NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Jac J Brits
Ek reken ek het al die letterkundige genres (probeer) beoefen, en gepubliseer, en in die verbygaan ’n paar prysies vir my moeite gekry. Die mees onlangse is die eerste prys in die 2002 RSG/SANLAM-Dramakompetisie vir gevestigde skrywers.
  naam

Die agent

Jac J Brits

Ek was besig om my meesterstuk te skryf, wat vir die ongeoefende oog moes gelyk het na ’n futiele oefening in niks, toe my vriend en buurman, Chris Vermeulen, ongenooid aan my studeerkamervenster klop. Soos hy die vorige dag gedoen het en die dag voor dit ook. Dit was twee keer te veel.

“Jammer, ek kan nie nou oopmaak nie,” jaag ek hom beskaafd weg. “Ek is besig.”

Hy loer deur die vensterruit.”Jy lyk nie besig nie,” reken hy.

“Jy lyk ook nie na ’n laspos nie,” herinner ek hom.

Chris glimlag goedig. “Soek jy nog na ’n agent?”

“Nee.”

“So jy het iemand gekry?”

“Nee.”

“Kry een, maat,” beveel my vriend aan met die wysheid van ’n finansiële adviseur. “Jy sal nie jammer wees nie. Ek ken iemand, as jy belangstel.”

“Ek stel nie belang nie.”

Chris het blykbaar nie verstaan wat ek sê nie. “Gawe ou girl. Donkiejare in die besigheid. Ek kan haar aanbeveel.”

Ten spyte van die man se kroniese neus-instekery, het ek hom vertrou. Soos ek gesê het, hy is my vriend.

***

Die literêre agent se naam is Delia Verburgh. Sy is ’n vrou van onsekere ouderdom (soos alle literêre vroue), dus aanvaar ek maar sy is veertig. Sy het fynbesnede gelaatstrekke en praat met ’n hees, dromerige stem, wat my laat dink sy moes vroeër ’n sangeres gewees het. Dit kan tot my voordeel strek, besluit ek; kunstenaars verstaan mekaar.

Sy bekyk die manuskrip wat ek saamgebring het op ’n traak-my-nieagtige wyse wat my laat wens ek was veilig in my slaapkamer. Sy knik, skud haar kop, frons en as toegif, sug diep.

“Het jy die afgelope tyd iets gepubliseer?”

“O ja,” rapporteer ek. “Twee stories in die Naweker.”

Sy frons weer. “Liefdesverhale?”

“Ja.”

Haar mond plooi eers sinies, toe simpatiek. “Hoe oud is jy?”

“Twee en twintig.”

Die manier waarop sy na my kyk, sê onmiskenbaar ek is te jonk om oor liefde te skryf en ek hou nie van haar gevolgtrekking nie. Sy soek my!

Ek vra, eintlik net om die stilte te verbreek: “Sê jy ek moet liewer oor iets anders skryf?”

“Nee,” verseker sy my met wyse oë, “die liefde is oukei. Dit hou die oues van dae jonk en laat die jonges vroeg oud word.”

Sy lag oor haar eie spitsvondigheid en ek lag saam. Mens moet weet waar jou brood gebotter is.

Sy gee haar aandag weer aan die manuskrip. “Wat jou storie nodig het,” besluit sy ná ’n oomblik van diepe oordenking, “is ’n bietjie snoeiwerk.”

“Snoeiwerk?” eggo ek.

“Ja, Paul. Begryp jy wat ek bedoel?”

Moenie laat iemand jou wysmaak dat mens nie tegelyk kan knik en skouers ophaal nie - ék het.

“Wil jy hê ek moet dit oorskryf?” verneem ek versigtig.

“Nee.”

“Ek begryp heeltemal,” verseker ek haar en beloof myself sy sal nie weer rede hê om my op so ’n vanselfsprekende waarheid te wys nie.

Delia glimlag. “Kom sien my weer as jy voel jy is reg.”

Ek het nie die minste benul wat “reg voel” beteken nie. Maar kom wat wil, ek sal binnekort weet.

***

Dis lekker om ’n literêre agent te hê; een wat miskien nie in my algemene welsyn belangstel nie, maar tog in my vordering as haar aangenome skrywer. Ek besluit om my ou kennis, die gevierde dramaturg, Steve Laurie, op te soek. As jy nog nie van hom gehoor het nie, is jy klaarblyklik ’n kulturele barbaar.

“Wat het jy met jouself aangevang vandat ek jou laas gesien het?” wonder hy met peinsende oë.

“Net ’n bietjie snoeiwerk.”

Sy oë verhelder asof ek hom goeie nuus vertel het. Hy knik alwetend.

“Die beste ding wat jy kon doen. Wie het gesê jy moet?”

“My agent - Delia Verburgh.”

“Gaaf,” verseker hy my. “Die liewe Delia hou daarvan om letterkundige werke na waarde te snoei. Skrywers ook. Dis haar spesialiteit.”

“Ek het gedink dis hoog tyd dat ek ’n agent kry,” verduidelik ek my doen en late. “Ek het gedink, miskien kan sy my op die regte pad sit.”

Ek verwag hy sal vra wat is die régte pad, maar sy oë kry ’n veraf uitdrukking. Een ding van Steve: hy is baie ernstig oor die lewe; hy haat ligsinnigheid.

“Sal jy omgee om my verhaal te lees?” vra ek. “Die een wat ek vir haar gewys het.”

Hy frons liggies. “Hoekom?”

“Ek waardeer jou mening,” pas ek my sielkundige kennis toe.

“Hoekom nie?” vra hy, en lees dit vlugtig deur. “Gaan werk nog ’n bietjie daaraan. Ons kan môre gesels.”

“Oukei,” sê ek. “Sien jou môre.”

Mens moet weet wanneer jy uitgekuier is.

***

Toe ek die dramaturg die volgende dag bel om ’n afspraak te maak, voel ek nie baie gerus nie. Ek het genoeg rede gehad. As gevolg van my snoeiery het die manuskrip ’n merkwaardige verandering ondergaan. Voor my oë het dit stadig maar seker gekrimp, eers met vier bladsye en toe met nog drie. Nou, ná ure van pligsgetroue hersiening, bestaan dit uit ’n enkele bladsy. Dit voel asof ek my eie bloedkind laat honger ly het.

Eindelik maak hy ’n vriendelike gebaar in my rigting. Ek oorhandig die ondergewig manuskrip. Ná ’n lang stilte staan hy op, kom sit teenoor my en slaan my op die skouer soos ’n pêl.

“Goeie werk, Paul. Ek kon dit nie beter gedoen het nie.”

Nou dít sê baie, dink ek. Vra enige kritikus: niemand is beter as Steve as dit by die sny van oortollighede kom nie. Steve is ’n snoeier sonder gelyke. Visioene van sukses begin in my gees opstaan, maar Steve gee my nie kans om die droom tot werklikheid uit te bou nie.

“Net een probleempie,” sê hy peinsend.

My hoop op kitsroem vervaag. “Probleempie?” herhaal ek, hoopvol oor die gebruik van die verkleinwoord. Dit móét tog iets beteken!

Steve trek sy skouers op. “Ek vrees jy het te veel weggelaat. Soos dit nou is, is daar nie veel meer van ’n storie oor nie. Waaroor het dit nou weer gegaan? Toemaar, dit maak nie saak nie. Sê jou wat: praat weer met Delia. Sy sal jou dieselfde raad gee, maar dis altyd goed om ’n tweede mening te kry.”

Ek voel die steek. “Sê jy ek moet die ding oorskryf?” herhaal ek die vraag wat ek vroeër aan Delia gestel het.

Steve haal sy skouers op asof hy wil sê, dis nie mý worries nie, is dit?

***

Ek stel lank uit voor ek my agent bel. Sy klink aangenaam verras, asof sy verwag het om so gou van my te hoor.

Sy neem my na haar koel studeerkamer, bied my tee en koekies aan en begin toe oor die winter te praat, om hoegenaamd geen rede nie. Ek vertel haar ek verkies die winter en sy verseker my in ’n somber stem die meeste skrywers sê so. Dit laat my minder eensaam voel.

“Ek het lank oor jou storie nagedink, Paul,” kom sy eindelik by die eintlike onderwerp uit. “Dis ’n gawe stukkie werk. Ek bedoel natuurlik die oorspronklike weergawe.”

Oorspronklike weergawe? Ek kan my ore nie glo nie.

“Maar,” verdedig ek my posisie, “jy’t gesê ek moet snoei, dit korter maak. Ek het gedink ...”

Sy lyk verslae. “Het jy tog nie my aanwysings uitgevoer nie?”

“Natuurlik!” roep ek uit. “Ek het gedink dis instruksies.”

“Instruksies?” herhaal sy, duidelik seergemaak deur my suggestie.

“Genade, mens, ek gee nóóit instruksies aan ’n skrywer nie.”

Dêmmit! Ek sê: “Wat ook al, ek dink ek het ’n goeie job daarvan gemaak, dink jy nie so nie?”

My agent knik met ’n skouerophaling, laat haar oë oor die enkele bladsy dwaal. Ek is bly om te kan sê daar was hierdie keer geen sugte of fronse wat die rigting van haar gedagtes kon verraai nie; ek verbeel my altyd dis ’n veiliger sone om in te verkeer. Dus wag ek net.

My oë dwaal na my teekoppie; dis leeg. Ek is op die nippertjie om die laaste beskuitjie te vat toe sy vooroor buig en my poging in die wiele ry. Sy begin daaraan te kou soos ’n muis. Sy sit skielik regop en lees ’n enkele sin uit die slot van die storie hardop.

“Dié een keer weet hy bo alle twyfel wat hy van die lewe wil hê.”

Sy bly skielik stil, kyk na my. Haar gesig verhelder. Dit móét ’n goeie teken wees, sê ek vir myself. Indien nie die oomblik van waarheid nie.

“Dis iets om te vier, Paul, wat dink jy?”

Ek het nie die vaagste benul waarna sy verwys nie. Ek vra bedees: “Jy dink so?”

“Natuurlik, my vriend. Kan jy dit nie aanvoel nie?”

Ek voel dit, ja. Op hierdie oomblik voel ek ek het gearriveer, vanwaar ek ook al al die jare was, of wat die bestemming wat ek bereik het ook al is. Delia Verburgh loop opgewonde op en neer en ek voel ek behoort by haar aan te sluit om my solidariteit te toon. Ek was op die punt om dit te doen, toe sy tot stilstand kom. Haar gesig gloei behoorlik van opgewondenheid.

“Global foods soek na ’n treffer vir hulle nuwe advertensie. Dit kan wees waarna hulle soek!”

“Dié een keer weet hy bo alle twyfel wat hy van die lewe wil hê,” herhaal ek verstom, terwyl my onsterflike woorde in my brein eggo.

“Presies, Paul. Sal ek met hulle onderhandel? Ek is seker hulle sal die reël koop.”

Vir die eerste keer in my lewe is ek stom van verbasing. Ek staar na die literêre agent, onseker of sy ernstig is of nie.

Delia Verburgh se glimlag is hemels. “Die één keer weet hy bo alle twyfel wat hy van die lewe wil hê: Global Foods!”

***

Op pad huis toe, met my eerste kontrak in my binnesak, loer ek by my vriend Chris in.

“Vandag begin ek my eerste roman,” lig ek hom gesaghebbend in, terwyl ek suig aan die dubbele dop whisky wat hy in my hand gestop het.

Chris trek ’n verveelde gesig. “Jou worries, ou maat. Ek sê altyd ’n man moet doen wat hy wil doen. Solank hy weet wat hy van die lewe wil hê.”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.