NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Abraham H. de Vries is gebore in die Klein Karoo. Sy eerste bundel kortverhale Hoog teen die Heuningkrans het verskyn toe hy 18 was, sy laaste twee bundels is ’n Plaaswinkel naby Oral en Skaduwees tussen Skaduwees. Hy het aan verskillende universiteite en technikons gedoseer voor hy in 1997 voltyds begin skryf het en nog net eenmaal per jaar lesings gaan gee aan die Universiteit van Amsterdam in Nederland.
  Abraham H. de Vries

DIE BEHOUE HUIS

Vir Hennie Aucamp

Spoke en voorbodes hoort nie in stories nie. Die onverwagte verskynings waarin hulle so uitmunt, is te onverwags; in verhale word openbarings versigtig voorberei, hier ’n woord, daar ’n gebeure. Dis die leser (en partymaal die skrywer) wat die tekens nie raaksien nie en vir wie die slot dan ’n openbaring is, die storie berei homself geduldig voor. Omdat die opnames van vanjaar se radiovertellings vol spoke was, en vol voorspellings, het ek daaroor gesit en pieker toe Antoon sê:

“Ek het my storie nog vir niemand vertel nie.” Ek kon hoor hy vryf met sy hand oor sy stoppelbaard. Ons kon mekaar in die donker nie sien nie. Dis seker hoekom hy die vrymoedigheid gehad het om te vra ons moes nog ’n rukkie onder die wildevyeboom bly sit, hy wou ook vir ons iets vertel. Die verhale van die aand se storievertellers het ons klaar opgeneem gehad. Antoon het glo met Datie Greyling saamgekom, een van die Calitzdorpse vertellers. Ek het hom die hele dag gesien en ook nie gesien nie, ons was met die opnames besig en hy was nie een van die uitgenooide vertellers nie. Daar was soveel spookgeskiedenisse, jagstories, outydse plaasstories, dierestories, moordverhale; party gebaseer op ondervindings, ander wat die vertellers iewers gehoor het, dis aansteeklik vir die verbeelding.

Hier in die Gamkaskloof het vroeërjare vasgehaak in elke huis, elke landjie, elke ghwarieboom en klapperbos, die werklikheid is ’n dagreis ver oor ’n steil en smal bergpad, valleie is tussenstreke, dis hoekom ons hiernatoe gekom het. Maar spieëls bly spieëls, die woesternye van die buitewêreld het vanjaar ook saam met die vertellers hier in die Kloof ingekom. Twee van die jong boere was in Angola; Eljo Kammies en Boetatjie Williams se ouers is in die Distrik in Kaapstad gebore. En toe ons Denys Lampbrecht genooi het, het ons nie geweet die dr. Lampbrecht wat in Pretoria in sy garage verwurg is, is sy oom nie.

Zannie vertel van ’n paar families wat voor die verkiesing van ’94 hier op die kampeerterrein met vragmotors vol proviand, meel, suiker, blikkieskos, selfs hoenders en twee melkbokke kom wegkruip het oor hulle seker was die land sou vergaan. Hy het met albei sy hande op die kieriekop krom en aandagtig na ’n paar van vanjaar se stories gestaan en luister en toe droog opgemerk: “Hulle is toe ’n paar jaar te vroeg weer weg, nê?”

Daniel wat hier en daar na die opnames geluister het om van die klankgehalte seker te maak, het by party sy kop geskud, toe die opname-apparaat en die mikrofone gaan wegsluit in die motor en voel-voel al struikelend deur die riviertjie teruggekom. Nadat Zannie die braaivuur met water doodgegooi het, dat niemand wat in die nag opstaan in die gloeiende as moes trap nie, het hy nag gesê en fluit-fluit met sy flits tussen die bome verdwyn.

In twee hartbeeshuise weerskante van die Doornrivier waar, toe die Kloof nog bewoon was, die Mostert-broers gewoon het, het die stemme en die kwinkslae langsamerhand stil geword. Die spookvangers en die jagters, die grapmakers en die speurders was moeg. ’n Kraan is iewers stotterend oop en toegedraai, ’n houtluik voor ’n venster is toegetrek, die skuifslot aan die binnekant toegeskuif. Selfs hier. Die gewoonte van die wêreld daar buite is sterk.

Antoon het die pitlamp met die donkergerookte glas langs hom op die wildevyestomp neergesit en dit laer gedraai. Die vaal vlammetjie het skaars ’n handbreedte van die ruwe bas verlig. Daar was nie meer huisies in die Kloof nie, nie meer smal boerderytjies weerskante van die rivier , nie meer ’n skoolgeboutjie, nie meer tuine en kronkelpaaie en werwe nie. Selfs die takke van die vyeboom was net nuuskierige skaduwees, wat ons ook later nie meer kon sien nie. In die strook lug bo tussen die bergspitse het ’n paar sterre gehang, los van die konstellasies.

Die donkerte het dié aand almal om die houtvuur oorval, die skemer was so kort. Die skaduwees het nog skaars teen die berghange weerskante begin aanslaan, niemand het gemerk hoe vinnig die skemer op die rivier en oor die bome toesak nie. ...die dag het gedaal, ons gaan ’n onbekende nag in, woorde uit Vader se aandgebed het agter die vertellings in my kop gemaal.

Ons was later net bewegende vlekke lig op gesigte en skouers, op wange en arms, die vure net spikkels lig onder die rook, die kerse was net flou skynsels op die hande wat dit dra, die houttafel waar dit staan, die stukkie muur wat dit beskerm teen die wind.

Tydens die middagsessie al, maar veral die aand, het al die vertellers meer op die hart gehad as waarvoor ons bande saamgebring het. Die onbekende maak herinneringe wakker, hunkeringe en verlangens. ’n Mens moet op hierdie donkerte kan dryf, al is dit net met woorde. As jou gemoed sak, kry die wanhoop vatplek, raak die stories vol versugtings en vrae en opstand.

Ek het gewonder of Antoon ook ’n oor soek, maar toe hy inval, toe weet ek: nee, dit word nie ontboeseming nie, want hy sê:

“Ek is half skaam, want ek het al daaraan gedink, miskien het ek aan die slaap geraak, miskien het ek dit gedroom, dat dit sommer net ’n nagmerrie was” en toe bly hy eers weer stil.

Dis asof ook geluide saam met die lig verdwyn het uit die Kloof. Van anderkant die Gamka, van Verlorenvlei se kant af, het ’n hond getjank, maar daar was nêrens ’n maan in die strook naglug tussen die berghange nie.

“Toe Eduard, my swaer, die oggend verongeluk het, was ek en Carlie, my vrou op Oudtshoorn; Carlie het by die apteek gehoor van die ongeluk. Ek het oorkant in die hoofstraat, voor die Bank, vir haar sit en wag in die motor. Eduard het op die stuk grondpad tussen Van Wyksdorp en Ladismith sy motor of die bakkie, Leon — die apteker — was nie seker nie, omgegooi. Ons wis toe nog nie hy’s oorlede nie.

“My vrou en Lallie van Eduard is ’n tweeling, nie in jare nie, Lallie is ouer, maar hulle is dikwels vir ’n regte tweeling aangesien. Ons het van Calitzdorp af sommer met die grondpad oor die berg Van Wyksdorp toe gery. My ou swaer was nie ’n onverskillige man nie. Nadat hy toe die stabiliseerder vir sy kamera in die Kaap in die hande gekry het, sou hy ook nie met die Renault gejaag het nie. Dan seker met die bakkie, het ons onderweg met die pad oor die berg gesit en redeneer, soos ’n mens mos nou maar jou hulpeloosheid wegpraat.

“Eduard het so twee of drie jaar eerder sy werk verloor, hy was ’n skoolhoof in Gauteng, ’n driemanskooltjie. Die pakket wat hy gekry het, was genoeg om die verwaarloosde proteaboerdery naby Van Wyksdorp te koop, dit was net in die tyd toe die buitelandse mark vir ons proteas weer begin oopgaan het. Hulle was ook net toe besig om blomme en groente vir die binnelandse mark aan die gang te kry, hy het kweektonnels van plastiek op ’n paar landjies naby die werf geprakseer. Ek dink nie hy was juis jammer dat sy onderwysdae tot ’n einde gekom het nie.

“My ou swaer was gek na motorresies. So besadig soos wat hy gewoonlik was, so gek was hy oor resiesmotors. Self het hy nooit gejaag nie, net gekyk. As daar motorresies op TV was, al is dit in die middel van die nag, was Eduard op en voor daardie kassie.

“Dis waar die idee vir die kamera vandaan gekom het. Daniel, jy weet seker hoe hulle dit doen, partymaal so in ’n resies skakel hulle oor na ’n kamera toe wat in een van die resiesmotors ingebou is, dan voel dit vir jou jy sit binne-in die motor. Jy sien hier kom die pad aan en die veiligheidsheinings as die motor van die baan afjaag en dit voel vir jou jou stoel skuif saam om die draaie!”

“Dis dié kameras in die resiesmotors wat Eduard op die idee gebring het. Hy wou in die Renault op die paneelbord ook een inbou. En as hulle dan rondtoer, hulle was so lief vir ry, wou hy die kamera aanskakel en dan kon hulle by die huis weer al die plekke bekyk. Anders neem ’n mens net af waar jy stilhou. Eduard was ’n dromer, die een droom groter as die ander; sy blomboerdery het hy bestuur soos g’n ander boer sy plaas kon bestuur nie, maar as jy by die huis in sy studeerkamer was, het hy die ander Eduard ontmoet. Altyd aan die prakseer. Ou horlosies reggemaak. Elektriese goed wat gebreek het.

Tydskakelaars. Draadlose. Die kamera — destyds was videokameras nog skaars, vandag kry jy hulle oral in elke supermark — die kamera het hy van Melbourne af laat aanstuur, sy buurman in Gauteng het ook maar soontoe getrek vir die kinders se toekoms.

“So ’n kamera skud natuurlik as jy vir hom net op die paneelbord neersit, dat g’n mens iets kan sien nie, en hy val nog af ook. Dis waar die stabiliseerder toe gesoek word. Sy hele familie het die storie saam deurgemaak. So ’n ding was destyds al deksels duur, duurder as die kamera. En waar bou jy die ding nou in? En hoe?

“Maar al die probleme was opgelos voor hulle daardie Julie-vakansie Wildtuin toe gegaan het. En om eerlik te wees, daar is natuurlik dinge wat so ’n kamera opneem en wat ’n mens self nie oplet nie. Veral plekke langs die pad, die veld, huise, plase se naamborde (wat hy dan op stadige spoed leesbaar kon maak as hy die film redigeer). Ek slaan die storie van die redigeerapparaat maar oor, maar van die kamera en die stabiliseerder moes ek vertel.”

Ek het toe al nie geweet of ek Antoon moes glo nie, maar aan sy vertel het dit nie gelê nie. Almal wat die dag stories vertel het, het die ander se gesigte gehad om hulle te lei, selfs die aand nog was daar die ander se reaksies. Hy het teen die donker in vertel. Voel-voel, ek het hom geglo dat dit sy eerste keer was.

“En waar die ongeluk gebeur het. As ’n mens van Ladismith af Van Wyksdorp toe ry, omtrent ses kilometer nadat jy afgedraai het van die teerpad af, gaan jy by die bruidshuis verby, so noem die mense die plek, daar het ’n tragiese storie in die Groot Griep afgespeel. Nou, tussen die bruidshuis en Van Wyksdorp sit net nog die een huis regs van die pad op ’n groot werf, vroeërjare was dit ’n volstruishuis. Daar is ’n peperboom en ’n hoë watertenk op die werf en ’n roostuin. Die roostuin was al vroeër daar, toe die Van Zyls nog daar gewoon het, ’n mens sou dink die droogte het die rose jare gelede al uitgeroei, maar die rose het al die eienaars oorleef.”

Hy vryf aan sy arm asof hy koud kry.

“Bý daardie volstruishuis, dis waar die ongeluk gebeur het. Die Van Zyls wat in die volstruisveertydperk daar gewoon het , was welgestelde mense, en die ou man het in sy testament spesiaal ’n bedrag per jaar nagelaat waarmee die huis, met sy hoë stoep en die broekieskant en die mooi houtreëlings, onderhou moes word. Dit is ook al die jare gedoen. Selfs nog nadat die Fromm’s daar aangeval is. Ou meneer Van Zyl moes ’n aanvoeling gehad het dat daar sulke tye ook sou kom.

“Toe ek by die wrak kom, het ons al geweet wat met Eduard gebeur het, hulle plaas lê aan die Riversdalkant van Van Wyksdorp, ons was natuurlik eers by Lallie. ‘Eduard was Kaap toe, hy het gisternag laat teruggekom, maar hy wou vir banksake Ladismith toe gaan. Hy moes agter die wiel aan die slaap geraak het,’ het Lallie verduidelik, en dit het my opgeval hoe sy nog daarvan praat asof dit met iemand anders gebeur het. Daar is niks wat die mens se gees so traag aanvaar as verlies nie.

“Calitzdorp se polisie was al by die ongeluk toe ek daar aankom, en eintlik alweer op pad terug. Konstabel Meyer het vir my die hale op die grondpad gewys. ‘Daar’t hy van die pad af begin ry,’ en hy het bygevoeg: ‘As hy ’n paar treë eerder of verder aan die slaap geraak het, het hy miskien nog geleef, hy sou net hier deur die draad en in die veld in gejaag het.’ Toe’s hulle weg, ek het kans gehad om alleen alles te bekyk.

“Waar die Renault van die pad af geloop het, is ’n bruggie, seker so twee meter hoog, daar loop ’n riviertjie onder die pad deur. Die Renault het half op sy neus in die rivier bedding te lande gekom, aan die bestuurder se kant was die motor ingeduik tot teen die sitplek, oënskynlik teen ’n uitsteekrots in die bedding. Hy kon nie veel gely het nie. Dit het ook nie so gelyk toe ek na hom in die lykshuis op Calitzdorp gaan kyk het nie.

“Net daardie snaakse trek op sy gesig, wat nie in die dood weggesak het nie, die frons op die voorkop, die trek om die mond, soos iemand wat iets nie begryp nie, iemand wat baie verbaas is. Julle ken seker stories van sterwendes wat dinge sê of doen wat laat lyk asof hulle anderkant die graf kan sien, asof iemand wat hulle ken hulle uit ’n ander dimensie tegemoet kom. Byna só het die trek op sy gesig gelyk.

“Toe ek in Eduard se motor kyk, sien ek die kamera het afgebreek van die stabiliseerder op die paneelbord, dit lê voor die voorste sitplek, die polisie het dit nie raakgesien nie.

“Ek het nie daardie aand vir Lallie of iemand van die kasset vertel nie, ek weet nie hoekom nie. ’n Week of so na die begrafnis, by die huis, toe ek na na ’n naelvyltjie soek, kry ek die kasset in die motor se paneelkissie. Daarna kon ek vir niemand vertel wat ek daarop gesien het nie.

“Carlie en die kinders was die aand iewers heen, fliek toe, dink ek, toe ek vir die eerste keer na die video gekyk het. Dit het niks oorgekom in die ongeluk nie. Eduard moes die kamera aangeskakel het net nadat hy uit Ladismith uit weggery het, want die eerste beelde begin by die wildreservaatjie, die naambordjie is net lank genoeg op die skerm dat ’n mens dit kan lees. Dan maak die pad ’n paar kort draaie en weerskante van die pad sien ’n mens die droë Karooveld. In die lug hang ’n paar vlieswolkies, dit was ’n helder, oop oggend.

“Net na Van Wyksdorp se bordjie draai hy stadig van die teerpad af en dan hou hy stil. Jy sien tot die skalieriwwe teen die randjie, seekant toe, laag op laag sandsteen, netsoos in Seweekspoort. Onderseese afsetting, sê hulle. Dan klap ’n deur of die motor se bagasiebak toe en net daarna trek hy weer weg. Stadig, hy jaag nie, daardie Renaults wieg mos so oor slegte pad. Tot die ongeluk.” Weer die stilte. “Ek weet ook nou nie of ongeluk die regte woord is nie.

“Hy ry so vyftig, skat ek, maar miskien misgis ek my, as ’n mens na ’n Grand Prix kyk, is dit ook moeilik om te skat hoe vinnig die motor loop. Hy het nie gejaag nie.

“Jy sien daar anderkant langs die pad sit die volstruishuis, die pad is taamlilk reguit, die huis bly voor. Ek het eers gedink dis die verkeerde huis. Dan sien jy die stoep en die gekraakte stoeptrappies wat van die werf af op na die voordeur toe loop. Dan is daar die slag...”

“Vóór die motor van die pad af loop?” vra Daniel.

“Ja, vóór.. Ek het nou iets oorgeslaan, ek weet nie hoe om dit te vertel nie. Ek sal net sê wat ek gesien het.” Asof hy wou moed wou skep, vervolg hy soos iemand wat presies probeer verduidelik:

“In die hartjie van die somer steek daar party dae in die Klein-Karoo ’n ondraaglike warm, bedompige wind op dat jy skaars kan asemhaal. Partymaal is dit so warm, dit voel vir jou asof die wind jou kan skroei. As ek in die somer by ons koel kombuis uitgestap het buite in sulke vlae in, het dit vir my gevoel ek loop teen die wind vas, teen iets harders as wind, iets wat jou vanself laat terugsteier.

“So het ek gevoel. Dit was asof daar van anderkant die huis se werf af so’n wind kom en alles verskroei, alles laat verkrummel. G’n mens sal dit glo nie. Waar die huis se vensters en die deure gesit het, is net swart openinge. Aan die paar stukke dakgebind wat nog orent staan, hang ’n paar kromgetrekte sinkplate, die veranda het die pilare skeefgetrek, die mure is oral gekraak en vuil.

“Om die werf lê rolle swart lemmetjiesdraad, maar verder is daar niks, niks meer oor nie, nie eens die paaltjies van ’n heining nie, alles is verlate. Die huis is ’n ruine, soos die afgebrande huise wat ’n mens in films sien van oorloë. Toe ek die bandjie vir die tweede keer speel, sien ek die watertenk het ook skeefgesak op sy platform, dit hang hulpeloos tussen die stutpale.

“ ’n Golf het oor die huis aangespoel gekom, so het dit vir my gevoel, iets onsigbaars, iets waarteen die motor ook vasgeloop het, tot die kamera toe stukkend van sy stabiliseerder afval. Eduard moes dit gesien het.

“Ek weet nie of dit die waarheid is nie,” sê Antoon. “Ek het dit vir niemand nog vertel nie, want wat ek daarvan kan vertel, is al wat oorgebly het. Die derde keer toe ek probeer kyk, was daar niks. Die band was skoongevee. Asof die kamera iets afgeloer het wat niemand moes sien nie. Ek weet nie waarvandaan hierdie ding na ’n mens toe kom nie.”

“Ons het jou ook net afgeluister, ons het niks opgeneem nie,” sê Daniel en Antoon het vir die eerste keer gelag, byna verlig. Ons het nog ’n rukkie gesels, maar ons het van sy verhaal af weggepraat. Hy het later by Datie Greyling-hulle in een van die Mostert-broers se huis gaan slaap, ons is deur die rivier terug na ons kamer toe.

Nadat ek die kers voor my bed doodgeblaas het, sê ek: “Ek wil nou nie met ’n storie stry nie, maar ek ken daardie huis.”

“Jy sê jy’s seker dis net ’n storie?”

“Na die Van Zylsgeslag het daar Hendrikse gewoon, hulle het lank na die bruidshuis ook omgesien. Toe was daar mense, ek vergeet seker met opset hulle van, want van hulle doen nare verhale die omloop, al hulle werksmense het getrek. Die huis het ons geskiedenis nie gespaar gebly nie.

“Nou onlangs was die plek weer in die nuus toe die Fromm’s vermoor is, Walter en Inneke Fromm. Hulle kinders is almal profesionele mense, nie een boer nie. Die plaas is toe op ’n veiling verkoop, ek weet nie aan wie nie, maar die Van Zyl-geld sorg nog vir die huis. Ek het nou die dag daar verbygery,” sê ek. “Die huis lyk nog soos altyd.”

Die flou lig van die lamp waarna Daniel sit en staar, flakker klein in sy brilglase, rook die skoorsteentjie aan die een kant swart. Daar is geen haas meer nie, dit duur lank voor hy antwoord:

“En tog het dit al begin.”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.