NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Braam van der Vyver
Braam van der Vyver is die kommunikasiehoof van die Wes-Kaapse regering. Hy is die skrywer van ’n roman Stywe arm, ’n pantomime Aspoestertjie en agt toneelstukke. Een van sy kortverhale is ook opgeneem in Vonkfiksie.
  Braam van der Vyver

Hier te lank en daar te kort

Braam van der Vyver

Sy was ’n nooi De Waal toe ek haar ontmoet het. Daarna ’n Conradie. Daarna ’n Beauvier.

Op skool was sy popmooi. Dalk net ’n bietjie dun in die kuit maar met regte blonde krulle wat langs haar slape afgekronkel het soos die vere van haar pa se nuwe Valiant. Met ’n lang-lang nek soos een van daardie swane op Oom Koos se plaasdam.

Ek was ’n volle duim en ’n half korter as sy wat beteken het dat ek geen kans gehad het om haar uit te vra nie. Watter beeldskone matriekmeisie gaan met ’n stofpoepertjie uit, al speel hy nou ook skrumskakel vir die eerste span.

Haar pa was ’n hoëkop in die staatsdiens, het haar ma by die Landbou Unie se tee vertel. “Senior Klerk”, het sy eenkeer op ’n skoolbrief ingevul. Ek sal nou nie sê hulle was dik in die geld nie, net ryk genoeg om te kan skuld maak.

Toe ek haar weer raak loop was sy ses en dertig en in swart. Haar krulle opgebolla in ’n statige heuningkoek soos dit ’n wedevrou betaam. Beauvier, ’n kleinneef van Jackie Kennedy, so het sy wyd en syd verkondig, het haar onverwags ontval. Oor wat so ’n belangrike man op ’n stofplaas in die Wes-Transvaal kom soek het, het sy geswyg — dit nogal met ’n volmaakte Afrikaanse aksent. Die skinderwingerd moes maar self vir nuwe lote sorg.

As assistent-rekenmeester by die bank wat die boedel gedoen het, het ek insae in die syfers gehad. In die aande het die ouens my in die dameskroeg uitgevra maar ek het my dom gehou.

Later die maand het sy by my stilgehou. Sy was in kanariegeel geklee met bypassende naels, handsak en Porsche. Ek het haar beleefd herinner aan die soen wat sy my in matriek beloof het.

“Jy’s reg, weet jy,” het sy deur haar karmosynlippe gesis-lag terwyl die rook van ’n ekstradun damessigaret agerna gekoggel het. “Jou soen sal jy kry en ’n date daarby.” Ek kon die Old Brown Sherry ruik.

“Ek het gehoor jy het jou ou vroutjie lewend verloor.”

“Die busbestuurder van Translux wat altyd by ons kom stort het voor hy die laaste skof Kaap toe gevat het,” het ek verskonend geantwoord.

Ek dink dit was uit jammerte dat sy my die Vrydag met die Porsche kom oplaai het. Die kappie was af. Dit het gemaak dat haar blonde lokke telkens in my mond ingewaai het wanneer sy op my skouer gelê het. Dan het sy gelag en dit probeer wegvee totdat een van haar lang naels ’n rooi sliert op my wang uitgekloof het.

Die Continental bande het om die draaie gezwoei maar gelukkig is die draaie in die Wes-Transvaal nie baie skerp nie. By die Uitskiet Padkafee het ons groen draairoomyse geëet maar hare het geval. Sy het dit van my bene afgelek voordat ons plek in die motel bespreek het as mnr. en mev. Kennedy. “Hy is ’n kleinneef van John F.,” het sy vir die klerk by die toonbank gesê voordat hy die wittebroodsuite vir ons gaan wys het.

Ons het dié nag nie veel geslaap nie. Ek was vasbeslote om soos ’n matriekseun, ’n lovebite aan die lang bleek nek agter te laat. Sy, vol lewe, het teruggestoei. Haar blonde krulle het telkens in die pad gekom terwyl haar lang naels verwytende bloedspoortjies op my rug uitgekalwe het.

*

Ons troukaartjies was al gedruk toe die polisie ons een Saterdagmiddag by die hotel kom haal het. Ek was nogal teleurgesteld want dit het gelyk of die Goue Leeus dalk die WP kon klop. Dit het my verbaas dat die Polisie oor naweke werk aangesien hulle baie weeksdae al van vroegdag af in die anneks snoeker speel maar die speurder het gesê hulle soek al lank na haar.

Ek het skuld erken vir die geld wat by die bank weg was en twee jaar daarvoor gekry. Sy het vier opgeskorte vonnisse vir bedrog teen haar gehad. Ek was lief vir haar en sou vir haar wag totdat sy eendag uit Kroonstad se vrouegevangenis uitkom. Ongelukkig het hulle op nuwe bewyse afgekom en het sy die tou gekry vir Conradie en Beauvier. Beauvier se regte van was toe eintlik Bouwer en die baie geld waarvan daar net ’n bietjie in sy boedel oor was, het hy by die Wes-Kaapse Landbou Unie verduister. Sy lyk is later opgegrawe en daar is arseen in sy naels gekry.

Haar hare was ’n heuningkoek en sy was steeds dun in die kuit toe hulle haar kom haal het. “Nou’s dit balke toe vir hierdie party girl,” het sy gegrinnik voor sy my met ’n sjerrie-asem gesoengroet het.

Later toe ek haar gaan uitken, was die blonde krulle weer terug. Ek het my vergaap aan die lang-lang nek.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.