NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Susan Lombaard
het buite Ogies op ’n plaas grootgeword. In 1999 voltooi sy haar B-graad in Bedryfskommunikasie aan die Potchefstroomse Universiteit, asook ’n honneursgraad in Taalpraktyk en Skryfkuns. Gedurende 1998 en 1999 het sy as assistent by die ATKV-Skryfskool op Potchefstroom gewerk, waartydens sy verskeie skryfkursusse meegemaak het. Sy was in 1999 redakteur van die joernalistiek-honneursgroep se tydskrif, Greep. Tans woon sy in Centurion, en sy werk as joernalis by die ATKV se maandelikse tydskrif, Die Taalgenoot.
  Susan Lombaard

Om ’n engel te vlerk

Susan Lombaard

Sy vou die koerantpapier om die houtfiguurtjies versigtig weg en pak hulle een-een uit. Die baba, net soos verlede jaar, slapend in die krip. Maria wat langs hom kniel; hande sereen saamgeslaan. Josef wat beskermend langs haar huiwer. Vier houtdiertjies van onbekende spesie wat nuuskierig om die krip saamdrom. Skuins agter Maria en Josef loer die drie wyse manne oor hul skouers, elk met ’n geskenkie in die hand. ’n Bietjie eenkant groepeer sy die skaapwagters, twee met koppe fluisterend bymekaar en die derde met oë toe en gesig in verwondering na die hemel gelig.

Haar hand huiwer bo die engel.

Die engel met die een vlerk.

Hulle het die laatmiddag van Oukersdag ver op die strand gaan stap. Die dag was wit; die see helderblou en stil. Palmbome het liggies beweeg in die wind. Die strandhandelaars was al besig om hulle ware met doeke toe te gooi en langsaan vir hulle slaapplekkies in die warm sand oop te woel. Die kus van Afrika was alles waarvan hulle gedroom het vir ’n wittebrood — net wilder; meer ongerep.

“Waaraan dink jy?” Pieter het haar hand gedruk om haar aandag te trek.

Die vraag het haar nie, soos gewoonlik, omgekrap nie. Sy het geglimlag.

“Ek wonder sommer wat ek vir Kersfees wil hê.”

Met hulle aankoms in Mombasa ’n week gelede het hulle besluit om vir mekaar Kersgeskenke hier op die strand uit te soek — iets wat hulle vir altyd aan hulle wittebrood sou herinner. Pieter het sommer op die tweede dag al die skaakstel uitgesoek, gekerf uit wit en swart klip en glad afgewerk.

Hulle het nog ’n entjie in gemaklike stilte gestap tot waar die handelaars minder begin word het, en die strand breër. Dis tóé dat Sandra dit sien. Eenkant was ’n ou man besig om ’n bont doek oor sy houtware te trek. Die stelletjie van donkerbruin hout het skeef in die sand gedruk gestaan: die baba in ’n krip, Maria, Josef, drie wyse manne, skaapwagters en ’n engel.

Sy het die engel eerste opgetel.

Die vlerkies het triomfantelik na bo gestrek. Die hout was fyn onder haar vingers.

Op die vliegtuig terug was die Kerstoneel veilig in haar handbagasie, met die engel wakend oor ’n huwelik wat pas begin het.

Presies nege jaar en elf maande later het sy en Wynand in die tweeslaapkamer-meenthuis ingetrek.

“Dis cool, Ma,” het hy dapper gesê toe hulle sy rugbybal in die piepklein tuintjie neersit. Sy kon sien hoe hy sluk. “Hier is mos darem ’n swembad en als.” Hy het die bal ongeërg eenkant toe geskop. Dit het dadelik teen die muurtjie geklap en teruggewip tot voor sy voete. “Kyk, nou hoef ek nie eers meer die bal te gaan haal as ek hard geskop het nie!”

Sy het haar hande uitgesteek om hom teen haar vas te druk, maar dit weer teruggetrek. Wynand was al agt en het haar die dood voor die oë gesweer as sy hom in die openbaar soen of drukkies gee. Maar met die aanvoeling van ’n kind het hy styf teen haar kom staan en sy arm om haar middel gegooi.

“Ons sal orraait wees, Ma.”

Toe sy ’n week later die laaste kartondose uitpak, het sy op die Kersfeesstelletjie in ’n skoendoos afgekom. Dit was effens stowwerig van die jaar se lê onderin ’n kas. Sy het jare laas die toneeltjie, soos aan die begin, ná Kersfees met groot sorg toegedraai in koerantpapier en in ’n stofdigte houer verpak vir die volgende jaar se uithaal. Die vorige jaar was Pieter Oukersdag op kantoor, en sy en Wynand het alleen geskenke oopgemaak. Sommer dieselfde aand nog het sy vererg die houtstukke in ’n skoendoos gepak en onderin ’n kas gedruk. Wynand was stil en het vroeg gaan slaap. Toe sy hom die volgende oggend wakker maak, was sy nuwe rugbybal steeds in sy arms onder die Superman-duvet.

In hulle nuwe huis was nie ’n Kersboom nie — dit moes in die motorhuis agtergebly het. Sy het houtpolitoer en ’n lap gaan haal en met ’n effense skuldgevoel begin om die stukkies een-een op te vryf tot hulle weer trots blink: Maria, Josef, die wyse manne, die skaapwagters. Die engel.

Iewers deur die trek het die twee vlerkies losgeraak. Onder in die skoendoos het die een vlerkie gelê. Sy het dit uitgehaal, blinkgevryf, teruggedruk aan die lasplek teen die gladde ruggie.

Die ander vlerk was weg.

Sy het oral gesoek; selfs een oggend teruggery na Pieter se huis terwyl hy op kantoor was om dáár te gaan soek. Maar soos ’n vermakerige kind het Pieter die slotte vervang en sy het magteloos buite die voordeur bly staan.

Dié Kersfees het die afvlerk-engel mank op die koffietafel gestaan, en die skaapwagter met die opgehefde gesig het treurig gelyk.

Sy tel tóg die engel op. Hy is lig in haar hand. Dis al drie jaar, besef sy en vee effens afwesig oor die lyfie. Drie Kersfeeste na mekaar het sy traak-my-nie-agtig die skewe engel tussen die ander stukke staangemaak. In Pieter se vierslaapkamerhuis het ’n nuwe, jong bruidjie ingetrek. Mandy is haar naam, vertel Wynand, en trek sy oë skeel as hy van haar praat ná ’n naweekkuiertjie by sy pa.

Net sy is nog seer en verneder. Soos die engel het haar vlerk ook iewers agtergebly. Meer as een maal het daar al mans kom kuier: kollegas, mans van die kerk. Maar met elke koppie koffie wat sy gemaak het, het sy Pieter se sterk, bruin hande gesien wat om sy koffiebeker vou. En met elke bos winkelblomme wat sy in ’n pot gedruk het, het sy onthou hoe hy daardie eerste jaar laggend langs die pad stop en deur doringdraad klim om vir haar sonneblomme of kosmos te pluk. Die kuiertjies het minder geword.

Sy kom regop met die engel in haar hand en in haar hart besluit sy: vanjaar gaan die engel nie op die koffietafel staan nie. Nie nóú al nie. Vanjaar gaan die engel ’n nuwe vlerk kry.

Die agterdeur vlieg oop net toe sy haar handsak en sleutels optel. Wynand waai in saam met ’n vlaag warm wind.

“Jis, Ma!” skree hy en spring deur die lug tot op die bank. “Ma moet Stephan se nuwe fiets check! Dis ’n rooie wat hy vir Kersfees gekry het, maar sy ma-hulle het dit sommer nou al vir hom gegee dat hy die vakansie daarmee kan rondry.” Hy wip-wip op en af op die bank en plak sy vuil voete sonder respek tussen die wyse manne op die koffietafel neer. “Kan ek ook ’n fiets kry, Ma? Dink net — dan hoef Ma my nooit weer skool toe te vat nie. Dit sal so cool wees! Net nie ’n rooie nie. Rooi is vir moffies.”

Hy wag nie dat sy antwoord nie; spring regop, bo-oor die koffietafel, kombuis toe waar hy die yskas oopruk. “Wat is hier om te eet? Ek is vrek honger.”

Sy sit gelate haar handsak neer en haal brood uit die broodblik. Sny, smeer; dik snye met polonie en tamatiesous.

Ag, Here  ... bid sy terwyl haar hande meganies werk. Nie ’n fiets nie ... Ek wou geld afknyp vir ’n knipmes of ’n horlosie — ek kán nie vanjaar ’n fiets koop nie. Die wasmasjien is stukkend en my kar moet lankal nuwe bande kry. En ek vrék voor ek vir Pieter vra.

Later, in haar motor, maak haar kop wild sommetjies. Sy wag nog vir belastinggeld, maar wou dit gebruik vir haar kar se bande. As sy nie hierdie maand haar hare laat sny nie en sy los die vrugtekoek wat sy vir Kersfees wou bak, kan sy dié geld by die belastinggeld bysit. Moontlik kan sy reël om die fiets oor twee maande af te betaal.

Sy trek af op die skouer van die pad waar ’n klompie swart mans met Afrika-kuns langs die pad sit, en klim uit. Eenkant onder ’n boom sit ’n jong man aan ’n stuk hout en kerf. Sy trap tussen die olifante en kameelperde deur na hom toe terwyl sy die engel uit haar handsak grawe.

“Goeiemiddag ...” Sy stoot die sonbril op haar kop en glimlag onseker. “Doen jy houtwerk?”

Hy laat sak sy knipmes, kyk op na haar en antwoord lui: “Yebo.”

Sy sak op haar hurke. Die engel lê bruin in haar hand. “Kan jy vir my engel ’n vlerk maak?”

Hy neem dit versigtig by haar. Sy hand voel behendig oor die hout voor hy opkyk. “One hundred rand. One week.”

Sy snak na haar asem. “Dis te duur! Ek kan nie soveel vir ’n vlerk betaal nie!”

Sonder seremonie druk hy die engel terug in haar hand. “Sorry, madam — I am very busy.”

Sy kyk vies om na sy stalletjie waar nie ’n enkele voornemende koper wag nie en sug geïrriteerd. Dan besluit sy vinnig. Wynand se fiets moet maar wag tot sy verjaarsdag in Maart volgende jaar. Die engel móét hierdie Kersfees ’n vlerk kry.

“Tagtig rand?” probeer sy.

Hy glimlag. “Ninety.”

Sy kom regop. “Volgende Vrydag, dan?” Dis Oukersdag. “Sal jy hier wees?”

Hy tel weer sy knipmes op en kerf verder. “I will be right here.”

Die res van die week probeer sy skuldig opmaak vir haar impulsiewe besluit. Sy bak tóg maar die vrugtekoek en plak baie versiersuiker bo-op. Met die geld wat sy vir haar hare wou gebruik, neem sy vir Wynand om ’n aksieprent waarvan sy nie kop of stert verstaan nie, te gaan kyk.

Wynand het dapper geveg teen die trane toe sy hom vertel dat hy nie ’n fiets vir Kersfees sal kan kry nie. “Dis orraait, ma,” het hy háár getroos. “Nou het ek darem iets om na uit te sien vir my verjaarsdag.”

Later die middag het sy deur die kombuisvenster gesien hoe hy en Stephan beurte maak om draaie oor die gras te ry met Stephan se fiets.

Toe sy Oukersdag die gordyne ooptrek, is dit grys en reënerig. Sy los vir Wynand om laat te slaap. Nadat sy gebad het, trek sy sorgvuldig aan: ’n rooi, los rok wat sy op die wittebrood laas gedra het. Sy borsel haar hare uit en spuit parfuum aan haar polse. Toe sy langs die pad stop, kom die man na haar toe aangestap met die vlerk in sy hand. Sy haal die note uit haar beursie en neem die engel versigtig by hom.

Die nuwe vlerk is blink — blinker as die ou een. Maar die hout is presies dieselfde kleur, en sy weet dat dit met tyd dieselfde dowwe rykheid van die ou vlerk sal kry. Sy voel verwonderd oor die fyn lyntjies in die vou van die vlerk; die skerp puntjie bo. Dit sit knus teen die engel se rug.

Toe sy die voordeur oopstoot, hoor sy Wynand raserig in die stort sing saam met die radio wat kliphard aan is. Sy draai dit sagter; skakel die ketel aan; sit lipstiffie aan; stof een vir een die stukke op die koffietafel af, asof sy die oomblik uitstel.

Toe haal sy die engel uit haar handsak en sit hom versigtig langs die ander stukke neer. Skuins agter Maria waar sy vlerke weer wakend kan waghou oor die slapende kind. En in haar word dit heel.

Sy word Kersoggend vroeg wakker — iets het haar wakker gemaak. Wynand is ook wakker, hoor sy in die kamer langsaan. Sy hoor hoe sy bed kraak terwyl hy opstaan.

Die voordeurklokkie lui ’n tweede keer. Deur die slaap trek sy haar kamerjas aan en toe sy in die gang uitstap, is Wynand reeds op pad na die voordeur. Hy draai die knop van die slot en trek die deur oop.

“Maar hier’s dan ...” hoor sy hom vies sê, maar dan bly hy verstom stil.

Sy stap tot agter hom. “Wie is dit, Wynand?”

Op die gras voor die voordeur lê ’n splinternuwe, blou fiets. Dit blink in die vroegoggendson ná die reën. En nog voor sy omdraai, weet sy wat sy gaan sien.

Maria, maagdelik langs die krip. Josef wat beskermend langs haar huiwer. Die kind, slapend in die krip. Die drie wyse manne wat van ver gekom het met geskenke — goud, mirre en wierook. Die skaapwagters: twee met koppe nuuskierig bymekaar, die derde met gesig in verwondering opgehef na bo.

Die engel is weg.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.