NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Anna-Marie Radloff
(37) is op Klerksdorp gebore en bevind haar in hierdie stadium van die geveg in Pretoria. As mediese dokter het sy haar “roots” gaan soek deur ’n jaar in die Angola bosoorlog te gaan heel en heul. Sy praktiseer tans as ’n privaat konsultant in Gesondheidsbestuur en Sisteem Analise. In haar vrye tyd molesteer sy mense verbaal op SêNet.
  Anna-Marie Radloff

Onder engele verniel

(Voortvloeiend uit CD: Voël: 34 Grade Suid, Snit een)

Op die eerste dag …

Haar lyf is styf; nee, eintlik is sy absoluut vodde na hierdie deurnag. Dis weird, die lewe is ook altyd ’n paradoks. Kyk, sy het haarself deur die ses jaar van hel gebid tot hier; hier waar alles oor is; gearriveer; finito. Nou begin die shit eers hier buite; dis seker hoe dit is. Die lewe is ’n moerse staircase. Jy klim jou gat af in die hoop dat dit beter vorentoe sal gaan, dat dit makliker vorentoe sal gaan. Fok, ja …
         Hulle sê mos ongelukke kom in dries. Sy kyk vererg op toe die skerm oopgepluk word. “Hei, ek’s besig hier, man. Wat de hel!” Oeps, dis Die Bliksem. Hoekom is professore sulke bastards? Tipies van hom, maar hy like haar darem. Hy sê sy’s ’n “goeie” intern (whatever that may mean). Wel, nou nie so goed soos haar sussie twee jaar gelede nie, sê hy, maar sy is “goed”. So, be thankful for small mercies, I suppose.
         “Hoe ver is jy?” klits sy stem haar teen die kop. Hierdie spoede gee haar altyd ’n vet hangover.
         “Die sesdejaars het al weer nie vanoggend die bloede getrek nie. Ek doen dit gou, anders is dit te laat vir die lab. Ons het gisteraand weer ’n killer wave opnames gehad,” sny sy terug (maar met ’n smile, ter wille van oorlewing).
         Sy het op die harde manier geleer. Mens hou jou prioriteite reg of jy kak.
         Sy ruik skielik die root cause van hierdie professorale belangstelling. ’n Demoniese premonisie. Ongeluk nommer drie is amptelik in aantog. Kyk, eerder die 36-uur-spoed en die professor, maar vanoggend sien sy net nie vir Seksta kans nie. Seksta is altyd gedrench met Beautiful. Beautiful eau de parfum bedekkende ’n subtiele lagie Beautiful lyfroom bedekkende ’n subtiele lagie Beautiful bodywash bedekkende ’n subtiele lagie stink. Die bruingebrande lyf gly om die gordyn tot langs teenaan (te teenaan) Die Bliksem.
         “Hi,” sê sy.
         Ha. Perfek gegroom, uitgerus, beautiful soos altyd staan sy daar. Die bitch het gistraand al weer haar blieper afgesit (as usual).
         “Was jy baie besig? Jy moes my laat weet het, jong. Dis waarvoor ons kliniese assistente daar is,” kom dit uit die pruilbek.
         Hmm, friggen silence is golden …
         “Seksta soek ’n goeie hepatitis pasiënt vir haar gevallestudie. Wat van meneer Van der Walt? Is hy al ontslaan?” blaf Die Bliksem.
         “Hy’s al weg vir sonar. Ek sal nou-nou soek. Hierdie bloede moet eers in,” blaf sy terug (met ’n smile, weer eens).
         Seksta trippel ongeduldig rond. “Ons soek die pasiënt nou,” sê sy ewe pruilerig met net daai tikkie gif by vir die voorsmaak.
         Die bloede was toe obviously laat.

Op die tweede dag …

Sy sleep haar lyf deur die gang op pad huis toe. Shit, sy moet net gaan lê. Nou. Dis al. Skielik peul Die Bliksem by die een privaat kamer uit. “Ek het jou hier nodig,” snou hy (met ’n smile). Sy weet sommer hier kom al weer kak.
         “Ek vra jou want jy is ’n ‘goeie’ intern,” spin hy.
         Snaaks hoe sy stem ’n toon of twee laer daal as hy in “pseudo-gatkruip-mode” gaan.
         “Ek het ’n privaat pasiënt hier. Hy is ’n spesiale geval. Die man se kinders is goeie vriende van my. Meneeer X het terminale prostaatkarsinoom. Hy is erg gedehidreer en op geleende tyd. Ek het sy seuns belowe dat ek hom aan die gang sal hou totdat hulle vanaf Duitsland arriveer. Hulle sal teen Woensdag hier wees en wil hom sien voor hy gaan. Ek maak staat op jou.” Hy draai om en swiep met sy wit jas die trappe af.
         Laat sy tog gaan kyk voor sy waai. Sy is mos ’n “goeie” intern.
         Die kamer is koel en muf. Die dripstaander staan die hele bed toe. Sy skuif dit weg en sien die kombers op die bed. Daar is ’n bultjie daaronder. Dis hy. Die kombers is vol TPA-Staatshospitaal logo’s gedruk. Dit verswelg hom. Die bondeltjie roer effe en’n kreun kom uit die koppenent se kant. Sy kyk op. Sy kyk vir die eerste keer op. Dit slaan haar …
         Hy lyk nogal soos haar oupa, net maerder. Meneer X se oë is op skrefies. Die skemer van die kamer is te skerp vir hom. Sy hande lê perfek gevou bo-op die TPA-logo’s. Perfekte hande; maer, perfekte hande. Dis hoe Liewe Jesus se hande sekerlik gelyk het. Sensitiewe intensiteit, sag; gegiet in kunsvorm van anatomie. Dripnaalde misvorm die perfeksie; spykers oral in vlees ingeslaan. Sy ruk haar oë op toe hy beweeg.
         Prewelende Duits val uit sy mond en hy tas in haar rigting. Sy gryp die fladderende hande sag in hare toe en sit haar mond teen sy oor. “Toe maar, jy’s nie alleen nie; ons gaan jou help,” fluister sy in haar beste baster-Duits. Hy raak weer rustig en swymel in die skemer in. Hoekom voel sy nou so of sy gelieg het? Shit.

Op die derde dag …

Vanoggend is haar lyf seer. Sy het nou net mooi niks geslaap gisteraand nie. Gedroom, gedroom, gedroom. ’n Man het in haar kamer gestaan. Hy het die hele aand net daar gestaan en na haar gestaar. Sy was ongemaklik. Hy wou nie praat nie, hy wou nie sit nie en hy wou nie loop nie. Net daar gestaan met sy oë en na haar gestaar.
         Sy het vanoggend spesiaal ekstra-vroeg ingekom; wil Meneer X sien voor die saalrondte begin. Suster Hoop is besig om sy drip te vervang en die morfien staan reg. Hy is wakker en die blou oë hou haar elke beweging dop; amper gehipnotiseerd, soos ’n insek wat wag vir die final blow.
         Hy trek haar met ’n halwe handbeweging nader tot by sy gesig. Vanoggend praat hy Afrikaans. Hy het ’n sagte stem.
         “Jy lyk soos ’n engel,” sê hy en glimlag.
         Hy vertel haar in kort sinsnedes oor homself terwyl sy bloed trek. Sy slaan nog ’n spyker in die perfekte hand. Dis die enigste plek oor. Sy arms is al verinneweer gesteek; doringtak-krapmerke strategies geplaas op ’n waswit palet.
         Hy was ’n konsertpianis. Hy wys haar sy hande. Hy gryp hare sag vas en bestudeer dit. Sy ruik na die walm van alkoholdeppers. Hy wil weet of sy ook klavier speel. Sy knik. Hy glimlag. Hy praat nie oor sy kinders nie.

Na die morfien sink hy weg en die pynlyne op sy gesig raak minder opsigtelik. Sy en suster Hoop kyk na mekaar. Hulle stap saam die kamer uit en gaan die dag somber binne.

Op die vierde dag …

Haar lyf is seer. Dag-twee-postspoed gee haar altyd ’n dubbel-hangover. Sy loer gou weer by Meneer X in voor tjailatyd. Sy hoor hom vanuit die gang. Hy huil toe hy haar sien. Sy oë lyk soos Liewe Jesus s’n, sy sweer. Sy hou hom vas en prewel in sy oor dat alles beter gaan word. Sy trane brand haar vel; asyn om die dors te les. Sy sê hom van sy kinders; hoop dit bemoedig hom.
         “Is jy ’n engel?” prewel hy en kyk haar afwagtend aan.
         So bly; shit; so oorweldigend bly. Sy hou hom vas. Suster Hoop kom in met die volgende dosis morfien. Hulle moet dit elke keer verdubbel om die pyn te breek. Hy raak rustig in haar arms hier teen sononder.

Op die vyfde dag …

Sy is vanoggend vodde. Weer fokkol geslaap gisteraand. Gedroom, gedroom, gedroom. Die man was weer daar.
         Dank die vader die kinders het gearriveer. Hulle staan daar rond in diepe gesprek met Die Bliksem en onse Seksta. Jolig soos ’n blerrie partie. Alles ge-Beautiful bewalm. Nie een van hulle was nog by Meneer X in nie; staan en praat oor friggen koeitjies en kalfies; kunsuitstallings; die weer; alles behalwe die issue; wag skynbaar vir die oudste broer voor hulle ingaan; hy moes net gou ’n draai by die ambassade maak.
         Daar binne is Suster Hoop in trane. Hy kreun; probeer haar hande vasgryp toe sy teenaan die bed verbyskuur.
         “Jy het gekom, jy het gekom; kom haal my nou,” glimlag hy skielik en kyk warm in haar oë. Die volgende oomblik verloor hy homself en wring haar hande krampagtig vas deur die pyngolf se deining.
         My God, my God, hulle kan hom nie so los nie. Hierdie beker moet nou verby gaan. Sy en suster Hoop kyk na mekaar. Sy hou hom vas en kyk diep in sy Liewe Jesus-oë. “Ons gaan nou alles beter maak,” sê sy sag.
         Hierdie keer lieg sy nie. Hulle druk saam die spuit leeg en sien hoe die chemikalië met sy siel verenig. Sy hou sy hande vas totdat dit koel weer perfeksie bereik. Dit kom voor asof hy net slaap, so in die laken gedrapeer.
         Toe hulle saam die kamer uitstap en die deur toetrek, wag die kinders nog vir die verlore seun; praat nog koeitjies en kalfies; praat sonder ophou. Alles nog beautiful. Sy groet die Professor met ’n smile, sê hi vir onse Seksta, knik simpatiek vir die kinders en swiep met haar wit jas die trappe af. Dit is verby.

Op die sesde dag …

Vanoggend voel sy goed. Sy’t deur geslaap. Die man was weer daar. Hy het haar hande vasgehou. Hy het met sy mooi oë na haar gekyk en saggies in haar oor gefluister totdat sy opgekyk het. Vandag voel sy weer soos ’n mens.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.