|
|
Hallo daar!Fanus RautenbachOns was toe Woordfees toe op Stellenbosch. Sonder lyfwagte en met 'n lus vir prettigheid en 'n oor en 'n oog vir die humor en die lag. En ja, die narre was ook daar, maar ook die egte humoriste! Dit was 'n ware fees! Ander rubriekers wat ook daar was, kan gerus vir ons van hulle ervarings en belewenisse laat weet. Rubriekers kan skryf na pietc@sybaweb.co.za, waar die bydraes versamel en vir plasing versorg word.
Daar is groot fees op Stellenbosch gehou. Die wonder van die "woord" - die Afrikaanse "woord" met 'n kleinlettertjie "w" is gevier. Vir party was dit sommer ernstige sake.
Tossel sê:
'n Mens wat nie kan lag nie, weet nie hoe ernstig is die lewe regtig nie! Ons het die week wat agter die rug is, gaan fees hou op Stellenbosch - om die "woord" te vier. Dis nou "woord" soos om te sê "doen jou woord op Afrikaans" en nie soos die dominee Sondae die woord "Woord" gebruik nie. Daar is fees gehou om prettig te wees oor die erns van die taal wat ons hier kom plant het en wat gegroei het en om seker te maak dit verwelk nie weer nie. Sommer met die wegspring hier aan die suidpunt van Afrika het ons voorsate seker gemaak hulle sorg daar sal in die toekoms dinge wees waaroor ons kan fees hou. Die eerste fees wat ek self goed kan onthou, is die "Van Riebeeckfees" van 1952 - presies 300 jaar na die landing van Van Riebeeck aan die Kaap de Goede Hoop, maar toe het dit nog nie 'n naam gehad nie. Die dame wat vir die fees verantwoordelik was, was die beroemde Anna Neethling-Pohl. Nog nooit is daar so hard aan 'n fees gewerk nie. Behalwe vir die Landing van Van Riebeeck, wat sy in replikas van die werklike skepe, die Reijger, die Goede Hoop en die Drommedaris, sou aanbied, moes sy die vorige aand nog bid ook. Sy doen haar woord só: "Here, gee U dat dit 'n GROOT SUKSES môre is, nie net vir ons eie skeptiese mense nie, maar ook vir die uitlanders." Toe eindig sy haar klassieke gebed só: "AG HERE, ONS HET AL DIE MOEITE GEDOEN ... MOET ASSEBLIEF NIE DAT DIT REENT MÔRE NIE! WAT SAL DIE INGELSE VAN ONS DINK?" Ja, ons was nog altyd baie ernstig oor ons feeste. Maar by elkeen van hierdie feeste was daar altyd ook humor vir dié wat ore het om te hoor. Die eerste groot fees waarvan ek weet, maar nog te jonk was om die erns daarvan te verstaan, was die simboliese ossewatrek van 1938 - presies 100 jaar nadat die Voortrekkers hulle vir die Engelse in die Kolonie vererg het en besluit het om Noorde toe uit te wyk. Die leier van een van hierdie "simboliese" trekgeselskappe was wyle Hendrik Kloppers, wat later Speaker van die parlement sou word. Oom Hendrik was 'n baie godsdienstige man en sou in sy parlementsdae die bynaam van "Oom Bybelprentjies" verwerf. Hy het soggens op "die Trek" self die oggendgodsdiens gelei. Marais Steyn, later self 'n minister van die Nasionale Party, was toe nog 'n jong joernalis by Die Vaderland - 'n "Smelters"-koerant en 'n Sap! Marais Steyn het self vertel hoedat Hendrik Kloppers elke oggend aan die einde van sy gebed sy oë oopgemaak en na hom wat Marais Steyn was gekyk het om af te sluit met die woorde: "En Here bewaar ons teen die Satan is ons midde." Die Van Riebeeckfees was die eerste groot fees wat ek self bygewoon het. Dit was 'n goed georganiseerde fees ... en die fees het baie geld by die destydse regering en ander skenkers ontvang. Twintig jaar later was ek by 'n tweede groot fees. Maar dit was nie 'n georganiseerde, geborgde fees nie. Dit was 'n SPONTANE VOLKSFEES - myns insiens die eerste en enigste VOLKSKARNAVAL ooit! Ek verwys na die BRONKHORSTBAAISE FLINKVERIAFEES. Daar is al baie na dié legendariese fees verwys, maar min mense ken die agtergrond ... Vier manne, onder leiding van Casper Squier, het eendag bymekaargekom en gesê: "Die Republiek van Flinkveria is TIEN jaar oud, kom ons hou 'n FEES! "Waar?" "Bronkhorstbaai ... " Tien jaar na die geboorte van FLINKVERIA, 16 Oktober 1972, het die volk fees gevier ... 20 000 van hulle. In 1993 skakel 'n mej De Goede en vra of ek vir Deryk de Goede geken het, want dit is haar pa. Sy is 'n BRONKHORSTBAAIFEESBABA. Haar ouers was op hulle wittebrood ... en sy is 'n feesbaba. Sy is daar gemaak! Daarna was daar nie eintlik meer feeste nie ... Oee, daar is OPPIE KOPPIE ... en daar is die KKNK en die PLAASFEES, en op Potchefstroom is daar AARDKLOP. En nou is daar weer die WOORDFEES en hierdie keer is daar uit die Noorde na die Suide getrek. Hulle voorsate is met die ossewaens hier weg en hulle het met die vliegtuie teruggekom. Hulle voorsate het "agterryers" gehad om hulle te help; hierdie keer het hulle dit "lyfwagte" genoem. TOSSEL fluister in my oor dat dr Dan Roodt so bang was dat dit 'n sukses sou wees dat hy so vyftig studente gehuur het om na een van die geleenthede by die Woordfees op te ruk - dit was die LAGFEES: IN HOEVEEL TALE KAN 'N MENS LAG? Hulle had die opdrag om niks te lag nie. Hulle moes daar suurgat sit soos die toeskouers in Leon Schuster se Tolla van der Merwe-opname. Die verskil was dat Tolla se gaste glad nie gelag het nie. Maar die huurlagstudente is betaal om nie te lag nie, EN HET HULLE GATTE AF GELAG! Dis nou 'n LAGFEES! Die oopskopgrap lui: Wat is 'n boemerang wat nie terugkom nie? … Sommer net 'n bleddie stok! Wat is 'n fees sonder humor en lag? …. Sommer net 'n skare suurgatte!
Groetnis Umfaanus
Wil jy reageer op hierdie "Umfaanus"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |