NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Herman van Veen se kortverhaalbundel Het badhuis en ander verhalen het onlangs in Nederland verskyn. Lees hier die titelverhaal van die bundel in Afrikaans, vertaal deur Daniel Hugo. Die bundel verskyn Meimaand en word uitgegee deur Queillerie.
  Herman van Veen

Die badhuis

Herman van Veen

Op die laaste werkdag van die week kry die manne van die drukkery hulle loonkoeverte. Klokslag word, voordat hulle huis toe gaan, die los geld gewissel vir vinnige drankies. Vrydae kom my pa dan ’n ietsie vroliker as Donderdae om die hoek van Kievitstraat. Ons eet in doodse stilte omdat my ma ’n hekel het aan drank. Haar pa het eenkeer in ’n dronk bui haar ma amper doodgeslaan met ’n geldtrommel - daarom het ons kinders begrip vir mamma se houding.
     Op een van dié gespanne Vrydae sê my pa: ‘Herre, ons gaan badhuis toe.’ Almal aan tafel kyk op. Die badhuis? Dit dring nie werklik tot my deur nie, dit sou tog nie … Ek kyk na my ma.
     Sy sit met opgetrekte wenkbroue vir my pa en kyk. My sussies het opgehou eet. Iets belangriks gaan gebeur. Stel jou voor, badhuis toe saam met pa. Waar al die groot manne heengaan. Beteken dit dat ek nou groot is? Ek word volgende week agt.
     ‘Ja, mamma,’ hoor ek myself sê, ‘ek gaan saam badhuis toe. Kan ek maar ’n handdoek vat?’
     My ma sit nog steeds roerloos na my pa en kyk.
     ‘Mamma?’
     Sy knik. Ek skuif my stoel agteruit en hardloop die trap op, gryp ’n handdoek uit die linnekas en dreun die trap af.
     ‘Gaan pa saam?’
     My pa staan op, gee my ma ’n soen.
     ‘Jan,’ sê my ma sag, ‘gebruik Herre se handdoek.’
     Vanaand gaan ek nie deur my ma gewas word nie: nie op die wasbakkassie ingeseep, in die wasbak afgespoel, drooggevryf, op die grond getel en in my pajamas gehelp word nie. Vanaand word ek groot. Vanaand gaan ek saam met my pa badhuis toe.
     Hand aan hand loop ons in die skemerige straat af. Op die hoek by die slaptjips-stalletjie sit, staan, hurk, hang die meeste kinders van die buurt soos gewoonlik met fietse, bromponies en skopfietse.
     ‘Hempie,’ roep Jan, ‘gaan ons blikaspaai speel?’
     ‘Nee, ek gaan badhuis toe,’ sê ek, asof dit ’n alledaagse ding is.
     My woorde moes ’n enorme indruk gemaak het, want presies op daardie oomblik begin die kerkklokke te lui. Agtuur.
     My pa koop ’n kaartjie van vyf-en-twintig sent vir ’n kwartier se stort. ‘Mag my seun saamkom met dieselfde kaartjie?’
     Die vrou agter die kasregister kyk my takserend aan. ‘Hoe oud is jy?’ vra sy. ‘Amper agt,’ sê ek. Sy knik en skuif ’n stukkie seep saam met die kaartjie oor die toonbank.
     Ons gaan sit op ’n bank soos by die tandarts. Daar sit al ’n tiental manne; vier van hulle is vol roet. Hulle werk by die gasfabriek. Lyk net soos ’n klomp Swarte Piete. Ek is die enigste jongetjie. ‘Is dit jou seun?’ vra ’n geweldige vet man. ‘En wat is jou naam?’ ‘Herman,’ sê ek sag. ‘En,’ vra die man, ‘kan jy sing?’ Ek kyk na my pa, sing? ‘Jy mag nie hier inkom as jy nie kan sing nie,’ sê die man.
     My pa gee my ’n stampie met die elmboog. ‘Dit is waar, ja; ek het heeltemal vergeet om te sê. Jy mag nie hier gewas word as jy nie kan sing nie.’ Ek verstaan niks nie. Bokant die kasregister hang ’n groot horlosie. ‘Oor twee minute is hulle klaar, dan is dit ons,’ fluister my pa. Daar gaan ’n gonser af. ’n Deur klap oop. Ek kyk nou in ’n lang gang af met tientalle deurtjies aan weerskante. Mans in wit pakke loop op pantoffels deur die gang en stamp aan die deure. ‘Afdroog, aantrek, gou maak. Julle gaan tog nie skoner word nie. Die wagkamer sit vol smeerlappe.’
     Die eerste gewasde manne kom uit, neuriënd en fluitend. Ek ken die meeste van hulle. Truus en Dieneke se pa, Nel se pa, Henk en Max se pa. Die meeste groet my pa. ‘Jan, gaan jy die sonde afspoel?’ ‘Herman, gaan jy jou pa se rug skrop? Dit is hoog tyd. Moenie sy naeltjie vergeet nie. Daar sit altyd pluisies in.’
     Die manne in wit maak die storthokkies skoon. ‘’n Kwartiertjie, nie langer nie,’ wys die oudste met ’n blou deurweekte vinger in die lug vir my. ‘Oor vyf minute gaan die krane oop.’
     My pa staan op. Ons loop in die gang af en gaan by ’n storthokkie in wat nie veel groter is as ons toilet nie. Aan die binnekant van die deur hang bleek houthake. My pa begin uittrek. Dit interesseer my geweldig. Ek het hom natuurlik al amper kaal gesien wanneer hy in die bed lê. Amper, omdat hy altyd ’n slobberige deurgewaste onderbroek aanhou. Maar ek het nog nooit gesien as hy uittrek nie. Eers die hemp, dan die skoene en sokkies, dan die broek en uiteindelik sy onderbroek. In ’n flits sien ek sy meneer. Baie soos myne, maar ’n bietjie groter en gerimpelder en syne hang uit ’n baard. Ek draai verleë om en is in ’n kits uit my klere. Ek hang my onderbroek langs syne op en sien tot my tevredenheid dat syne ook ’n remspoor het.
     ‘Almal uitgetrek? Anders het julle teenspoed.’
     Rug aan rug staan ons onder die stort vir die water en wag. Dit kom in ’n verpletterende straal, asof die hemel oopbreek. Warm reën. My pa begin om hom in te seep. Ek staan asemloos, vasgenael aan die stortvloer. ’n Man begin te sing. ‘Twintig kleine vingers’ en al die stortendes val in. ‘O, wat zijn ze klein.’ ’n Oorverdowende geskater. Ek verstaan nie wat so snaaks is nie. ‘De één hep een wipneus en die andere schat, die andere schat, die lijkt precies op pa pa pa, papperde pa.’
     Almal sing uit volle bors die refrein van Marcel Tielemans se liedjie. Ek kry dieselfde gevoel as by die sing van die Wilhelmus voor ’n internasionele sokkerwedstryd. Ek is ook nou ingeseep en draai soos ’n mallemeule saam met my pa al singend in die rondte. Ek was sy rug, hy was my rug. En die manne sing: ‘All the chapel bells are ringing in the little valley town. La la la la la la la la,’ van Les compagnons de la Chanson en Edith Piaf. Ek sing haar melodie in my eie Engels bo al die mannestemme uit. Die badhuis klink soos ’n kerk. Twintig manne en ’n pikkie van agt met hoendervel galm uit volle kaal bors, begelei deur warm stromende Utrechtse gepypte water.
     Sielsgelukkig. In die badhuis saam met my pa.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.