|
|
Die wortel van alle kwaad: Liefdesappels? Of appeltjies van alruin?Fanus RautenbachPartykeer moet ‘n mens diep in die taalskatkis gaan soek na die oorsprong van ‘n woord. Nou moet ek sê dat die woordeboek nie altyd kan help nie, maar dat dit in hierdie geval die hoofrol gespeel het. Maar in die eerste plek Die Bybel: As ek nie Genesis 30:14 raakgesien het nie, sou ek miskien nog steeds oor daardie woord gewonder het: Op ‘n keer het Ruben in die oestyd veld toe gegaan en liefdesappels gepluk. Hy het dit vir sy ma, Lea, gebring. Ragel, haar suster, het vir haar gesê: “Gee vir my ook van die liefdesappels wat jou seun vir jou gebring het.”My eerste besoek is aan WAT, liefdesappels, is: “Gelerige, geurige bessie van die alruin, wat na ‘n klein appeltjie lyk, alkaloïede bevat (enigeen van ‘n groep plantaardige, stikstofbevattende, basiese verbindinge wat gewoonlik ‘n eienaardige werking op die senuweestelsel van mens en dier het, dikwels uiters giftig is, en waarvan sommige vir medisyne gebruik word, bv. atropine, kafeïne, kinine, morfine, nikotine, strignien) en wat ‘n bedwelmende uitwerking bevat en waaraan sedert Bybelse tye ‘n geheime liefdeskrag toegeskryf word.” Behalwe die voorbeeld van Lea en Ragel staan daar in Hooglied 7:13 die volgende: “Die liefdesappels versprei hulle geur; daar is allerlei keurige vrugte by ons deur, vars en oud; ek het hulle vir jou gebêre, man wat ek liefhet.” My tweede besoek aan WAT is om alruin na te slaan: “Stamlose, baie giftige, narkotiese kruidgewas met ‘n baie groot gevurkte wortel en behoort tot die geslag ‘Mandragora’, wat volgens die volksgeloof skree wanneer dit uit die grond getrek word, waarvan die bekendste soort ‘Mandragora officinarum’ is. Ook genoem ‘doodkruit’. Die wortel van hierdie plant is in die ou dae in die vorm van poppies (alruinmannetjies) as towermiddel en amulet gebruik om aan die besitter rykdom, gesondheid en vrugbaarheid te besorg, maar is ook as liefdesmiddel gebruik. Hierdie alruinmannetjie word ook genoem ‘pisdiefie, pisduiweltjie …’.” In die Vrystaat is dudaim opgeteken wat ook “alruin” of “liefdesappel” beteken. “Wil jy nou my dudaim [my alles] ook hê?” Dis wanneer iemand iets geleen het en dan weer iets wil leen. (Ragel wat Jakob aan Lea geleen het?) En dudaim is hoeka ‘n Hebreeuse woord. Hou vas, die Sjinese woord vir mandragora is ginseng. Shakespeare het ook na mandragora verwys … as narkotiese plant – die Engels is mandrake. “The shrike came like mandragora out of the earth.” Is hierdie “shrike” ‘n laksman, ’n janfiskaal? Want mandragora staan ook bekend as doodkruid. En dit skree (soos ‘n janfiskaal?) as dit uit die grond getrek word. Of dit kan ook ‘n ander voël wees wat skree as dit uitgetrek word. Van liefdesappel na appelliefie of appel(der)liefde: “’n Digte halfstruik uit Suid-Amerika afkomstig. Word gekweek om sy geurige, geel bessies waarvan konfyt gemaak word. Engels: ‘gooseberry’. Maar die een uit Europa en Noord-Afrika en Asië het groenerige blare, en groen bessies waarvan ook konfyt gekook word. Dit is die wildeappelliefie of die pampelmoesie of die pompelmoesie, en ook pompelmoer.” Ken jy die speletjie “Appelliefie my (hart)lam …”? Liefdesappels … appeltjies van alruin … mandragora … mandrake … en dan die sekspille waarvoor die ouens gevang word … “mandrax” kos baie geld, terwyl die Sjinese mandragora (ENERGY NOW!), ginseng, minder as drie rand stuk kos. (Maar dit kan bietjie meer wees – wat sal ‘n ou man tog daarvan weet?) Daar is in die volksmond ook ‘n wisselvorm van appelliefie en dit is appelliepie; en in Namakwaland is dit by die stouterds, net soos kinderpieletjie (net die woord, nie die plant nie) bekend as appelpielie (vergelyk pisdiefie en pisduiwel!). As ons na hierdie mandragora-sekswortel kyk wat soos ‘n mannetjie lyk, lyk dit al vir my of geld nou maar tweede kom in die wedstryd om die titel “die wortel van alle kwaad” te wen.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |