|
|
How's your Honda?Edie BoshoffEk is so 'n rukkie terug ingelig dat ek een van my company se top 20 emailgebruikers is. In November alleenlik het ek blykbaar 1 289 emails gestuur. Ek is herinner aan my "cost to company", en ook dat die voorreg van email hoofsaaklik daargestel is vir besigheidsdoeleindes. Ek het aanvanklik vreeslik sleg gevoel, veral aangesien ek in my antwoord geskryf het ek dog al die emails gaan uit op dieselfde lyn, en eers later besef het wat hulle met "cost to company" bedoel. Maar die hele ondervinding het my nogals laat dink. Oor my kommunikasiepatrone. En die onderliggende redes daarvoor. So het ek tot die besef gekom dat low-key maar deurlopende emailgeselsies met vriende my hoofsaaklike motivering is om soggens op te staan en in te kom werk toe. Niks persoonliks teen my werkgewer nie, maar ek is nie mal oor werk nie. Ek verkies volgehoue, kasuele kommunikasie. Ek hou daarvan om emails te stuur en te ontvang wat lui "ek smag vandag na wangedrag" of "my jambiese pentameter is deur die dak". En ek hou baie meer daarvan om oor ander mense te skryf as oor myself. Ek dink dis hoekom ek sukkel met deadlines. Douglas Adams het gesê: "I love deadlines. I like the whooshing sound they make as they fly by." En alhoewel ek voel dat love miskien 'n te sterk woord is, voel ek hom nogals. Maar eintlik is spertye maar net 'n korreltjie sand in die woestyn van my veel groter probleem: ek sukkel om een keer per maand met 1 000 interessante en oorspronklike woorde vorendag te kom. Want eintlik is ek gatvol vir myself. 'n Paar vriendinne het dit onlangs reggekry om vir Korporatiewe Suid-Afrika 'n pit te druk. Nog 'n paar beplan om dit binnekort te doen. En ek sit met deadlines en writer's block en 'n maandelikse mandaat om iets oor myself te skryf en 'n groot probleem want hoe stuur ek iets die wêreld in as alles wat ek daarin sê my grensloos irriteer? Dis dan wanneer ek in die kriek verander wat kies om die somer deur te sing. Die kriek sal gaan braai, music shows bywoon, op road trips gaan, ou foto's uitsorteer en selfs haar huis van hoek tot kant skoonmaak. Sy sal énigiets doen wat niks met skryf te doen het nie. Wanneer sy dan wel 'n bietjie vrye (skryf)tyd het, pass dié hedonistiese insek 7-uur die aand uit met die lig aan. My werkemailkletsery is deesdae dramaties afgeskaal - 'n direkte gevolg van my vriende se korporatiewe eksodus. Die een vriendin wat wel nog op email bereikbaar is, is te besig om heeldag met my te sit en nonsens praat. Skielik het ek vrye tyd by die werk. Tyd wat ek seker kon aanwend om my verpligtinge na te kom. Maar in plaas van spertye het die kriek nuwe vriende gemaak. Snaaks hoe veranderende omstandighede en 'n klein breinskuifie nuwe wêrelde kan ontsluit. Waar my hart voorheen gesink het as ek subject lines soos: "Cheap druggs", "Guten Tag!!" of "VIAGGRA GRRR" in my inbox gewaar, is dit deesdae fassinerend om te probeer uitpluis wat individue soos Makari Chamberlain, Eulalie Locke en Corkscrewing S Slat met my wil deel - hoofsaaklik Viagra. "Save over 70 per Shaver Cent On your Meds with MedzByMails redemption hop," beloof Saira Jung een Maandagoggend, en selfs al het ek geen sekslewe het om te verbeter of te verryk nie, het ek die aanbod tog versigtig oorweeg. Ek dink steeds dat my bure se gesigsuitdrukkings, by aanskoue van die MedsByMail redemption hop al springende voor my deur, my laaste Shaver sent werd sou wees. Eulalie Locke se email ("Like being a teenager again") het aanvanklik as ietwat ouderdom-diskriminerend voorgekom. Maar nadat sy haarself as verteenwoordiger van "one of the leading online pharmaceutical starlit shops" voorgestel het, was alles vergewe. Skielik was ek nie meer in 'n werkstasiehoekie, omring van job bags en vasgewortel voor 'n computer nie, maar êrens in die Melkweg op 'n komeet se stert, besig om kalsiumaanvullings te koop in Eulalie se sterbeligte apteek. Cantons L Guyed, vermoedelik van Duitse afkoms, groet altyd met 'n vrolike "Guten Tag :))". As jy sy briewe oopklik, verskyn daar 'n prentjie van twee welbedeelde dames in bikini's wat pakkies Viagra vashou. Corkscrewing S Slat se emails is baie soortgelyk, maar aan die bokant van sy prentjie is daar 'n vryende paartjie, en tussen sy twee amper-kaal dames 'n breëkaak, grynsende apteker. Corkscrewing sluit sy brief af met 'n kriptiese: Tsyanam My Honda ìs opgewonde. Plaas van werk, dagdroom ek deesdae oor my nuwe loopbaan in die internetmedisynebedryf. Oor ek en Makari, Corkscrew en Cantons wat saam soggens voor die hoofkwartiere van SPAM.INC in ligte reën sigarette deel. Smiddae eet ons ons polonietoebroodjies om 'n plastiektafel in die kantien, keer dan terug na ons rekenaars, waar ons gemoedelik meeding om te sien wie met die mees verwarrende email opening lines vorendag kan kom. 'n Poging soos Good day,sal 'n goedkeurende glimlag van ons analfabeet supervisor verdien, terwyl 'n juweel soos:
jou beslis 'n bevordering sal verseker. Skertsend en tevrede sal ons medisyne-advertensies aan vreemdelinge die wêreld oor email, terwyl Eulalie vragte Viagra vanaf haar starlit apteek sal versend. Idillies. Maar ek ken myself. Diep binne my besef ek dat selfs hierdie nuutgevonde werksatisfaksie 'n vervaldatum het. Kort voor lank sal ek sukkel om my Viagra sales targets te maak, gatvol raak vir Corkscrewing se banale grappies en Makari se irriterende gewoonte om nooit my stapler terug te gee nie. Ek sal 'n waarskuwingsemail ontvang oor die hoeveelheid nie-Viagra-verwante emails wat ek maandeliks uitstuur en begin droom oor 'n werk by die universiteit wat "genuine college degrees in only two weeks" uitreik. Maar vir nou is ek tevrede. 'n Ander mens, eintlik. Voorheen sou 'n stukkie skryfwerk soos: With each pur panegyrical chase, you get: my as taalversorger opgeklits na 'n rooi pen laat gryp het. Deesdae sit ek voor my screen en piesangs eet terwyl ek al kan sien hoe ek my Best Price burlap met confident stride iality van die Home Invalid Delivery persoon in ontvangs sal neem. In plaas van om te werk. Of oor myself te skryf. So vir nou skryf ek eers net oor ander mense. Ek hou van ou Corkscrew, Cantons, Eulalie en Makari se vreemde geselskap. Al vermoed ek hulle is Amerikaners en/of aliens. Al skryf hulle 'n taal wat ek min van verstaan. Al verkoop (en, ek vermoed, vat) hulle heeltemal te veel druggs. Ten minste is hulle nie ek nie.
Wil jy reageer op hierdie rubriek? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |