NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Annemarie Marais
is gebore in die verre Wes-Transvaal, het skoolgegaan in Linden, Johannesburg en graad gevang by Tukkies. Sedert 1987 is sy ’n aangeleerde Pretorianer, ’n joernalis by Beeld en ma van twee dogters — nie noodwendig in daardie volgorde nie.
  Annemarie Marais

’n Kind speel

Daar is steeds geen wolkie in die lug nie. Sy vryf oor haar klam nek, voel na die koperspeldjies wat die voorskoot aan haar rok hou. Voordat sy wegdraai van die venster, sien sy die kind in die lusernland. Die vaalbruin boksterte hang slap in die nekkie. Onder die oorgroot embroiderie anglaise-romp is die kind se voete vol modder. Maar sy weet daar is eintlik hoëhakskoene of iets dergeliks. Die kind speel.

Sy bly staan voor die oop venster waar die wind al weke lank teen die gaas stuit. Tussen die pers lusernblomme hoor sy sinsnedes soos daar gepraat word met verbeelde mense in ’n uitgedinkte storie. Sy voel na die koperspelde wat die voorskoot teen haar swaar borste vaspen en draai weg na die donker kombuis.

In die skuilte van die kombuis kan sy nie die kind hoor nie, probeer sy vergeet van die oop en wye en kaal blou lug. Op die toonbank langs die sissende gasstoof lê die wit ryskorrels in die skinkbord. Gereed vir kook, sonder die donker korrels wat vroegoggend deur die swart hande uitgevis is.

Die gaasdeur voor die agterdeur klap hard toe as sy na die koelkas in die sonkamer stap. Nou speel en sing die kind op die dak van die witgekalkte koelkamer in die agtertuin. Met haar moddervoete onder die geelwit romp en die haarslierte wat tam teen die voorkoppie hang. Op die grasperk voor die koelkamerdeur gee die plaashond klein tjankies van opgewondenheid en frustrasie omdat hy nie die kind na dáárdie uithoek van die werfvlakte kan volg nie.

Sy haal die lou beker uit die brommende koelkas, hoor die trae vlieë teen die venstergaas en skep die room bo van die melk af. Die kind is soos haar pa — hou van die geskepte room van die melk wat teen die kante van die glas klou as ’n mens dit drink.

Die laaste keer wat sy met die kind se pa gepraat het, was in hierdie sonkamer. Hy het sy koffie in die piering gegooi, ’n rukkie gewag en dit toe met oorgawe opgeslurp. Daarna het hy sy snor afgevee met sy voorarm, haar goedig op die voorkop gesoen en gesê sy moet die vakansie geniet. Met die toeklap van die voorhekkie het hy sy hoed op sy kop gesit teen die vroegdag Februarie-son en sy het bly staan totdat sy voetstappe weggesterf het oor die werf.

Sy begin die drie plekke dek aan die eettafel, wonder of sy die kind moet vra waar haar oupa is. Deur die eetkamervenster hoor sy die geklink van die klein potte-en-pannestel wat gedurende die stil skooltermyne in ’n ou skoendoos gebêre word, besef dan dat die kind platannas vang in die leivoor langs die vyelaning. Sy sal iemand anders stuur om die ou man te gaan soek.

Ná haar seun se dood het sy dikwels agter die vyelaning gaan staan sodat niemand die gesnik kon hoor tussen die geklingel van melkemmers, die gesjor van die afskeier en die uitbundige stemme van die plaaswerkers nie. Altyd voordat sy weer huis toe sou stap, het sy haar gesig met die koel water uit die leivoor natgemaak en met haar voorskoot afgevee, bang dat haar man agter haar brilglase sal sien sy het weer gehuil.

Sy dek die tafel klaar en stap buite toe om die kind te roep. Dié is nie meer langs die leivoor nie, die potjies en panne lê vergete op die kweek. Sy stap om die huis, gaan soek op die stil en koel stoepe agter die huis waar niemand ooit kom wanneer die kind nie hier is nie.

Die kind is nêrens.

Sy knip die een koperspeldjie waarmee die voorskoot teen die rok vasgehou word, oop en toe terwyl sy na die veekraal stap. Die kind hou nie van die leë krale nie, ’n mens sien haar net hier wanneer die diere laatdag van die ver kampe ingejaag word. Met haar ander hand, die hand wat nie aanhoudend die speldjie klikkend heen en weer laat spring nie, vee sy oor haar nat voorkop en kyk op in die wit lug. Bokant die kousophouers onder haar rok kan sy ’n straaltjie sweet voel rol.

Nagte lank het sy loop en soek na haar dooie kind op die plaaswerf. Partykeer, wanneer sy die pad tussen die lande afgestap het na waar hy skynbaar gekry is, het die nagrok bly klou aan haar kaal bene en ander kere het dit in ’n onverwagse wind gebol sodat sy vol hoop opgekyk het: God, ek is ’n hert in ’n dorre streek.

Ook binne die skuur is dit doodstil. Wanneer die kind speel, kan ’n mens haar altyd van ver hoor lag en sing en praat. Tussen die trekkers langs die skuur hoor sy net die plaaskatte skarrel; die hoenderkuikens piep eentonig en bedaard uit die klein kampie en die plaasdam se watervlak is sonder enige onlangse rimpeling.

As sy terugstap huis toe, die een koperspeldjie in haar hand en die voorskoot flappend oor haar borste, is die enigte geluid op die werf dié van die ganse en haar prewelende gebed, die hoeveelste in al die jare.

* * * * *

Hy buk en skuif sy hoed agtertoe op sy kop sodat hy beter kan sien in die duisternis van die pomphuisie. Onder sy hande kan hy voel hoe die pomp vibrerend aan die gang kom en as hy orent kom, sien hy die kind geraam in die deur in die lusernland.

Met wye armgebare praat sy in haar spel, maar hy kan nie hoor wat sy sê nie. Hy druk die pomphuisie se deur stewig toe met die uitstap en stap tydsaam huis se kant toe. Sy vrou kom uit die sonkamer met ’n glas romerige melk in haar hande en hy sien die gaasdeur voor die agterdeur trillend agter haar toeslaan. In sy armholtes klou die hemp aan sy lyf en hy tel oudergewoonte die vlieëplak op en mik na waar hulle tam sit en pote vryf teen die stowwerige venster.

Hy gooi die plak neer op die verbleikte stoel langs die koelkas en stap na die waenhuis. Binne is dit koel en daar is genadiglik min vlieë om die rooi en rou beeskarkas wat aan ’n vleishaak hang.

Hy het al baie gewonder hoe het sy seun gelyk toe hulle hom uit die motor tel. En of die motor nog geloop het en hoe hy dit reggekry het om die vensters toe te hou in die felheid van Februarie.

Die waenhuisdeur skuur oor die sementvloer wanneer hy dit agter hom toetrek, onbewus van die geluid. Hy sien hoe die kind teen die koelkamermure afklouter met die lang romp in haar arms gebondel en om die hoek van die huis verdwyn.

Tussen die blare van een van die vyebome kry hy die laaste vy van die seisoen. Hier het hy dikwels kom sit, ná daardie Februarie, met sy rug teen een van die vyeboomstamme, en na die stof op sy skoene gekyk. In die dawerende stilte het hy elke lied onthou wat sy seun ooit gesing het en die manier waarop hy met oestyd ’n vol sak mielies op sy skouers kon tel.

Hy sien ’n platanna met drie bene in die leivoor afdryf en stap verby die spelende kind na die koeistal. Haar pa het kleintyd die werfhoenders dik gevoer met die platannas wat hy gevang het in die leivoor.

Deur die luggate in die mure van die koeistal ry die stof op die strale van die vroegmiddagson. Hy gaan sit op die kant van een van die voerbakke en steek ’n sigaret op. Die krieweling in sy keel laat sy ore jeuk en hy skud sy kop heen en weer.

Daardie laaste oggend het hy so gesit en kyk hoe die melkers die een na die ander emmer geluidloos wegdra na die melkkamer en skielik geskrik toe sy seun agter hom praat. Anders as wanneer hy na ander mense luister en hy eers hul monde sien beweeg voordat die klanke temerig teen die dowe oorskulp vasslaan, het hy altyd daardie stem onmiddellik en duidelik gehoor. Deur die jare het hy vergeefs probeer onthou wat die heel laaste woorde tussen hulle was.

Hy druk die halwe sigaret dood met sy uitgetrapte skoen en begin huis toe stap. Die ganse fladder voor sy vrou se voete uit wanneer sy met haar voorskoot in haar hande oor die kaal werf na hom aangehardloop kom en hy is opeens bewus dat hy die duwweltjies deur die dun sole van sy skoene kan voel.

* * * * *

Die kind probeer versigtig deur die lusernland trap sodat die lang romp nie deur die modder sleep nie. “En dié simpele stuk lap is die beste klere wat ek het. Ek het niks om aan te trek vir kerk nie.” Sy druk haar poniesterte agtertoe oor haar skouers en gooi haar arms wyd uit. “En dan moet ek op hierdie plek bly. Hier gaan niks aan nie. Dit reën nie eers nie.”

Die skouertjies pluk eenkant toe. “Miskien reën dit môre en dan sal daar ’n goeie oes wees en dan kan jy vir jou die mooiste rok op die dorp gaan uitsoek.”

Sy draai haar lyf skuins, antwoord die skaduwee wat op die pers lusernblommetjies val.

“Op hierdie plat dorp? Ek dra nie die klere van hierdie dorp nie. En wat gebeur as die reën al weer nie val nie? Wat dan, hè?”

Sy wag nie vir die skaduwee nie, maar hol met die hond op haar hakke na die wit kasteel met die steil trappies tot bo van waar ’n mens al die wonderlikste en verste plekke kan sien. Een of twee keer glip die kind se modderige voete uit die smal openinge in die baksteenmure van die koelkamer met die opklimslag.

“Waar is die dae toe ons gesing en gedans het? Ek kan nie gaan dans met so ’n lelike rok nie. Die mense gaan vir my lag.”

Die kind hou die romp weerskante haar lyfie vas, praat sagter: “Ek het altyd gedink ons gaan aanhou sing en vir altyd en ewig in hierdie wonderlike kasteel woon. Maar dit het al weer nie gereën nie en nou moet ek gaan. Dit is die laaste lied — ek gaan nooit-ooit weer sing nie.” Op die grasperk voor die koelkamer kwispel die gehoor waarderend.

Met die afklim van die kasteelheuwel na die vlaktes tel haar romp nog ’n skeurtjie op. Woedend klap sy die potte en panne teen mekaar en sê vir die naaste vyeboom oorkant die leivoor: “Elke dag alles dieselfde. Kook en was en stryk. Niemand om mee te praat nie. Nie eers ’n ou platespeler nie. Altyd net vensters was, want dit reën mos verdomp nooit.”

Met een hou word die platanna se een been afgeslag. Met die spartelende, gladde ding in haar hande tree sy oor die leivoor, gaan staan onder die vyeboom. Sy oorweeg dit om die stukkende platanna vir die hoenders te gaan gooi, maar laat sak dit dan stadig in die watervoor en kyk hoe dit wegdryf.

“Dan gaan ek maar. Daar is baie om te doen op die plaas, veral met Ma en Pa wat met vakansie gaan.”

Die kind hou al agter die vyebome, loop koes-koes want sy weet sy mag nie by die klein hekkie langs die windpomp uit die werf gaan nie. Sy klim oor die hek sodat die skarniere nie raas nie en hoor hoe die romp weer skeur wanneer sy aan die ander kant afspring. Dit is stil. Daar is geen klik-klik soos wanneer die lang pyp op en af gaan as die windpomp daar bo draai nie. Dit het so lanklaas gedraai dat sy eintlik al vergeet het hoe dit klink.

In die lang gras onder die windpomp kry sy waarna sy soek. Sy vee die een kant van die rubberpyp met haar hand skoon en druk dit in haar mond. Lank sit sy so voordat sy eindelik opstaan en stadig al haar klere uittrek. Dan stap sy om die windpomp tot waar die leertjie se eerste sporte roeserig in die lug hang. Die klimmery voel baie lank en sy is moeg wanneer sy haar kop deur die opening in die platform tussen die wieke steek.

Miskien is dit rêrig hoog genoeg. Sy kan die volgende dorp se graansilo’s sien, en dié kant die pad wat tussen die lande loop. Hier onder kom Ouma en Oupa deur die vyelaning en hulle hou mekaar se hande vas.

Die kind waai en maak haar hande bak om haar mond: “Kyk, ek is amper so hoog soos die hemel. Ek kan al amper vir Pappa sien!”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.