NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Ander mense se kinders

Lea Botha*

Dit was ’n Maandagoggend toe Liena Strijdom dertig geword het.

Die oggend het sy soos gewoonlik opgestaan en reggemaak om na Hoërskool  DF Malan te gaan, waar sy skoolgehou het. Haar man het op sy gewone onbetrokke manier ’n vae gelukwensing geprewel, en die kat het soos gewoonlik om haar bene gekerm toe sy in die kombuis kom. Niks was anders die oggend nie, nie eens die verkeervloei nie, en Liena het geglo dat niemand weet sy verjaar nie en niemand regtig omgee nie.

By die skool het alles ook maar die gewone gang gegaan, en soos so baie ander Maandae-oggende was dit maar ’n gejaag om betyds in die saal op die verhoog plek in te neem, sodat die hoof met die opening kon begin.

Liena het dié oggend anders as ander dae gevoel. Binne haar was ’n vae seergevoel, en afgetrokke het sy oor die see van kindergesigte voor haar gekyk. Agter in die saal was die skildery van die bokkies wat water drink, en dié keer het sy nie met welbehae daarna en na die foto’s van oudpremiers van die Republiek gekyk nie, maar met ’n nors en dwars gevoel slegs waargeneem dat alles nog net so lyk soos die afgelope agt jaar. Die kinders het ook maar nog dieselfde gelyk in hul verbleikte en armoedige blou skoolklere, met dieselfde “anderste” stekelrige en spykerige haarstyle van die afgelope agt jaar, en mnr Jacobs het op dieselfde vriendelike en gewigtige manier die week se verrigtinge geopen.

Liena het kop onderstebo gesit en luister hoe die kinders “Soos ’n hert wat smag na water” en die “Triomflied “ sing, en gewonder hoeveel van daardie kinders ooit verstaan of inneem wat hulle sing, en vir hoeveel van die kinders beteken die opening werklik iets.

Sy sit nog so kop onderstebo met ’n wrewel in haar hart teenoor die rye en rye ander mense se kinders wat geen snars omgee vir die lewe óf hul ouers nie, toe sy haar naam hoor. Sy kyk op en besef dat mnr Jacobs besig is om haar geluk te wens met haar dertigste verjaarsdag. Hy praat vriendelik en opreg, en sy kyk van hom na die see van kindergesigte wat almal na haar kyk, en toe gebeur iets waarop selfs sy nie bedag was nie – sy bars in trane uit en huil rukkerig en kliphard daar voor almal op die verhoog. ’n Wanhopigheid het skielik van haar besit geneem terwyl sy na die kinders gekyk het. Die afgelope agt jaar, waarin niks verander het nie, het oor haar gespoel en die wete van haar kinderloosheid het swaar in haar gelê; voor haar het sy net jare en jare uitgestrek gesien, elke dag gevul met die las van na ander mense se kinders omsien.

Die hele res van die dag is die kinders in haar klas stroopsoet en doodstil en met groot oë gehoorsaam hulle elke opdrag wat sy gee. Tipies het hulle die volgende dag en die weke wat volg, vergeet van haar ongelukkigheid en hul raserige gang gegaan.

Sy worstel met die matrieks, worstel met hul blasé houding en hul onvermoë om te spel en opstel te skryf; sy sukkel deur die Nederlandse voorgeskrewe boek en wanhoop daaraan dat sy die nodige slaagsyfer gaan behaal. Die stoutes en oproeriges kry tot haar verleentheid die meeste aandag, en dié wat stil hul werk doen en nooit enige hoogtepunte in hul studies beleef nie, maar veral die moontlike onderskeidingskandidate, moet maar tevrede wees met die lustelose aandag wat sy aan hulle gee.

Haar gunstelingklas is die standerd sessies, want hulle is nog kinderlik geïnteresseerd in enige nuwe taalverskynsel  en stories en wat sy ook al het om met hulle te deel. Tussen hulle spelerige nuuskierigheid deur vergeet sy van haar seer en dowwe gemoed en word sy ook bewus van die son wat geel op die vensterbanke lê en die mossies wat luid om die gemorste brood op die stoepe baklei. Nou en dan druk sy ongemerk ’n benerige lyfie teen haar, of krap speels in ’n sweterige kuifie met haar vingers. Anders as die matrieks ruik hierdie kleintjies ná pouse na souterige sweet en speel en son en kinderlike vreugde.

Die jaar sukkel verby. Die matrieks is weg na hulle eksamen geskryf het, en die res van die skool is in daardie laaste moeë stuiptrekkings van ’n lang jaar. Liena voel maar nog dieselfde as die oggend toe sy dertig geword het; sy weet sy het niks met die kinders bereik nie, en dat haar lewe een lang leegte is.

Die laaste oggend, toe die kinders hul rapporte kom haal, breek aan. Liena sit lusteloos en wag in haar skoongemaakte klas; afgetrokke kyk sy hoe die son weer deur die vensters val, oor die banke en oor die blink houtvloer. Verder in die gang hoor sy onderwyseresse opgewonde gesels en lag en toe hulle na haar roep, maak sy of sy nie hoor nie. Sy wil nie met hulle praat nie, want sy het niks om vir hulle te sê nie; sy het niks om na uit te sien hierdie Desembermaand wat voorlê nie. Dit sal net sy en haar man en die lang stiltes tussen hulle wees. Kersfees en Nuwejaar is ook net bedoel vir mense met gesinne: oumas en oupas kuier net waar oulike kleinkinders hul aandag kan trek, en broers en susters deel Kersfees met familie deur hul kinders. As sy en haar man na iemand toe gaan, sal sy maar weer net ’n bohaai oor ander mense se kinders moet maak en oor hul oulikheid moet uitwei.

Die eerste kinders daag op om hul rapporte te kry, tot dit in ’n lawaaierige en opgewonde geroesemoes ontaard. In hul eenvoudige, en dikwels verslete, kleertjies staan hulle voor haar: die slimmes, die dommes, dié met persoonlikheidsprobleme, en dié wat maar net mens is, vaal en onopsigtelik. Sy ken elkeen en weet hoe die meeste van hulle uit ’n omgewing kom waar daaglikse oorlewing ’n stryd is, en daarom is die persentjies wat elkeen vir haar op die tafel neersit, so ’n groot verrassing. Eintlik is die verrassing nog groter, want omdat sy gevoel het dat sy nooit tot hulle kon deurdring nie, het sy werklik niks verwag nie. ’n Paar matrieks kom ook ingeloop, elkeen met iets in bont papier toegedraai; sy glimlag en gesels saam en probeer om nie tekens te toon van verbasing en ongeloof en hier en daar ’n bietjie skaamte nie.

Toe al die kinders weg is, sit sy weer by haar tafel. Sy sien hoe vol strepe is die houtvloer weer getrap en oral lê lekkergoedpapiertjies rond wat sy weer sal moet skoonmaak.

Sy sug en tel een van die pakkies op haar tafel op. Die seun wat dit vir haar gebring het, is een van die vaal bondel. Hy is in die klas en hy doen sy werk, maar dit is ook maar al. Sy wonder of sy gedurende die jaar tien woorde met hom gepraat het. Sy maak die pakkie oop en haal twee goedkoop porseleinfiguurtjies uit: ’n oupa en ’n ouma, sy met ’n skotteltjie groente op die skoot, en hy met ’n pyp waaraan hy suig. Onder in die boksie lê ’n kaartjie, en sy maak dit oop en lees: “Dankie wat Juffrou vir my kind beteken het.” Liena kyk na die eenvoudige boodskappie en toe kom die gekerm in haar siel los:

“Ag Here, askies dat die kinders wat U wel vir my gegee het, al was hulle ander mense se kinders, nie altyd vir my so belangrik was soos hulle moes wees nie.”

 

*Lea Botha

Lea Botha is gebore in Bloemfontein en matrikuleer aan die Klerksdorpse Hoërskool. Sy behaal 'n BA THOD Afrikaans-Nederlands/Geskiedenis aan die PU vir CHO en Potchefstroomse Onderwyskollege. Sy het daarna 'n aantal jare skoolgehou, voordat sy bemarker van 'n ingenieursfirma geword het. Sy is getroud met Gert Botha, Meganiese Ingenieur en boorling van Klerksdorp en twee pragtige dogters.

  Lea Botha


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.