NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Henning Janse van Vuuren
Henning Janse van Vuuren woon in die asemrowende Kransberge in die Noordelike Provinsie.
  Henning Janse van Vuuren


Deo Volente

Henning Janse van Vuuren

Dit is tog onsinnig, totaal onsinnig, huh? Dink jy nie? Vir die soveelste maal draai ek op my ander sy. Eintlik raak ek makliker aan die slaap as ek op my sy lê en inkrul, soos ’n fetus. ’n Ou fetussie, sies tog. Maar dan, dit is moeilik om te slaap as dit so warm is. Dit is tog te verwagte, stel ek myself gerus. As dit dan so moeilik is om te slaap, gaan doen iets anders. Vanaand is ek nie regtig lus vir ’n gebackchat nie, ek is te moeg. Van wat? My oë het al hier by tienuur begin brand. 11:37 of iets gloei die syfertjies waserig rooi sonder my kontaklense en herinner my vaagweg aan die warm gloed van ’n braaivleisvuur. Conversations with God het nogal gemaak vir interessante leesstof. Of nie? Ek weet nie hoekom ek nou juis hieraan dink nie. Jy dwing my, nè. Of wil jy hê ek moet eerder sê u, soos mense sonder titels wat aandring op oom of tannie? Volksvermaners, eish! Ja-nee, dink ek weerspannig en rol geïrriteerd op my ander sy. Dalk het ek koors. Nietemin, ek gaan eerder aan die see dink, ek moet slaap. Aai, die blou water van die mooiste Kaap, die kruine van golwende branders wat die strand op ’n windstil dag geruisloos nader en sag oor die fyn sand onder my kaal voete uitspoel, spekvet en spierwit wolke wat lui oor die wye oseaan dryf  ... hei, onthou jy nog daai girl wat ek in Bellville ontmoet het, sy het nog op ’n kol daar by die Kasteel gewaitress. Ek het niemand ooit van haar vertel nie, hoekom sou ek? Net ons twee weet, ek en u. Ek wonder of sy soms aan my ook dink, of ons mekaar dalk weer eendag sal raakloop? Ek het die weet in haar oë gesien, in die gesels, alles was daar, ook reeds iemand anders en die Kaap is ver. Ek dink daar was ’n konneksie, ’n universele tipe van connection, wat dink jy? Dink jy daar is so iets? Ek knak die kussing dwars, vou die punt effe onder my nek in, trek hom heeltemal uit, fok, staan eerder op om te gaan water drink, my blaas leeg te maak. Agter blaf die buurman se hond weer. In die kombuis sluk ek dors aan die melkbottel en loer versigtig deur die venster — don’t come to a gunfight with a knife — maak seker of die deur gesluit is, skroef die prop op en plaas die bottel terug. In die sitkamer vertoef ek die soveelste keer vir ’n oomblik, die Sondagkoerant steeds oop op een van die agterste blaaie. Daar is ’n foto, nie groot nie, eintlik ’n foto’tjie. Ek kry nie weggeblaai nie, draal slaafs terug. Die hond, onthou ek, die hond het nie 'n ... die eienaar ... my buurman, ... hy is dood. Met my slape tussen my palms gestut gaan sit ek op die rand van die bed, drie nagte lank al ontwyk slaap my, ek voer skimgesprekke met wie weet wie, kry weerbarstige antwoorde vanaf ’n matswart spieël. Dit is volmaan, besef ek nou eers. Jy ry ons bloots, Pappie.

Die wêreld draai om geld en die stukkendes moet die dooies begrawe. Die begrafnis is môre. Ek ry moeg werk toe, kyk deur die gesigte om my, privaat nommerplate, straatname, ons was almal hier. Wie gaan my onthou?

“Het jy gesuip gisteraand? ... Ja! Kyk net daai sakke onder sy oë, hie-hieeee!”

Gaan enigiemand hoegenaamd onthou word, word daar later nie maar net ’n naam, ’n klank onthou nie? Janvanriebeek

“Lyk my sy kop is so seer hy kan nie praat nie.”

Die knop in my keel is te taai om af te sluk.”... Ek voel nie goed nie ...”

Iemand stuur my huis-toe.

Op die sitkamervloer hou nog net my nek die res van my slap lyf effens teen die rusbank op. “Shuuus!” Ek stamp amper die glas langs my om. “Fakkahel!” Ek voel beter, hartseer, dankbaar, ek voel ek voel, hoe voel ek, wat kan ek sê, behalwe, ja, ek hou jou direk hiervoor verantwoordelik. Vir jou, ja, moenie nou omkyk nie. “Ha! Ek is de bliksem in, ek is gatvol vir dié wat altyd sê jy moet maar berus.” Die nag kom nader, dink ek onwillekeurig. Wanneer ek doodgaan moet dit iewers in die veld wees, die grond klam, nie nat nie. ’n Sagte blaretapyt sonder insekte, koelte ook, asseblief. My elmboog raak dood en ek skuif wankelrig orent. Duur whiskey smaak volrond, goeie whiskey, nie daai cheap rubbish nie. “Chivas,” lees ek in stadige aksie op die etiket terwyl die glas voor my mond kantel, “mmmmm ... mmmmmm ... to live forever ...?” Jaaaa, ou Freddie. Ek teug diep en op die rotse, ek is fokken depro.

Die storm het bedaar. Wanneer ek voor die motorhuis stilhou val die reën nog net in onsigbare klein vlokkies vanuit die kleurlose grou hemel teen my gesig aan. Ek klop hard teen die skuifdeur:

“Yo! Buurman!”

Hy is onmiddellik daar, jonk. Teruggetrokke glimlag. Lewendig.

“Jou kar se ligte brand nog. Ek sien jy is lus om te stoot.”

Hy lag en strek ongeërg in die rigting van die voertuig.

“Ons moet weer ’n bietjie braai.”

“Saterdag?”

Saterdae het ’n besonderse bekoring. Op Saterdae is die sonsopkoms kraakvars, die lug ’n tikkie helderder, die ondertone van swembadchloor en vars gesnyde gras uitlokkend in die lug. Saterdae. Saterdae kan ook anders wees. Buite het ek reeds die skottelbraai opgeslaan, my hande sekuur deur die yskas, sampioene, tamatie, groenrissie, vrugtesap op die tafel ... ’n klop aan die voordeur. “Aag, hel! Wil jy nie tog gaan kyk wie dit is nie? En ek wil in vadersnaam niks koop nie, veral nie kunsmis of kompos nie!” Ek maak self die deur oop. My buurman se vrou weet nog nie, die huis is gesluit, haar ouers vra of hulle hier vir haar kan wag. Daar was ’n vliegongeluk. Nog familie arriveer, ek sien pyn, intense pyn, oorblufte gesigte, ontkenning, ek sien ’n rou, barre wêreld. Ons het koffie vir dié wat wil hê.

Begrafnis op Dinsdag. Ek is genooi. Gevra? Gesê. Sy bruid se oë lankal by hom.

Ek stop ver, vir as ek vinnig moet uit. In die straat jaag ’n motorfiets verby, ’n voël swiep laag oor die karre, die son soos ander dae. Voor die kerk se ingang rus ’n blinkswart gepoleerde lykswa. Ek is laat. Uit die agterste bank loer ek terug oor my skouer. Die kis blink, alles blink, die blomme beknop ... “sal mens seker kan vra , maar waarom Here? Waarom hy en hoekom so jonk? Maar broeders en susters ...” Rou snikke verstop onbevredig voor die preekstoel, die groot kerk leeg, ’n grassnyer begin iewers neurie, my das wurg. In my hand hou ek ’n pamflet, dit is ’n pamflet vir my buurman, dit is ’n pamflet van my buurman, voorop staan sy eie woorde tussen aanhalingstekens. Ek ken die woorde, ek het dit ’n week vroeër uit sy eie mond gehoor. My hande weier om die pamflet weer aan my oë te toon.

Ek is nie lus vir tee of toebroodjies nie, ook nie alkohol nie. Ek ontduik die moedige uitnodigings in die hartseer oë en stap kar toe. Amper 12:00. Dit is klaar, besef ek, die formaliteite is afgehandel, die teraardebestelling, die spyskaart vir moeder aarde. Ek sal my kop moet regkry.

Moreletta-wandelpad lok die stapper langs ’n stroompie af, tussen bosveld- en wilgerbome deur tot binne die lang gras van ’n kliphang en dan skielik is jy bo die gedruis van blik en beton. Ek sien die Mispels dra weer. ’n Vorige keer wat ek hier was het iemand selfmoord bo-op die kop gepleeg. Met my rug teen ’n rots gaan wag ek. Ek het hom tog nie só goed geken nie. Daar was die slag toe hy ’n inbreker met ’n sambok uit sy skoene gejaag het, die vliegstories, die off-roads, die kleintjie wat op pad is ...

Ek wag.

Hy is weg.

Wat van die bos wat spontaan begin brand het? Die skeurende see en water in wyn? Kry ek niks? ’n Toeter onder in Generaal Louis Botha-rylaan en ’n voetganger systap vinger omhoog oor die middelyn. Later is my pak stowwerig en gekreukel. Natgesweet. Iemand beweeg paadjielangs verby. Die lug bly helder en blou, geen teken van ’n storm nie, nie die geluid van ’n enkele trompet nie, geen teken van vertroosting van jou nie. Ek sien sy gesig soos Woensdag. Nee, waarlik, hy ís weg. Gonners! Ek. Jy. Met spitstyd stoot donker sy dik swart vingers teen die hang uit en ek is skielik haastig om by die huis te kom.

Na middernag is daar nog heelwat motors voor in die straat, die huis se ligte hartseer agter geslote gordyne. Die hond is stil. Ek dink aan die reuk van vars grond, ek dink aan verdorde blou oë, ek dink aan gister, vandag en môre. Ek vou die koerant op, druk dit netjies in die vullisblik en stryk versigtig oor die opgehewe roof. My ooglede is swaar wanneer ek die laken om my skouers trek, ek moet gaan slaap, môre is weer werk.

Ons gesels weer later. As u wil.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.