Argief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wonder jy ook hoe lyk die Hemel?

Fanus Rautenbach

“Wonder jy ook hoe lyk die Hemel?”

“So lyk die Hemel!”

“Hier gaan die Hemel vir jou oop!”

Ek het die Hemel gesien!

Dit is reeds jare wat ek op soek is na ‘n beskrywing van die Hemel. Ek het verskeie professore, predikante en ander teoloë geskakel: “Ek probeer uitvind hoe lyk dit in die hemel …” wou ek by een en almal weet.

En een en almal het dieselfde antwoord gegee: “Openbaring, veral Openbaring 20 en 21: Johannes (Johannes van Jesus, nie Johannes van der Walt nie) skryf: “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan, en die see was daar nie meer nie. Ek het die nuwe Jerusalem gesien en dit het ‘n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen. En Hy het my getoon ‘n suiwer lig van die water van die lewe … en in die middel was daar die boom wat twaalf maal per jaar vrugte dra en die blare van die boom is tot genesing van die nasies. En die straat van die stad was van suiwer goud soos deurskynende glas …”

HEMEL beteken volgens WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal): “Dis ‘n gebied, ruimte, wat die aarde omsluit, hom daarbo uitstrek, veral die skynbare blou of, in die nag, donker gewelf, in ‘n hele of halwe koepelboog oor die aardvlak uitgesprei, waaraan die son, maan en sterre hulle vertoon, of aan die binnesy waaraan hulle skynbaar, soos aan ‘n vaste, ronde deksel, bevestig is.”

Ek het aanhou soek na iemand wat my kon sê hoe lyk dit in die Hemel.
Toe sien ek dit: “HIER GAAN DIE HEMEL VIR JOU OOP!”

My vriend Gerhard Roux van die Paarl het vir my gesê: “Kom ek gaan wys jou ons ‘winkelhemel’”. Dit word toe sommer ook ons vertaling van The Paarl Mall … Nog ‘n voorstel vir die Afrikaans was winkelmark – of Pollie, soos in die liedjie, “Pêrel ons gaan Pollie toe … ons en almal saam!”

En daar vind ek Die Hemel …

Dit was in ‘n winkelvenster, ‘n uitstalling van CUM-boeke … honderde geopende boeke met die titel: Die Hemel, deur Randy Alcorn. Prof Alcorn skryf: “Het jy al ooit gewonder hoe gaan dit in die hemel wees? Hoe gaan ons lyk? Wat gaan ons daar doen? As jy nog altyd aan die hemel gedink het as ‘n plek waar siele vir ewig op die wolke ry en harp speel, gaan jy beslis verras wees. Die Hemel is ‘n boek oor regte mense met regte liggame wat in verhouding staan met God en ander mense, wat eet en werk en speel, reis en aanbid en nuwe dinge ontdek op die nuwe aarde … die aarde soos God dit van die begin af bedoel het.”

Hier is hierdie hemel langs my … geopen.

Humor oor die hemel is in Afrikaans nie uitgesluit nie: daar is die prettige storie van die ou Bolander wat oorlede is en toe met sy vrou in verbinding tree:

“Thys, waar is jy?”

“Ek is in die hemel, Vrou!”

“Hoe lyk dit daar? Ek is so nuuskierig!”

“Dis baie mooi!”

“Hoe mooi? Probeer om die hemel te beskryf.”

“Wel, ek kan jou net sê dis baie mooi. Maar dis darem nie die Paarl nie!”

My pa, Frans Rautenbach, groot Christen en fyn humoris, vertel een oggend aan die ontbyttafel: “Ek het verlede nag gedroom ek is in die hemel. Onse ma wil toe weet hoe dit daar lyk. ‘Gaan julle kerk toe?’ vra sy belangstellend. ‘O, baie gereeld.’ ‘Sing julle ook?’ ‘O, ons sing baie mooi.’ ‘Pappie, sê my, kry julle ook traktaatjies by die deure?’ ‘O, ja, ons kry baie traktaatjies! Maar daar is ‘n verskil – hier lees ons dit!’ ‘Waar is die sout?’ vra Pappie. ‘Heel bo op die rak,’ antwoord Mammie. ‘Haal dit af, Boet-Karel. Jy is die enigste wat sal bykom – jy is mos ‘n regte ou hemelbesem!’”

Marius du Plooy vertel van die ou tante daar in Jacobsbaai se wêreld. Marius-hulle het ‘n paar dae daar gaan uitspan. Die tante wys hulle die rondawel: “Julle moet maar verskoon, die ou bene wil nie meer nie; ek het vanmôre net met ‘n langbesem gevee …” (In teenstelling met ‘n jong mens wat kort en kragtig met ‘n gewone besem vee?)

“My ou vroutjie is so kort, sy het ‘n hemelbesem nodig om die vloer te
vee …”

Toe die tante tagtig geword het, sê sy: “Dis uiters onverantwoordelik van my om op my ouderdom tagtig te word!”

Alles baie gaaf, en prettig, maar is daar dalk iemand wat weet hoe lyk dit in die hemel?

My vonkpos-adres is: fanus@isales.co.za.




LitNet: 24 Januarie 2006

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.