NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Vreemde skoene

Lea Botha*

Dit was vreeslik warm die dag toe ek na Gerda toe geloop het; Parys was maar altyd bloedig in die somer, maar dié dag het die hittegolwe oor die teerpad, verby die weiding en anderkant die vlei ekstra blou gebewe in die warm lug.

Dit was ’n Saterdagoggend in  November, en ek was op pad na Gerda Groenewald se huis anderkant die rooi bult; dit was ver om te loop, maar ek het lekker geloop, geklee in my beste Sondagrokkie, wat eintlik die rokkie was wat ons as koorlede moes dra toe ons die operette opgevoer het in Oktober. Die moue was nou wel driekwart en gans te warm vir dié tyd van die jaar, maar ek het lughartig en vrolik geloop, die hitte het nie saak gemaak nie, want vir die eerste keer in al die jare wat ons in Parys woon, en saam op skool is, het Gerda my na hul huis genooi.

Ek wou so graag met haar en Myra maats wees; Gerda was die mooi swartkop wat altyd net geweet het wat om op die regte tyd te sê, en Myra was die skaam en vriendelike vaalkoppie met die skoon klere en die skoon naels. Haar naels was altyd pienk gekjoeteks en sy kon so fyntjies met hulle vat en beduie. Gerda se pa was ’n ryk perdeboer buite die dorp en Myra se pa was al oorlede, al was haar ma bloedjonk.  
 
Hulle het vir my alles uitgebeeld wat ek nie was nie. Hulle het in groot huise agter die rooi bult gebly, hulle het nooit plat gepraat nie, en naweke het hulle nie net kerk toe of rivier toe gegaan nie, en die wonderlikste, hulle het elke jaar see toe gegaan met vakansie. Hulle lewe was so anders as ons s’n in die Jood se huurhuis op die hoek van Loop- en Van Collerstraat. Ons huis was oud en die tuin nie versorg nie, want my ma het gesê die water en ligte is duur genoeg sonder dat sy nog moet tuinmaak ook, maar ons het darem baie perskebome en ’n druiweprieel gehad; een jaar het oupa Brits my gehelp om gars vir die hoenders tussen die perskebome te plant en hier op die Hoëveld het ek nog nooit weer sulke lekker soet druiwe, wat hul oes sonder sorg gelewer het, geproe nie.

Dis nou nie dat ons die armste in die omgewing was nie, en ons het eintlik niks gekort nie, maar Myra en Gerda het duidelik tekens getoon dat hulle uit ’n verfynde omgewing, waar oorlewing nie die hoofsaak was nie, gekom het.

En daarom het ek vandag so ligvoets en gelukkig die ver pad teen die lang rooi bult aangedurf. Ek was slim en kon baie mooi sing, en Gerda het gevra of ek saam met haar en Myra sou oefen aan die verpligte sangnommer wat ons in die sangklas se laaste periode moes lewer. Al was ek so vals dat slegs ’n gekrys uit my keel sou kom, sou ek nie nee sê nie, net soos ek nooit nee gesê het om vir hulle opstelle te skryf en hul Engelse letterkunde-opdragte uit te voer nie.

In die hitte het die lankgeit van die rooi bult gebewe, en ek het maar vreeslik dors geword, terwyl my geleende sandale my voete seer geskaaf het. Ons het net skoolskoene gehad, wat ons ook moes kerk toe dra, maar my ma was net so bly omdat ek so bly was oor die uitnodiging en oor my lafheid terwyl ek regmaak, dat sy haar nuwe paar sandale vir my geleen het, ook omdat dit Saterdagoggend was en omdat ek nie die lang pad teen die rooi bult kaalvoet of met sokkies en skoolskoene moes aanpak nie.

Die hele Parys is somerse dae groen, sodat Myra-hulle se erf my nie as besonder opgeval het nie, al het die grasperk in netjiese vierkante onder die son gelê, maar wat my wel opgeval het, was dat hier nie ’n stoep met krismisrose in ou jamblikke was nie, maar dat daar oral akkertjies gevul was met helder spatsels kleur.

Toe Gerda die deur oopmaak, staan sy die hele opening vol, sodat ek net die koeligheid van binne teen my kan voel aandu, maar niks agter haar kan sien nie; ek groet haar hartlik en oorloop-vriendelik en staan ’n tree vorentoe om te kan ingaan, maar Gerda staan en stuur so ’n stywe glimlag in my rigting.

“My ma dink nie dis ’n goeie idée dat ons gaan saam sing nie.”

Ek kyk net en verstaan nie mooi wat die oop-en-toe mond vir my sê nie; Myra kom loer oor haar skouer en sê eers niks, maar toe sy sien ek staan my staan en beweeg nie weg nie, en sê niks, toe sê sy met haar mooi fyn mondjie: “Ja, en ons moet nog dorp toe ook gaan.”

Uiteindelik begryp my trae brein, en my moeë lyf draai op seer voete om wat weer my regop rug na die hek toe dra.

Swaarkry-ma het ons mos kleintyd al geleer, ’n opregte hond lek nie sy sere in die openbaar nie. Seer voete en seer hart sukkel met regop rug na sy wegkruipplek.

Ek was al naby die huis toe hulle verbykom dorp toe en vrolik wuif  deur die motor se vensters; ek kon net so effentjies glimlag en ’n beduidenis van waai gee, want in my hande het ek my ma se sandale gedra, sodat my voete nie so seer in die hitte in die geleende skoene moes kry nie.

*Lea Botha

Lea Botha is gebore in Bloemfontein en matrikuleer aan die Klerksdorpse Hoërskool. Sy behaal 'n BA THOD Afrikaans-Nederlands/Geskiedenis aan die PU vir CHO en Potchefstroomse Onderwyskollege. Sy het daarna 'n aantal jare skoolgehou, voordat sy bemarker van 'n ingenieursfirma geword het. Sy is getroud met Gert Botha, Meganiese Ingenieur en boorling van Klerksdorp en twee pragtige dogters.

  Lea Botha


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.