NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Gerda Taljaard
se debuutbundel Maansiek word binnekort uitgegee. Sy is woonagtig in Pretoria waar sy Afrikaans doseer. Haar passies is tuinmaak, sang, botanie, koskook en argeologie.
  E W S Hammond

Bruid

Gerda Taljaard

Gaan u my red, Heer? Ek het die majesteit van die wêreld gesien op die voorkop van ’n man.

    — Sheila Cussons

Dis al weer een van dáárdie nagte. Wanneer die slaap haar sonder ophou ontwyk. En as sy tóg uiteindelik insluimer, kry sy keer op keer dieselfde drome wat haar klam en met brandende begeerte laat wakkerskrik. Die drome oor ruiters met swart stoppelbaarde en hulle dyspiere wat styf span oor sweetblink rûe van perde.

Sy is al wéér alleen met God in hierdie verdomde klein kamertjie. Net Hy en sy. Soos ’n uitgehongerde bruidspaar in ’n wittebroodsuite op hulle huweliksnag. Sy weet Hy roer in elke vesel, in elke sel van haar hunkerende liggaam. Sy aanhitsende fluistering is telkens hoorbaar in haar bruisende, warm bloed wat onkeerbaar na haar onderlyf stoot en haar laat brand, haar laat ontvlam van verlange. Dis dán wanneer die ruimte tussen hierdie vier koue, dik, poeierige mure te klein vir haar word. So asof die mure soepel en poreus word soos menslike vlees wat uitswel na binne, al nader en nader kruip om haar te omsingel en uiteindelik met hulle sweterige sementlywe te verswelg.

Om na die rosekrans op haar bedkassie te gryp, help net mooi niks. Wanneer die vuur in haar lende begin brand ontgaan alle beskaafde en bekende woorde haar. En wat sal dit haar nou in elk geval baat om die Heilige Moeder in hierdie uur aan te roep, as Hysélf dan in haar, in ’n mens, in ’n gewone vrou van vlees en bloed, net soos sý, verwek is. Om die lamp aan te draai sal ook nie help nie. Want dan sal sy haar vaskyk in die blinkbruin oë van Christus op die prent teen die muur. En al is dit maar ’n goedkoop afdruk, kan sy duidelik die liefde, die warm menslikheid in sy oë sien straal en selfs herken, dít wat sy ook al in ander mans se oë gelees het as hulle op dieselfde manier na haar kyk. Of sy sal vaskyk in die pragtige, lydende liggaam aan die kruis teen die agterkant van haar deur.

Sy weet hoe dit is om intens, met liggaam, siel en verstand Christus se nabyheid te begeer. En as sy dit uiteindelik ontvang, sy teenwoordigheid aanvoel tydens gebed of vastyd, meditasie of koorsang, óf partymaal selfs wanneer sy net gewone alledaagse dinge doen, die vibrasies van Hom deur haar liggaam voel, wat haar onbeskryflik lig laat voel, asof sy heeltemal losraak van die aarde. Op ’n keer het sy net gaan kruie pluk toe dit gebeur. Sy het in die klam grond by ’n roosmarynstruik gehurk en ’n takkie tussen haar vingers geknak. Die reuk daarvan was bedwelmend en soet soos die wierook vroeër die dag by die oggendmis. Sy het haar oë toegemaak en ook die grond en ander kruie; salie, laventel, tiemie en haar eie vrouereuk geruik. Sy het opgestaan, nog steeds met haar oë so toe en gevoel hoe haar liggaam begin tril en haar ore druis en haar kop lig raak. Sy het haar oë oopgemaak en haarself van bo af gesien staan in die omheinde kruietuintjie en naby haar het iemand gestaan. ’n Man. Iemand wat sy nie geken het nie, maar wat op ’n vreemde, gerusstellende manier tog ook bekend gelyk het. Van die ander nonne het later vertel dat sy flou geword het, dat sy miskien net te vinnig opgestaan het.

Wanneer sy oor die ruiters droom word sy wakker met byna dieselfde gevoel. Haar liggaam bewe nét so en die bloed druis ook deur haar kop én na haar onderlyf. Is dít hoe Marta se suster Maria gevoel het toe sy Jesus se voete met nardusolie ingesmeer het? Toe sy afbuk en sy mooi, skraal voete liefdevol met haar hare afgedroog het, het ook sý die warm gloed deur haar liggaam voel brand? Om só naby aan Hom te kan wees. Dat jy sy vel kan ruik, dit saggies met jou lippe kan aanraak. Dit maak haar deurmekaar. En baie bang. Help my tog, soet Jesus, wil sy prewel, maar haar hart galop angstig soos ’n gespierde hings in haar borskas.

Jesus het tog sélf op ’n keer mens, vléés geword, probeer sy haarself troos. Baie keer as sy saam met die ander nonne sit en eet, verbeel sy haar dat ook Hý saam met hulle aan tafel sit. Dat Hy ook brood tussen sy vingers breek — neem, eet, dit is my liggaam — dit tot ’n kluitjie knie, in die sous doop en dit dan smaaklik in sy mond druk en eet met lippe en tande en ’n tong en speeksel nes haar eie. Sou Hy daarna ook die stinkende buitetoilet besoek het?

Sy hét al oor haar vewarring met Moederowerste gaan praat, want sy moedig hulle tog gedurig aan om met haar oor geestelike struwelinge en ander probleme te gesels. Moederowerste het gesê sy verstaan, dat sý wat Magdalena is, net moet volhard in gebed en haar moet losmaak van die aardse en die vleeslike, want die vlees is swak en verganklik soos die blomme van die veld. In die waterige blou ogies van die abdis se bleek gelaat onder die swart sluier, kon Magdalena egter sien dat sy net mooi níks verstaan het nie. Wat dan van Salomo, ’n Godvresende koning met ’n tamaai harem wat die genot en vreugdes van ’n vrou se liggaam besing, kompleet asof dit hom sal verlos en reguit paradys toe sal stuur, wou sy nog aan haar vra, maar wat sal ’n vrou soos sý, wat vir soveel jare al onbewus van haar liggaam leef, daarvan begryp? Of het sy dalk, toe sy ook nog ’n jong meisie was, stil oor hierdie dinge gedink? Dis moeilik om op so ’n oneerbare wyse aan hierdie amper onmenslike, onbevlekte vrou te dink. Hierdie vrou wie se polse en vereelte liddoringvoete elke Paastyd spontaan in bloed uitslaan, ’n vrou wat so oud soos die klooster sélf moet wees.

Dit laat haar dink aan die keer toe hulle ’n tehuis vir bejaarde nonne gaan besoek het. Sy het tot in haar siel geril toe sy die spul ou, ineengekrimpte vroue op die stoepie in die son sien sit het. Al waaraan sy onvermydelik kon dink was hulle verskrompelde maagdevliese wat soos verdorde blare, nutteloos gelê en vergaan het. En dat dieselfde ook met háár gaan gebeur.

Onwillekeurig begin haar hande oor haar liggaam gly; oor haar nek, haar skouers, haar bors ... Dat dit álles tot niet sal gaan, ’n totale vermorsing. En die maandelikse bloed ’n onmiskenbare teken van hierdie verkwisting. Háár bloed wat nooit lewe sal beteken nie, nie soos dié van Christus nie. Haar mooi liggaam vir altyd weggesteek onder ’n vormlose nonnekleed, ’n liggaam deur God gemaak en oorgeneem deur God. Maar nie eens hierdie onvleiende swart gewaad kan haar vroulikheid verberg nie. Dit weet sy tog op die manier waarop mans al na haar gekyk het. Haar vingers voel oor die punterigheid van haar borste, wat die bloed weer opnuut in haar laat kook, maar dan begin die mure weer om haar roer. Dis asof sy hulle kan hoor asemhaal, kan hoor hyg soos hulle al naderkom. Sy ruik hulle sementerige sweet. Sy het al bedags gesien hoe druppeltjies daarop vorm, soos die klammigheid daarin deurslaan.

Op ’n keer het Moederowerste ’n waterwyser laat kom, omdat die ou put besig was om op te droog. Die man het toe gekom en heen en weer deur die tuin met sy mikstok getrap. Uiteindelik het sy stok begin sidder en in die rigting van die binnehof gewys. Hy het met hoë knieë daar ingestap en reguit op háár kamermuur afgepyl. Sy hele lyf het saam met sy wiggelstok, wat astrant in die rigting van die muur gewys het, getril. Die ander meisies wat saam met haar gestaan en kyk het, het bloesend begin giggel vir die koddige man met sy penorente, bewende stok. Dáár, het hy opgewonde beduie. Dáár lê die wateraar, reg onder die muur loop hy, baie sterk. ’n Gesonde wateraar, het hy trots verklaar. Moederowerste het haar mond ongeduldig op ’n plooi getrek, die giggelende nonne verwilder en die verbouereerde man in ’n ander rigting gestuur. Net Magdalena het nadenkend bly staan en die mosbegroeide muur noukeurig bekyk en gesien dat talle varingspore al daarin ontkiem het. Sy het haar asem diep ingetrek en die muwwe, aardse reuk daarvan geruik. Soos ’n liggaam, het sy verbaas gedink en met haar hande oor die klam mos gestreel wat soos fyn haartjies onder haar vingerpunte gevoel het. Vir weke daarna het sy haar verbeel dat sy ’n sagte geruis onder haar kamervloer kon hoor.

Die nuwe put is uiteindelik ’n paar weke later, etlike myle van die klooster af, gegrawe. “Dis nou julle eie verdiende loon dat julle so ver moet stap om water te kry,” het Moederowerste later kwaai in die eetvertrek gesê. Maar Magdalena kon tog ’n effense ondeundheid in haar waterige blou ogies bespeur toe sy vinnig in haar rigting gekyk het.

Sy maak haar oë moeg toe en sien weer splinters van haar drome teen haar trillende ooglede. Die drome het begin kort nadat hulle ’n klooster aan die kus besoek het om daar uit te help met die versorging van ’n spul seemanne met skeurbuik. Dit was vroegsomer, maar die dae al reeds vogtig en baie warm. Hoe nader hulle aan die skitterwit kusdorpie gekom het, hoe bedompiger het dit in die rukkende koets geword. Meeste van die nonne het bleek om haar gesit en slaap, maar ander was prewelend doenig met die krale aan hulle bidsnoere, want ’n moeilike sending sou dit volgens Moederowerste wees. Gegroet is jy Maria, Moeder van God. Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou skoot, Jesus .... Dis tóé dat sy die ruiters deur die opgewasemde ruite van die koets gewaar het. Hulle het skielik van agter gekom en langs die koets galop. Sy het die ruit met haar een hand skoongevee en na buite gekyk. Hulle het ook gekyk. Na háár gekyk met pikswart oë in blink, soel gesigte. Dit was vir net ’n paar oomblikke, maar dit was asof haar oë alles gesien het, haar lyf alles ingedrink en haar verstand álles opgeneem en onthou het. Hulle nat, soepel monde en wit tande wat eers na haar en toe na mekaar geglimlag het. Swart stoppelbaarde op forse onderkake. Hulle wuiwende blinkswart krulhare en lenige lywe onder kraakwit hemde. Stywe bobeenspiere wat die sweetblink rûe van hulle perde vasklem. En toe hulle verby is; hulle wippende, tergende, uitdagende agterstewes in die sale. Sy het ’n hele ruk versteen bly sit en haar ore het begin suis. Haar hele liggaam het gebewe asof sy koud gekry het en toe het haar onderlyf heerlik lam en warm geword wat haar asem onkeerbaar laat jaag het. Sy wou sáám met hulle wees. Sy wou ook die soepel rug van ’n perd tussen haar dye voel. Sy wou agter een van die mans op die perde spring en stýf aan sy lenige lyf vasklou en sy sweet ruik, die salpeter op haar tong próé. Vervloek is die dag toe ek gekies het om ’n non te word, het sy wrewelrig gedink. Sy het skielik selfbewus gevoel en verleë na die ander meisies om haar gekyk, maar hulle het steeds wiegend gesit en slaap of was nog murmelend aan die peuter met die krale aan hulle rosekranse. Heilige Maria, moeder van God, bid vir ons sondes, nou en ook tydens die uur van ons dood ... het die eentonige klank van hulle stemme deur die bedompige lug gedraal.

As sy nou daaraan terugdink, was daardie hele maand aan die kus een lang, uitgerekte versoeking. Die skitterblink, blougroen oseaan wat aanhoudend golwe uitstoot en terugtrek, uitstoot en terugtrek, totdat sy die ritme daarvan deur haar hele lyf kon voel. Of die stinkende wit skuim wat ongenooid om haar skugter voete kom bondel het om die volmaangety in haar bloed aan te kondig. Of die klomp wriemelende seekatte wat verstrengel in ’n vissersnet op die strand gelê het. En die siek matrose wat nie net honger kyk na die kos op hulle borde nie, maar ook na die verbode wit vlees onder die lang, swart mantels wat hulle bedien. Is dít wat Moederowerste dalk met ’n moeilike sending bedoel het?

Die soutreuk van die vogtige lug, die aanhoudende asemhaling en gedreun van die see, die fyn sproei op haar vel, dit alles het haar liggaam onophoudelik laat smag. Maar sy weet ook dat sy daardie maand nie die enigste een was wat hierdie hunkering kon voel nie.

Op ’n dag het hulle met bootjies uitgevaar na ’n nabygeleë eiland om behoeftige vissers aan benodighede te help. Hulle het skommelend tussen sakke meel, flesse lampolie, vars afgeslagte karkasse en rolle tabak gesit en klets. ’n Wind het opgesteek wat die water onstuimig teen die bote laat klots het. Hulle het onrustig na mekaar gekyk, maar die roeiers het gepaai dat dit veilig was en dat die wind binnekort sou gaan lê. Een van die meisies het naar geword oor die kant van die skuitjie, maar Magdalena en die ander het guitig gelag oor die lekker bang gevoel om so heen en weer te wieg. Die son het heerlik warm op hulle koppe gebrand en die wind het hulle sluiers soos vlerke laat flapper. Uit die water het ’n groot silwer vis in ’n sierlike boog gespring wat hulle nog meer uitgelate laat lag het. Magdalena het na die sterk arms van die roeiers gekyk en na hulle taai lywe wat ritmies vorentoe en agtertoe beweeg het. Sy het gesien dat ook van die ander nonne daarna gekyk het en hoe die opwinding in hulle oë blink. ’n Plomp meisie met ronde wange en drillende borste het ademloos begin giggel, maar toe sy sien dat een van die roeiers begerig na haar terugkyk, het sy angstig na die kruis aan haar nek gegryp sodat die bootjie amper omgeslaan het.

Die blote gedagte aan die onstuimige geskommel in die bootjie daardie dag, laat haar asem opnuut jaag en dwing ’n verblindende gloed deur die kartelende doolhof van haar onwillige verstand. Bevry my van my eie liggaam, Here, maak my tog in hemelsnaam daarvan los. Maak my kop helder soos water, wil sy hardop skree sodat dit deur die hele klooster sal weergalm, maar die mure om haar word nogmaals vlees, sodat die woorde verskrik in haar droë keel bly vassteek. Sy hoor hulle hygend naderkom. Die walms van hulle sementerige asems wasem warm en bedompig om haar. Sy kom angstig orent en snak na haar asem met haar hande om haar keel. Dis asof hulle vir ’n oomblik huiwer en bietjie retireer, hulle asems afwagtend ophou. Sy word nou ook bewus van ’n ander geluid. ’n Gedrup. Dan besef sy vir die eerste keer dat dit buite begin reën het.

Sy spring uit haar bed tot by die deur en wanneer sy die deur oopruk is dit asof die mure weer styf en solied na hulle gewone plekke terugspring. Sy hardloop met haar kaal voete deur die labirint. Haar voetstappe klink hol deur suile en leë vertrekke. Sy hardloop verby talle geslote poorte en somber, luisterende standbeelde. Sy probeer om een van die buitedeure oop te druk, maar dit is stewig gesluit teen die onheil van die nag en bly onwrikbaar teen haar ongeduldige gehamer. Sy probeer een van die ander deure oopkry en na ’n gesukkel kry sy dit uiteindelik krakerig oopgeskuif. Die koue, nat duisternis tref haar meteens vol in die gesig, maar sy hou aan hardloop totdat sy heeltemal ontbloot onder die gietende reën bly staan. Sy hou haar hande op, hoog bokant haar kop en voel die druppels teen haar handpalms piets. Sy sluit haar oë teen die geniepsige gedrup, gooi haar kop agteroor en maak haar mond dorstig oop. Die reën druis oor haar gesig en stroom by haar nagkleed in en maak haar nat, sópnat tot op die krullerige donsies tussen haar bene.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.