Argief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hallo daar!

Fanus Rautenbach

Ons het hierdie week sommer 'n hele paar nuwe speletjies met name - van die oorsprong van byname, tot dorpe en aftree-oorde. Met al hierdie speletjies kan die rubriekers lekker saamspeel. Rubriekers kan skryf na pietc@sybaweb.co.za, waar die bydraes versamel en vir plasing versorg word.

Rapport berig: "Mnr Schabir Shaik het bleek geword, diep asem gehaal en na sy glas water gereik" toe regter Hillary Squires verlede week sekere dokumente, waaronder 'n faks, as getuienis toegelaat het. Shaik sou gesê het dit is die ergste wat kon gebeur het.

Tossel sê

Nou is dit nie net meer net shaik rattle and roll nie. Lyk mos vir my oom Zuma se vriend is nou behoorlik in sy peetjie in gefaks - en dit het niks eers met Louis Luyt te make nie.

*

Uiteindelik gaan prins Charles en sy handperd Camilla afhaak.

CAMILLA ET AL

Toe Camilla fluister aan prins Charles:
"Noem my jou liewe Liefie"
toe word die Engelse Koningshuis
baie meer opwindend,
want van die Ouma af tot by die Koningin
het hulle almal besef,
seks is 'n beter ondervinding …
want met prins Charles soos 'n parra
en Camilla soos 'n perd
huppel die koets na die kerk toe
ewe vrolik en spring-spring!

*

Jaco van der Westhuyzen sê hy is nou vir eers weer klaar met die klein mannetjies van Japan. Hy sê hy is eintlik 'n losskakel, en miskien nog 'n heelagter, en toe hy nog eerste span vir sy skool gespeel het, en een oom een winter besluit het om die spanne rustyd biltong in plaas van lemoene te gee, was hy nog tevrede, maar sushi? Toe hy beswaar maak teen die rou vis, en iemand na die skrum as 'n oond verwys, sê hy 'n mens kan nie vis in 'n mikrogolfoond bak nie …

*

'n Vreemde ding het sy kop uitgesteek in 'n dieretuin in Duitsland: hoewel die pikkewyne baie gepaar het, was daar nie veel meer kuikens nie. Toe kies die dieretuinowerheid ses pikkewyne uit en besluit om steekproewe op hulle uit te voer.

Die hele pik-pik-storie laat my buurvrou dink aan 'n oopskop uit die jaar toet. Dit was van die oujongnooientjie wat op troue gestaan het, maar niks van seks af geweet het nie. Haar beste vriendin gaan wys haar toe hoe die hoenders dit doen. En hulle eerste huweliksnag, toe haar bruidegom sy trouklere afstroop, bekyk sy sy anatomiese bedeeldheid met groot verbystering en sê: "Jy pik my nie met daai ding nie!"

Die verwysing na die Pikkewyn-dieretuin in Duitsland het 'n entrepreneur laat wonder of hy nie 'n wittebroodhotel kan open nie; dan noem hy dit PIK-EN-WYN!

*

Ons het verlede week 'n rympie oor Oompie Kedoompie gemaak as ons beskeie bydrae tot Kondoomweek. Toe stuur die nimlike Kooivlooi vir ons 'n veel beter poging:

Hompie Kedoompie staan styf langs die bal,
ewe kordaat met sy reënjas en al.
Al die koning se koekies, met oë so groot,
kan nie wag vir Hompie se veilige skoot!

Rufus Papenfus het ook sy ding vir Kondoomdag gedoen.

*

Lees die ander dag in 'n roman, wat in Skotland afspeel, 'n interessantheid raak: Lyk my die term bynaam kom oorspronklik van die Skotse platteland, waar, soos hier by ons, die mense nie groot gesinne gehad het nie, maar 'n swetterjoel ooms, tantes, neefs, niggies, oupas en oumas almal lewenslank in dieselfde omgewing bly woon het. Saam met die tradisie van familiename gee, was dit later nie meer goed genoeg om na iemand op sy doopnaam af te verwys nie - niemand sou weet van wie jy nou eintlik praat nie. Toe kry mense wat die Skotte noem ook "bynames" om hulle van mekaar te onderskei.

Hier by ons is byvoorbeeld die plek waar 'n man geboer het, gebruik as bynaam en kry jy Koos Donkergat en Koos Onnerkloof en Koos Pramberg. Destydse parlementslid Jood Henning het sy bynaam ontleen aan die feit dat sy pa die winkelier op die dorp was en só van die ander Hennings onderskei kon word. Dit was net logies dat sy seun Johan toe later Palestina sou word.

Die Engelse nickname (wat ons ook bynaam noem) het natuurlik heeltemal 'n ander doel. Dit gee uitdrukking aan 'n tipiese karaktertrek, eienaardigheid, kenmerk of gebeurtenis waarmee iemand verbind kan word - 'n prettige verskynsel onder onse mense.

Een van die ouens wat saam my op Normaalkollege was, was welbedeeld én blas van kleur - hy het na homself verwys as ou Swart Peits. Die motorjoernalis wyle Piet Wapenaar het om soortgelyke redes bekend gestaan as Piet Wapendraer.

Nic Naudé vertel van 'n ou wie se hare soos 'n gordyntjie voor op sy voorkop gesny was. Sy bynaam was ou Koeltekrans.

Fanus het nie 'n bynaam gehad nie, maar baie noemname. Stefanus het geword: Fanie ... Steffie … Faantjie … Fanna … Faansie … Fanoes … Faans … Stefaans … Rautie … Rauts … en nou Umfaanus.

*

Van byname na plekname.

Daar is baie speletjies met plekname, soos: Hoekom loop jy saggies by Stilfontein verby? Want Potgieter(s)rus en Steyn(s)rus, en Harry Smith en Lady Brand en Mooi Nooi Soek Mekaar. Terwyl Paul Roos Oogies maak vir Roos Senekal, misbruik hy sy Vry-heid deur Meer-hof te maak by Carolina met die Tweeling.

Hoe op aarde word Hessie-se-water Riviersonderend?

Piet Retief het Chrissiesmeer ge-Vryheid, De Wildt geraak ... toe Worcester en Worcester en nou Omaruru met die Tweeling.

Barry Dale het met Alice 'n Stel-in-bos afgetrap, toe moes hy haar 'n Pêrel gee ... maar Ma-mis-Barry baie en Weenen.

Hoekom het Harrismith vir Darling Oogies gemaak? Om vir Adelaide te wys waar lê Verneukpan.

Hoekom WOU Piet Retief vir Sannieshof toe vat - VIVO?

Parys saam met Outeniekwa terwyl Ma met Kwassie en al by die huis moet bly.

*

Die name wat ons dinge en plekke gee, vertel ook heelwat van hoe ons dit beleef. Ek woon deesdae in 'n plek met die naam DISA. Ons wat daar woon, noem dit 'n aftree-oord; dié wat nie daar woon nie, verwys daarna as 'n ouetehuis.

Ek vertel deesdae gereeld dié grappie: "Daar by ons woon 203 dames en 7 manne. Die mans gaan hemel toe en die dames Ouetehuis toe."

Volgens Die Burger word daar 'n nuwe Aftree-oord/ouetehuis vir Durbanville beplan. Hulle soek 'n naam.

"Die naam moet met BOME te make hê," sê die meeste.

"Soos wat?"

"Silwerbome … Herfsblare …"

Een van die omies sê die lewe het hulle nie baie goed behandel nie ... wat van Hardehout? Een van die ouerlinge reken die naam is te lekker. HARDEHOUT? Te na aan die waarheid. Wat van Wingerdstok, vra tant Sarie de Beer … dan kan hulle vuurmaak onder die treurige ou manne.

'n Ouetehuis/aftree-oord moet 'n naam hê. 'n Naam soos Saffier en Son. Die Bybel praat van Seders. Dalk kan ons dit die Huis van Libanon noem.

Daar is ook 'n voorstel uit Prediker 12: "Wanneer die amandelbome spierwit in die blom staan ..." Amandelhuis?

Die oumense van Durbanville is nie sonder humor nie. Wat van Verkouetehuis?

Kom ons begin 'n nuwe speletjie:

'n Aftree-oord vir aptekers: Huis Pilsierig.
Vir mynwerkers: Goue Tehuis
Vir predikante: Huis Woord of dalk Huis Amen
Vir rugbyspelers: Huis Krok
Vir parlementslede: Huis Laaste Reis
Vir verkramptes: Nouetehuis.

Groetnis!

Fanus




LitNet: 16 Februarie 2005

Wil jy reageer op hierdie "umfaanus"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.