NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Jaco Fouché
Jaco Fouché is die skrywer van die roman Die Ryk van die Rawe (1996), die kortverhaalbundel Paartie by Jake’s (1997) en ’n aantal verhale wat in Sarie verskyn het. Hy is groot dank verskuldig aan mense soos Esmé Mittner, Petra Müller, Frederik de Jager en Etienne Bloemhof vir hulle vrygewige en welwillende benadering tot jong mannetjies se skryfwerk en pretensies.
  Jaco Fouché

Uittreksel uit ’n ongetitelde roman

Jaco Fouché

Teen die aand se kant begin dit koud word in die restaurant. Die musiek is vir ’n rukkie stil. Toe dit hervat, is dit, in teenstelling met die bedaarde country & western van vroeër, opruiend en populêr, die ene dromslae en onvoorspelbare wendinge in die deuntjie.
             Maar dit moet slegs sy eie mening wees, dink die klein, gryskop man aan die donker tafel onder die houttrap: in die res van die vertrek gaan ’n juigkreet van herkenning onder die jong mense op, en stemme begin saamsing en vul die onderneming behoorlik, sodat die kroegmanne agter die hoë toonbank vir mekaar lag en die een ’n kordaat vaardigheidspel met twee leë bierbottels begin, wat hy net laat vaar toe hy die een bottel misvang en dit hoorbaar aan skerwe spat. Hy tuit sy mond, gemaak berouvol, trippel dan ’n komieklike afstand weg.
              Aan die ander kant van die toonbank skree ’n mooi vrou van die lag, die punte van haar vingers voor haar oop, rooi mond, haar bolyf aan die terugleun sodat vlasblonde hare in ’n lang smal gordyntjie van haar denimhemp weghang. Die klank van haar joligheid is skerp en suiwer, soos die breek van die glas vroeër. En uitnodigend, blyk dit, want etlike jong mans lag vinnig saam. Die kroegman wat die glas gebreek het, lig ’n besemsteel van ’n muur weg en leun daarop terwyl hy eers met die meisie korswel.
              “… later …”
              Die man by die tafel kyk vinnig op.
              “… hoe kwater …” sê ’n man gevat. Dis ’n geselskappie wat verby beweeg, twee mans en drie vroue, op pad van die ingang die binneste van die ruim kroeg-restaurant in.
              Hy hoor sy naam al van halfvier af, die klein man met die ou ligbruin trui en die blink dunraambril en die byna liplose mond. Hy hoor dit in die lirieke van die liedjies, in die uitroepe van die personeel, in gedeeltelike gesprekke, soms self in die sillabes van ’n lag. Wanneer sy gedagtes ontruim word deur die verwagtinge wat hy hom maar onlangs begin veroorloof het, klink “Ha-ha” ontstellend baie na “Leuter”.
              Telkens soek hy dan na die meisie, die jong vrou, en telkens misgis hy hom met die energieke aanbieding van elke lang, skraal lyf, met elke bruin haredos.

Meneer Leuter klim in ’n treinwa, moeg. Hy het die middag saam met Sarah en haar span deurgebring, ’n tafel met pamflette, Bybels en studiegidse bedien. Nou is hy op pad na sy woonstel, oor die algemeen in die goeie luim wat die afhandeling van sy dagtaak gewoonlik in hom en in wie weet hoeveel ander mense wek, maar vanaand ’n bietjie gesteur deur ’n sekere rusteloosheid. Aan die een kant is daar ’n skuldgevoel oor Sarah en die groepie wie se eintlike werk eers nou begin, in die vroegaand wanneer hulle die strate ingaan en begin evangeliseer. Aan die ander kant het meneer Leuter die afgelope weke begin besin oor sy lewe, en spesifiek oor die deel wat oor is.
              “Love, charity and faith,” hoor hy Karen sê, “but charity is love, faith is love, love is love.”
              Sy staan op ’n bankie op die perron, Karen. Sy hou die Peacemaker handboek in albei hande en rig dit soos sy Western naamgenoot op die verbygangers terwyl sy praat. Sy lyk bewapen. ’n Groepie het om haar begin vorm.
              “You can end violence and hatred. You can make a start towards a better community. You can undergo a change of heart that will allow you to affect your whole neighbourhood.”
              “Prys die Here,” sê ’n man by haar.
              “Yes, do that,” sê Karen. Sy kyk reguit na Leuter en lag, tree dan van die bankie af.
              ’n Paar hande begin geld uithou, maar sy keer.
              “No, no, feed your families or your neighbours or whomever. Get something to drink. I don’t need any money.” En “Mister Leuter” sê sy toe sy die wa binnekom, en vir ’n man wat in die deur staan, “Excuse me.” Sy kom sit oorkant Leuter en trap met haar stewels langs hom teen die bank vas. “You really should stop this. People will talk.”               “Ek moet seker,” sê hy lomp.
              “So … anything happen worth discussing?”
              Hy veroorloof hom ’n paar oomblikke voor hy antwoord, wil eers na die mooi jong gesig kyk en dink oor die klein verlossing wat sy hom bied elke keer dat hulle ontmoet.
              “You’re going,” sê sy skielik. “Meneer Leuter, jy gaan weg.”
              “Wat? Nee, dit wil sê … ek begin dink in daardie rigting maar …”
              “Dit is die regte ding om te doen,” sê sy met nadruk. “Trust me on this one. You have to go. Do you know where yet?”
              Hy kyk deur die venster. Sononder is geel anderkant pilare. ’n Hek word voor ’n vragmotor oopgeskuif wat stadig na die straat langs die treinspoor luier.
              “Ek weet nie. Ek begin droom oor gaan.”
              Die woorde, die bekentenis - dit is verraad. Hy pleeg dit en dink daaroor en wonder hoekom hy dit gesê het. Waarskynlik nie omdat dit waar is nie, maar omdat dit indruk op die vrou sal maak.
              “What more do you need to know?” vra sy. “Jy moet jou nou voorberei sodat jy dadelik sal kan gaan wanneer jou kans daar is.”

By die ingang, wat op ’n baksteengeplaveide steeg uitloop en uitkyk op ’n houtkraampie waarteen ’n plakkaat begin boggel van die natheid sodat die woord VIVA meer verwring word as wat die letterskilder miskien in gedagte gehad het, steur ’n groot, vriendelike man hom nie aan die reën wat op sy dik, gevoude voorarms spat nie. Hy staan al lank daar in sy swart T-hemp met die restaurant se naam daarop. Hy knik vir elke nuwe groepie wat inkom en glimlag vir die vroue.
              Die lokaal vorm ’n ruwe S van die ingang af na die kroegtoonbank en dan om die L-vormige toonbank. Meneer Leuter sit na aan die ingang, nog in die eerste kort been van die S. Aan die ander been kyk glasdeure op die houtstoep en die troebel water in die hawekom en ’n hawehoof uit. Vanmiddag word die glasdeure toegehou teen die grys weer buite. Op die stoep sit net ’n manmoedige kringetjie jong mans om ’n tafel onder ’n sambreel, hulle hare teen hulle koppe gepleister en hulle hemde teen hulle bolywe. Af en toe staan een op om teen die glas te klop om die aandag te trek van die kelnerin wat haar dan met ’n teatrale sug na buite wend. Vroeër het die groot, vriendelike man uitgegaan en ’n rukkie met hulle gepraat, toe kopskuddend ingekom en vir iemand iets gesê waarop hulle gelag het.
              Die groot man kyk nou om, in Leuter se oë vas, en sy gesig verstrak. ’n Vae verontwaardiging laat Leuter eers terugkyk, maar ter wille van die vrede verskuif hy sy blik.
              Op ’n verhogie is ’n orkes besig om hulle voor te berei. ’n Bord met die woorde JOE RUBBER and Co is teen die muur neergesit. ’n Stel dromme is reeds opgestel. ’n Oorgewig man laat sidder ’n stokkie teen ’n simbaal. ’n Mikrofoon word in ’n staander vasgedraai deur ’n maer, middeljarige man met ’n wilde bos grys hare en ’n noupassende bont eenstuk om sy benerige lyf. Hy stamp die staander van hom weg sodat dit op ’n voetstuk oorleun voor dit na sy oop hand terugval en hy skielik op sy knie neersak, die mikrofoon voor sy bewegende mond.
              “Good-good-good good afternooooooooon,” doof sy stem die musiek uit. “From Joeeee Rubber and company.”
              “Ah, get out of here!” roep iemand vrolik.
              “Oh, God, what you have to put up with …” dreun die stem oor die luidsprekers. “So typical of the backyard classes,” skoor hy, en vervolg in ’n oordrewe Australiese aksent: “South Africa is a third world country with third world drinkers.”
              Hy voer ’n kort riel uit wat sy liggaam in alle rigtings laat ruk en sy hare om sy gesig laat slaan.
              “Hy lyk soos ’n toiletskrop met daai bos hare,” roep iemand. “Lyk hy nie soos ’n toiletskrop nie? Hy lyk nes ’n toiletskrop.”
              Die man met die hare lyk gemaak dreigend. “What is that - Dutch courage?”
              “Hei, Joe!” roep ’n man. “Joe moer.”
              Sy tafel lag hard saam. Joe maak ’n groot gebaar van minagting, maar dan oorval sy geamuseerdheid hom blykbaar en hy begin self lag, en sê iets aan die tromspeler wat die gehoor kwansuis nie moet hoor nie. Die tromspeler, ooglopend van meer skroomvallige aard, trek ’n verskonende gesig en trommel weer teen die simbaal.
              Leuter druk sy sigaret in die oorvol vasbakkie dood en skuif met die bankie langs onder die tafel uit om staande sy jas aan te trek. Die kelnerin is dadelik by.
              “Will that be all, sir?” vra sy met ’n ironiese glimlaggie, haar hand gereed om die boonste bladsy van haar bestellingsboekie af te skeur.
              Die glimlag is maar dun; haar gesigsuitdrukking is meestal stug. Sy is kwaad, tref dit hom.
              Sy rek haar oë astrant, waarskynlik omdat hy staar.
              “No,” sê hy. Hy vou sy jaspante om sy bene voor hy weer gaan sit.
              Hy kyk verby haar. Die plek loop vinnig vol. Mense moet begin opskuif om plek te maak. Ongebruikte bankies word by tafels gebedel en na ander tafels gedra.
              Joe Rubber het ’n mondfluitjie op ’n draadstellasie om sy nek gehang en ’n ghitaar opgetel.
              “What do you want to achieve in life?” roep hy en lag vir himself. “Don’t answer that. It’s got fuck-all to do with me and it’ll only embarrass you.”
              Die gehoor skater. “Shut up!” skree iemand en trek weg in wat ’n nabootsing moet wees, want ander mense herken dit en skree saam: “For the Reverend Martin Luther King, sing!” Maar die nabootsing is van ’n onbekende: die sinspeling, as daar een is, beteken niks vir Leuter nie. Hy kan net wonder oor die wit entoesiasme by die aanhoor van die swart Amerikaanse naam.
              Eenkant word bierbekers op ’n tafel getrommel. By die toonbank wag mense om bedien te word. Kroegmanne oorhandig kleingeld en leun dadelik weer oor die toonbank, handpalms teen die houtrand gedruk, om die volgende versoek aan te hoor. Joe Rubber het hard begin sing.
              “I said, is there anything else?” hoor Leuter die kelnerin vra. Haar stem bewe. Hy voel skuldig, probeer onthou wat hy gedoen het, weet nie meer nie. Iets oor die messegoed wat op die oopgerolde servet lê. Hy het gesê ja, hy wil eet, sodra sy metgesel opdaag, toe bring sy die messegoed en die tafelmatjies. Maar daar was ’n droë stukkie vet aan die tand van ’n vurk en hy het haar met ongewone uitsoekerigheid daarop gewys. Vies het sy ’n ander vurk gaan haal, en daarna aanmekaar kom hoor of hy al wil bestel. Uiteindelik het hy haar ongeduldig aangesê om te wag tot sy geselskap opdaag.
              “Ek roep jou,” sê hy weer, maar nou probeer hy sussend klink.
              Driftig swaai sy om. Hy kyk die noupassende denims onder die gestreepte T-hemp agterna, en hy sug sag. Hy snuif, vee ’n nattigheid aan sy neuspunt met die brug van sy hand weg en kyk na sy horlosie. Dit is halfses.
              God! Hy moet iets doen met die ongeduld, steek nog ’n sigaret aan. Halfses. Hy is al lam gesit, en bang gewag. Maar hy kan nie meer loop nie. Hy wag al te lank.
              Die musiek is te hard, kom dit skielik by hom op. ’n Vlaag van verontwaardiging oor hierdie onbedagsaamheid het hom al sy hand laat lig om die kelnerin nader te beduie toe hy die belaglikheid van die beswaar besef.
              Na die venster se kant toe sak die vloer ’n voet of wat, en hy kan oor die mense se koppe deur die glasdeure sien. Die nat groepie mans het van die stoep af ingekom. Hulle staan nou in die vertrek, gesigte nat maar breed van die glimlagte en joligheid. Anderkant hulle is die sambrele op die tafeltjies afgeslaan, en die blou en wit pilaartjies is die laaste duidelike voorwerpe in die reën. Verder weg is die hawehoof oorkant die hawekom byna onsigbaar, ’n dowwe grys wal in die somber tyd waarin daglig volledig voor elektriese lig wyk. Gekleurde gloeilampe brand in ’n kurwe; dis moeilik om te sê waaraan hulle hang: miskien een van die plesierbote wat in die gure weer teen die buitebande vasgemaak lê.
              “…Leuter …”
              Hy kyk om, maar dit is ’n jong man wat by die ingang staan, met ’n meisie by hom. Die groot man in die swart T-hemp luister glimlaggend na hulle, kyk dan oorwegend na Leuter, en beduie hulle tussen die tafels deur. Die paartjie sukkel vir ’n oomblik om te besluit wie moet eerste stap.
              Leuter sit weer terug, maar kyk onderlangs na die jong, vroulike lyf wat verby hom beweeg. Die paartjie gaan staan onseker: daar is nie meer ’n tafel oop nie.
              Aan die ander kant van Leuter se tafel staan nog ’n enkele leë bankie, en hy steek sy been onder die tafel deur om dit met sy voet buite sig te trek. Hy versit, rol sy sigaretas in die asbakkie af. Maar die hoek waarteen hy sy voorarm hou, is verkeerd. Sy hand begin ruk en ’n stompie rol oor die glasrand. Hy tel dit bewend op en laat val dit so versigtig as wat hy kan op die grys as en geel kurk. Dit rol weer oor die rand.
              Hy verwens die kelnerin. Ná sy die heel middag om sy ore geneul het, versuim sy nou haar pligte.
              Hy is honger. Hoe lank terug - ’n uur, langer? - wou hy al iets bestel om te eet, maar elke keer het hy besef dat hy waarskynlik nie meer lank hoef te wag nie, dat die vrou enige oomblik sal opdaag en haar kop verskonend sal skud en sê: “Jammer vir die wag, meneer Leuter. God, never rains but it pours, eh? My car …” Daarna sou die kelnerin vanself nader kom om met die jong vrou te praat. Karen het sjarme, dink hy. Mense kyk na haar en is dadelik oortuig hier is iemand wie se geselskap die moeite werd is.
              Die rusteloosheid trek terug. Dit kan nie meer so lank wees nie. Sy het hom nog nooit werklik in die steek gelaat nie.
              Dit is wat hy vir ’n ruk gedink het, dat die vrou iets beters gekry het om te doen, of, erger nog, reeds weg is. Net vergeet het en gery het. Die verwyt het hom vinnig laat rook. Dit was ook toe dat hy die vetterigheid aan die vurk gemerk het. Miskien was hy ’n bietjie ongeduldig met die kelnerin, besluit hy. Maar hy sal vergoed met die fooitjie - hoewel, Vader weet, fooitjies kan hy nie juis bekostig nie.
              Hy dink ’n rukkie daaroor, oor fooitjies en kelnerinne en vriendelikheid en beleefdheid. Dit is hoe hy gewoonlik vergoed vir sy stugheid, met die fooitjie. Vyftien persent, dit is wat Leuter hom al jare terug voorgeneem het, niks minder nie. En sodra hulle dit besef, helder die gesiggies op of kyk die meer selfstandiges hom ondersoekend aan, en dan waag hy ’n glimlag wat soms beantwoord word.
              Sy luim is beter. Hy oorweeg nog ’n koppie koffie. Maar hy het skaars begin rondkyk of die kelnerin is reeds daar, langs hom, sy en die groot man met die swart T-hemp. Sy bolyf laat die embleem op sy hemp rek: die naam staan in oordrewe letters oor sy groot bors en ontvonk ’n herinnering: die jong vrou Karen wat sê: “Day by day they are vanquished by the world they are entering, but at night they meet like heroes under the impression that they’re celebrating victories. This is where you see it happen, meneer Leuter. They come here believing they’ve earned their daily leisure, but this is only another phase in a whole process. They’re coming to terms with the world they’re entering as young adults, believing that lifestyle is the reward of participation. This is how the principles of economic obedience are established.” Weer was daar die indruk van groter magte, van stuwende ondertone waarteen die toehoorder hom versigtig moet verset. Meneer Leuter het geluister en nie geantwoord nie.
              “’n Koppie koffie, asseblief,” sê Leuter.
             Die jong man se mond gaan huiwerig oop. Die paartjie wat oomblikke vroeër ingekom het, draai weg om in ’n ander rigting te kyk.
              “We need this table, sir,” sê die man.
             Die gedagte aan vertrek ontstem hom. Daar is ’n herinnering aan die middag … Hy kom sit hier en dit is nog vroeg, die plek halfleeg. Vir byna twee ure is hy een van die enkele besoekers wat na die musiek sit en luister in die vreemde verwelkomende toestand van limbus wat vir hom die aantrekkingskrag van kroeë, uitstappies en alle vorme van ledigheid verklaar. Willie Nelson, Johnny Cash of iemand, onthou hy. Woorde kom by hom op: “I slipped and fell into the wet concrete below. They buried me in that grey tomb that knows no sound … but I am still around …”
             Die aand se personeel het begin aankom. By die kroegtoonbank ruil hulle voorskote en praatjies uit so tussen die bedien deur, en een keer ’n T-hemp. Hy verwonder hom aan hoe lewendig die jong gesigte is, hoe spontaan die uitdrukkings en hoe geoefend die gebare. Waaroor praat hulle? Wat kan so min beteken dat dit met soveel gemak meegedeel kan word? Die een veral val hom op, ’n lang meisie met krullerige blonde hare. Sy tree rond terwyl sy praat, haar aandag verdeel tussen haar klant anderkant die toonbank en haar ewe besige vriendin. Sy buig haar bolyf vooroor terwyl sy haar arms teen haar bors vasdruk om haar stellings te staaf, en sy lag aanmekaar.
              “Sir?”
             Hy sal moet gaan. Maar die gedagte is fel aan die staptog stasie toe met die nat strate langs, die halfuur in ’n vuil treinwa, die alleenwees op die een dag waarop dit moes einde kry.
              “Ek is ’n klant,” hoor hy homself kortaf sê. Laat my bly, wil hy eis, asseblief. Nog ’n halfuur, nog ’n uur, nog ’n aand. Hy sal eerder hier sit en wag. Maar die versoek sal hy nie rig nie; die guns verwag hy nie.
             Hy merk die senuweeagtige wyse waarop die jong man aan sy lippe kou, dan die ietwat stroewe trek van vasberadenheid.
              “Sir …”
              “Onthou jy my?” vra Leuter skielik.
             Die kelnerin snork.
              “Jy het my al voorheen hier gesien, het jy nie?” vra Leuter.
              “No, I …”
              “Saam met Karen. Jy ken haar. Lang meisie, vrou, bruin hare, deurmekaar hare.” In sy gretigheid vat-vat hy aan sy eie hare. “Sy ken jou. Sy het jou Arnold genoem.”
             Die kelnerin maak weer ’n geluid, klem haar duim en voorvinger om haar oorlob en kyk ontevrede rond.
              “Unfortunately …” begin die jong man, lig sy arms gelate na weerskante en sê niks verder nie.
             Leuter besef dat die man hom al met die intrapslag vanmiddag moes herken het, dat dit is hoekom hy sy rug na die deur gedraai het. Leuter vind die weersin al so algemeen dat hy hom nie gesteur het aan die manier waarop die man wegdraai nie. Boonop het die kelnerin nader gekom met die ewige glimlag, en hy moes haar in die rede val om te sê presies waar hy wil sit. Hier, onder die trap. Dit is waar hulle graag gesit het, hy en Karen.
              “Waar kan sy wees?” vra hy, kortaf. Want dit grief hom, die afkeer wat die man so lomp probeer wegsteek. Nog te jonk, miskien, vir die diplomasie wat ’n mens van iemand in sy posisie sou verwag. Nog veilig, nog dapper.
             Maar Leuter het ’n vae indruk van hoe hy daar moet uitsien: ouer as wat hy is, sy klere ongestryk, sy jas vol vlekke wat nie in ’n wasbak uitwas nie, sy gesig hard en geplooi. Hy het darem vanoggend geskeer, wil hy sê.
              “Hey, I don’t keep track, if you know what I mean …”
              “Maar jy ken haar,” dring Leuter aan.
             Die man skud sy kop. “Well, yah, how well can you know someone …”
              “You know her,” herhaal Leuter magteloos.
              “The thing is … I run into her in pubs. We have a beer from time to time.” Nou is die man openlik ongemaklik en op die punt, glo Leuter, om ongeduldig te raak.
             Leuter tel sy sigarette op en skuif weer onder die tafel uit.
              “As sy opdaag, sê vir haar ek hét gewag,” sê Leuter en voel of sy kraag reg sit.
              “Vir twee ure?” hoor hy die kelnerin met ’n aksent sê.
              “Sê vir haar,” hou hy vol, sy oë op die jong man gevestig.
              “Sure,” sê die jong man. Hy staan reeds weg van Leuter af sodat die pad na die uitgang wyd oop lê. “Sure, I’ll do that.”
              “Die rekening, asseblief,” sê Leuter. Die meisie hou dit dadelik na hom uit, die kasregisterstrokie reeds aan die blaadjie vasgekram
             Vier koffies, en ’n glas Appletiser. Leuter skat hoeveel vyftien persent min of meer is en druk ’n noot in haar hand.
              “Die kleingeld is joune,” sê hy en let oudergewoonte op die reaksie. Maar die meisie bly nors, so lank as wat sy hom in die wegdraai toelaat om haar gesig te sien. Hy bly alleen agter langs die jong man wat nou oor sy gesig vee, skynbaar verleë, en iets mompel voor hy die wagtende paartjie nader beduie.
              “Jesus Christ,” mompel die jong man.

Sy bel. “Meneer Leuter? Karen. Do you know where you’re going yet?”
              “No, I …”
              “Don’t worry. I do. I’ve just spent a whole weekend there. We must meet.”
             Hy is vroeg by die restaurant, staan ongemaklik by die kroeg tot sy haar opwagting maak.
              “Hello, Arnold,” groet sy die bestuurder by die deur, kom dan nader, lank en jonk en lieflik. “We’ll sit here. This spot’s got good vibes.”
             Hy lag, voel verstrooid in haar aanwesigheid, dom, onkundig, bloedjonk.
              “You must do that more often,” sê sy. “Listennn, I did a reckless thing this weekend. Dalk is dit alles jou skuld, jy met jou gepraat oor weggaan. Ek was in ’n plekkie met die naam Hobsons. Now this is difficult to describe without sounding condescending. But I’m a city girl, what can I say? It’s quaint, it’s pristine, it’s rustic, it’s … my God, there must be one mother of an earth chakra pretty close by. Pam!” roep sy.
             Een van die kelnerinne kom nader. “Whisky, whisky, whisky,” sê Karen. “Two.” Sy kyk waarskuwend na Leuter, wat floutjies sy kop skud. “Yes,” dring sy aan, toe: “I did a reckless thing. It just happened. I was there, I saw this place, I walked in, I walked out, I bought it. To hell with my flat, Cape Town, the good doctor Nuys! Do you know Hobsons?”
              “Dis op pad noorde toe, as ek my nie misgis nie.”
              “Nee, “ sê sy ferm. “Dit is die stasie. Die dorp self is ver daarvandaan. Dit, dink ek toe, gaan ’n probleem wees vir jou. Maar toe sien ek die huis en nou … nou gaan ons Hobsons toe!”
             Leuter drink sy whisky en probeer aan iets dink om te sê.
              “Maar ons doen dit above board, we set up a contract, the whole thing. Het jy geld? Ek bedoel as jy regtig wil aftree?”
              “Ek kan huur … Ek huur nou,” sê hy onseker.
              “Excellent! Dit is ’n cottage. In my tuin!” roep sy uit. “Jy huur dit by my en kyk sommer na die plek wanneer ek nie daar is nie.” Haar gesig versomber. “I’ve got a lot of shit to extricate myself from. A lot of shit. But what the hell, we theological types know you’ve just got to keep the old eyeball fixed on that pie in the sky! Oh, it’s going to be so grand! Then we can really talk. Then I can show you how very close we all are, all children of the stars and mother earth!”
              “O, God,” demp ’n luide Afrikaanse stem van ’n naburige tafel momenteel haar entoesiasme.
             Maar sy swaai dadelik om. “Go fuck yourself, why don’t you? Die your modest little suburban death …” En dan aan Leuter: “It’ll do you a world of good, my old man. It’ll make you healthy. You need to get healthy.”

Meneer Leuter sukkel met die tasse uit die reën die geelverligte binneste van die winkelsentrum binne. Hy stap deur die skuifdeure na waar mense dig op mekaar beweeg tussen die restaurante, die boek-, klere- en musiekwinkels, die stokperdjie-handelaars en die filmteaters, en waar musiek iewers vandaan speel en messegoed klink en die honderde stemme en voetvalle tot ’n gemoedelike gedreun saamvoeg.
             Hy beweeg sig-sag tussen die mense deur. Die irritasie bult in sy wange soos die sinlose gebrek aan ander se haas hom telkens fnuik: hy moet gedurig tot stilstand kom of van rigting verander. Op die roltrap kan hy nie net staan en wag nie en begin tussen die mense deur beur na bo. Een keer mompel hy om verskoning toe hy iemand teen die skouer stamp. By die openbare telefoon moet hy wag vir iemand om klaar te praat. Toe hy wel die gehoorstuk vashou, is die sentrumgeraas te hard. Hy druk sy oop oor met sy vinger toe.
              “Hello?” sê hy dringend. “Hello?”
             Maar daar is net die opname. Leuter word bewus van die gesinne en die paartjies en die drawwende kinders om hom. ’n Dogtertjie waggel met klein treëtjies voor ’n laggende ma uit wat haar met hande uitgestrek agterna sit. Die kind skree van plesier toe sy opgeraap word. Sy slaan klein armpies om die moeder se kop.
             Leuter trek sy mond in. Maar hy voel hoe die dringendheid hom begin verlaat. Toe hy begin loop, is dit stadig. Daar is nie meer haas nie; vroeg vanmiddag was daar nog, en hoe doelgerig het alles nie voorgekom wat hy doen nie: daar was die jong vrou se geselskap om na uit te sien, haar gereelde lag en die gemaklike wyse waarop sy redekawel.
             Teen die glas val die reën hard. Hy dwaal deur die sentrum in die hoop dat dit sal bedaar. Hy staan ’n ruk en kyk hoe iemand se gesig op ’n rekenaarskerm teen verskillende haarstyle vergelyk word. Voor ’n boekwinkel staan ’n lang, jong man wat vaagweg bekend lyk, tot Leuter besef dit is nie die persoon wat hy herken nie; dit is die liggaamshouding wat, ten spyte van die ooglopende posering tog sterk dui op die onafhanklikheid en beheer wat (meen Leuter) die jong man van sy lewe verwag. Toe ’n ewe volmaakte blonde vrou van iewers af verskyn, ontspan die man se roerlose fotografiese houding en neem hy die volgende een aan toe hy die meisie vinnig soen, glimlag sodat die kuiltjies verdiep, haar aan die hand neem en iewers heen lei. En die vrou skud haar kop sodat haar hare wip en dan in presies dieselfde styl oor haar rug gaan lê.
             Leuter gaan staan teen ’n muur en klem sy hande in sy jassakke. Nie lank nou nie, dink hy desperaat. Met ’n wilsinspanning dwing hy sy aandag uitwaarts, na die mense om hom, die vreemde gemoedelikheid, die warm beweging.
             Hy is verslaan toe hy weer begin loop. Hy gaan na buite waar hy oor die plaveisel drafstap, langs lang rye geparkeerde motors af, dan met die stroom inkomende verkeer langs, oë voor hom op die grond gerig, sy uitsig tot die rand van die sypaadjie links van hom en die voet van ’n muur regs van hom beperk. Maar weldra kom berusting in die terugtog, die aftog, in die gedagte aan die treinrit, die nat strate, die sleutel in die posbus en die verkeer onder die venster. Môre kan hy weer by Rita’s eet, dink hy in patetiese hoop, en dan by die kerk en Sarah omgaan. Hy wil skielik stik aan die gedagte. Dit tref hom met ’n ligte skok dat hy sy tasse kwyt is en hy steek vas, tree vir verwilderde oomblikke rond tussen die rigting waaruit hy kom en die rigting wat hy ingeslaan het. Maar die soektog kom ’n onmoontlike taak voor. Hy laat vaar die gedagte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.