|
Goeiedag! Na aanleiding van die navraag oor expats stuur ek graag ons inligting aan. Die grootste deel van die bevolking, ongeveer 96 persent, is Katoliek, terwyl die res opgemaak word deur die oorblywende 4 persent. Ons vind dit heel aangenaam; die weer kan glad nie kers vashou teen die van Suid Afrika nie, en wanneer die sonnetjie sy kop vir n rukkie uitsteek, moet mens maar vinnig die braaivuurtjie aan die gang kry. Die gang van die lewe is in sommige opsigte veel stadiger as waaraan ons gewoond is, en op die platteland heers daar nog n tydsaamheid wat soms moeilik is om aan gewoond te raak. Hier sluit besighede gedurende etenstyd, en jy kan vergeet om iets gedoen te kry. Banke is toe op Saterdae, en as n bekende in die gemeenskap doodgaan, sluit die helfte van die dorp vir n dag uit simpatie met die naasbestaandes. Publieke vervoer is nie te sleg nie, en mens kan maklik rondbeweeg sonder om n voertuig te besit. Paaie is meestal in swak toestand, baie nou en kronkelend, wat dit nogal n wilde ervaring maak om hier te bestuur. As gevolg van Ierland se nuutgevonde rykdom is daar ook veel meer voertuie as wat paaie kan hanteer. Ons slaap snags met oop deure, motors staan ongesluit buitekant, en mens is glad nie so veiligheidsbewus as in SA nie. Die vreemdste is die oorvloed van besigheid, en dit staan in sterk kontras met SA waar ek vir jare lank moes raap en skraap om siel en liggaam aan die gang te hou. Binne n radius van omtrent 15 km woon n hele aantal Suid Afrikaanse gesinne, en ons is nie meer verras om in Dublin te loop en iemand te hoor Afrikaans praat nie. Met die Kersdiens by ons plaaslike Presbiteriaanse kerkie was omtrent 80 persent van die gemeente Afrikaanssprekend. Ons verlang die meeste na ons familie en vriende in Suid-Afrika die een ding wat aanpassing hier baie moeilik maak. Aan diegene wat daaraan dink om die land te verlaat, kan ek maar net waarsku dat so n stap nie vir softies bedoel is nie. Mens moet maar hare op jou tande hê, want al is die Iere oor die algemeen n vriendelike klomp, neem dit baie lank om in die gemeenskap aanvaar te word. Ons Afrikaners kuier maar so onder mekaar soveel ons kan. Omdat daar onder party gesinne nog jong kinders is, voel ons dat dit belangrik is om ons taal aan die brand te hou. Daar is na alles niks soos n goeie sêding in Afrikaans nie. Ons is binnekort op pad SA toe vir n vakansietjie, en ons kan nie wag vir n bietjie sonskyn nie. Winter hier is n lang en droewige nat besigheid, en ek kan my nie n huis sonder n kaggel of twee voorstel nie. Ek kan aanhou tot volgende week toe, maar voorlopig groetnis, Andreas Blignaut |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |