NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Charl Cornelissen
Lees elke dag van my lewe, mal oor feite en filosofeer(?), hardegat in die ekstreme (my vrou reken ek is die perennial rebel), werk elke week ’n fliekie of twee in. Musiek (daagliks) praat met my siel. Voor ek vyftig is, wil ek graag ’n voltydse swerwer wees!
  naam

Bloed

Charl Cornelissen

Die groot besprekingspunt daai Kersfees was oom Apie wat vroeër die jaar uit die kas geklim het, en nou vir die eerste keer sedertdien, by die family is. Ek bedoel, ek praat van 1973. Kaste was toe nog net vir klere en geraamtes, nie uitklim nie. Die voorafwagting was elektries. Ek meen, dis nie dat die family, behalwe oom Gallie, nog kwaad was vir hom nie, maar almal wou sien of hy verander het. Hoe hy nou lyk? Moffies is mos anders!

Toe hy die ingangsportaal binnestap nadat hy uit die taxi geklim het kon jy almal, wat toe reeds in die sitkamer in ’n halfmaan gestaan het soos ’n skoolkoor, omtik met ’n veer. So iets het ons nog nooit voorheen gesien nie. Skoene van suede met wit sokkies, ’n navy knielengtebroek en so ’n stywe hempie van gladde materiaal wat nie ingesteek was in sy broek nie. Sy magie het plek-plek tussen die knope en die twee hempspante deurgeloer, maar onder die hempie het oom Apie ’n wit gaatjiesfrokkie gedra. Dis nou dieselfde oom Apie wat nou die dag nog safaripakke gedra het.

Oom Apie het ons ingelig hy wil voortaan as Jacques aangespreek word. G’n mens kon uitfigure waar dié voorliefde vir Jacques vandaan kom nie.

Oom Gallie het die hele gedoente eintlik goed hanteer. Almal het gereken hy gaan vir oom Apie foeter. Die afgelope paar maande het hy genoeg kere gesê dat as oom Apie dan na kak soek, sal hy wat oom Gallie is oom Apie al die kak gee wat hy maar van kan droom. Dis eintlik hoekom ons oom Apie so lanklaas te siene gehad het. Maar oom Gallie het nie sy woord gestand gedoen nie. Nie daai Kersfees terwyl almal saam was in elk geval nie.

Nog ’n ding wat oom Gallie kwaai aan die gang gekry het was daai baadjie van oom Apie. ’n Smoking Jacket. Bloedrooi met smal, blinkswart satynlapelle met goue insetsels ingeborduur. Kerstyd. In Suid-Afrika. Dis somer. Warm. Maar die smoking ... die smoking word gedra ... by elke ete. “Fok, ou Apie, die sinnigheid in mans is al klaar erg genoeg, maar die fokken baadjie!?” het oom Gallie kort-kort ’n stekie na oom Apie gegee.

“Dis Jacques, dahrling, en anyway, man is known by the company he keepeth and the cloth he weareth,” het oom Apie hoogdrawend teruggekap. Oom Gallie was soos gewoonlik ge-dress in sy kort crimplene broekie en insteekkakiehemp. Sy skoeisel was oprygvellies en ligblou kniesokkies. ’n Dun silwer kammetjie het altyd bo die linkerkous aan die buitekant uitgesteek. Oom Apie se smoking was vir my mooier gewees as enigiets wat oom Gallie ooit kon dra. Ek dink die ander het ook so gedink, maar niemand het dit hardop gesê nie.

“Darling se gat, en watse fokken Engils is dit dié wat niemand verstaan nie?” het oom Gallie teruggebrom.

“Toe nou julle twee, kry einde,” het Ma gesê. Sy was die ouer suster. Die twee broers het na haar geluister. Vir ’n rukkie, altans. Ons het nog vir Ma se sussie en haar ander broer gewag. Snaaks, dit was net Ma van die vyf kinders wat ooit getrou het. Ons kon nooit lekker verstaan hoekom die ander nooit getrou het nie. Ek het Pa, ’n kort klein mannetjie wat by die plaaslike poskantoor gewerk het, soms in stilte by homself gehoor mompel dat hy kan verstaan dat Ma se familie nie mans of vrouens kon kry nie, maar hy het nooit so iets gesê wanneer Ma by was nie.

Ma was lank vir ’n vrou. Ses voet twee duim. Haar broers was almal langer, selfs oom Apie. Maar oom Gallie was die langste. Hy het by die railways gewerk. “Sporie ‘till the day I die!” was ’n gunsteling-uitdrukking van oom Gallie. Hy het blykbaar die treinwiele so getêp-têp as die waens stadig verbykom. Volgens hom ’n bitterlike belangrike werk. “’n Trein met ’n gekraakte wiel kan groot kak maak, ou swaer,” het oom Gallie altyd aan Pa gesê wanneer hy baie brandewyn gedrink het.

Pa, wat dan self ’n paar doppe voor is, het weer geantwoord met: “Ja, ou Gallie, maar sonder briewe kom die wêreld tot stilstand.”

“Mag so wees, swarie, maar as die treine se wiele kak, dan is daar kak,” het oom Gallie weer laat val. “Dan is daar fokol kos of enigiets, want alles staan. En dan help lees jou fokol.”

Oom Gallie het ons altyd aan sy muscles laat voel. Hy het massiewe uitgroeisels vir arms gehad. Daar was merke en littekens op sy gesig. “Nigel is nie ’n man se maat nie,” het hy gereeld gesê.

Die deurklokkie het gelui. Dit was die middag van die 23ste Desember 1973. Ek het gehardloop om die deur oop te maak. Dit was auntie Bybie, Ma se jonger suster. Byekorfhaarstyl, geel minirokkie en pers hoëhakskoene. “Sexy,” skree oom Gallie en druk sy suster teen hom vas.

“Galla,” groet sy terug en omhels hom. Sy geniet die aandag wat haar binnekoms veroorsaak.

“Kom laat ek jou aan Hasie, ag, ek bedoel Apie, voorstel,” sê oom Gallie.

Oom Apie kom aangestap met sy arm reguit voor hom en die bokant na vore en vingers wat geknak by die palm afwys: “Enchante, moi cherie, nom de moi su Jacques.”

“Wat de fok praat jy nou, ou Apie?” vra oom Gallie.

“Dit, my dahrling, is Frans. The language of love.”

“Jy gaan my nog so darling, dan val jy, pappie,” sê oom Gallie.

Auntie Bybie was iets heeltemal anders gewees. As ek na haar gekyk het, het ek telkens die gevoel gehad dat sy treurig is. Maar sy het altyd geglimlag. Ek het partykeer dieper na haar lag gekyk, in en om haar oë, en ek het altyd gedink haar oë het seer in gehad. Toe ek eenkeer met Ma daaroor praat het sy gesê ek verbeel my. Ek was nog jonk, ek het nie teruggepraat nie. Maar ek weet wat ek gesien het. Auntie Bybie het vir al die kinders geskenke en ’n boks vol swiets en sjokolade gekoop. Sy was ons gunsteling-antie. Sy was glo ’n sekretaresse by die munisipaliteit, daar in Germiston, maar, sy het ook ’n werk gehad wat haar besig gehou het in die aande, ek het Ma en Pa eenkeer saggies daaroor hoor praat. Ma het gehuil. Ek dink nie Ma wou hê haar suster moes so hard werk nie. Auntie Bybie het nie kinders gehad nie.

Pa het seker gemaak almal se glasies is vol van wat hulle ook al drink. Oom Gallie het al baie luid gepraat. Die voordeurklokkie het weer skril gelui. Dit was oom Hennie, Ma se ander broer. Hy was ’n stil man. Soveel so dat sy totale gesprek omtrent altyd net daaruit bestaan het dat hy gegroet het. Gegroet met die aankoms en weer met die ganery. Hy het by die bank op Roodepoort gewerk.

“Ou Arbeidsaamheid,” het oom Gallie uitgeroep toe hy sy broer groet.

“Dag, boet,” is al wat die stil oom Hennie gesê het. Ek het oom Hennie altyd dopgehou en gewonder oor wat presies in sy kop aangaan. Sien hy ooit iets? Hoor hy iets? Wat gaan gebeur as oom Hennie die dag begin praat? Maar daar was seker nie kans dat dit sommer sou gebeur nie. Die kos was reg en Ma het almal geroep om te kom aansit. Ons kinders moes in die kombuis by die werkstafel eet.

Daai Kersfees was lekker, ons het baie geskenke gekry, en, alhoewel oom Gallie baie ge-moan het oor oom Apie, en dat hy wat Gallie is vir Apie uit sy testament gaan skryf en dat hy nog vir Apie sal reg donner, het hy nie vir oom Apie geneuk nie. Oom Apie het, behalwe vir die smoking by die etes, eintlik net daai eerste dag daai fênsie klere gedra. Met die uitmekaarganery het oom Gallie weer vir oom Apie gedreig en gesê dat hy wat Gallie is nog vir Apie sal regkry.


******

Nadat die foon gelui het en Pa stilletjies die gehoorstuk neergeplaas het en Ma aan haar arm kamer toe geneem het, het ons met groot oë besef iets is verkeerd toe Ma so begin huil en skree. Later het ek gehoor hoe sê Ma: “As Bybie net wou luister en nie ...” Sy het stil gebly toe sy besef ons kan haar hoor. Dit was die 17de Mei 1974.

Ek het twee dae later besef dat broederliefde onuitlegbaar is en dat bloed dik loop. Onverklaarbaar dik, en baie sterk.

Toe die mans die graf toegooi het oom Apie sy arm om oom Gallie se skouer gesit om te troos. Oom Gallie het sy kop vlugtig laat rus op oom Apie se skouer en gehuil. “Dankie, boet,” was al wat oom Gallie ná die tyd aan oom Apie gesê het.

En dit was oom Hennie wat die gaste ná die tyd by die teedrinkery bedank het.

******

Drie weke later het die Britse Leeus met Willie-John McBride as kaptein begin met hul toer deur Suid-Afrika, en al waaroor ons kon praat was oor hoe sleg ons rugby geword het.

******

Baie Saterdae ná die wedstryde het Pa verslae gelyk oor die uitslag van die dag.

Ma het ook deur daai hele toer verslae gelyk. En vir ’n lang ruk daarna ook nog.

9 Desember 2003

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.