NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Charl Cornelissen
Lees elke dag van my lewe, mal oor feite en filosofeer(?), hardegat in die ekstreme (my vrou reken ek is die perennial rebel), werk elke week ’n fliekie of twee in. Musiek (daagliks) praat met my siel. Voor ek vyftig is, wil ek graag ’n voltydse swerwer wees!
  naam

Moenie my laat lag nie

Charl Cornelissen

Suinige mense is erge mense. Ek reken suinige mense maak altyd maar almal se lewens om hulle miserabel, maar hieroor verkeer hulle gewoonlik salig in ’n staat van net mooi boggherol weet. Suinigheid kan maak dat mense jou later haat.

Nou, so gepraat van suinigheid, laat dit my dink aan die storie van oom Toekie. Oom Toekie het sy naam destyds gekry omlat sy hande so styf toegeklem het wanneer geld ter sprake gekom het. Eers was dit oom Toe-klou en later sommer net oom Toekie. Ek self was baie klein toe dié storie hom vir die waarheid afgespeel het, maar my pa onthou dit nog soos gister. En my pa het my nou onlangs weer die storie vertel.

Kyk, ek het op ’n plaas grootgeword. Nou, die plaas waarop ek grootgeword het, was in die destydse Noordweste, wat nou se dae sien ek, die groen Kalahari genoem word. Ons plaas was so ’n stewige dagreis te perdekar uit Kakamas, Pofadder se kant toe. Daar was natuurlik al karre daai tyd, maar ons jong latte moes maar met ’n perdekar oor die weg kom. Die padpolieste het ons nooit gepla op die perdekar nie.

Oom Toekie se plaas het aan die grootrivier gegrens en Pa s’n nie. Pa moes water uit die rivier oor oom Toekie se plaas langs kry. Oom Toekie moes op sy beurt weer oor ons plaas langs gaan as hy by die grootpad wou uitkom, so, daar was ’n werkbare ooreenkoms aangaande trêversie- en waterregte tot voordeel van Pa én oom Toekie.

Maar so elke af en toe moes Pa oorgaan na oom Toekie wanneer die water nie met die kanaal deurgekom het soos dit moes nie. So ’n ruk nadat Pa weg is, het die water weer mooi deurgekom en ’n entjie daarna het Pa weer op die werf aangekom. Met ’n rooi gesig. Pa het dan met daai einste rooi gesig vir Ma gesê hy gaan daai donnerse Toekie nog klap dat hy Opie word. Daar het blykbaar, altyd net op een plek, ’n klomp klippe in die kanaal gelê. Oom Toekie het volgehou van dié klippe wis hy niks.

Ma moes met sulke episodes Pa kalmeer met ’n “Ag, my ou man, kom drink eers ’n lekker koppie troos. Dan voel jy sommer beter”.

Ma was ’n sagte mens en sy kon kosmaak. Ou maatjie, soos jy nog nie geproe het nie. In daardie dorre wêreld het sy altyd ’n groentetuin aangehou, en daai groente saam met ’n geelrysie en ’n skaapnekkie en ’n lang sousie! Boeta, as jy dit nog nie geproe het nie, weet jy nie wat is lekker nie!

Melktert en sjokoladekoek was haar ander twee treffers. Ná so ’n oom Toekie-sessie het sy Pa altyd ’n snytjie sjokoladekoek en melktert saam met sy koppie troos bedien. Ek het baie gewonner of pa nie aspris gemaak het of die water nie wil deurkom nie?

Pa het nou nie eintlik juis gevloek nie, dit was net die sessies met oom Toekie saam wat hom soms so laat struikel het. Ons was op sulke aande met boekevat lekker dikgat vir oom Toekie, want dan het Pa lááánk gebid. Pa het dan gebid dat Liewe Jesus hom asseblief tog die onbesonne daad moet vergewe, maar dat Jesus wragtag aan oom Toekie se gesindheid ook moet werk, want oom Toekie maak dit gewoon nie maklik vir hom wat Pa is nie. Met so ’n gebed het ek altyd my oë styf toegeknyp en op my gebalde vuiste laat rus. Na ’n ruk het ek sulke beelde en die pragtigste kleure in my kop gesien. Dit het darem gehelp om die biddery te laat verbygaan. Ons kniekoppe was rooi wanneer Pa uiteindelik Amen gesê het.

Ons was nooit seker wie het kort ná so ’n watervoorval ’n slot gesit aan die hek waardeur oom Toekie grootpad toe moes gaan nie. Pa het altyd, nadat oom Toekie op sy perd, ou Pond, ook met ’n rooi gesig by Pa kom kla het oor goed wat staan en sleg word in dié warm son, kwaai met Oorkussing, dis nou Pa se handlanger, geraas. (Oom Toekie het nog met perd en perdekarre gewerk, maar Pa sê dis alles oor suinigheid. Pa sê oom Toekie kon al lankal tien karre gekoop het as hy nie so vrekkig was nie.)

Allegeval, Oorkussing is dan saam met oom Toekie gestuur om die slot wat dan nou per toeval aan die verkeerde hek gesit is, te gaan oopsluit en op die regte hek aan te bring. Oorkussing het erg bedremmeld gelyk ná so ’n skrobbering, maar snaaks, in die aande ná so ’n uittrap het Oorkussing altyd ’n hoendertjie gekry vir die gesin om te eet. Ek het Oorkussing baie dopgehou, hy het altyd met so ’n lekker smaail na sy huisie gestap, soms selfs saggies gelag.

Die water het gewoonlik na so ’n heen-en-weer-toevalligheid vir ’n rukkie mooi geloop en Oorkussing het dan mooi onthou om nie slotte op die verkeerde hekke te sit nie. Net maar vir die water om weer eensklaps op ’n dag nie deur te kom nie. Jare later het dit my eendag bygeval, Oorkussing was slimmer as almal saam.

Ewenwel, die storie gaan nou mos eintlik oor suinigheid. As ek reg is, is dit mos een van die oorspronklike sewe doodsondes. Kyk, dié oom Toekie, almal het geweet hy knyp die sente dat die mossies se oë traan, en mense het baie keer sy beheptheid met geld as skandalig beskryf, maar die grootste skandaal en klad op oom Toekie se naam was nog op pad. Soos ta’ Marie Lankpraat gesê het: “Joe hêf not sien ênniefieng!”

Oom Toekie was daai tyd reeds so vyf jaar lank ’n wewenaar. Hy het drie seuns gehad. Arie, Bertie en Boerie. Ons het die drie vrek jammer gekry. Hulle was almal standerd agt uit die skool uit en het gewerk op hulle pa se plaas. Pa het altyd gesê hy hoor oom Toekie betaal hulle niks, hulle kry net bord-en-lôjieng! Ons het nie geweet wat dit presies beteken nie, maar het geweet bord-en-lôjieng moet iets ergs wees.

Die drie moes ook in ’n buitekamer slaap. Blykbaar was oom Toekie bang dat hulle sou vuil mors in die huis en dan moes hy die bediende meer betaal. Almal op die dorp en in die streek was dit eens dat die drie seuns baie swaarkry.

In daai tyd trek daar toe ’n oujongnooi, Johanna Swiegers, na die dorp. Kort daarna gaan oom Toekie eendag dorp toe en met die stopslag voor die poskantoor stap Johanna Swiegers toevallig op die stoep verby. Dit was blykbaar net dáár verby vir oom Toekie. Pa sê oom Toekie het hom wat Pa is, laat dink aan ’n katools foksterriërtjie.

Oom Toekie het daarna elke dag dorp toe gegaan. Daai einste week het oom Toekie vir hom ’n Ford-bakkie gekoop. Pa het gesê Gordonia gaan nou ’n hoëreënvalstreek word. Dit was ook nie lank nie of oom Toekie en die oujongnooi word saam gesien waar hulle tee drink in die hotel se lounge. Nie te lank nie of oom Toekie het aan huis van Johanna Swiegers gekuier tot wie weet watter tyd in die nag. Ons het hom party nagte baie laat hoor verbykom. Die mense het begin praat dat hier ’n lelike ding sy kop nog gaan uitsteek.

Eendag het Pa oom Toekie so ’n bietjie uitgevra oor wat nou eintlik aangaan, maar oom Toekie het gesê dis net tee drink. Daai aand het Pa iets gebrom van tee drink en tee drink en dat oom Toekie nog so lekker tee sal drink tot voor die doopvont, en dan gaan daar darem vir jou ’n ding wees. Ons het nie geweet wat beteken dit nie, maar het besef te veel tee moet sleg wees vir mens.

Dit was wragtag nie lank daarna nie of oom Toekie en Johanna Swiegers kondig aan dat hulle sommer die eerskomende Vrydag trou. Pa het weer iets gesê van die doopvont, maar die twee het nie voor die doopvont nie, maar sommer in die magistraat se kantoor getrou.

Dit was April. End November daai jaar toe word oom Toekie weer pa. Pa het iets gesê van prêmbaba se gat. Ons het nie geweet wat is ’n prêmbaba nie, ons het maar altyd net gedog alle babas word in prêms rondgestoot.

Dit was met die geboorte van hierdie baba, wat toe sommer deur almal Prêmmie genoem is, wat dinge lelik geraak het daar op oom Toekie se plaas.

Dis nou wat betref suinigheid en liefdeloosheid. Kort na Prêmmie se geboorte het oom Toekie ’n piepklein huisie op elk van die drie verste hoeke van sy plaas laat bou. Dit was nie eintlik huisies nie, meer skuilings.

Arie, Bertie en Boerie moes van toe af elkeen in sy eie skuilinkie in afsondering bly. Rêrig! Daarvandaan moes elkeen elke dag vêr stap om sy take op die plaas te verrig. Blykbaar was dit die toedoen van Johanna Swiegers wat intussen Johanna Jêckpot geword het. Sy het blykbaar gevoel die drie groot seuns sou nie ’n goeie invloed wees op hulle stiefboetie nie.

Maar die ergste kom nog. En dit gaan oor kos. Van puur suinigheid het oom Toekie in die somermaande net een keer ’n maand voor elke seun se huisie ’n vrag vye afgelaai. Ja, vye! Oom Toekie het ’n pragtige vrugteboord gehad en sy vye was die kontrei deur bekend as die lekkerste. In die wintermaande het oom Toekie weer vir elkeen ’n hoop droëvrugte afgelaai en reg deur die jaar het die drie seuns darem een keer per maand ’n lammertjie gekry om tussen die drie te deel.

Dít, het die mense gepraat, is sekerlik die grootste skande wat hulle hulle kon indink, en later, ná oom Toekie se dood … wag, laat ek terugkom by die storie.

Die drie seuns het hulle armoede maar gedeel en op die gesamentlike kennebak gevat. Daar het ’n kameraadskap tussen hulle begin ontstaan wat nooit deur die gewone mense verstaan kon word nie. Dié gemeenskaplike swaarkry het hulle as ‘t ware ’n drie-eenheid gemaak, het Pa gesê.

Met verloop van tyd het die drie se mage hard geword en het vye en droëperskes hulle glad nie meer laat hardloop nie. Die maandelikse vleisie was tjoef-tjaf verorber, amper soos honger diere, fluister die mense wat dit toevallig gesien het.

Die eintlike moeilike ding met die kos saam, was die vye! Mense, vye kan jou seermaak. As daai wit sappies per ongeluk op jou lippe kom, dan swel die goed mos op soos ’n Dunlop-tjoep, en daai helse son van die noordweste laat daai tjoepie sommer tjop-tjop oopbars. Dan kom sit daai verdomde muggies heeltyd op die oop seertjies. Ai, dis ’n pyn wat g’n mens sy vyand toewens nie.

Arie, Bertie en Boerie het elke somer die pyn gevat. Dit was te verskriklik. Die drie het maar elkeen so ’n kopbedekking gevleg van honnepisbossie. Dit het amper soos daai Meksikaanse hoedens gelyk. So kon hulle egter die direkte son van die gevoelige lippe afhou. Honnepisbossie se reuk het ook so ’n titseltjie gehelp om die muggies weg te hou. Maar selfs met dit het die seuns geknor. As jy nog nie in die somer in Kakamas se omgewing was nie, weet jy nie wat is warm nie en weet jy nie wat is ’n warm luggie nie. Dis soos ’n ekshôs wat heeltyd op daai lippe geblaas het. Dit was hel. Daai seuns het wragtag pyn en smart geken.

Elke môre het elkeen van die seuns sy kopdeksel opgesit en sy skape begin aanjaag na die weiding toe. Jy kon hulle van vêr sien aankom, daai lippe het soos rooi Weense worse gestaan. Soos twee briekligte. Nou, met dié dat die lippe so geswel was, is dit bloot duidelik dat die manne moes leer praat sonder om die klanke uit te spreek waar hulle die lippe gebruik. Bilabiale en plofklanke was net gewoon nie meer deel van die drie se woordeskat nie. “Môre, Boetie!” het “‘ôre, ‘oetie!” geword. As een wel ’n P of ’n B moes gebruik die dag, het die P meer geklink soos ’n sagte GGH. Meesal het die seuns saam met die praat hulle eie gebaretaal gepraat.

Mettertyd het die drie seuns ’n wrewel in hulle stiefma begin kry. Dit het ’n stille haat geword wat later oom Toekie ingesluit het. Dag ná droewige dag het die drie seuns se lewe al misliker geword en hulle lippe al seerder. Hulle het al minder begin praat, later net ’n “‘ôre, ‘oetie!” en dan die ander twee wat terug “‘ôre, ‘oetie!”, en dan stilte. Verder deur die dag het jy net vingers sien beweeg en hoor klap soos die manne gepraat het. Tot die laatmiddag wat jy weer “tatta, ‘oetie!” gehoor het.

Maar nes mens dink dinge kan nie langer so aangaan nie, dan gaan dit soms nie langer so aan nie.

Een oggend het Arie en Boerie by die gemeenskaplike weiding aangekom, mekaar gegroet: “‘ôre, ‘oetie!”; “‘ôre, ‘oetie!”, maar van Bertie was daar geen teken nie. Die twee het gewonner wat aangaan.

Dis een ding, die drie was nie sieklik nie, g’n kiem kon oorleef teen die sure in daai manne se lywe nie. Arie het net begin dink hy sal maar moet loop en gaan kyk of sy broer orraait is, toe sien hulle Bertie kom aan.

Oop-en-toe! Die stof staan agter hom. Sonder sy skape. Net hy!

Toe Bertie by die ander kom en sy asem kry, toe hoor jy die gebruiklike “‘ôre, ‘oetie!”; “‘ôre, ‘oetie!”.

“‘aar draai jy so lank?” vra Arie. “Ons has hekoghgherd.”

“Groot nuus, kêrels,” sê Bertie. “‘A is dood!”

En, sê die mense, Boerie se antwoord en die maniér waarop hy geantwoord het, was bewys dat oom Toekie se drie seuns hom toe reeds erg kwaai gehaat het.

Sonder om te huiwer en sonder om ander klanke te soek, sê Boerie: “Ag, Hurre, Boetie, moenie my laat lag nie, my lippe sal bars!”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.