uit die boksie en steek sy sigaret aan.

“Dis befok!” roep sy uit en haar lyfie wikkel soos sy lag, haar borste wat weer oneweredig wikkel. Dit lyk vir hom asof sy tot in haar, wel, daardie plekkie wat so snaaks voel as jy klein is en jou pa ry op die grondpad oor ’n groot heuwel, tot in daardie plekkie lekker kry.

“Kan ek een by jou bum?” vra sy mooi, onwillig om van haar eie Forum’s te rook. Forum, omdat dit goedkoop is. Forum, omdat dit common is, common soos sy. Sy voel al hoe trek die rook in haar harde longe in  ...

“Nee,” antwoord hy stug en begin verder te loop. ’n Half sadistiese glimlag breek die strakheid van sy gesig. “Aag, fok jou, gee my ’n sigaret! Asseblief, man!”

Vir ’n oomblik gaan staan Hardus stil en maak sy oë toe. Hy voel moeg en geïrriteerd. Hy wens dat Renette weg sal wees wanneer hy sy oë oopmaak. Indien nie, sal hy haar vervloek sodat sy verewig vasgevang sal wees in die siklus van lewe en hergeboorte, die laer vlak van bewussyn waar sy honger sal ronddwaal vir die res van haar bestaan. Maar dit sal hy tog nie doen nie, dit sal verkeerd wees. So is hy geleer. Slegte karma. Buitendien, miskien is sy alreeds daar  ...

Toe hy heelwat later sy oë oopmaak, staan sy nog steeds op dieselfde plek, sy sigaret wat uitgebrand en kromrug oor sy vingers leun.

“Hardus, is jy okay?” braak sy haar bekommernis uit. Hy laat val die sigaret en begin weer loop, met Renette wat nog vir ’n tyd lank in sy skadu volg. Haar oë kyk hom van bo tot onder deur, sonder dat enige detail haar ontgaan. Sy kyk hoe sy sagte bruin hare in sy nek na die een kant toe krul, sy krom skouers wat moeg vooroor val en die broek wat los hang aan die belt wat om sy middel vasgetrek is. Sy kyk hoe die stikwerk en blink klinknaels oor sy boude kronkel. Dit lyk of daar nog iemand net so groot soos Hardus in die broek kan inpas.

Hardus het nie regtig veel aandag gegee aan hoe hy lyk nie. “Jy moet kom vir ’n haircut. Dis verniet. En jy kry dalk ’n bier ook!” nooi sy hom uit, maar hy hoor haar nie, sy gedagtes is elders.

“Ek gaan nou maar eers. Sien jou môre in Anatomie,” sê sy en dwaal eensaam langs die smal paadjie, wat tussen die gras deur kronkel, tot by die voordeur van die huisie bo-op die heuwel. Die mure van die huisie lyk asof dit van nougat gemaak is; die gate in die mure wat soos neute tussen die wit soetigheid uitsteek. Die swart dak blink soos liquorice in die laatmiddagson. Sy maak die deur oop, skop haar puntstewels uit en loop na die kombuis toe.

Onbeskofte doos, dink sy en haal ’n koue bier uit die yskas. Sy poep hard as sy buk om die Huisgenoot op te tel. Sy haal die Cuba-sigaarboksie met die rum and maple-tabak en die rizlas onder die bed uit en rol vir haar ’n sigaret. Sy het die boksie gekry by die restaurant waar sy as kroegmeisie gewerk het, voordat hulle haar ge-fire het, al vertel sy vir almal dat sy eintlik bedank het.

Dan gaan sit sy met die Huisgenoot by haar lessenaar en kyk na die prentjies. Sy begin agter by die sterre en dan blaai sy deur tot voor. Op skool het sy altyd artikels uit die Huisgenoot gehaal en vir haar opstelle ingedien. Sy het nie gehou van skryf nie, haar verwysingsraamwerk was benede die onderwysers en ander kinders en die beelde en metafore wat haar wêreld gevul het, was nie goed genoeg vir hulle nie. Sy trek die rook diep in terwyl sy die bottel styf in haar hand vasdruk. Tom Cruise lê oopgevou oor haar breë skoot.

“Baai,” antwoord Hardus byna ongehoord en sy bruin oë agtervolg haar terwyl Renette onwillig teen die kronkelpaadjie uit drentel. Hy draai om en begin verder stap tot in Dorpstraat by die eerste kafee waar daar ’n paar tafels en stoele op die sypaadjie uitgestal staan. Hy gaan sit onder die sambreel. “Koffie, asseblief, swart,” sê hy vir die kelnerin en steek nog ’n sigaret aan. Dié keer gebruik hy albei sy hande om die laaste vuurhoutjie uit die boksie te haal. Hy is ’n verhoogman en perform nie sonder ’n audience nie. Nooit nie.

Die koffie is koud en bitter en hy voel teleurgesteld. Daar is niks so sleg soos koue koffie nie.

Dit is reeds laat en die koue trek vinnig deur die Simonsberge en die ou, historiese geboue tot om die tafel by die kafee waar Hardus oomblikke gelede gesit en rook het. Nou sit daar niemand nie; net ’n leë tafel met ’n halfleë koppie koue koffie en ’n Peter Stuyvesant-asbakkie waarin ’n halfgerookte sigaret lê en veg om oorlewing.

Die kelnerin sit ingedagte binne die kafee en kyk by die venster uit na die verkeer. ’n Student met ’n kortbroek en rugbystewels ry met ’n fiets voor die venster verby. Sy knieë en gesig is met modder besmeer, maar sy herken hom steeds. Dit is nie baie nagte gelede dat sy die sterk, aanvallige donkerkopman ontmoet het nie.

Sy was alleen en het een aand, sommer op die ingewing van die oomblik, ná werk by Die Akker ingeloop vir ’n sigaret en ’n bier. Vinnig het een bier verveelvoudig tot drie, vier. Wie tel nou eintlik; wiskunde was nooit goed vir haar nie, veral nie dié aand nie. Een was sover as wat sy wou tel. Hy en sy pelle het ingestap en gevra of hulle die tafel met haar kan deel en, aangesien sy net vir een bier daar was, het sy ingestem. Maar een bier is nooit een bier nie en leë beloftes het geen inhoud nie  ...

Sy staan op en stap na die deur toe om te kyk of sy nog iets van die rugbyspeler te siene kan kry, maar toe sy by die deur kom, sien sy dat hy reeds oor die bruggie tot naby die verkeerslig geblits het. Dieselfde fiets waarmee hy haar, skuins oor sy rooi metaalrug, na haar woonstel gery het.

Eers toe sy afkyk en die halfleë koppie sien, onthou sy die jong man met die mooi, vol lippe wat by die tafel gesit en rook het. Sy tel die koppie op om te sien of daar dalk iets in die koffie was dat hy dit nie gedrink het nie. Hy het nie eens betaal nie. “Thanks vir die tip,” sug sy as sy die koppie en asbak optel.

Sy het reeds vergeet van die jong man op die fiets toe die geskree van ’n motor se wiele die agtermiddag se doodse stilte verbreek. Wanneer sy omdraai sien sy hoe die fiets onder die motor vastrek en die jong rugbyspeler skuins van die windskerm af vlieg. Dit voel vir haar asof dit alles in stadige aksie voor haar afspeel, soos die res van haar lewe  ...

Klaarblyklik het die fietsryer die rooi lig verontagsaam. Sy wonder of hy dood is. Oomblikke later flits rooi ligte teen die agterkant van haar oë en sirenes loei soos hoëveldse donderweer tussen die smal straatjies en die afgewitte mure deur. Die kelnerin trek die kafee se deure agter haar toe en stap na die kombuis waar sy die koppie in die wasbak neersit. Dit is tyd om huis toe te gaan.

As dit so aangaan, kan sy maar netsowel by die huis sit en tanne tel; die plek is gevrek. Geld maak sy nie. Sy eet nou reeds dae aaneen net rys; een aand met tamatiesous en die volgende aand met soya. Ten minste verloor sy gewig, dink sy en druk die koffiekoekie met haar benerige hand in haar mond.

Dié aand kan Hardus nie slaap nie. Hy luister na die reën wat dans op die sinkplaatdak van die motorafdak. Nie sy motor nie, sy ouers het nie geld gehad om vir hom ’n ryding aan te skaf, soos vir van die ander studente nie. Ook nie om sy studie te betaal nie, daarvoor het hy ’n lening gehad by ’n private leningsinstansie wat met die kerk geaffilieer is.

Hy lê en kyk na die patroontjies op die hout van die staankas as die kers op die wastafeltjie moedig teen die donker nag baklei. Hy sien eenoogmonsters en spoke wat dans en in die donkerte rondgryp na die flikkerende kerslig. Wanneer hy uiteindelik verval in ’n onrustige halfslaap, flits die gebeure van ’n paar maande tevore vir die soveelste maal deur sy onderbewussyn.

Wanneer hy wakker skrik, voel hy hoe die sweet koud op sy voorkop uitpêrel. Vir ’n lang oomblik staar hy net voor hom in die donkerte uit.

Die kers is uit en hy voel bang in die donkerte. Dan druk hy sy hand onder sy kopkussing om te voel of die Bybel nog daar lê, daar waar hy dit elke aand sit voor hy gaan slaap. Hy val verlig terug op sy kopkussing. Op die kussingsloop, wat sy suster vir hom gegee het, is ’n prentjie van ’n engel wat op ’n halfmaan lê en rus. Onder die prentjie staan geskryf Sweat Dreams. Die duvet druk swaar teen sy lyf as die rustigheid stadig beheer neem. “Die Here is my herder. Die bloed van Christus beskerm my.” Die woorde verdwyn soos spookasem in die donkerte van die vertrek waar die gebeure ’n paar maande tevore afgespeel het. Of het dit? Hy het gewonder of hy ná ’n tyd in homself sal begin twyfel.

Hy knyp sy oë bang toe en sy vol, rooi lippe omhels die woorde teer en dienend: “Die Heer is my herder  ...”

Die gebeure van daardie aand het nog nie heeltemal vervaag nie. Hy het niemand vertel nie; niemand sal hom tog glo nie, veral omdat hy daardie aand te veel gedrink het. Miskien juis omdat hy daardie aand te veel gedrink het. Of nee, te veel is al op daardie ekstra drankie geblameer! Daardie aand was sy siel weerbaar en die wêreld het nie veel sin gemaak nie en, as hy sy oë sluit, kan hy nog die gebeure onthou asof dit gister gebeur het.

Hy kan onthou hoe sy kamerdeur oopgegaan het, die deur wat hy elke aand motories gesluit het. Hy kan sy magteloosheid onthou, onthou dat hy geskree het, maar dat daar geen klank by sy lippe uitgekom het nie. Hy kan onthou dat hy nie kon beweeg nie, en hoe hy die volgende oggend wakker geword het waar hy op sy bed gelê het met sy jeans oopgeknoop en sy hemp netjies opgevou onder sy kopkussing. Die ding met die twee arms en twee bene, sonder gesig en oortrek met lang hare. Hy kan nog onthou  ...

“Die Heer is my herder. Sy bloed bedek my siel.”

Dit is halfdrie in die oggend as die foon lui. Hardus skrik wakker en spring orent, maar voel lam in sy onderlyf van die skrik en val dan terug op sy kussing. Sy hele lyf voel koud soos die sweetdruppeltjies teen sy vel uitslaan. Die foon lui lank, maar die vrees vir die donkerte druk vir Hardus lam teen sy bed vas met sy hand vasgeklem om die koue Bybel.

Miskien was dit Nel, miskien moes hy geantwoord het. Net miskien wou hy dalk weer kom oorslaap. Hy voel moeg en begin saggies huil. Hy draai om met sy rug na die muur en val dan weer terug in die wêreld van drome en twyfelagtige wesens.

Dit is reeds ná sewe en die oggendson blink deur die dou om die vensterrame wanneer die wekker die stilte verbreek. Hardus is reeds wakker. Hy voel moeg en is nie lus om klas toe te gaan nie. Hy voel lus om die duvet oor sy kop te trek en in te haal op die slaap waarvan die donkerte hom ontneem het. Hy wonder hoe lank dit nog sal aanhou, hoe lank hy nog in vrees sal lewe.

Elke aand, voor hy in die bed klim, moet hy eers onder die bed en in die kas kyk soos toe hy klein was, al weet hy dis puur verniet, die ding het van buite deur die deur binnegekom, en die deur was gesluit. En Hardus weet dat die ding nie weer sal kom nie.

Renette het die aand sommer met haar klere en al in die bed geklim, sonder om tande te borsel of haar gesig te was. Dit was koud en dit neem hopeloos te lank vir die water om warm te raak. Ook sy het die aand nie behoorlik aan die slaap kon raak nie. Nel het nie huis toe gekom nie, nie dat dit ongewoon was nie. Hy was ’n aantreklike ou en die meisies het sommer maklik vir hom geval. Hy het ook geweet watter tipe meisie om te benader; seker sy pa se gene geërf. Maar gewoonlik bel hy darem sy suster om te laat weet dat hy by “een van sy pelle” gaan oorslaap.

Dit is in die middel van die nag as sy regop in haar bed gaan sit en vir haar nog ’n sigaret rol uit die boksie wat sy die aand op die Huisgenoot voor die bed gelos het. Sy steek die sigaret aan met haar bic en voel hoe die rum and maple die angs om haar longe verslap.

Dit is laat, maar sy besluit tog om vir Hardus te bel; as daar iemand was wat sou weet waar Nel was, dan sou dit sekerlik Hardus wees. Hy hang altyd soos ’n skoothondjie in Nel se skaduwee rond. Sy het al begin dink dit is al hoekom hy nog met haar vriende is; sodat hy meer van Nel te siene kan kry.

Sy druk die knoppies op die foon se skakelbord: vier twee sewe twee vier. Die foon lui en lui en lui, totdat die geoutomatiseerde vroulike stem aankondig: “Vier twee sewe twee vier is nie beskikbaar nie. Probeer  ...” Sy sit die foon hard op die mik terug. “Shit,” sê sy hard en klein traantjies vorm in haar rosyntjieogies as sy senuagtig ’n laaste trek uit die handgerolde sigaret forseer. Sy druk dit in die leë bierbottel en trek die duvet en kombers tot teen haar eerste ken op. “Shit,” sê sy weer saggies as die traantjies silwer spoorjies teen die groewe van haar gesig trek.

Buite weerkaats die volmaan soos geel kaas teen die swart liquorice-dak van die huisie op die heuwel. Nel het nie huis toe gekom nie. En hy het nie gebel nie  ...

Teen dagbreek staan die polisieman en sy adjudant aan die onderkant van die paadjie wat opkronkel tot teenaan die huisie op die heuwel met die swart dak. Die dou blink soos sirkonium in die oggendsond op die swart dak. Hy trek ’n laaste trek van sy sigaret, gooi dit in die paadjie neer en trap dit dood met sy swart skoen.

Hy het nie lus hiervoor nie. Hy druk sy hemp netjies by sy broek in en vee met sy skurwe hand oor sy mond. “Nou ja  ...” sê hy asof hy ’n bevel aan homself uitreik. Hy stap doelgerig teen die paadjie uit en as hy by die voordeur kom, klop hy motories voordat hy nog kon dink wat om te doen.

Renette is met moeite besig om haar skoene aan te trek — sy kan skaars haar voete raaksien — as sy die geklop aan die deur hoor. Eers dink sy dat dit Nel moet wees, maar Nel sal nie klop nie. Haar kop woel deur ’n aantal onoorspronklike gedagtes, maar nie een van hulle maak sin nie. Sy druk haar vet voetjies by die skoene in en loop voordeur toe. Iets is nie lekker nie, dit wis sy.

Die polisieman rol die puntjie van sy snor sodat dit regop teen sy regterwangbeen opstaan.

Renette steek haar hand na die deur uit, maar dan aarsel sy vir ’n oomblik.

Die polisieman vee weer met sy hand oor sy mond, kyk vir ’n oomblik na niks en maak sy hand in ’n vuis om weer te klop, maar dan maak iemand uiteindelik die deur oop.

Renette kyk versigtig om die deur. Haar gesig verstar as sy die polisieman en sy adjudant voor haar sien staan.

Na ’n kort stilte breek die polisieman se stem deur die koue oggendlug. ’n Bol rook kom saam met sy woorde by sy mond uit, maar die woorde maak vir Renette geen sin nie. Dan herhaal hy homself: “Err, juffrou, is u familie van mnr. Nel Fourie?” Renette knik haar kop; haar mond halfoop en haar oë verstar op die polisieman. “Daar was ’n ongeluk, err, kan ons dalk binnekom, asseblief?”

Sy wil huil, maar dit is eers later dat die trane soos ’n damwal sou breek. Nel is dood. Nel is dood.

Sy moet klas toe, dink sy verward, Hardus sal enige oomblik daar wees. Die polisieman sê iets van die lyk identifiseer. Oor ’n week is dit eksamen. Shit! Wat nou?

Hardus voel moeg en geïrriteerd. Hy wonder wie dit was wat in die middel van die nag gebel het. Hy kon verder nie ’n oog toemaak nie. En hy het vergeet om sy tande te borsel toe hy by die flat weg is, ook sy Anatomieboek by die huis vergeet. Hy sal maar by Renette moet kyk, dink hy, en hy wonder of sy nog by die huis sal wees. Van ’n afstand kan hy die polisiemotor voor die huisie op die heuwel sien staan. Hy gaan staan vir ’n oomblik stil en dan loop hy vinnig nader. Hy wonder of Renette iets stupids aangevang het. Miskien moet hy mooier met haar gewees het. En waar is Nel? Hy stap by die oop voordeur in en sien vir Renette wat op die punt van die gevlekte bankie sit. Sy kyk op, haar gesig is bleek.

“Nel is dood,” kom die woorde byna sonder klank by haar mond uit.

Nel is dood. Hardus se lyf word lam en sy sak val geluidloos op die vloer langs sy voete neer. Hy hou sy hande voor sy mond, maar hy kan nie ’n woord uitkry nie. Hy wil iets sê, maar daar is niks nie. Niks, want Nel was alles.

’n Groot swart brommer verbreek die stilte waar dit in ’n groot sirkel om die gloeilamp vlieg wat van ’n draad hang, reg in die middel van die vertrek. Dan gaan sit hy op die rand van die leë bierbottel op die koffietafeltjie en vroetel onbewus van alles met sy voelers. Die polisieman hou die brommer dop, want hy wil nie oogkontak met enigiemand maak nie. Die punt van sy snor staan nog steeds teen sy wang op. Die adjudant gaap verveeld. Die brommer weet van niks.

Hardus draai om en stap by die paadjie af, maar hy weet nie waarheen om te loop nie, sy hande nog steeds voor sy mond. Dan begin hy hardloop, sommer in die straat af, verby die meisieskoshuise, verby die studentekerk en verby die kafee waar die kelnerin met een van die gaste oor alledaagshede staan en klets. Vir ’n oomblik snik hy, maar hy wil nie huil nie. Huil sal nou niks help nie. Net so min as wat dit help om met jou Bybel onder jou kopkussing te slaap of om onder jou bed te kyk om geeste uit te ja.

’n Uur of wat later, by die hospitaal, gee die suster vir Renette kalmeerpille wat sy gulsig met ’n glas water wegslaan. Een van die groen, fluweelagtige pilletjies val op die vloer en rol in ’n halfmaan tot by die polisieman se skoen. Dan vroetel sy in haar sak en haal ’n Forum uit en steek dit met haar bewende hand aan. Die suster wil nog sê dat rook verbode is, maar dan bars Renette in trane uit. Sy wil hom nie sien nie, nie so nie. Sy wil hê hy moet huis toe kom saam met haar  ...

Hardus druk die sleutel in sy voordeur, maar die deur is nie gesluit nie. Hy was seker dat hy dit gesluit het, maar dit maak nie nou saak nie, hy het seker maar die oggend vergeet. Emosies maal deur sy kop. Dit kan nie waar wees nie. Nel is dood. Op sy lessenaar, voor die venster, skyn die son ironies op Nel se boeke waar hy dit die vorige middag vergeet het. Nel het ná sy rugbyoefening by Hardus omgegaan om nota’s op te tel. Hy het ’n daggasigaret by hom gehad en dit gesit en rook terwyl hulle oor ditjies en datjies gesit en gesels het. Hardus wou nie saam rook nie, maar toe Nel hom vererg, het hy tog ’n paar trekke van die sigaret geneem. Hy het gehoes en begin naar word. Sy kop het om-en-om gedraai en dit het vir hom gevoel asof hy beheer verloor oor homself. Hulle het ’n argument gehad en Nel het hom uit sy pad gestamp en en op sy fiets gespring en dronk daar weggery.

Hardus se kop raas, hy weet nie wat om te dink nie. Hy haal die daggasigaret uit die asbak, steek dit aan en trek ’n paar maal diep daaraan. Hy probeer om nie te hoes nie, om die rook vir so lank moontlik in sy longe te hou. Dan onthou hy van die ring wat Nel die vorige aand van sy vinger gehaal en op die vloer neergegooi het. Hy kyk op die lessenaar en onder die bed, agter die kas, agter die deur, maar die ring is nêrens nie. Sy kop draai en hy voel duiselig.

Buite is die skadu’s besig om lang vingers om die silhoeët van die woonstelgebou te vou.

Skielik onthou hy van die Bybel onder sy kussing. Hy gaan sit op sy bed en lig die kussing op, maar waar die Bybel gelê het, lê nou net ’n plas bloed.

Hardus val op die vloer teen die kas neer en sy lyf begin ruk soos hy huil. Hy wens hy het nie die dagga gerook nie. Hy wens hy het nie met Nel baklei nie. Hy wens dit word nooit weer donker nie.

Bo-op die kas sukkel die klein draadloos om homself te balanseer. Dan val dit met ’n sagte plofgeluid langs Hardus op die mat neer. Binne enkele oomblikke oorval die donkerte hom waar hy alleen en pateties voor die kasdeur opgekrul lê  ...

Dit is Renette wat eerste op Hardus afgekom het waar hy in die hoekie van sy kamer op die kas in die hoek gesit het. Sy het gekom om hom te vertel van die begrafnis. Die voordeur was toe, maar vir ’n slag was dit nie gesluit nie en Renette het binnegestap soos wat sy maar doen. Die draadloos het op die vloer gelê en nou en dan sou dit regkry om ’n deeltjie van ’n deuntjie tussen die gekrap deur te druk.

Hardus het ’n sagte bromgeluid gemaak van waar hy gehurkend op die kas gesit het. Hy het net voor hom uitgestaar. Hy het nie klere aangehad nie en het die kas om hom bevuil. Die plek het sleg geruik. In sy hande het hy iets vasgehou wat soos vleis gelyk het. Toe Renette nader kom, sien sy dat daar ’n paar bleekwit vingers tussen Hardus se eie vingers deursteek. Daar was droë bloed op sy lippe.

Hardus se lyf het geblink van die nagsweet en by tye het hy senuagtig gegrinnik. Dit was asof hy haar nie kon sien nie.

Later, toe die polisie reeds vir Hardus aangetrek en afgeneem het na die polisiestasie, sien Renette van Nel se boeke en ander goeters op Hardus se lessenaar lê. Sy druk dit in haar sak. Op ’n stukkie waspapier, op die lessenaar, sien sy ’n gediggie geskryf.

ek kyk na die kanniedood-vetplant op die vensterbank die musiek van Moby
saggies op dieselfde ou draadloos in die hoek
(onthou jy nog?)
oranje lemoene op die yskas
ek wonder of jy al vergeet het
dat ons vriende was  ...
ek sien jou deur die venster
op die wit muurtjie sit
die son bewustelik oor jou goue hare spoel
(jy moes dit nooit peroxide het nie!)
en ek in my verligte kamerjie sit
— en werk —
aan my toekoms wat my volg
soos ’n trein op sy vasgestelde spoor
en agterlaat
die drome van ’n ewige vriendskap
in ons wêreldjie
van wit mure
en oranje lemoene

Sy druk dit ook in haar sak. Die polisieman met die snor en die swart skoene vra haar om nie aan enigiets te raak nie. Sy sê okay en loop dan by die woonstel uit en verby die parkeerarea, verby die roosboom met die geel rose al in die pad af. Sy voel nie lus om alleen huis toe te gaan nie. Eintlik kan sy hoegenaamd niks voel nie.

Op die yskas staan ’n klein, gevlegte bakkie met oranje lemoene. Daar is muf op die lemoene en ’n paar vlieë sit planneloos daarop.

Ek draai om en skakel die ligte af voor ek die deur agter my toetrek om die woonstel te seël. Die polisie het die toneel deursoek en die oorblyfsels van die hand met die ring aan, in ’n plastieksak toegedraai en saam met Hardus na die polisiestasie geneem.

Renette het probeer om nog te huil, omdat dit maar is wat ’n mens doen, maar die pille het haar emosies verdoof. Sy kan nie veel sin maak van die gebeure nie, nie dat enigiemand sou kon nie.

Die begrafnis was stil en sonder enige voorval. Hardus was nie daar nie; hy was in die hospitaal waar hy deur ’n paneel psigoterapeute ondersoek is. Hy het hulle vertel van die skadu’s en die Bybel onder sy kussing wat weg was. En van die hand onder sy kussing in die plek van die Bybel. Hy weet nie hoe dit daar gekom het nie. Hy het die ring probeer afhaal, maar kon dit nie afkry nie, toe wou hy dit probeer afbyt. Dit was sy ring. Verder kon hy nie veel onthou nie, behalwe dat daar skadu’s was. Die deur was gesluit, het hy die witjaste verseker.

Die hand, of wat daarvan oor was, is saam met Nel begrawe.

Die kelnerin het gelees van die hand in die koerant by die koffiewinkel. Sy het nog nie geweet dat sy verwagtend was nie. Sy het nie beplan om meer lank by die koffiewinkel te werk nie.

Renette het gewig verloor en mooier geword, maar het nooit getrou nie.


LitNet: 12 Maart 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.