NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Anlen Marais is op Fort Beaufort in die Oos-Kaap gebore. Haar eerste digbundel, Die wolf in die blare, verskyn in 1988. Sedertdien het sy haar hand ook aan ander genres gewaag. Haar jongste digbundel, muur van berge, het pas verskyn.
  Anlen Marais

Minuet in G

Elke jaar wanneer dit Advent word, kom dit weer by my op — die wintersmiddag op Fort Beaufort toe ek die liedjie “Dominique” die eerste keer gehoor het. Ma het geglo mens moet van kleinsaf leer lees — storieboeke en musieknote. Daarvoor is die biblioteek in Caledonstraat daar, het sy gesê, en die convent met sy opleidingskollege vir jong nonne uit Duitsland, in Durbanstraat. Al is ons N.G.Kerk-mense.

Die middag was my standerd 2-skoolskoene lank nie meer nuut nie. Van ’n halfjaar se traag loop en skop na al wat akker is op pad musiekles toe. Die suur suster met die vreemde uitspraak het gewoonlik net na my ingestap gekom. ’n Oomblik vertoef sy by die wywater in die deurkosyn. Ek wis dit sonder om om te kyk : die geklingel van haar kettings hou ’n rukkie op. Dan kom sy met haar krakerige swart skoene nader aan die groot klavier in die middel van die donker vertrek om deur my boek te blaai tot by die stuk wat sy gespeel wil hê. Sy’s baie geduldig. Al haak ek dikwels vas. Keer op keer vat sy my hand en wys wat’s verkeerd. Meestal kom sit sy dan maar self voor die klavier om die stuk klaar te speel, terwyl ek deur die matglasvenster na die skewe peperboom buite kyk. Soms hoor ek ’n motor verbyry, of iemand wat skoffel. Dikwels trek die priester juis dan die groot klok langs die kerk en waai die wind die klepel se vet Roomse klanke ons dorp in.

Maar die middag is daar onverwags ’n vrolike gedoente by die convent aan die gang. Oral hang baniere rond : Willkommen. ’n Groep jong nonne kom verby agter een met ’n kitaar aan, al singende “Dominique ... Dominique ...”

Anders as gewoonlik duur dit ’n hele rukkie voor my musieksuster opdaag. Met die kitaarspeler by haar. Dis jou nuwe musiekjuffrou, beduie sy. Suster Katarina. Pas uit Duitsland aangeland.

Met die begin van die lente kom ek daar op ’n nog groter lawaai af. Dis die jong nonne wat rondspartel in ’n helder swembad, wat vroeër altyd toegeslyk was. En daar klim suster Katarina, voor my oë, uit die water. In ’n swart baaibroek ! So normaal soos enigiemand anders. En dit nadat my broer gesê het as mens stout is by die nonne, druk hulle jou onder daardie swart rokke in wat hulle nooit as ’t nimmer uittrek nie. Ook dat die nonne se hare plat op hulle koppe afgeskeer word wanneer hulle met die kerk trou. Weer ’n leuen, kom ek een keer agter toe suster Katarina so vorentoe oor die klavier buk en ’n blonde lok onder haar wit kappie uitglip.

Gaandeweg moes ons aan mekaar gewoond geraak het. Een middag toe ek weer aanmekaar dieselfde fout met die ritme van ’n minuet maak, dans sy uit die bloute vir my, lomp romp in haar hand vasgevat. En ek speel al agter haar bewegings aan.

“Kom,” beduie sy. “Dat jy kan hoor hoe klink die musiek op ’n orrel. Ons moenie vergeet nie — dis eintlik vir ’n orrel geskryf.”

Die kerk staan net oorkant ’n plaat groen bossies wat met die koms van die lente daar verskyn het en gou amper so lank soos ek is. Dis die eerste keer dat ek in ’n Roomse kerk kom. My broer het gesê dis ’n kerk waarin die mense — verbeel jou — Moeder Maria aanbid. En waar die wit-en die swartmense langs mekaar sit! Onmoontlik vir ’n N.G.Kerk-mens om te verstaan.

By die groot deure maak sy die kruis. Agter haar rug oefen ek dit ook. Toe sy die trappies na die orrel klim, drentel ek die lang gang af tussen die brandende kerse deur. Vieserig vir die snaakse geur en vir die kussinkies wat so vetterig afgevat is aan die nate. Daar’s baie goed om na te kyk : die beelde en gebrandskilderde vensters met Petrus op die waters van Galilea en Jesus aan die kruis, die son brandende om Sy kop dat mens Sy oë nie behoorlik kan sien nie.

Suster Katarina moes my in ’n truspieëltjie dopgehou het; sy wag tot ek teësinnig sit voor sy speel. En daar vul die musiek die hele leë kerk of dit ’n windgedroogte sprinkaan is wat weer begin asemhaal. Ek luister aandagtig. Sit selfs regopper. Of ek iets wat ek lank vergeet het, weer begin onthou ...

Toe die groot deure van die kerk agter ons toeswaai, wou ek so graag iets van suster Katarina saamvat huis toe. Op pad na die convent-hekkie buk ek skelmpies en pluk een van die plantjies uit. Dit gaan plant ek agter ons braaivleis-plek se muur. Sonder dat ek iemand daarvan vertel.

En soos my vingers aan die een minuet na die ander gewoond raak en die kwikstertjies begin nes bou in die kweperlaning, groei suster Katarina se plantjie of hy betaal word. Elke dag omtrent is daar sulke nuwe maer blare by. Later val die perskebloeisels van die bome af en begin klein vruggies daaraan hang. Teen einde November, die naweek voor my musiekeksamen, sit ek die Vrydag pal voor die klavier. Na ek en my broer die Saterdagoggend die tuin help skoonkry het, gaan ry ons die middag kano in die rivier. Sommer in platgekapte sinkplaat-kano’s wat hy by die ente ombuig en pik smeer dat dit darem nie te vinnig sink nie.

Toe kom hulle oor die brug — die nonne op hul agtermiddag-wandeling. Voor ek kon keer, spring my broer op in die sinkende kano, maak sy agterstewe kaal, wys dit brug toe en skree: “Nonne ... kanonne ... Nonne ... kanonne ...”

Verskrik probeer ek uitmaak of suster Katarina ook onder die groepie is. Maar hulle lyk almal so eenders. En stap verby sonder om links of regs te kyk, ’n sagte geneurie slenterend agter hulle aan. Net daar klim ek uit die kano en hardloop, sonder om die modder van my voete af te was, stywe-knie terug huis toe.

Toe ek die kombuisdeur oopstoot, weet ek hier’s vanmiddag groot moeilikheid: Suster Katarina se plant lê — wortel en al — op ons kombuistafel!

Na ’n lang Saterdagaand en ’n nog langer Sondag, sit ek die Maandag tussen die ander kandidate en wag my beurt by die musiekeksamen af. Agter die toe deur hoor ek die eksaminator se stem. Ek bekyk suster Katarina stip waar sy so vreemd lyk tussen die ander bruingebrande Afrikaanssprekende musiekonderwysers van die skole in die omgewing — haar hande op die skoot, voete in swart sandale oor mekaar gevou. Buite skud die wind die akkerbome so rond dat die skadukolle soos slakke teen haar skoon, wit nek opkruip.

Een vir een stap die leerlinge in. Later is die hele kamer gevlek van die skaduwees, sodat ek suster Katarina se gesig daar in die wit kappie skaars kan uitmaak. Ek wonder hoe ek vir haar lyk — groot kniekoppig, gevlegsel, bene wat heen en weer swaai sonder om aan die vloer te raak.

Toe die meisie langs my opstaan, weet ek dis amper my beurt om die vrae agter die toe deur te gaan beantwoord: toonhoogte, sleutel, ritme. Ek vee die sweet van my bo-lip af en vat my groot musiekboek al natter. My maag draai ’n slag.

Met die roep van my naam glimlag suster Katarina en bring die kruis om haar nek tot teen haar lippe. Daarbinne het haar Moedertjie Maria my gehelp om die eksamen met een punt te slaag.

Die volgende dag waai die omgedolwe grond tussen die convent en die Roomse kerk reeds teen die ruite en sit daaraan vasgekleef soos spinnerak. Suster Katarina wag my buite die deur in, haar wit kappie rooi van die stof. “Ek het ’n verrassing vir jou!”

Oë styf toegedruk stap ek die kamer in. Voor my uit die dak hang ’n sneeuman van papier en gare, kompleet met hoed, rooi neus en pyp. Ek stap verwonderd nader, draai om en sit my arms om haar sagte middel. “Is dit hoe julle dit in Duitsland maak?”

Sy knik.

“Dankie,” sê ek. “Dis baie mooi.”

Deur die lug kom die vreeslike woorde — wat ek reeds van Saterdagmiddag af verwag het — al nader na my toe gesluip : “Ek is Oos-Londen toe verplaas. Ek vertrek vanaand. Van more af kry jy ’n nuwe juffrou.”

Dit moes die rooi wind gewees het — ek was dadelik so benoud. Die geskenk wat ek die oggend in die skool begin het, is so te sê klaar. Daarom buk ek af om dit uit te haal. Sy staan die kerskaartjie waarop ek met ’n tandeborsel en verf afgietsels van ’n Duitse denneboom probeer maak het, lank en bekyk. Eers dink ek sy gaan lag oor my kersboom meer soos ’n doringboom lyk. Maar sy moes baie daarvan gehou het — miskien meer as van my klavierspel.

Met die kaartjie nog so in haar hand lig sy haar oë oor die stuk braak grond daarbuite. Skuldig wonder ek of sy weet die omgespitte grond is my pa se toedoen. Dat hy die polisiesersant is wat Mother Superior kom sê het dis dagga wat die swart tuinier tussen die convent en die kerk aangeplant het. Die einste bossies wat die jong suster Katarina uit ’n vreemde land so getrou en niksvermoedend staan en natgieter as ek smiddae daar verbykom van die skool af. En waarom sy seker nou verplaas word.

Toe sit sy my kaartjie bo-op die klavier langs die beenwit borsbeeldjie van Bach neer. Miskien het sy nie geweet dis als my skuld nie, maar ek dink sy het.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.