NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Henning Janse van Vuuren
Henning Janse van Vuuren woon in die asemrowende Kransberge in die Noordelike Provinsie.
  Henning Janse van Vuuren


Kronkelpadbeloftes

Henning Janse van Vuuren

Messina is nog buite sig wanneer die son heldergeel oor die klipperige horison verrys en luilekker oor die geroeste VW-kombi strek. Ons is op pad grens toe, Beitbrug, dan Zimbabwe. Die voertuig se skaduwee soos ’n skeefgebakte brood agterna. Dit is ’n 79-model, 2000L, spesiaal deur hulle gekies omdat die voertuig onopsigtelik is en miskien omdat Bert al een is wat bereid was om sy voertuig vir die missie beskikbaar te stel. Dan ook, hy is al een met ’n kar. Nie te lank terug nie het ek dit self breed gehad, maar nou ja, dit is ’n ander storie. Daai is Meerkat se dinge.

Bert se bynaam is Bun. Hy bestuur. Sy venster is effens oop, net genoeg om die wind skril deur die venster te forseer en rukkerig aan die krulhare agter sy sproet-ore te pluk. Daar was ’n tyd toe ons hom Duracel genoem het, hy was heelwat kleiner en die koperkleur van sy hare het eers later jare verbleik. Vandag is sy kop buitengewoon te groot vir sy lyf. Lorette sit langs hom, sy cherrie al van skooldae af, een aborsie, nie Bun s’n nie, regterhand op sy been. Van hier waar ek nou sit is sy kop maklik twee keer groter as hare. Lorette het sulke ylerige hare met geen definitiewe kleur nie, vaalbruin met streaks, halfpad uitgegroei en slordig.

Langs my lê Speek, Lorette se broer. Sy noem hom Boetie en hy noem haar Sussie. Jissis tog. ’n Ou kan sien hulle is familie, die bleekgeit, die blou are wat padkaartjies na nêrens onder die deursigtige vel trek. Ek hou hom so ’n rukkie dop.

Ons het die agterste bank van die kombi uitgehaal sodat daar meer pakplek is, ook sodat ons beurte kan maak om te slaap. Speek se ma het bekommerd gelyk toe ons gisteroggend daar weg is, maar ek het vinnig vir haar gesê sy worry verniet, als is orraait. Dié ding kon nie toe gestop word nie. Ek het my redes. Sy het gesê sy vra tog so mooi dat ons nie weer gaan kak maak nie en gedruk-druk aan die ligpienk krullers in haar grys hare. Sy het gesê sy kan hulle nog verstaan, maar ek kom as ’n surprise, ek met my universiteitsvrystelling en ôll.

Omdat hulle nie vir my ’n bynaam uitgedink het nie, het ek self besluit op Meerkat.

“Frans, is Speek al wakker?”

Speek roer langs my en steek sy bleker as bleekgeslaapte gesig heeltemal onder die grys kombers uit.

“Waar is ons al?” wil hy gapende weet.

“Lyk my so,” sê ek.

Hierdie plan, moet ek dalk eers verduidelik, was nie deur net een van hulle uitgedink nie. Dit was klaarblyklik meer ’n ding wat posgevat het, as‘t ware, en toe self in ’n plan ingegroei het. Met ander woorde hy is uit homself gebore, of dalk is Lorrie, Bun se cherrie, nog reg. Dalk was sy nog deur die gees gelei. Hulle wou eintlik nog daai selfde aand van die plan ry, maar Bert se broertjie het hulle uitgelag:

“Dink jy jy klim net in jou fokken kar en ry oor die grens?”

Hy is nog ’n klein snotneus, maar ek sê jou, hy is clever.

“Ons weet dit, jou klein balls-up. Gaan mind jou eie bliksemse business.”

Toe eers het hulle my gevra om deel van die plan te word. Net Speek was verbaas omdat ek sommer dadelik ja gesê het, die ander twee het nie ’n oomblik getwyfel dat hul slim plan my oorreed het nie, of so dink ek. Die paspoorte het ons plan amper in die wiele gery. Red tape, bureaucratic red tape het hulle vir my na ses weke gesê. En toe, skielik was dit daar om af te haal, ’n week of so terug. Die paspoorte was my verantwoordelikheid, Lorrie sou die padkaarte kry, Bun die van check en Speek die gun. Almal moes kos en geld gee.

Speek het ’n connection op Messina vir die gun.

“Speek ...” Bun praat weer, “daai connection van jou beter to light kom!”

Lorrie giggel altyd verskriklik as Bun oor die gun begin praat, en die ammo. Sy is nie fokken lekker nie. Sy sien ek kyk vir haar.

“Ek dink ons gaan te vroeg wees,” sê Speek.

Bun druk die spieëltjie sodat hy ons kan sien sonder dat hy sy lyf hoef te draai.

“Dis ok, ons hang net so bietjie bal op die dorp.”

Sy giggel weer en trek haar wit knopknieë tot onder haar spitsken.

Ek het nog nooit iemand geskiet nie, maar Meerkat is nie bang nie, hy skroom nie, hy kan opfok as dit moet. Ek sal lat hy eers sy job doen en ek dan myne. Langs die pad flits kremetartbome verby en rotskoppies. Koper word op Messina ontgin. Eintlik moet ek Maandag in die hof wees. Die Staat het vir my ’n prokureur gereël, verniet, ’n ouerige toppie. Hy het gesê die sielkundige se verslag sê dat ek nie mooi verstaan het nie en ek hoef nie bang te wees nie, ek sal nie tronk toe gaan nie - of ek dit verstaan. Ek gaan eers in die hospitaal bly. Ek het al vir Bun gevra of ek vir hom siek lyk:

“Hei, Bun! Lyk ek vir jou fokken siek?”

Lorette giggel weer.

“Nee, Frans. Jy lyk hei-ok, pel. Trek jy maar net daai sneller as die tyd daar is.”

Hy knipoog vir Lorrie, hy weet wie is in beheer. Dit word weer so warm hier in my nek op, op na my kop toe, spikkeltjies, dowwe vonkies, vonkies ... nou net stilsit, diep asemhaal.

Speek pluk-pluk aan die kort hare agter sy ore. Daar sit al sulke kaal kolle. Ek klap sy hand weg van sy mond af:

“Hei, fok! Ek het gesê, hou op om jou hare te vreet. Jy kry net die gun, ek sal skiet, pisbroek!”

Hy lig sy hand asof hy my gaan klap, maar ek frons befok en hy laat sak vinnig. Hulle weet nie van my nuwe dinge by die hof nie, Meerkat se dinge. By daai tyd is ek weg, kom ook nie terug nie. Maar ek gaan nie nou al my plan sê nie. Dit is eintlik ’n lokval, maar ek kan nie nou sê nie.

“Lovey, stop eers, toe.”

“Aag here, elke vyf minute?”

“As ek moet gaan, moet ek gaan!”

Bun draai vererg van die pad af en almal klim uit. Die son gaan weer bak, herfs of te nie. Vorentoe strek die pad soos ’n dik, swart streep tussen die hange voor ons uit. Tussendeur die geroep van die duiwe hoor ek druppels val en dan sypel ’n geel stroompie agter die band uit.

“Sussie, kan jy nie maar soos ons in die veld pis nie?”

Sy stap agter die kombi uit, steek haar T-hemp diep in en maak die jean se knoop met ’n geswets vas.

“Die gras kielie.”

“Net ek mag daar kielie,” brul Bun besitlik en gryp lomp na die vou tussen haar bene. Sy spring behaaglik vorentoe en help sy hand reg.

Wat ’n sight for sore eyes, sou my ma gesê het.

Ons besluit om eers koffie te drink voordat ons verder ry, uit Speek-hulle se geel fles.

“Die fokken goed is klaar koud, die ding is stukkend. Jy kan hom net sowel wegbliksem,” sê ek.

“Het jy miskien beter?” snou Speek.

“Ek bedoel maar net ...”

Bun chip ok sommer in: “Hy scheme mos hy is perfek. As hy klaar geskyt het, vee hy seker sy maag aan die binnekant ook uit.”

Hulle lag.

“Wat ek eintlik wou sê is, is, wat ek bedoel het, is ... ek dink daai blink ding daar binne is dalk stukkend.”

“Lekker, ou Fransie,” koggel Lorette.

Met haar een hand maak sy of sy ’n roomys teen haar voorkop vasdruk en rol haar oë in wye sirkels. Ek lag nie, Meerkat wringend in my lyf, ek haat dit as hy so binne my druk.

“Ou roomyskind, ou roomyskind!”

“Moenie, Pa, moenie!”

“Hierdie is my slimste kind,” het Ma altyd gesê en my hoog opgetel.

“Sit my neer!”

“Los my!”

Bun en Speek pluk my arms om haar nek los.

“Frans!”

Los, Meerkat, los haar!

“Ek haat jou!” gil Lorette en spring terug in die kombi sodra my arms verslap.

Sy klap die deur hard agter haar toe. Van waar ek hier op die grond lê, kan ek sien hoe haar kop tussen haar hande skud, ’n straaltjie bloed vryelik oor my lip.

Bun skop weer: “Don’t fuck with me!” sweef die woorde agter sy bewende wysvinger uit.

’n Voertuig verminder spoed, Speek help my op, nee, alles is reg, meneer. Beneweld klim ek terug, die deur gly toe. Ons ry weer. Bun se mond beweeg aanmekaar, sy kop voor-en agtertoe, vingerwysend na my, die gedruis in my ore klaar in vlae op.

“... skiet ek jou vrek, hoor jy? Hoor jy my? Ek soek jou nie naby haar nie, jy bly weg van haar af! Kan jy my hoor, jou verskoning van ’n fokken halfmensrubbishkak!”

Meerkat, jy vat dit te ver.

Die atmosfeer in die kombi is nou baie tense, niemand praat nie.

“Ek is jammer, Lor-”

“Shut the fuck up! Wat het ek jou gesê?”

Bun wil my sommer van voor af met die rugkant van sy hand bykom. Ek gee hulle kans, tyd genees alle wonde, sê ek altyd.

“Bert ...”

“Jy fokken soek my!”

“Bert, jy weet my pilletjies is op,” druk ek vinnig deur.

“Jy is ’n rubbish, man! Jy moet kophou!”

Ek kan sien hy is kwaad, maar dinge lyk beter, hulle ken my. Hulle weet ek moet my pille vat. Hulle weet van die keer wat Pa my so met die fanbelt geslaan het.

“Ek sê net vir jou, jy bly weg van haar af. Ek sal jou vrek maak.”

“Dis reg so, Bun, sorrie, Lorrie.”

Welkom in Messina.

Ek kyk op my horlosie, sewe-uur. Regs van ons lê ’n watertoring, die kombi draai die dorpie na links binne.

“Speek.”

Speek sit weer en visvang. Ek skop sy skoen.

“Watsit?”

“Waantoe, ons is nou hier?”

Bun slack effens af terwyl hy vir Speek wag.

“Ok, ok ...”

Hy trek homself regop en steek sy kop voor tussen hulle in.

“Ok. Hy het gesê reguit tot by die shopping centre en dan regs, dan weer links, nee, regs um ... en dan die vierde huis links.”

Bun frons, maar ry weer ’n bietjie vinniger.

“Wat is hierdie, is dit hier, Speek?”

Regs van ons is ’n kafee en ’n garage.

“Ek weet nie, Bun.”

“Wat fokken weet jy, is dit hier of nie, jy moet nou vinnig praat. Almal het ’n job gehad, is dit of nie?”

“U ... uh  ...”

Bun draai, maar die straat loop verder af dood. Hy draai om.

“Wat dink jy, Frans?”

“Gaan regs en nog reguit.”

Ons ry verder, maar kry nie nog winkels in dieselfde straat nie. Bun begin senuagtig oor sy jeans vryf, die stuurwiel klam onder sy palms.

“Ek dink dit is hierdie straat!” sê Speek skielik.

“Hoekom?” vra ek.

“Dit voel net so ...”

Bun ontplof. Dit was te verwagte, dit het begin broei: “Dit fokken voel net so, jou kont! Ons ry al vyftien minute hier rond! Al wat jy moes doen was om die fokken adres neer te skryf, was dit te moeilik?”

Hy slaan vir Speek wild deur die gesig, Lorrette gil nou ook: “Hy het die moeilikste werk gehad, Bert! Hoekom kon Frans nie die adres reël nie!”

“Fok jou,” sê ek vir haar, terwyl Speek met sy hande voor sy gesig weer langs my neerval.

Ek is omring deur idiote, die god weet, ek weet nie wat soek ek hier nie. Dan onthou ek:

“Die man wat Robert Mugabe vrek skiet, ek lek sy gat vir hom blink ...”

Maar dit is nie die grootste rede nie, daar is die ding met Meerkat, my en sy moeilikheid.

“Jy shien Fransh, elke mensh ... kry net eenmaal die kansh ... om iets grootsh te doen ... Ek het myne laat verbyglip. Jy shien, drank en vroumenshe ... drank en vroumenshe, het my nou, het my waar ek nou vandag shit, onder in die put. Maar jy ... jy ou sheun, jy moet wragtig daai kansh vat ash hy kom.”

Die bottel het tussen sy vingers uitgegly en die laaste bietjie brandewyn het oor die gras uitgeloop.

“Fransie, kom, gaan doen jou huiswerk! Anders eindig jy nog net soos jou pa op, ’n regte slapgat!”

Ek het haar nie sien uitkom nie.

“Maar dit is dan Saterdag, Ma”

“Moenie teëpraat met jou ma nie. Is ek nie goed genoeg vir jou nie? Is dit hoe jy wil opeindig?”

Die sigaret het ferm beduie na waar hy oopmond gelê het, sy asem diep en onreëlmatig.

“Ek gaan nou na Debbie toe, ons gaan my hare perm. Jy gaan huiswerk doen, geen maars nie!”

Ons ry weer in die straat af, van waar ons begin het.

“Jy beter my nie drop nie, Speek. Ons het daai gun nodig.”

Ek soek daai gun.

Speek kyk angstig deur die ruite, “Die vierde huis regs, die vierde huis regs ...” Sy lippe vorm die woorde oor en oor.

“Het jy gesê die vierde fokken huis links, of die vierde huis regs?”

“Frans, los jy vir Boetie uit!”

By een van die huise kom ’n man uitgestap, sy lang hare agter sy kop vasgebind. Hy hou ons ’n oomblik dop en wink dan, sy hemp oop oor sy harige maag.

“Dis Johnny, wat het ek julle gesê! Dis Johnny, hoezit, Johnny!” Speek waai angstig teen die ruit. “Dit is die vierde huis, sien jy, jou poes!”

“Ek bliksem vir jou, Speek.”

Die man maak die hek oop en beduie ons moet agterom ry.

Speek is eerste uit, ek bly sit.

“Wag julle hier,” sê Bun.

Hulle verdwyn saam met Johnny by die agterdeur in. Lorette sit stil voor haar en uitkyk.

Twintig minute gaan verby.

“Ek wens ek was ryk,” sê sy, “ek het gedink jy gaan nog ryk word.”

Die deur bly toe.

“Jy is slim, Frans, maar jy is mal. Iets met jou is nie lekker nie.”

Sy giggel skielik.

“Is jy nog lief vir my?”

“Asseblief, Lorrie. Nie nou nie.”

Meerkat, nee!

Sy draai haar lyf na my toe.

“Bert weet dit was joune, hy weet. Ek het hom alles vertel. Hy weet jy het my gerape, hy weet als. Ons weet van hierdie ander girl, dink jy ons lees nie koerant nie, dink jy ons is stupid?”

Lorette was die eerste vrou by wie ek ooit geslaap het, sy het teëgestribbel, maar ... die ander een is dood.

“Dit lieg jy.”

Ek moet uitklim. Die deur swaai oop en Bun kom uitgestap met Speek agterna. Johnny bly in die opening staan:

“Take it or leave it.”

Haal diep asem, haal diep asem, haal diep asem.

“Frans, sal jy dit met ’n .303 doen?” Bert lyk bekommerd.

Die skuifdeur gly oop en ek klim stadig uit, die vars lug help. Diep asem. Ek loop stadig om.

“Kan ek sien?”

“Speek, bly jy hier,” sê Bun.

Johnny loop voor. Dinge is nog newelrig, ek speel vir tyd. Bun weet, Meerkat, hy weet van Lorrie. In die kamer vat ek die jaggeweer met bewerige hande en skuif die slot oop en toe, dit is gelaai.

“Ek sal dit met ’n .303 doen, ja. Dit gaan moeiliker wees, maar ek sal dit kan doen.”

Ek strek my arm ongemerk teen die loop af, my vinger steeds gemaklik op die sneller. Bun en Johnny nou al krappende in die kluis. Mense soek jou, Meerkat. Ek soek jou. Ek haat jou. Die tyd het gekom dat jy dit moet weet.

“Daar is net vyf patrone, Frans,” sê Bert met sy rug op my gekeer.

Die loop forseer ’n ring onder my ken, die sneller koud teen my vinger. Ek probeer druk, niks gebeur nie.

“Wat de fok maak jy?”

Speek se mond hang oop, die ander twee draai om. Ek laat die geweer vinnig sak.

“Frans, hou op speel. Wat soek jy hier, Speek? Ek het gesê, wag in die kombi. Ek gee jou nie meer as R500 nie, Johnny. Dit is nou ’n heeltemal ’n nuwe deal.”

Daar bly ’n swart oliekol op die sementblad agter. Met die R500 in sy sak trek Johnny die hek agter ons toe, ’n onpeilbare glimlag op sy gesig. Die geweer lê tussen ons in een van die grys komberse toegerol, een patroon in die loop en vier by Bun. Die geweer lê sommer reg by my, hier by my voete. Speek sit en uitkyk, al agter Johnny aan, die ander twee vorentoe. Dit is die geweer wat vir Robert Mugabe moet skiet. Tot hy ook so stil gaan lê en bleek word, en styf ook, later ... soos ...

“Ek is klaar,” sê ek, “ek gaan nie aan nie.”

Wat doen jy, Frans?

“Ek sê ek gaan nie aan nie, Meerkat!”

Jy is ’n fokken pateet, Frans, soos jou pa. Iemand sê iets. Ek dink hulle kyk nou vir my. Ek loer onderlangs, maar daar is spikkels, helderrooi swysvonke in meesleurende strome.

“Jissis, hy gaan ons drop. Het hy nog pille? Fok, Speek, soek vir sy pille!”

Kom, Fransie, tel op daai gun. Nee! Tel op! Nee, Meerkat!

“Keer hom, Boetie, hy wil die geweer vat!”

Die kombi swaai gevaarlik oor die randsteen. “Hou hom net vas, Speek, ek kom help!”

“Frans, hou op! Frans! Eina, fok, hy byt!”

Dan blits iets warms in my gesig, ek kan nie onthou dat ek geskreeu het nie. Ek weet nie van toe Bun oor my buk nie, ek weet nie toe hy sag vir Lorrie sê dit is als oor nie.

Meerkat ook nie.

Ek hoor nie toe Speek sê hy gaan nie skiet nie, hy moes net die gun organize.

Gelukkig nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.