|
|
Soos TobieEdie BoshoffKlik hier en wen 12 maande af op jou huislening! Ek sit laas Sondag saam met my oupa op die stoep en familiefoto's kyk. My tannie kom uitgestap, staan dan langs ons stil. Sy loer na die foksterriër op die swart-en-wit foto'tjie in my oupa se hand. "Wat was daai hond se naam nou weer, Pa?" "Tobie," antwoord oupa. My tannie trek haar oë op skrefies teen die kwaai middagson. "Daai hondjie was baie slim. Baie stout ook. 'n Regte rondloper." Sy bly 'n oomblik stil. "Hy't eendag op die plaas aangehol gekom. Iemand het hom lewend afgeslag." Dit voel asof 'n rots op my borskas val. "Sy vel het nog aan hom gehang," gaan sy voort, en 'n beeld van Tobie, vol stof en bloed en vrees kom lê rukkend in my kop. Ek vra haar om te stop. Ek kan nie verder luister nie, my pap hart onopgewasse teen nog 'n aanslag. Want soos ek daar sit, voel ek 'n bietjie soos Tobie daai verskriklike dag moes gevoel het. My vel aan 'n draadjie. Lewend, maar alles in my een groot, oop seer. Want 'n deel van wie en wat ek is, is vir altyd weg. Want my ouma is dood. Aanhoudend en verbete val die tydingswoorde my kop binne. Ek was op my tuisdorp by familie. Want my ouma is dood. Afgevat by die werk en deurgery vir die begrafnis. Want Ouma is dood. Op die N2. In die hoofstraat. Die begrafnisondernemer se grys kantoor. Die kamertjie wat Oupa en Ouma gedeel het. Ouma. Is. Dood. En ek kan dit steeds nie glo nie. Of daaraan dink sonder om van voor af velloos en verlore te voel nie. Sy was 'n Kreef, soos ek. Kwart-Ingilsvrou-Afrikaner, grootgeword op 'n plaas in die Vrystaat. Na skool gewerk as assistent vir 'n ou dokter, later Pretoria toe getrek agter 'n jop in die staatsdiens aan. In ta' Mieta se boardinghouse het sy 'n stoïese jong dopper-nasionalis ontmoet, 'n kort kêrel met 'n brushcut wat 'n dwarshou kyk op elke familiefoto. Na hul troue het hy haar op 'n wittebroodsreis geneem om sy Kalahari-familie te ontmoet. Die oujongnooisuster wat hom grootgemaak het, het die donker meisie met die gitswart hare gevra "van watse Snymans" sy nou eintlik is. "Ek vra maar net," het die tante na oorlewering gesê, "want as jy ver genoeg agteruittrap, dan trap jy dalk net in die stroois." In hulle ouetehuiskamertjie was die oggendsonstraal op sy pos, maar Ouma se bed het kaal gelê. Die staalgeraamte se rugleuning was opgestel, asof die bed probeer orentkom, toe verstar het. Oupa het stil op sy stoel in die hoek gesit. Hy't sy hoed en reënjas aangehad. Die voormalige voorsitter van die dorp se stapklub wou uitkom. Al is enige afstand deesdae te gevaarlik, te seer, te ver. Sy was 'n gentle ou lady met groot, bruin oë, 'n krakerige lag en 'n fyn antenna vir die absurde. Sy was lief vir pienk, 7de Laan, en 'n glasie sjerrie op 'n Sondag. Sy't na laventel en rooswater geruik, was trots op die feit dat sy nog al haar tande gehad het, en was 'n uithaler boerekoskok. Sy het 'n verjaarsdag met Nelson Mandela gedeel en die wonderlikste stories oor die ou dae vertel. Hoe haar pa sy sig verloor het toe hy en twee maats gekyk het wie die langste in die son kan staar; die keer toe die kinders die trouring in die longdrop laat val het; toe my nefie die hoender met 'n klip doodgegooi het; toe die hond my gebyt het … Ons het by die familiehuis vergader, besluit op Bybelversies, woorde, foto's. Die mense by Avbob gaan sien. Blomme bestel. Die foon geantwoord. Die voordeur oopgemaak vir familie van oor die land, kos gemaak, wyn gedrink, staaltjies vertel, gelag. Gaan slaap. Word wakker. Ouma is dood. Sy het 'n voorkopstrik-kopdoek oor haar krullers gedra, 'n pers wolhoedjie as sy uitgaan. Sy het bankboekies en kerkblaadjies en foto's van haar kleinkinders in haar "doedelsak" gebêre; haar kopkussing was vernoem na die vrou wie dit gemaak het. Sy het nooit 'n gemene woord oor enigiemand gesê het nie, was nooit bang om met my oor my ma te praat nie. Ons albei se gunstelingstorie was hoe sy my die eerste maande van my lewe na die groot motorongeluk versorg het. Ons het nege-uur die oggend vergader in die vaal ou begraafplaas. Ouma wou saam met haar kind begrawe word, so haar kleinkinders het haar kis na my ma se oop graf gedra. 'n Paar meter weg het die graftoegrawers in blou overalls op skopgrawe geleun, die Avbob-man met duim en voorvinger soos 'n skoolseun in sy anorak gestaan en rook. Oupa op 'n swart opslaanstoel voor die graf. Traanloos. Woordeloos.
Haar aardse besittings kon in drie swartsakke pas. Dit het hard gereën buite, maar Oupa het geloop toe ons die hangkas oopsluit. Ons het haar klere in twee hopies gepak. Dit wat ons wil hou, dit wat na die arm woonbuurt moet gaan. Daar was boekies, foto's, 'n juwelekissie. 'n Pak grootmensdoeke. 'n Pers wolhoedjie. Die Sondag na die begrafnis het die son geskyn. Die reuk van Oupa se geliefde skaapnekbredie het in die lug gehang terwyl ons deur die fotoboks gegaan het. Oupa het alles omtrent elke foto geweet. "Daardie kêrel se naam is Suiker van Zyl. Hy't vir al die nooiens 'Suiker' gesê." "Daardie was my eerste donkie. Sy naam was Ryperd." "Daardie basterhond se naam was Niggie." "Daardie man het later die eerste minister van Suid-Afrika geword. Viljoen was sy naam." Oupa bly stil as ek foto's van Ouma aangee, kyk net stip na die bewende opkrulvierkantjies in sy hand. 'n Meisie in 'n Voortrekkerkappie met 'n dromerige kyk in haar oë. 'n Ernstige jong vrou wat 'n kwasjiorkorbabatjie se arms oplig vir 'n foto. Oupa en Ouma wat laggend uit die kerk stap, konfetti-blurs op die voorgrond. "Julle moet kom eet, die kos is reg," sê my tannie. "Ja," sê Oupa, en die foto val terug in die boks.
By my huis pak ek uit. 'n Pienk trui wat na laventel ruik. Haar opwenpolshorlosie. Die koek-koekklok wat my ma vir haar in Oostenryk gekoop het. Ek voel soveel dinge tegelykertyd, maar al wat in my kop bly vashaak, is: Al haar besittings kon in drie swartsakke pas. En weer eens voel ek soos Tobie. As ek dink dat ek haar nooit weer gaan sien nie. Nie in die kombuis aan 't koekbak nie. Nie waar sy besig is met 'n blokkiesraaisel of 'n outydse love story nie. Nie in haar plassie sonlig nie, haar bedjie, haar rolstoel of haar pers hoed nie. Ek wéét sy is op 'n beter plek. Ek wéét sy was nie bang vir die dood nie, dat agt-en-tagtig 'n goeie ouderdom is, dat sy 'n vol, bevoorregte lewe gehad het en dat sy pynloos en vreedsaam heen is. Maar daar is 'n leemte in my hart wat haar vorm het, 'n gat wat vir altyd leeg sal bly. En ek sal haar mis. Ek mis haar verskriklik. Ek mis haar soos 'n vel. Klik hier en wen 12 maande af op jou huislening! LitNet: 01 Junie 2005 Wil jy reageer op hierdie rubriek? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |