NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Jan Durand
is ’n brandbestryder van die Kaap en is in Johannesburg gebore en getoë. Hy skryf gediggies, stories en songs oor die vyftigs en sestigs in die suburbs. Sy temas sentreer rondom ’n chronologiese en ekonomiese era in ons land en stede wat soms nader as fiksie aan die been sny, wat hy graag met ander sal wil deel.
  Jan Durand

Die session

Jan Durand

Presies wanneer dit was dat ek die eerste keer van die session gehoor het, weet ek nie. Maar alles het begin op die Saterdagmiddag toe die Blackboard Jungle by die Plaza gewys het. Dit was mos in dié prent dat musiek van “rock around the clock” deur Bill Haley and the Comets gespeel het. Toe die musiek die eerste keer uit die luidsprekers onder die skerm deur die bioscope weergalm, het ’n paar ouens en meisies op die oop stuk voor die skerm uitgehardloop en begin dans. Die gesig sal ek nooit vergeet nie. Die ouens het sulke lang olierige hare met kuiwe wat vooroor hul voorkoppe gehang het, gehad. Lang sideburns en die hare agteroor die kop gekam om soos ’n eend se vlerke weerskante van die kop te lê en so ’n puntjie nes ’n stertjie bo die hempkraag.

“Duckies,” het Boeta gefluister. “Met hulle soek jy nie kak nie.” Maar ek wou ook nie. Ek het net daar besluit ek wou self een wees. Met die hare en die stywe jeans wat so ’n klein bietjie aan die kort kant was en pienk kouse. ’n Wit langmouhemp met ’n opgeslaande kraag en ’n lumber jacket met ’n klomp zips en swart leerskoene met die blommetjiepatrone bo en die ystertjies onder. Boeta het so fluister-fluister verduidelik dat duckies eintlik vir ducktail gestaan het en dat die naam van hulle hairstyles afgekom het.

En hulle meisies. Boeta het my vertel hulle word sheilas genoem. Hulle het sulke stywe swart reklangbroeke of wye helderkleurige rompe met kort bloesies en ligte seilskoene gedra. Helderkleurige nekdoekies en ’n lintjie in die hare. Ook kougom gekou met sulke oop bekke en harde klapgeluide. Almal met bloedrooi wangetjies en lippe en sommiges met sulke swart kolletjies by hulle bolippe, wat Boeta beauty spots genoem het, maar ek dwaal af.

Dit was die musiek en die dans wat my oorrompel het. My pa het later gesê hulle noem dit jungle music, maar Boeta het gesê dit is rock and roll. Die meisies word geswaai en laat los en gedraai en onder deur die bene getrek en bo-op die skouers gelig dat jy tot kousbande en panties kon sien. Die manne beweeg so trap-trap met sulke opgetrekte skouers terwyl die vingers so klap-klap op die beat. Dit het net ’n rukkie geduur. Toe die manager halfpad in die gangetjie afgestorm het, was die musiek en die dans oor. Die opwinding het egter by my voortgeduur.

Ná die insident by die Plaza was ek versot op Ruk en Rol. Ek het dag ná dag elke radiostasie wat die musiek speel, naarstiglik uitgesoek en ure lank voor die ou draadloos gelê en luister. Na Chuck Berry, Buddy Holly, Elvis, Fats Domino, Eddie Cochran, die Platters, die Ink Spots en soveel ander. Ek kon egter maar net droom om by ’n plek te kom waar ek kon kyk na, of leer, om te jive of te rock and roll, want ek was nog te jonk.

Eendag toe ek weer oor die dansery by die Plaza praat, vertel Boeta my as jy wil rock and roll en jive sien, is die Jan Bom-session net die plek. Volgens Boeta was ’n session maar net ’n soort danspaartie wat gehou is in die Jan Hofmeyer-saal, wat bekend was as die Jan Bom-saal. Ek dink die saal het aan die munisipaliteit behoort en was maar daar sodat die armes ook plek gehad het om sportsoorte soos pluimbal of tafeltennis te speel. Of miskien om flieks te wys en vergaderings te hou en sulke goed.

In elk geval. Boeta het gesê dat dit die plek is waar die duckies uithang en hulle bedrewenheid op die dansvloer en sommer met die vuiste op die sokkerveld daarnaas blootgestel het. Ouens het ook gepraat van gang fights met motorbike-kettings en gebreekte bottelnekke, maar dit was net ’n storie, sê Boeta. Daar was nooit eintlik regtig marakkas nie, behalwe as die ouens van die Southern suburbs en Mayfair hulle luck kom try het.

Boeta het my ook vertel van die breker van Jan Bom, Georgie Swart. Hy was die nek van die plek en alhoewel daar nie sprake was van ’n gang nie, het al die ouens hom eintlik aanvaar as die leier. Hy het ’n swart BSA motorbike (Boeta het dit as “Besa” uitgespreek) gehad met so ’n goue meermin wat op die tenk geverf is en ’n saal van luiperdvel. Altyd skitterblink skoon. Snaaks genoeg kon hy ook die beste van almal jive en pepsi, maar net so kon hy ook homself uit die moeilikheid help. Blykbaar het hy een aand ’n klomp ouens van Mayfair manalleen, rug teen die muur van die Jan Hofmeyer-sokkerklub se kleedkamers, net buite die saal, aangevat en pakgegee. Die ander manne by die session het eers geweet van die fight toe hy bebloed by die saal se dubbeldeur instrompel. Toe hulle uitstorm na buite was daar nie ’n teken van die Mayfair-manne nie.

Toe ek hom vra waar hy aan al die dinge kom sê hy, “Hannetjie.” Hannetjie was Boeta se ouer sussie. Sy was maar altyd daar as ek vroeër jare by hom gaan speel het. Nogal gaaf en mooierig. Sy het baie bekers op skool gewen vir hardloop en korfbal. Sy het haar eie paal en ring in die yard gehad en alles. Van sy begin werk het, het ek haar egter maar min gesien. “Hannetjie gaan gereeld uit met Georgie. Sy sê hy is miskien ’n breker, maar hy is ’n ‘gentleman’ as dit kom by die meisies,” het Boeta verder so half trots vertel.

Boeta het ook self al ’n slag of wat op ’n Vrydagaand op ’n drom gestaan en deur die agtervensters van die saal gekyk hoe die ouens session hou. Die volgende Vrydag moes ek hom kon join, het hy gesê.

“Is jy mal?” antwoord hy toe ek vra of ons nie net sommer kan betaal en binne die saal kan gaan om te kyk nie. “Die duckies soek nie snotneuse by die session nie. Hulle sal ons warm klap en huis toe jaag. Nee, ons kyk sommer deur die venster.”

Ek kan nie onthou dat ek ooit in my lewe so opgewonde was nie. Daardie aand toe ek by die huis kom, het ek probeer jive. Die draadloos aangesit, ’n deurhandvatsel gegryp vir ’n partner en begin jive. So skop-skop aan weerskante van die oop deur. Uit die hoek van my oog het ek in die hangkasdeur se spieël probeer loer of ek darem so ’n bietjie na die duckies lyk. In my verbeelding het die kortbroek verander in ’n stovepipe en die skoolskoene in Jarmans. Later het ek, met ’n stewige dosis Vaseline hair tonic, my hare agteroor getoor en vir die laaste stappie die kuif met ’n stewige plukkie van die kam oor die voorkop afgepluk. Ek kon nie wag tot die Vrydagaand nie.

Toe Boeta my Vrydagaand kom roep was ek lankal reeds gereed. Vir Ma het ek gesê ek en Boeta gaan bioskoop toe. Ek het my eie sakgeld verdien deur hare op te vee by oom Gerrie se Haarkapper, so Ma het nie probleme gehad nie. Eers kafee toe, waar ons die tyd uitgehang tot so halfnege, toe oor die sokkerveld en stil-stil na die agterkant van die saal. Die musiek was reeds hoorbaar deur die vensters en hier en daar het ons paartjies hoor gesels of giggel of ’n paar ouens sien staan en ’n dampie maak. “Dit is nie skywe daai wat jy by die kafee kan koop nie,” het Boeta met ’n grinnik gesê. Ek het nie lekker geweet waarvan hy praat nie, maar saam gegrinnik.

Boeta het presies geweet waar daar ’n leë drom gestaan het. Langs ’n gruishoop en ’n stapel bakstene waar hulle besig was om nuwe buitegeboue te bou. Ons het suutjies die drom nader gerol en teen die muur maak staan. En bo-op gespring. Waar ons gestaan het, kon ons net ’n stuk van die verhoog sien, maar tog die hele saal.

Stoele was teen die mure van die saal uitgepak, met hier en daar ’n klein tafeltjie, waarop klompies glase en asbakkies gestaan het. Net die kantligte van die saal het gebrand en die musiek het gedreun uit amplifiers wat op die verhoog gestaan het. Ek kon net twee van die ouens van die orkes sien en sou wat wou geen om van voor af te kyk. Boeta het gesê: “Dit is Marius-hulle se band, hulle is nogal goed, nè.” Ek kon net instemmend knik.

Die dans waarvoor ek gekom het was daar genoeg van. Asemrowend. Die steps! En die partners bo-oor en onderdeur en agter-die-rug-draaie en loose turns en twirls. Ek kon nie oral gelyk kyk nie. Almal was vir my ewe goed.

Ek het egter gesoek totdat ek vir Hannetjie gesien het. Sy en Georgie. Sy’t net nou anders, groot, gelyk. Groot soos in grootmens-groot. En sy kón dans. Alles. Rock en jive en pepsi. Alhoewel baie van die steps maar vir my dieselfde gelyk het. Georgie het gelyk soos ek hom in my verbeelding voorgestel het. Hare, kuif, swart lumber jacket vol studs en zips. Die selfvertroue vanself. Met so ’n halfglimlag met ’n skewe mond en een mondhoek wat smalend opkrul. Swart hare met die kuif wat altyd so ’n klein bietjie slordig sou lyk. Die dansbewegings wat lyk asof die plaat gemaak is om presies net so te dans.

’n Ruk later het Marius vanaf die verhoog af gespring en terwyl die band speel het hy eers die een en dan die ander paartjie geraak wat dan aan die buitekant van die dansvloer begin het om ’n sirkel om die ander dansers te vorm en ritmies te klap op die maat van die musiek.

“King of the rock and roll,” sê Boeta.

“Wat?” vra ek, terwyl ek verskuif het om beter in te pas langs Boeta op die drom.

Boeta het verduidelik dat hulle elke Vrydagaand ’n “king of the rock and roll” kies. Marius was die beoordeelaar omdat hy orkesleier was en in ’n stadium by ’n dansskool was. In elk geval was hy bang vir niemand nie en baie fair. Maar kyk, toe haal daardie ouens en meisies passies uit wat ek nie eens geweet het ’n mens se liggaam is in staat om te doen nie. Marius dun die paartjies die een na die ander uit totdat net Hannetjie en Georgie oorbly. Almal cheer en klap hande. Dan is hulle weer terug op die vloer. “Wat het ek jou gesê,” sê Boeta. “Die breker, die nek van die plek en vir die laaste ses maande al ‘king of the rock and roll’ ook.”

“En Hannetjie, die queen. Jy het my nooit vertel sy kan so lekker dans nie.” Boeta het net stil gebly.

’n Ruk later is die kantligte in die saal ook afgeskakel. Die enigste ligte wat aan was, was die gangligte wat na die kleedkamers gelei het. Dit was sommer lekker donker in die saal. Marius-hulle het skielik oorgeslaan na baie stadiger musiek. Nou het die paartjies ook nie meer ge-jive nie. Nee, hulle het stadig, styf teen mekaar, sommer baie styf teen mekaar, gedans.

“Ja-nee, cheek to cheek from head to toes,” sê Boeta. Ná ons ’n rukkie probeer kyk het wat op die dansvloer aangaan, sê Boeta ons moet seker maar stadig begin aanstaltes maak huis toe.

Dit is toe ons die drom terugrol tot by die gruishoop dat ons dit hoor. ’n Gedempte uitroep. Ons het albei versteen. “Het jy dit gehoor?” vra Boeta. Ek het instemmend geknik. “Daar is dit weer!” Boeta het gebuk en ’n baksteen opgetel. Kom ons gaan kyk.” Ons draf toe saggies oor die sokkerveld in die rigting van waar die geluid gekom het. “Stadig nou,” van Boeta. Ons het nader getrippel. Uit die donker voor ons op die sokkerveld was daar ’n gehyg en gesnik, afgewissel met sagte kermgeluidjies, soos iemand wat baie hartseer is. Toe kon ons twee figure uitmaak. Ook dat die hyggeluide van twee persone, ’n man en ’n vrou, afkomstig was. Ons het dood in ons spore gestop. Ons kon nou ook die vorms uitmaak. Die liggaam van die man wat lig en val, lig en val. Die bene van die vrou om sy heupe geklem. “Kom ons waai,” het Boeta gesis.

“Nou, Georgie ... harder! Harder!” ’n Kreun vanaf die vrou, eers sag, dan harder, veel harder. Die stem van Hannetjie. Ek kon voel hoe Boeta versteen. “Bliksem,” het hy deur sy tande gekners. Ek kon voel hoe hy die baksteen lig. “Nee, Boeta. Los dit!” kon ek dit hortend uitkry. Ek het hom aan die arm geneem en saggies begin wegtrek. Alhoewel ietwat teësinnig, stremmend, het hy tog toegelaat dat ek hom weglei.

Voordat ons in die pad gekom het, het ek die snikke gehoor. “Die bliksem. Dit is my suster. My suster ... Ek haat hom.” Hy het met geweld die baksteen in die straat afgeslinger.

Toe ons eindelik onder die straatlig kom, het hy die trane met sy hempsmou afgevee. Hy was stil.

“Boeta,” het ek gepaai. “Moenie bekommerd wees nie, ek sal vir niemand vertel nie. Niemand nie. Kom ons gaan huis toe.”

“Nee. Gaan jy. Ek wil alleen wees. Dink.” Boeta het stil weggedraai.

Ek is huis toe. Die opwinding van die aand was groot en ek het tot die vroeë oggendure wakker gelê. Dit het gevoel of ek maar net pas my oë toegemaak het toe Ma my kom wakker maak. “Dit is vanoggend weer werk by oom Gerrie. Daar is hare wat wag op jou.”

Terwyl oom Gerrie later Neels se punte geskroei het, het dit uitgekom.

“Het jy gehoor van die drama gisteraand by die Jan Bom-saal? Iemand het mos mooitjies die petrolpyp van Georgie se motorbike afgeruk, ’n klomp petrol oor die teerblad laat uitloop en toe die bike, wat teen al die ander geparkeer gestaan het, aan die brand gesteek. Vier motorbikes uitgebrand en dit sou meer gewees het as ’n paar van die manne nie kans gesien het om van die bikes weg te stoot nie. Toe die brandweer daar kom, was die bikes so te sê heeltemaal uitgebrand. Hulle vermoed dit is weer ’n lot wat van Mayfair gekom het om moeilikheid te maak.”

Ek het die laken afgeskud en mooi opgevou, die hare netjies in die skopgraaf gevee en is by die agterdeur uit om dit in die asblik te gooi. Toe ek terug in die haarkapper kom, gryp ek die deurhandvatsel en maak ’n paar passies. “King of the rock and roll,” sê ek hardop. “King of the rock and roll.”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.