Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die KKNK - ‘n fees van uiterstes

Jaco Botha

“Jy sal my nie dood op daardie fees kry nie,” sê ‘n vriendin (wat filmfeeste in die Kaap organiseer) oor die telefoon aan my na die lawwe Bridges-petalje. En dit, die persepsie onder baie cool stedelike Afrikaanses en nie-Afrikaanses dat die KKNK niks meer as ’n gemoedelike Boerebasaar verteenwoordig nie, is ongelukkig nog lewend en in sommige gevalle gegrond. Dit neem my dan ’n goeie vyftien minute om haar te oortuig dat minstens 30 persent van aanbiedings en feesgangers daar ’n werklike bydrae maak tot die verruiming van die geestesgoedere van die Afrikaanse taalgemeenskap.

Die Hel

Wanneer mens in Meiringspoort afdaal tot op die stowwerige Oudtshoorn-vlak, dan besef jy dat die eerste mense wat hier gevestig het, regtig graag hier wou wees. Temperature raak-raak aan die veertigs en daar is nie ’n luggie wat geroeste doringdrade en yl boompies laat roer nie.

Een van die grootste side-shows voor en tydens die Fees was dan natuurlik die geskreeu rondom Fokofpolisiekar en wat hulle op beursies skryf. Die mense wat die Mouters (soos hulle op Oudtshoorn bekend staan) tot in die smeltkroes van die hel self verwens het, het dan ook hulle sin gekry – maar in die proses almal van ons saamgeneem. Bleddie warm!

’n Mega-kermis

Ek is ten minste ’n goeie 15 persent Boer en daarom het ek ook uitgesien na kermiselemente soos roosterkoek, pannekoek en vetkoek. Van laasgenoemde twee was daar verstommend min en van eersgenoemde verstommend baie. Die stalletjiemense het erg gekla omdat daar hierdie jaar soveel minder “voete” op die fees was.

”Mense kom na sulke feeste om te eet, te drink en te naai,” het Prinses Petro van die sexy rockgroep Rokkeloos in ’n onderhoud vertel, en hierdie (nie te versmaaide) elemente vorm sonder twyfel ’n belangrike komponent binne die fees. Nie dat dit verkeerd is om net saam met jou pelle in biertente uit te hang en net na covers van “Liefling” of “Skarumba” te wil luister nie – vir sommige mense is die KKNK net ’n klein vakansie binne ’n snoesige kultuuromgewing – maar mens sal hoop dat elkeen daar se horisonne en ervaringswêreld darem so ’n knippie wyer is na die fees – al is dit bloot vanweë ’n interessante gesprek wat gevoer of afgeluister is. Miskien kan hulle volgende jaar selfs ’n ordentlike show probeer inwerk.

Vernuwende toneel

Vir dié mense – en daar was ook baie van hulle – wat wel na die fees gekom het vir ’n kulturele ervaring, het veral verskeie sterk toneelproduksies vir stof tot nadenke gesorg. Hier kan stukke soos Monsters, Begeerte, Boks en Altyd Jonker uitgesonder word. Al hierdie stukke het mense laat dink en laat voel, en skep opgewondenheid eerder as benoudheid oor die toekoms van Afrikaans.

Veral Chris Vorster se Monsters roer ’n bietjie aan die Afrikaanse kultuurpoel, en anders as baie ander plays is dit beslis nie vervelige, of verhewe, teater nie. Dis ’n stuk wat deur gewone mense (nie noodwendig teatergangers nie) geniet kan word, maar ook al die nodige substans bevat om ou teatergangers te bevredig en te beïndruk.

Altyd Jonker is ’n toneelstuk met die spierkrag van goeie poësie. Die eerste ding wat mens opval, is die ongelooflike stel en beligting – ’n (beton-) muur, ’n strand en magiese blou beligting – hiervoor het Jaco Bouwer dan ook welverdiend ’n Kanna gewen. Dan, deur ’n kombinasie van woord, musiek en fisiese teater word die gevoelswêreld van Ingrid Jonker op ’n magies-realistiese wyse aan die gehoor blootgestel. Al probleem met hierdie show (soos terloops ongelukkig in baie ander produksies) was die klank. Dit het die inleef in ‘n wonderlike stuk vir verskeie toneelgangers bedonder.

Boks, met sy temas van machismo, vriendskap en homo-erotika, het ook Kannas losgeslaan en was ‘n slim, uitlokkende stuk met uitstekende regie deur Marthinus Basson en akteurswerk deur Neels van Jaarsveld en Quintin Krog.

Hierdie twee akteurs, sowel as die span van Altyd Jonker, het fisiese teater tot nuwe hoogtepunte gevoer en gewys waar die ware krag in teater (in teenstelling met TV of film) lê. In Boks was dit ‘n hiperrealisme wat veral in die gevegstonele beïndruk het en in Altyd Jonker was dit die (amper) dansteater fisiese elemente wat uitsonderlik was. Ek is steeds verstom dat geen van daardie akteurs met blou kolle of beserings sit nie.

Riana Scheepers en haar span het ook gesorg vir goeie kinderteater met Die Avonture van Wilde Willemientjie. Die stuk was kostelik vir beide kinders en die grootmense en dit het ook ’n welverdiende Kanna ontvang.

Maak-my-siek-fabriek

Een kenmerkende eienskap van die Fees was al die oop verhoë waar veral onbekende name cover-treffers deur die Klein Karoose hemele laat blêr het. Ek vertrou dat dit nie tekenend is van grootskaalse stagnasie en vervlakking binne populêre Afrikaanse musiek nie.

Vir die meer opgevoede oor het mense soos Lize Beekman, Amanda Strydom en Chris Chameleon weer eens bewys dat dit nog moontlik is om iets vars, goed en ook populêr in Afrikaans te kan skep. Hulle laat die kunstenaar in vermaaklikheidskunstenaar tot sy reg kom. Mag iemand soos Nianell, met haar ongelooflike stem, ook by sulke kunstenaars leer dat mens nie noodwendig hoef uit te verkoop om te kan verkoop nie.

Vir die kultuurkraaie was daar ook genoeg om aan te proe in terme van klasieke uitvoerings, met Petronel Malan wat hier, heel voorspelbaar, die Kanna gewen het.

Vir die jong klomp het bands soos Fokofpolisiekar en Rokkeloos gewys dat daar ’n lekker jong ”energy” in Afrikaans is en dat die geveg teen kleinburgerlike waardes nog glad nie verby is nie. Albei hierdie bands is op ’n tegniese instrumentele vlak al werklik gatskop (hulle het rock pedigree) – met ’n bietjie voice training en ’n wyer musiekinvloed gaan hierdie ouens nog werklik goeie musiek in Afrikaans maak.

Die Seepkis

In die binnehof van die CP Nel Museum is elke dag interessante gesprekke en debatte gevoer oor issues binne Afrikaans en Suid-Afrika. Vrae soos “Hoekom neem so min Afrikaanse mense aan nasionale feesdagvieringe soos Jeugdag, (16 Junie) deel?” is gevra en gedagtes is uitgeruil. Mens weet egter nie hoe relevant en nuttig hierdie gesprekke is nie, aangesien die gehore relatief klein is en daar oor die algemeen vir die “bekeerdes” gepreek word. Of sulke klein vergaderinkies tot enige doeltreffende aksie en maatskaplike vernuwing kan lei, is ook te betwyfel. Ek sal egter aangenaam verras wees indien iemand my hier verkeerd kan bewys.

’n Probleem met daardie venue is dat dit langs die RSG Verhoog sit en sprekers moes soms uithaal om bo die jolige musiek gehoor te word. Dalk kan sulke gesprekke tydens ’n volgende fees eerder op die RSG Verhoog gevoer word en so die radiostasie die geleentheid gee om ’n meer verantwoordelike sosiale rol op die fees te kan speel.

Basuine van moralisme

Moraliteit is natuurlik ’n persoonlike en subjektiewe kwessie en die uitroepe van “wat op die fees hoort” en wat nie, het uit verskillende hoeke opgeklink. Debat is darem nou in sy kinderskoene in Afrikaans.

Aan die een kant was daar die anties en omies wat (ten spyte van die ouderdomsperke en voorafwaarskuwings) beswaar aangeteken het teen die kru taal en (veral gay-) sekselemente in shows soos Monsters en Boks. Dit was seker te voorspel.

Dan was daar natuurlik die bohaai oor die Mouters, en ’n klomp militante Christene wou ook hul moraliteit op die res van die feesgangers afdwing. Hier was die sanger, Dozi, se uiters deursigtige poging om in te cash op die anti-Fokofpolisiekar-sentiment deur in die pers te sê dat “die karre nie op die fees hoort nie” sekerlik die laagtepunt. Werklik sad en pateties.

Aan die ander kant van die spektrum was daar ook ’n klompie besware teen die verkoop van beledigende items soos ”100% Boer” T-hemde, Ou-Suid-Afrikaanse vlae en bok-vagina-wynkanne. Dis hierdie klas goed wat ’n agterlike, ver regse gevoel aan die fees gee en waarskynlik baie bruin, swart en cool wit Suid-Afrikaners van die KKNK af weg hou. Op Aardklop is hierdie klas parafernalia genadiglik verbied.

Die AWB het duidelik ’n nuwe benoudheid onder sekere Kaapse Afrikaners raakgesien en het ook ’n karavaantjie op die terrein gehad.

Die kwessie van waar vryheid van spraak eindig en kwetsing begin, is nog lank nie uitgepraat nie. Al hierdie verskillende groepe kon darem in relatiewe vrede op een dorp saam fees vier.

Die meer cool crowd wat hou van bruin mense, gay mense en goeie musiek het egter in plekke soos Die Kliphuis uitgehang en die 100%-boere in die biertente. ’n Plek soos Godfather’s was egter ’n geveg wat net gewag het om uit te breek, want hier het die verskillende groeperinge in een kroeg-restaurant bymekaar gekom, en was dit nie vir die gentle sounds van Rooibaard nie, het die onverdraagsaamheid en latente aggressie dalk tot fisiese geweld oorgegaan.

Iets vir almal

Ek glo gehalteproduksies lok en skep gehaltegehore, en hierdie jaar se Absa KKNK het ’n aansienlike bydrae tot die roer en uitbrei van die Afrikaanse kultuurpoel gemaak. Dit is hierdie klas Afrikaans wat nie beskerm hoef te word nie, omdat dit goed genoeg is om op sy of haar eie twee bene te staan.

Vir die ouens wat net gekom het vir die party en eerder in die vlak kant van die kultuurpoel wou rondplas, is daar natuurlik ook voorsiening gemaak.

Ek vra om verskoning aan enige hoogtepunte en gehalteproduksies tussen die 194 aanbiedinge wat ek nie genoem het nie en wat dit verdien het – ek hoop iemand anders sien julle raak en skryf met opgewondenheid daaroor.

So – daar was iets vir almal by die fees, en ek hoop en glo dat elkeen darem ook so stukkie kultuur opgetel het. Die venues was deurgaans nie te sleg bestuur nie (behalwe vir die genoemde klankprobleme) en die onverstoorbare Karen Meiring, Schalk Burger en die res van hulle span verdien elkeen ’n lekker lang, rustige, yskoue dop. Well done!!

Krit

Om mee af te sluit wil ek graag my mederedaksielede van die feeskoerant Krit bedank. Dis min dat jy dertig mense uit verskillende windrigtings saamgooi en daar is nie een doos onder hulle nie. Daar was geen interne relletjies, bitsigheid of lyfwegstekery nie. Elkeen het eenvoudig sy of haar talente by die poel gevoeg, kop laat sak en hard gewerk om elke dag ’n goeie koerant op straat te kry. Al die humor en ondersteuning onder druk was ook fantasties. Dit was ’n absolute joy om saam met julle te werk. Sien julle weer in 2007.

Goed gaan.


LitNet: 12 April 2006

Wil jy reageer op hierdie kennisgewing? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.