NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Jacobus D’Oliviera
Jacobus D’Oliviera is in Kaapstad gebore en is onder meer ’n joernalis en kunstenaar. Hoewel hy nie eintlik ’n kreatiewe skrywer is nie, voel hy sekere dinge oor die lewe moet gesê word.
  naam

Buttons

Jacobus D’Oliviera

“Ek sal dit hoog op prys stel,” sê Ou Boy toe ek die R25 by hom vat. Ek het mooi belowe om die geld binne ’n dag terug te bring. Dis vroegmiddag en ons kort ’n bottel White Horse. By die sjebeen, want dis Sondag. En die kitsbank is toe, destyds.

Toe ek wegtrek, sluip Ou Boy se krom draadliggaam oor die straat na sy warmgebakte councilhuis-stoep. Ek glimlag. Nie omdat ek niks respek vir hom het nie. ’n Small-time gangster soos hy kan jou seker net so maklik laat uitvat soos die grotes. Dis net snaaks om geld vir drank te leen by ’n daggasmokkelaar. En om boonop so ’n aanstellerige uitdrukking te hoor van iemand sonder geleerdheid en wat heeldag vrot van die buttons by die huis lê. “Ek sal dit hoog op prys stel.” Hy praat seker so met my omdat hy dink ek is die Stellenbosch-tipe. Hy is reg, ek het wel ’n paar jaar daar deurgebring. Net slegte gewoontes geleer, insluitende Standaardafrikaans, iets wat Ou Boy duidelik ook ken.

Maar moenie Ou Boy vir ’n pop vat nie. Hy is ’n ander voël se kuiken, kompleet met sy knopvingers, die punte swart gebrand van warm bottelnekke, sy gesig vol krapmerkies, sy olierige bossiehare en die fynhangende walm van ou sweet. Hy self staan al jare lank nie meer op die straathoeke nie. Sy manskappe doen dit nou. Ou Boy sit net by die huis en wag vir die geld om in te kom. Geld vir buttons. Toe hy minder gerook het, het dit goed gegaan. R11 000 vir ’n week se werk, en dit was in die eighties. Tax free. Maar nou rook Ou Boy buttons, en hy verkoop net genoeg stoppe dagga vir nog buttons. Hy kon nooit sy huur betaal nie, selfs toe dit nog R11 000 ’n week gegaan het. En hy het jare lank al nie meer krag nie. Daaroor sê hy net: “Die kerslig is sagter oppie oë.” Ou Boy het daarvan gehou om homself as ’n romantic te sien. Miskien was hy een.

Niemand kan vir Ou Boy vang nie. Die cops probeer al jare lank. Hulle kan net die dose kry wat met die dope wegry. Op Ou Boy se manskappe self sal jy nooit niks kry nie. Die dope lê altyd iewers in ’n steeg weggesteek, nooit in die huis nie, behalwe as dit heel veilig is. En hulle sal ook nooit vertel waar die dope is nie, al dreig en slaan die cops ook hoe. Want hulle weet die polisie moet hulle laat gaan as hulle niks evidence het nie.

Eendag gaan soek ons ’n paar stoppe by Ou Boy. Hy sê hy het net majat en kan dit nie aan goeie vriende soos ons verkoop nie. Nie teen ’n rand ’n stop nie. Maar as ons een van sy manne, Gafeldien, Observatory toe vat, sal dié vir ons beter dope kry. Ek het Gafeldien nogal gelike. So ’n smooth Muslim dude. Altyd vriendelik, en hy kan actually oor dinge gesels. Maar hy is net so ’n groot buttonkop soos Ou Boy. Dis hoekom hy heeltyd daar rondhang - hy het in elk geval ook nie meer ’n huis nie. Sy family praat lankal nie meer met hom nie.

Ons was net om die eerste hoek met Gafeldien in die kar toe die cops voor ons intrek.

“Sit net stil,” sê Gafeldien rustig toe die polisie naderstap. ‘‘Klim net uit as hulle vir jou sê jy moet uitklim.”

Die cops sê ons moet uitklim en ons hande op die kar se dak sit. ’n Paar soek die kar deur, en toe vir ons.

“Wat maak julle by dié smokkelaar?” vra die een. “Waar is die dagga?”

“Ons het niks dagga nie.”

“Moenie lieg nie. Wat het julle daar gesoek?”

“Dis vriende van ons. Ons het net daar gaan kuier.”

Die cops lag, en hou aan met soek. Hulle hoor al die boeie rinkel. En hulle is in hul element, want hulle is besig met die trotse uitvoering van hul edele taak. Ek probeer maar vriendelik bly. Ek ken die cops - baie ouens wat saam met my op skool was, is later polisie toe. Al die tawwe ouens en die kaksoekers. Dis nou buiten die ander tawwe ouens en kakmakers wat later criminals geword het. En jare later staan die cops en die criminals vir mekaar en kyk aan weerskante van die draad. Dis net dat die polisie so gou daardie draad oorklim - die gras is groener anderkant. Wie het al gehoor van ’n criminal wat ’n cop geword het?

’n Groepie mense het nou ook al om die scene begin saamdrom, en ek voel skaam - so asof alles ’n skande is. Maar ek herinner my waar ons is - ’n arm coloured buurt. Dinge soos dié gebeur elke dag hier. En after all, niemand hier is die cops se pelle nie. Ons is OK.

“Kyk hier,” sê een cop skielik triomfantelik. Hy het ’n bottelnek voor in Gafeldien se broek gekry.

“Gie terug, man,” kla Gafeldien. “Dis myne. Julle kan dit nie vattie. Ek het fokkol gedoen nie.”

Ek wens Gafeldien wil sy bek hou.

“Waar’s die goed wat hier in was?” vra die cop en hou die bottelnek op.

Maar Gafeldien is nou ten volle in beheer. Hy weet. “Julle is te laat,” lag hy, “ek het klaar alles uitgeroek. Julle is klaar te laat.” Gafeldien weet bieg is nie genoeg om jou in die selle te kry nie - die polisie moet die harde bewyse hê. En hy weet die cops gaan hom nie moer nie, want daar staan te veel mense en kyk. Boonop is ons by, en ons is wit.

Na ’n ruk begin die polisie belangstelling verloor. Hulle kry niks nie. Net voor hulle wegry, gooi die een Gafeldien se bottelnek op die sypaadjie stukkend.

“Hei, moetie my goed briekie, man,” skreeu Gafeldien agterna.

Vir die volgende kwartier praat ons opgewonde oor die bust. Ons sê vir mekaar om te onthou om Ou Boy te bedank as ons hom weer sien. Ons is nou seker hy het geweet die cops is in die rondte en het ons gatte gered. Natuurlik sy eie ook, want hy was beslis nie seker dat ons nie op hom sou split as ons met dope gevang word nie.

Nekkies ry kruis en dwars deur die buurt. Hy probeer die cops afskud indien hulle ons volg. In Observatory kry Gafeldien die dagga. Hy wil saamrook. Ons kan nie nee sê nie. Volgende keer wil Ou Boy ons dalk nie ken nie. En dis nie maklik om dope te score nie. Nie soos deesdae waar die hele Langstraat vol skollies staan en kastig Swazi Skunk aan jou probeer verkoop nie. En met jou geld weghardloop nie.

Ek stop voor die smokkelhuis om die White Horse met Ou Boy se geld te koop. Die plek is ’n council-semi. Ek wil nie ingaan nie - die coloureds daar trust nie whiteys nie. En ek trust nie die coloureds nie. Hulle kan jou maklik oorval en niemand sal ’n woord agterna hoor nie, sê hulle. Jou lyk sal net dae later uit die Liesbeek gevis word. Maar ek het al klaar uitgesort met Ou Boy se swaertjie, Boeta Tjops. Hy gaan haal die whiskey, vir ’n ekstra rand of twee. Ek en Boeta praat nooit veel nie. Boeta wil nie baie praat nie, veral nie as hy ’n paar rand in die sak het nie. Dan is hy haastig. Boeta is ’n wynkop, jy sien.

Die volgende aand stop ek en Nekkies weer by Ou Boy om sy geld terug te gee. Ou Boy antwoord nooit die deur nie. Jy kom nooit by die deur nie. Een van sy manskappe kom hoor altyd eers wat jy wil hê. Al ken hulle jou ook al hoe lank. Dan gaan hoor hulle kastig eers of Ou Boy daar is, al weet almal hy is altyd daar. En dan kan jy ingaan.

Ou Boy ontvang ons in sy slaapkamer. Daar sit hy op ’n wit Sterinappy-plastiekemmer, lustig besig met ’n nommer twee. Gafeldien is ook daar, en een of twee ander ouens. Ou Boy is gulhartig soos gewoonlik en vol kwinkslae, daar op sy plastiekemmer. Hy is after all die leier, en dis sy huis.

So sit ons op verweerde meubels in ’n kring om Ou Boy en gesels met hom daar op sy troon. Dit was ’n oudiënsie waaroor ek nie baie lank snaaks gedink het nie. Ek het gehoor dit het eeue gelede maar net so gegaan in Europa se koningspaleise. Daar was mos nie toilette nie. En wat is royalty dan nou anders as gangsters in goue klere?

Ons gee Ou Boy se geld terug en gesels ’n bietjie. Maar Ou Boy luister net half. Hy weet as ons geld het om sy R25 terug te gee, het ons nog. “Maak ’n las vir ’n pyp, man,” sê hy.

Nekkies gee R6 - die button kos R12 - en Ou Boy las op eie koste die groen by.

“Kyk hier, Nekkies, leen my vir twee pille, man,” gryp Ou Boy nog ’n paar vingers. “Ek maak mos Vrydag reg.”

’n Mens kan nie nee sê nie, Ou Boy het dan gister vir ons geld geleen.

Hoekom hy nou weer by ons wil leen terwyl hy self R25 in sy sak het, is bysaak. Ons weet ook ons gaan nie die geld Vrydag terugkry nie. Want kom jy daar, sê Ou Boy: “Maar hoekom kom julle nou eers hier aan? Ek het vanmiddag die geld gehad - nou het ek dit nie meer nie.”

Terwyl ons wag vir die pille om te kom, bied Ou Boy vir ons tee aan.

“Nee dankie, dis OK.”

“’n Bietjie vetkoek? My vrou het dit gemaak.”

“Nee dankie, ons is nie nou honger nie.”

“Coke?”

Netnou begin Ou Boy snaaks dink. Ons aanvaar - Coke kom darem in ’n bottel uit die fabriek.

Toe Gafeldien die pille aanbring, skuif die hele toneel na die agterplaas - ’n klein agterhof van sement, wasgoeddrade en ’n vuil buitetoilet. Ou Boy se vrou vat sy plastiekemmer en maak dit leeg in die toilet.

Gafeldien maak die bottelnek op. In die middel van die kring het Gafeldien Ou Boy se uitgespoelde plastiekemmer neergesit.

Terwyl Gafeldien aan die werk is, praat Ou Boy oor hoe buttons nie meer is wat dit was nie. Hulle meng nou te veel gemors by, sê hy, want dan kan hulle meer pille maak. Hy sê die ou buttons, toe dit nog wettig as Mandrax gekoop kon word, was die beste, omdat dit so skoon was. Ek wonder nou nog hoeveel die ouens bereid sal wees om te betaal vir een van daai ou buttons. Maar buttons bly nog groot geld. Destyds, toe dit nog nie so wyd op die Cape Flats gemaak is nie, is baie buttons ingevoer. Ou Boy sê die ouens kry dit vir minder as ’n rand ’n pil in Nieu-Delhi en kom verkoop dit hier vir R12 een. En dan kom hulle sommer man-man met 10 000 buttons op ’n slag in. Dis vinnig ryk word. Dis nou as jy nie self begin rook nie.

Die pyp is uiteindelik reg, en Ou Boy doen die bust. Hy is mos die leier. Die bust is goed, so ook die tweede, derde en vierde trekke. Daarna word die pyp al hoe flouer, tot jy later net groen rook. Maar die manne weet presies hoeveel trekke wit daar in ’n pyp is. Dan gooi hulle weer ’n pil op, as daar nog een is.

Maar terwyl die pyp nog krag het, moet jy weet - min dinge skop gat soos buttons, al is dit net vir ’n paar minute. Die sterkste man word grond toe getrek deur ’n wit pyp, behalwe skynbaar die maer outjies. En Ou Boy is maer, brandmaer van die buttons. Ou Boy kan bly staan, al is dit ook maar net-net. Hy hurk later ook maar, maar hy laat dit lyk asof hy maar net uit ordentlikheid na die kring se vlak toe daal.

En so sit almal daar en zing tussen die witblou rookwolke en die brandruik van poeier, terwyl die pyp in die rondte omgaan. En die ouens hoes, spoeg en kots. Dis waarvoor die plastiekemmer daar is.

’n Jaar of wat later laat kom ek die vullis-ouens om goed uit my agterplaas weg te vat. Voor hulle begin werk, rook hulle eers ’n joint onder die vyeboom. Dis halftien die oggend.

Die een ou vra of ek ’n gun het om te verkoop. “ ’n Man moet jouself kan protec, man,” sê hy. “Die gangsters maak ons klaar. Dis hoekom ek Pagad like. Waar die Pagads patrol, is daar fokkol gangsters nie. Daai’s nonsens wat die koerante sê, Pagad wil net die community protec van die gangsters. Ons soekie moeilikheid nie, ons is net moeg virrie gangsters.”

Hy vertel my hy kom van Soutrivier, en ek vertel hom ek ken vir Ou Boy. Ja, sê hy, hy ken ook vir Ou Boy - almal ken hom. Ou Boy bly nou in Mowbray, sê hy. Hulle het mos sy seun doodgeskiet voor sy huis. Uit ’n kar uit. Ou Boy bly nou in Mowbray en rook nie meer buttons nie. “Ou Boy soek nou werk,” sê hy.

Nou ja, Ou Boy het graag gespog dat hy in sewe en twintig jaar nooit ’n werk gehad het nie. En Nekkies sê van al die soorte drugs wat hy self al gebruik het, maak nie saak of dit dope, coke, acid, mushrooms, extacy, nexus, base, amil of speed is nie, daar is net een soort wat jou reg van die begin af nie los nie. Dis die buttons.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.