NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Charl Cornelissen
Lees elke dag van my lewe, mal oor feite en filosofeer(?), hardegat in die ekstreme (my vrou reken ek is die perennial rebel), werk elke week ’n fliekie of twee in. Musiek (daagliks) praat met my siel. Voor ek vyftig is, wil ek graag ’n voltydse swerwer wees!
  naam

Gelukkig weet die kind nie

Charl Cornelissen

Hy is, soos sy gewoonte is die afgelope ruk, douvoordag reeds op. Maak die voordeur oop, asem die vars briesie in, buk en tel die oggendkoerant op. Skandeer met sy oë vinnig oor die voorblad. Na die onderkant toe sien hy die berig: PW Botha is jammer om mense teleur te stel, maar hy is nog springlewendig, dankie. Maak die deur toe en saam met sy eerste koppie koffie vir die dag, by die eetkamertafel, lees hy die berig volledig.

Die vierde woord wat ek in die army gehoor het was fokken. Dit was ’n bevel: “Klim in die fokken bussie!” Ons nekke het rondgeruk, maar geen bussie het aangekom nie. Dit was by die skouterrein in Milpark. Ons het pas deur die hoofingang se hekke gestap, daar bo by die ou blommesaal. Weer was ons beskrou dat ons in die bussie moet klim. Twee minute later het ons geweet ’n bussie beteken ’n afdeling. Drie tree agter ons was die muur van die skouterrein. Ewe skielik was dit die muur wat vryheid weggekeer het. My eie Berlynse muur. Ons het na die arena van die skouterrein beweeg, name opgegee. Elkeen moes ’n klein geel-rooi appel, ’n droë hot dog en ’n koppie yskoue koffie drink. Daar’s blouvitrioel in, het die fluisteringe gehardloop. Om te sorg dat stuiwers die laaste ding is wat jou nou gaan pla, blykbaar. Ek was nie honger nie. Ek was naar. Ek was altyd naar wanneer ek bang of ontsteld was. Ons moes almal die kos eet. Ek het gaan sit en my eerste sigaret van my lewe aangesteek. Gehoes. Deur die sigaret geworstel.

Die trippie met die trein was stil, die trein het veels te vinnig na my sin na sy bestemming gesnel. Ek moes eerder oorsee gegaan het, het ek gedink. Ek het na my meisie verlang. Ek het so vreeslik na haar sagheid verlang. Na haar reuk. Om weer deur haar sagte hare te streel. Ek wou haar liggaam weer voel, op myne, onder my, die reuk van liefde weer ruik, net een keer. En toe ewe skielik, was daar net nie meer tyd vir dink nie. Die volgende vier en twintig weke was ons stelselmatig afgebreek en weer opgebou in vegmasjiene. Altans, so het die manne in beheer ons vertel. Maar ons was steeds nog net jong seuns. Agtien jaar oud.

Later op pad na die skool vra die man aan die seun saam met hom in die kar: “Weet jy wie is PW Botha?” Die seun is dertien jaar oud.

“Nee, Pa.”

Hy laai die seun af en ry stadig, ingedagte, terug huis toe. By die huis maak hy nog ’n koppie koffie, bemerk nie eens die sterk aroma nie. Sy vrou is reeds weg werk toe. Die huis is stil. Met die koffiebeker in sy hand gaan sit hy in die beskermende skemerte van die sitkamer.

Ons het dit die tyd van PW genoem. 1982. Ek het altyd gedink ek kon lekker vloek, maar ná tien minute in die army was ek diep onder die besef dat ek hier te doen het met kampioene. Dit was die stelsel — jy vloek en word gevloek! Ek onthou my onsekerheid. Alles was onseker. Alles was aggressief. Almal was aggressief. Elke sekonde van elke dag was ons gedreig met die een of ander vorm van fisiese leed. “Troep, ek sal jou fokken doodmoer!” Ek het later afgestomp daarvoor geraak. My laaste telefoonoproep aan my meisie voordat ek die eerste keer vertrek het na die Angolese grens, was ’n ramp. Die psigologiese dwaalleer wat ek uitgebabbel om ’n indruk te maak: “Die Here hoor my, ek hoop en bid ek sien ’n fokken terr, dan skiet ek sy gat by sy kop uit, en as ek dan nou maar moet groet, dan het ek minstens my deel vir die land gebring!”

Ek kon haar ongemak met my aanvoel, dit het my net nog meer kwaad gemaak. My nog meer onwelvoeglikhede laat kwytraak. Vier maande later tydens my pas wou sy my nie sien nie. Ek was kwaad. “Tipies fokken vroumens, ek plaas my lewe op die spel en sy kan nie net ’n bietjie fokken vasbyt en saam met my deur hierde tyd gaan nie. Nee, sy dink mos net aan wat vir haar belangrik is! Dis die fokken Swapo en ANC se skuld dat ek nie meer ’n meisie het nie. Jissis, nou wil ek hulle eers opfok!”

Ons kon vloek. Ek sweer ek kon destyds iemand in dertig sekondes vyftig keer vloek, sonder om dieselfde woord twee keer te gebruik. Soms het ek besef dat ons sedert ons inkoms by die army ’n lewe lei wat dit net onmoontlik maak om sinvol te kommunikeer, dat ons nie meer bevraagteken nie. Dat ons redeloos geword het. Selfs diere was slimmer. Jy sien, as ons wel bevraagteken het, was die gevolge moeilikheid, ’n stuk ondraaglikheid. Dan het die tyd stadiger verbygesleep.

Die hartseerste, dink die man, was dat almal in die land plein domonnosel was en nie genoeg vrae gevra het nie. Hy neem nog ’n slukkie van die koffie. Sit terug, sluit sy oë, sug.

Daar was lekker tye ook in die twee jaar, maar meestal was dit bloot omdat ons moes oorleef. Almal daar het dit vir hulself besef en het maar uitgehou met mekaar. Ons moes die tye eenvoudig lekker maak. Ons was almal jonk en dom genoeg om vir twee jaar lank soos drek behandel te word. Dit was die normaliteit van die tyd. As ek die dag nie ’n blou eier gehad het vir brekfis nie, was ek dankbaar.

Op die grens was dinge anders. Die rondfok het grotendeels gestaak. Ewe skielik was ons volwassenes. Ons was geag. Almal het eenvoudig ’n houding ingeneem van onverskilligheid. Dit het ons met tye totaal onmenslik gemaak. Skandaligers. Soos om naughts and crosses met knipmesse op bang ou swart mans se borskaste te speel. Gelag vir die vrees in die ou man se oë. Die korporaal het die strepe getrek en agt van ons het agterop die Buffel gesit. Gewere in die hande, sigarette tussen die lippe. Hom met minagting aangegluur. Ons het rof gelyk. Ons het gevaarlik gevoel. Ons was meesters van lewe. Ons kon hom doodmaak of laat leef.

Dis nou reeds negentien jaar dat die man uit die army is, hy sien niemand meer wat saam met hom daar was nie. Hy kan nog ná al die jare nie die prentjie van vreesbevange ou Owambo’s vernietig nie. Hy onthou van vee uit krale neem. Steel. Want hulle was honger, en eenkeer, nadat die dier geskiet en die karkas op die Buffel gelaai was, het die man teruggekyk. Die man wie se bees dit was het hulle net agternagestaar. Daai man het geleer om nie te stry teen mense met wapens in hul hande nie. Die man het net verslae gestaan en hulle agternakyk. Daai beeste was sekerlik die man se hele koninkryk, dink hy.

Hoe lekker het ons nie party aande gelag nie. Die Ops was klaar en ons het vars vleis gehad en was veilig terug in die basis. Daar was ’n goeie kans dat Swapo sou weet dat ons lank in ’n kraal was en vleis gekry het by die kraal. Vleis kry beteken ’n gesteelde bees. “Met ’n bietjie geluk gaan sy eie boeties gaan hom nou lekker opfok! Maar fok hom, hy wil mos sy Swapo-boeties help, nou moet hy maar die kak vat!” Ek was toe negentien jaar oud — ons was almal omtrent negentien jaar oud. Ons het lisensies gehad om so op te tree. Ons was nog blote kinders. Ek het baie gewonder of die politici se seuns ook rêrig op die grens veg. Ek het nie so gedink nie.

Hy proe aan die koffie, dis reeds koud. Hy staan dwalend op en maak nog ’n koppie koffie. Gaan sit weer en onthou die lyke. Van die insurgente. Gedrapeer oor die Casspirs se modderskerms soos trofeë. Uitstalstukke om aan die plaaslike bevolking te wys wat gebeur met ’n Swapo. Hy het daarna gekyk, daaraan gevoel. Sy vinger selfs somtyds in die wonde gedruk. Dit het hom op ’n vreemde perverse manier met opwinding verskaf, daai tyd.

Maar ek het begin swaar kry. Die baie tyd wat altyd om ons was het uiteindelik sy tol begin neem. Die tyd het al moeisamer en moeisamer elke dag verbygestrompel. Tye van niks doen. Dan het ek gedink, baie gedink, te veel gedink. Soms depressief geraak, want ek het begin besef iets was bloot nie reg nie. Om vir vier maande aaneen weg van die huis te wees was lank. Ek het verlang, maar het dit vir myself gehou. Deel van die oorlewingsmeganisme in die army was eenvoudig om nie “swakheid” te wys nie. Dan het die manne soos ’n trop diere hul rug op jou gedraai, dan het jy die bron geword op wie ander hul frustrasies en onsekerhede kon uithaal. My briewe wat swart bekrap was deur die sensors (ek moes plek-plek raai wat my mense probeer sê), was my enigste kosbare skakel met ’n ander wêreld. Een waar ek eerder wou wees.

En kon ons suip! Almal het vinnig geleer om te suip soos ’n bees. As jy so gedrink het, was jy dronk, en dan was jy jolig en dan het jy nie gedink nie. Maar in die aande as jy waggestaan het, kon jy nie drink nie en dan het jy gedink. Gedink aan die weggeskiete gesig oor die modderskerm wat jy vroeër vandag gesien het, het jy gewonder oor sý ma en pa, sý gesin, het jy besef die arme drommel het nie juis ’n ander keuse eintlik gehad nie. Het jy jouself afgevra waar sou die man vandaan gekom het?

En gewonder hoe dit voel wanneer jy geskiet word? Maar drank het alles die volgende aand weer dooddollies gemaak: “Fok Swapo, as dit nie vir hulle kak was nie, was ek nie nou hier nie, Pretoria moet sommer fokken atoombomme op die konte laat val!”

Daar was tye wat mens jouself bejammer het. Dat jy huis toe wou kom, nou die dag op die skoolbank was jou enigste bekommernis of jy ’n date vir die matriekafskeid gaan hê. Nou het jy die dood gesien, dit gevoel en geruik. Nou weet jy die dood kom gou. Hy wag vir ons almal. Ek onthou 6 Januarie 1984. Ops Askari. 150 km binne die grense van Angola. Dit reën sedert vroegmiddag sonder ophou. Groot harde druppels. Koue druppels. Alles op die Buffel is papsopnat, die groep waarin ek is, is verdwaal. Dis al donker. Die wind sny deur ons. Ek dra al vir nege dae dieselfde brownbroek en T-shirt en het gister laas iets te ete gehad. Die toiletpapier het drie dae gelede reeds opgeraak. Ek kan myself ruik. Ek kan almal ruik. Uiteindelik besluit ons dis beter om te kamp vir die nag. Dis stil om ons, almal is stil, ek kruip in my deurdrenkte slaapsak in. My kopkussing is soos gewoonlik die hol kant van twee magasyne binne die ammo pouch. Die wit sand sit aan my vas. Die slaapsak is koud. Die wind wat net nie wil gaan lê nie maak alles vriesend koud. Heelnag in my slaap voel ek hoe pyn my knieë van die koue. Die volgende oggend is ek plek-plek skurf geskuur. Gister was my ma se verjaarsdag. Ek wou eerder by die huis wees. “Maar ag wat, alles is maar okay, want as dit nie vir ons was nie, was daar groot kak in Suid-Afrika en sal die fokken houtkoppe sweerlik al die vrouens verkrag.”

Die aanhoudende muggies. In jou oë, op jou kos. Jy het maar gesluk, want dié wegjaag, sou niemand regkry nie. Ek en Swannies moes eendag in opdrag van die RSM vier en twintig hoenders vang wat in die kamp rondgeloop het, want dié ou alkoholis was lus vir hoenderpastei. Ek het daai dag geleer hoe om hoenders op drie metodes so te hipnotiseer, dat jy hul nekke rustig met ’n graaf kan afspit, en ook minstens drie ander maniere hoe om hoenders vrek te maak. Die hoenders se ogies het so dof geword wanneer jy hulle longetjies toegedruk het. Versmoor het. Totdat die hoendertjie stil gelê het. Die oë het dower ... en dower ... en dower ... en uiteindelik gryswit geraak

Die man forseer sy gedagtegang om te halt. Die grafika in sy kop is te duidelik, dit het nog nie vervaag met die tyd nie. PW is reg, dink die man, daar ís mense wat bitter teleurgesteld is dat hy nie dood is nie!

Hy onthou PW se houding in die WVK-tyd, hy het iets te sê gehad oor hy wat PW is wat net sy skepper om verskoning vra wanneer dié hom kom haal om PW na die hemel te begelei. PW vra niemand anders om verskoning nie! Nie verskoning aan die ouers van sy jare lange skoolvriend wat in die army oorlede is nie! Rubicon. Daai vinger. Daai onvergenoegde trek om die mond. Daai dreigende houding. Hy onthou hoe somber sy gemoed daarna was. Hoe verslae baie was ná daai toespraak. Hy onthou daai blommotief-rokke van tannie Elize en haar insigte waarin Suid-Afrika so bevoorreg was om te deel op die SAUK-nuus, Saterdagaand na Saterdagaand!

Hy onthou tye waar mens soms die boosheid in die lug kon proe. Van David Kramer se LP Baboondogs, en die songs “Going Away” en “Skipskop”. Vra dáái mense hoe voel hulle oor PW, dink hy. Hy onthou toe daai Elita-kuierende FW “Ek-dra-geen-kennis-van-enige-derdemag-ongerymdhede-wat-in-my-tyd-gepleeg-is-nie-en-het-nooit-sulke-opdragte-gegee-nie” De Klerk vir PW uit sy presidentskap gelooi het. Die trek op daai bitter gesig die aand op televisie toe PW die volk ingelig het, en daai patetiese gesig toe PW vir oulaas die een of ander weermagparade bygewoon het, toe die ou krokodilmond so gebewe het. Dit was bitter-lekker. Dit was begin van die oopbars van die bose sweer?

Die man besef hy het nog nie eens aan die mense gedink wat die meeste onder PW gely het nie! Besef hy kan dit nooit rêrig sy eie maak nie. Dáár was hy nooit, sal hy nooit kan wees nie. Sy huishulp is gelukkig want sy het vir die eerste keer die vote en running water! Hy het dít nog nooit as besonders beskou nie. Die brug is nog net so groot — almal drink saam bier op die televisie-advertensies — maar soms sien hy weer tekens van die vloed. En steeds skree Waterwese, net met ’n ander loods dié keer: “Alles is onder beheer, moenie paniekerig raak nie!”

Hy sit terug en haal stadig en diep asem. Hy moet sy kop bietjie skoon kry. Maar dis elke dag moeiliker en moeiliker. Dit is nou al elf maande. Die huis voel of die mure hom vasdruk. Hy het wragtag soveel keer al probeer, maar hy kan net nêrens regkom nie. Die geld raak min, die druk in sy huis laai op. Sy vrou wys dit nie, maar hy weet sy kry swaar. Die kind weet dit gelukkig nie. Maar, PW, jy kry darem elke maand jou pensioen, nè, oubaas, dink hy bitter.

In sy kop hoor hy die woorde:

she stood in the doorway the ghost of a smile
haunting her face like a cheap hotel sign
her cold eyes imploring the men in their macs
for the gold in their bags or the knives in their backs
stepping up boldly one put out his hand
he said “ i was just a child then now i’m only a man”

Dit was die tyd van PW. Miskien is dis beter dat die kind dit nie ken nie.

Die man lag min deesdae. Die donkerte kom loer baie vir hom. Soms dink hy hy moet die donkerte maar instap. Miskien is dit beter dat die kind nie weet nie, dink die man. Miskien is dit beter dat die kind dit nie weet nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.