Edie van die AardeArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hair like that

Edie Boshoff

Omtrent net mooi enigiets wat die regte snaar tref, kan my laat grens. 'n Mooi gedig. Eighties musiek. Weerpatrone wat my aan my tuisdorp herinner - ag, daar's geen einde aan die aantal situasies, voorwerpe en verskynsels wat die potensiaal het om my tydig en ontydig soos voorhamers te tref en die damwalle te laat kraak nie. 'n Vriendin met wie ek eendag oor my kondisie gesels het, het my vertel (maar dit eers baie duidelik gemaak dat sy dikwels nie aanhalings woord vir woord reg onthou nie - so by voorbaat apologie indien benodig) dat Nataniël eenkeer êrens geskryf het: "Party mense bly naby die berge, party mense bly naby die see, maar ek, ek bly na aan trane." Ek wou huil net by die aanhoor daarvan.

Ek is bewus van my oorsensitiwiteit. Ek huil nie net maklik om mooi, aangrypende, ontstellende of sentimentele redes nie. Ek trek my ook dinge, soos die oumense altyd gesê het, maklik aan. Ek probeer van my hipersensitiwiteit bewus bly, herinner myself kort-kort daaraan, probeer kompenseer, betig myself wanneer ek situasies oordink het en kan sien dat ek sommer net simpel is. Ek is sensitief, ek weet dit. Oorsensitief. Maar ek is nie paranoies nie. En tog, soms, kom daar iemand op mens se pad wie se hare jy klaarblyklik laat rys. Soms is dit om verstaanbare redes (jy's hulle kêrel se eks, of jy't hulle vriend gelos), en dit maak dinge baie makliker om te verwerk. Maar soms is dit duidelik dat iemand 'n renons in jou het, en jy dink en jy dink tot jy voel jou kop gaan bars, en kan steeds nie 'n goeie, sinmakende rede daarvoor vind nie. Dit gebeur (genadiglik) nie gereeld, of met vriende nie (met vriende word probleme aangespreek en opgelos, iets wat heel natuurlik kom vir mense wat mekaar ken en liefhet).

Nee. Die keer of wat vantevore wat ek so iets ondervind het, was by naskoolse inrigtings. En by die werk. Dis moeilik om in te spring en goeie werk te lewer as dinge nie stryk nie. Moeilik om dag na dag in dieselfde omgewing te moet saamwerk onder die voorwendsel dat alles ok is as jy kan aanvoel dit is nie. Daar is baie maniere om iemand te verwond, maar een van die effektiefstes is sekerlik om 'n ander se kreatiewe werk as substandaard, onvoldoende te verklaar. Veral as dit gedoen word op wyses wat dit bitter moeilik maak om jou vinger daarop te sit. As dit so subtiel is, so toegewoel in ander gedaantes, uit sulke vreemde oorde en met sulke onverwagte ompaaie kom. En as die lig eers aangaan, in jou oë skyn en jou rus begin verstoor, begin mens dink aan maniere om dit aan te spreek, dit hopelik op te los. Maar as dit wat jy wil aanspreek, nie erken word nie, as onderwerpe so vinnig verander word dat jou kop daarvan spin, word jou ellende 'n klein, honger muskiet in die middel van 'n pikdonker nag. Al die klappe na die gezoem om jou ore tref net jouself. Skielik begin jy jou bekommer oor dinge wat jy vantevore nie twee keer oor sou gedink het nie. Jy steek hand in eie boesem, doen selfondersoek. Kyk met nuwe oë na die werk wat jy voortbring, wonder of ander mense dieselfde oor jou voel. Skielik loop jy sleepvoet oor plekke waar jy voorheen gehuppel het.

Net om daaroor te dink voel simpel. Soos ek hier sit en skryf, voel ek laf. Ek is 31 jaar oud, het al heelwat van die wêreld gesien. 'n Redelike aantal mense van verskeie dispensasies ontmoet en in 'n redelike aantal uiteenlopende omgewings met 'n redelike aantal uiteenlopende mense saamgewerk. Die stemmetjie hierbinne sê ek behoort so iets te kan aflag. My skouers op te trek en te sê dis stupid en so what. Maar helaas, dit werk nie. My wêreld se as het gekantel, alles voel 'n paar grade gekantel na 'n verkeerde kant. Dis nie 'n rasionele ding nie. Dis 'n daar is iemand wat nie van my hou nie en nie en ek kan nie uitpluis hoekom nie ding. En dit maak seer. My ma het my van kindsbeen af gewaarsku dat dit onrealisties is om te verwag dat mens met almal wat jy teëkom vriende kan (of behoort te) wees. My sakevroususter kondig elke nou en dan aan dat sy nie by die werk is om vriende te maak nie. Ek weet dat dit menslik, maar onrealisties is om te wil hê almal moet van jou hou. Maar op 'n onbewustelike vlak is dit 'n universele, menslike behoefte, iets wat ons almal as weerlose skepsels saamsnoer.

Van die os op die jas: ek het altyd gedink Guy Fawkes is 'n ondeunde, mensgrootte jakkals. Soos Mario van Pinocchio, of Jakkals van Jakkals en Wolf. My ouma het altyd "Hei, jou Guy Fawkes!" uitgeroep as een van ons kleinkinders haar 'n poets gebak het. Sy het die "Fawkes" baie vinnig uitgespreek, dat dit soos "Fox" geklink het, en ek het eers baie jare later uitgevind Guy Fawkes was toe al die tyd 'n fanaties-gelowige Middeleeuse terroris en nie 'n groot jakkals nie. Ek het gister eers, met die hulp van die internet, geleer wat Guy se motivering was om die Britse parlementsgeboue in 1605 te probeer opblaas. (Terloops, het julle geweet dat dit tot en met 1959 onwettig was om nie Guy Fawkes se net-betydse arrestasie te herdenk nie?)

Ek vertel die Guy Fox-storie omdat ek aanvanklik oor die Londen-bomme wou skryf. Oor die eerste bomme en toe die bomme wat nie afgegaan het nie en oor die arme man wat gehardloop het en sewe keer in die kop geskiet is. Oor hoe voorspelbaar die hele storie was, asook Tony Blair en sy makkers se rou nerf om te durf verkondig dat die Londen-bomme niks te doen gehad het met hulle ondersteuning van Amerika en/of hulle troepe se teenwoordigheid in Irak nie - alhoewel ek lees dat hulle hulle storie onlangs so effens verander het.

Ek wou hierdie stuk iets soos "Surprise, surprise" of "Thanks vir niks, Tony Blair" genoem het, en vertel het van my naweek van paniek oor die veiligheid van my Londense vriendin, 'n happy, hardcore raver met blou hare genaamd Amnesty Adams (wat deesdae in 'n bank in sentraal-Londen werk maar genadiglik ok en in een stuk is). Ek wou selfs 'n vreemde parallel probeer trek tussen die Londen-bomme en 7de Laan (albei vreeslik voorspelbaar) nadat ek nou die aand per toeval 'n episode van laasgenoemde beleef het terwyl ek vir die nuus gewag het. Ek het die TV aangesit en gedink ek sien vir Gary Glitter om 'n deurkosyn loer, net om later te besef dis toe al die tyd 'n rondsluipende matrone met 'n kop vol mampoerstookplannetjies.

Maar ek het nie daaroor geskryf nie. Hierdie ander ding pla my te veel. Natuurlik is dit selfgesentreerd, maar op die oomblik pla dit my baie meer dat iemand nie van my hou nie as dat terroriste onskuldige mense vermoor en probeer vermoor en dat die Britse polisie 'n onskuldige man doodgeskiet het. Want dit voel asof iemand 'n bom in my vreedsame, happy-go-lucky wêreldjie ontlont het. En ek weet nie wat hulle motivering is nie. Ek wil nie 'n Tony Blair trek en sê dit het niks te doen met my aksies of dade nie. Maar ek is tog ook nie in ontkenning nie. Ek soek die redes, ek wil daaraan werk. Maar ek kan om die dood niks daadwerkliks vind nie. Ek is in niemand se Irak nie. Ek het nie trou gesweer aan 'n ander se aggressor nie. Wat het ek gedoen om dit te verdien? Wat kan ek doen om dit te laat ophou? En wat maak skepsels soos ek wat gedurig gevaar loop om ingesluk te word, te verdrink in die oseaan van hul eie sensitiwiteit?

Nou die aand het ek by 'n vriend gaan kuier vir een van ons rituele DSTV- en take-away roti aande. Ons albei hou daarvan om op 'n matras-en-kombers-nes natuurprogram op natuurprogram op TV te kyk. Nou die aand se natuurdokumentêr was oor orang-oetangs. Dit was vreeslik interessant, maar om een of ander rede het ons gesprek die rigting van die ape se hare ingeslaan. Uit die aard van die saak was hulle haarstyle snaaks (lank, yl, oranje), en ek is nou nog nie seker hoe ons op die onderwerp gekom het nie, maar ons het begin om ons vriende en kennisse met "hair like that" in te dink. Vir die res van die aand het ons gelê en giggel oor dié en daai met "hair like that", en gou het dit in 'n gemoedelike kompetisie ontaard. My vriend sou sê: "George Bush with hair like that", waarop ek sou antwoord: "Felicia with hair like that", waarop hy weer sal antwoord: "Your father with hair like that" en so aan.

Die volgende oggend was ek terug by die werk, en dit was nie lank voor die doring in my vlees langs my lessenaar staan met die soveelste probleem/beswaar/afjak/verskuilde belediging nie. Ek het gewag vir my moed om in my skoene te sak, die trane om te begin opwel. Maar verniet. Al wat in my geestesoog opgedoem het, was 'n beeld van my doring met "hair like that". Daar was 'n blanko uitdruking in my oë vir n paar sekondes, toe 'n breë glimlag op my gesig. My doring was verdwaas, onbewus dat sy skielik met lang, yl, oranje "hair like that" voor my gestaan het. Sy het terug geglimlag, omgedraai en weggestap. Ek kon voel hoe die seer verdamp, kon skielik glimlag oor die hele absurde situasie. Die dun gordyn wat wapper voor die kompleksiteit en weerloosheid van mense, het skielik oopgetrek, en vir 'n oomblik het ek verstaan hoe dieselfde ons almal eintlik is. Hoe my pyn maar net 'n gevolg van 'n projeksie van haar pyn is, hoe maklik en menslik dit is om verligting vir mens se eie pyn te probeer vind in 'n ander se seer. Hoe gepynigd ons almal maar op ons eie manier is, hoe onmoontlik dit is om almal se pyn te ken. En hoe maklik dit eintlik is om daai pyn te verstaan. Skielik het ek verstaan. En kon ek aangaan.

Ter afsluiting …

Tony Blair met hair like that
Robert Mugabe met hair like that
Dan Roodt met hair like that
Manto Tshabalala-Msimang met hair like that
Iemand wat jou al sonder goeie rede seergemaak het met hair like that

En sommer jouself ook met hair like that ;)



LitNet: 16 Augustus 2004

Wil jy reageer op hierdie rubriek? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.