Argief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Fanus Rautenbach

Hallo daar!

Fanus Rautenbach

Welkom terug aan al ons rubriekers hier by die eerste aflewering van 2005. Mag dit 'n prettige jaar saam wees. Die wêreld rondom ons sal wel genoeg bied om oor humor te pleeg. Die vakansietyd het sekerlik ook sy deel pret gebied en julle kan gerus daarvan vir ons vertel. Rubriekers kan skryf na piet@sybaweb.co.za waar die bydraes versamel en vir plasing versorg word. Aanstaande week spring ons ook weg met on veilig van die Schalk Burger skildery, wat deur hom geteken is.

Die ou jaar het maar op 'n somber noot afgesluit, en die nuwe jaar het op dieselfde noot begin, met die aardbewing en daaropvolgende tsoenami in Asië, en ons meelewing gaan uit na almal wat daardeur direk of andersins getref is.

Die terapie van humor moet egter ook nie onderskat word nie en help met ontlading. Sò ontvang ek hierdie teksboodskap op die oorbelfoon: "Die Gunston 500 (branderplank-kampioenskappe) is op omstrede wyse gewen deur 'n Indonesiër op 'n hangkas."

* * *

Hier vroeg in die nuwe jaar is ons krieketspelers - en hulle ondersteuners - sommer weer stert in die lug nadat hulle die Engelse op Nuweland geklop het. Nogal 'n voormalige tronkbewaarder wat hulle gehelp het om ten minste voorlopig aan 'n reeksnederlaag te ontsnap. Die nasionale keurders het egter nie so maklik aan hulle foute ontsnap nie en het Mark Boucher weer vir diens teruggeroep.

Tossel sê: Mark Boucher moet 'n baie goeie paaltjiewagter wees. Hy het selfs die nasionale krieketkeurders uitgevang en is terug in die Proteaspan.

* * *

Die dag na die toets op Nuweland kla Steve Harmison dat die Engelse spelers gedaan is. "Met 15 dae se krieket in die laaste 21 dae, het ons beslis 'n blaaskans nodig. Dis natuurlik nie 'n verskoning nie, maar ons sal beslis die afdae geniet," berig Die Burger oor Harmison. En daar was ek onder die indruk dat hulle die afdae op Nuweland gehad het.

* * *

Maar ek wil nou ook nie dat my bek my dalk been-voor-paaltjie laat beland soos dalk met die tydelike afrigter Ray Jennings kan gebeur nie. Kort na hy oorgneem het as afrigter het hy mos met Jake Wight gaan gesels vir raad oor hoe hy dinge vir die rugbyspelers omgedraai het.

Dit wil al lyk asof daardie raad vrugte afgewerp het met die resultate op die veld. Vir dinge van die veld af het Jake nie mooi vir hom vertel nie, of Ray het nie mooi geluister nie. Ons onthou nog wat Jake voor die laaste toets teen Ierland oor hulle spelers te sê gehad het, en wat hulle toe met ons manne op die veld aangevang het.

Nou seg Ray hy glo "ons het die sielkundige oorhand vir die res van die reeks." Dalk moet Ray liewer sy hand voor sy mond hou voordat sy voet dalk daarin beland.

* * *

Al gewonder waar die naam van daardie klomp lawaaikouse wat die Engelse krieketspan oral volg, vandaan kom? Dis nou die Barmy Army.

Bosman, Van der Merwe en Hiemstra se Tweetalige Woordeboek vertaal barmy met: "moerderig; gisterig; gishoudend; skuimerig - ( on the crumpet ) simpel, swaksinnig, getik".

Ander bronne wil dit hê dat die woord barmy verwys na die skuim wat bo-op bier dryf wanneer dit gebrou word. As jy daarvan inkry maak dit jou glo gek/simple/swaksinnig/getik, of op Engels, barmy. Al is daar 'n brouery vlak langs die Nuweland se stadion, het die kroeë maar gebars om die dors van die Suid-Afrikaanse son vir die manne van die army gelawe te hou.

Op die veld het die gebrou van die Engelse spelers hulle ook maar taamlik stil gehad

* * *

Met ons laaste rubriek aan die einde van verlede jaar was ons nog doenig om na 'n mooi Afrikaanse weergawe van die Engelse don't crowd me te soek.

At Nieman skryf uit Oudtshoorn: "Ek onthou 'n koshuismaat van destyds, Pine Pienaar (het darem al van 'n paar ander Pienaars gehoor wat nie "Pine" is nie), wat altyd, as daar 'n goot rugby of ander okkasie was, gesê het: LAAT DIE BYLE HYL EN DIE PIKKIE HIK … Na aanleiding van die hylende byle het ons familie 'n ander sêding vir don't crowd me, naamlik "ytmy yt, yt …"

Weet iemand dalk waar die uitdrukking "laat die byle hyl" vandaan kom? Ek weet die manne van Vanderbijlpark gebruik dit ook as kreet langs die rugbyveld, maar vriend At en Pine was by die Pretoriase Normaalkollege in die dae voordat Vanderbijlpark op die landkaart was.

* * *

Die Departement van Vervoer voer aan dat die bestuurders van Mercedes Benz- en BMW-motorkarre die grootste padvarke is. Gelukkig kwalifiseer hulle dit darem daarmee dat die bestuurders gewoonlik tussen 18 en 35 jaar oud is.

Umfaanus was hier vroeg in Desember self in 'n ongeluk, waarna sy Mercedes soos 'n moderne NG-kerk se dak gelyk het en tot skrootmetaal verdoem is. Gelukkig is ek te oud om 'n padvark te wees en was die Mercedes ook al mondig.

Dit het natuurlik nie my vriend Rufus Papenfus verhinder om met my die gek te skeer nie. Hy beweer ek het die hele dorp platgery op soek na vriende.

* * *

Brokkies uit die nuus:

  • In Johannesburg wil 'n gesin die selfoonmense hof toe neem omdat hulle dink die herleitoring dig by hulle huis maak hulle gelaatskleur blou. Wonder of hulle weet hoe blou van woede word ek oor die ongevraagde advertensies wat op my oorbelfoon beland?

  • Nando's het nou 'n kalender beskikbaar gestel waarin die Springbokke soos wafferse koggelramme pronk. Dit bewys net dat die manne van Nando's nie onder kuikens uitgebroei is nie en 'n warm ding ken as hulle hom sien.

  • Herschelle Gibbs is tydens die tweede kriekettoets in Durban beboet nadat hy sy boarm aan Aussie skeidsregter Darrel Hare gewys het. Dié het gemeen Gibbs betwis sy beslissing dat die bal van Gibbs se handskoen vir 'n wettige vangskoot gekom het. Dalk het Gibbs maar eintlik net probeer aandui wat na die wedstyd in die kleedkamer vir ontspanning beskikbaar is - 'n hele arm daarvan.

    * * *

    'n Paar rubriekers het toe darem in die vakansietyd 'n bietjie pret met ons onvoltooide limerieke gehad en vir ons 'n vyfde versreël bygevoeg. Ons gee hulle byvoegings in vet letters.

    Swys Langner skryf:

    'n Vrolike weduwee, nig Bettie,
    het getrou met koek en konfettie,
    Toe hulle gaan slaap,
    Sê sy vir haar Jaap:
    Dis noggie die end van die prettie!

    en

    'n Hoenderboer van Potchefstroom
    smous sy mis aan 'n dikbek oom:
    "Moet ek hierdie strooi
    oor my aarbeie gooi -
    van wanneer af lyk drek soos room?

    Louis Kuhn skryf:

    'n Vrolike weduwee, nig Bettie,
    het getrou met koek en konfettie,
    Toe hulle gaan slaap,
    Sê sy vir haar Jaap:
    Onthou ekhettieneteentettie.

    en

    'n Hoenderboer van Potchefstroom
    smous sy mis aan 'n dikbek oom:
    "Moet ek hierdie strooi
    oor my aarbeie gooi -
    Ja oom verbeel jou net dit is Wimbledon se room.

    Ryk Minnaar skryf:

    'n Vrolike weduwee, nig Bettie,
    het getrou met koek en konfettie,
    Toe hulle gaan slaap,
    Sê sy vir haar Jaap:
    In hierrie mik skiet ons nie kettie.

    en

    'n Hoenderboer van Potchefstroom
    smous sy mis aan 'n dikbek oom:
    "Moet ek hierdie strooi
    oor my aarbeie gooi -
    dalk kweek ek weer 'n disselboom.

    Voordat iemand ons voor stok kry oor die stuitigheid van die limerieke, hier is wat Henk Bierman (self teoloog van naam) oor die oorsprong van die limeriek vir ons skryf:

    Dit gaan oor Limerick, as 'n plek en ook as 'n stuitige versie bekend as limeriek. Limerick is langs die Shannonrivier in Ierland geleë.

    Die vernaamste eksponent van "Die Limerick" as verspotte rympie van 5 reëls, met die rymskema aabba, was ene Edward Lear (1812 tot 1888), wat 'n boek getiteld, Book of Nonsense, die lig laat sien het. Hy het dit baie gewild gemaak.

    'n Veelgeroemde letterkundige, A P Grové (onlangs oorlede), dui nóg 'n kenmerk van die limeriek aan: Die vyfreëlige rympie se eerste tweede en vyfde reëls is 3-voetige anapestiese reëls, en die 3de en 4de reëls is 2-voetig. (Gelukkig nie duisendpotig of iets dergeliks nie!) Min of meer só iets:

    - / - - / - - /
    - / - - / - - /
    / - - - /
    / - - - /
    - / - - / - - /

    Maar nou weet ons mos dat "taal nie so styf in 'n borstrok kan klim nie". Daarom kan die metrum as maatstaf slegs by benadering die versies rig. Die ideaal bly egter om die metrum altyd in jou agterkop te bêre as jy met so 'n versie besig is. Soos in:

    There was an Old Man with a beard
    Who said: "It is just as I feared!-
    Two Owls and a Hen
    Four Larks and a Wren
    Have all built their nests in my beard!"

    Nog 'n kenmerk van die limeriek is dat die inhoud dikwels van twyfelagtige aard was. Onvleiend en soms baie kras, om nie te sê "platvloers" nie. Dit was nie net satiries van aard nie, maar dikwels afbrekend spottend.

    Die herkoms van die limeriek is nie seker nie. Die stories kan selfs dorpslegendes genoem word. Volgens Grové is daar 'n teorie dat dit by Ierse soldate van die stad Limerick ontstaan het in 1700. 'n Ander bron gaan bietjie verder met die storie: volgens die oorlewering kom dit van 'n geselskapliedjie "Will you come up to Limerick", wat 'n Ierse brigade gesing het toe hulle met verlof uit Frankryk gekom het in daai jare. Een ou het begin, 'n tweede het die tweede reël laat rym, 'n derde het die afwykende reël bygesit, die vierde het met sy reël gerym, en die vyfde het die slotreël voorsien wat met die eerste twee gerym het. Nogal slim vir Iere, sou ek sê. (Weer eens met my meisie se tong in my kies.) Hierdie bron voeg ook die interessante opmerking by dat die oorspronklike limerieke se eerste reël altyd met een of ander pleknaam geëindig het, soos in:

    Daar was 'n slim man van Tamboerskloof
    hy dag hy kon hoor, maar was moersdoof,
    geen tamboer kon hy hoor nie
    wat sy rus kon verstoor nie
    so ten slotte kon hy selfs die "Broers" loof!

    "Daar was" is dan ook die volmaakte begin vir 'n limeriek, want dit sit jou dadelik op die roete van die anapestiese metrum.

    Umfaanus het in 1993 self 'n boekie met die titel Lekkerkry met limerieke en limeryme0 die lig laat sien en die vorm van die limeriek so verduidelik (al het die woordeboeke toe nog op die spelling limerick aangedring, het ons volgehou met 'n verafrikaansing daarvan):

    Die limeriek is vyf reëls nie ses
    Nie te verwar met versvoet-res
    Nie 'n daktiel nie
    'n kwadriel nie
    ligsinnige nonsies het dié anapes!

    * * *

    Ons hoop om aanstaande week ons webveiling met die skildery wat Rufus vir ons van Schalk Burger, die beste internasionale rugbyspeler van 2004, gemaak het en deur Schalk onderteken is, af te skop. Ons sal die skildery hier op LitNet aan die hoogste bod verkoop. 'n Deel van die inkomste hieruit sal aan 'n welsynsorganisasie geskenk word. Gesprekke oor die voorwaardes van die skenking is nog met die beoogde organisasie aan die gang en die naam sal saam met die loodsing van die veiling aangekondig word.

    Groetnis!

    Fanus



    LitNet: 11 Januarie 2005

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.