|
|
Die Karate Kind is doodEdie BoshoffEk is nie 'n kwaai mens nie. Ek was wel, volgens nabye familie, 'n baie stout kind ("'n vrééslike kind", sou my een ouma altyd met groot oë en so 'n bewerige stemmetjie vertel). Maar, 'n paar lewensdraaitjies en -lessies later, het ek toe heel vreedsaam uitgedraai. Assertief en alles. Maar hou nie van konflik nie. 'n Geskreeuery maak my senuweeagtig. Ek verkies dit as daar nie weird vibes is tussen mense (as ek by is) nie. My een vriend vertel altyd van sy "gaydar" wat hom nog nooit in die steek gelaat het nie. Nou, ek het 'n antenna vir bad vibes soos hy een het vir homoseksualiteit. Kan daar iets erger wees as om vir agt ure in 'n kar vasgevang te wees saam met 'n couple wat stil-stik-woedend is vir mekaar? Miskien om 'n hele naweek in 'n strandhuis te spandeer saam met 'n paartjie wat mekaar aktief haat. Maar dis stories vir 'n ander keer. Op 'n neerdrukkende dag laasjaar het ek besef dat ek dringend gereelde oefening benodig. Karate het soos 'n opwindende oplossing geklink. Ek sou fiks word. Ek sou selfverdedigingstegnieke aanleer (my gebrek aan laasgenoemde het gesorg dat ek kort tevore met 'n geroeste knipmes van 'n paar rand verlos is). Hoekom inderdaad nie? Binnekort sou ek messwaaiende booswigte kon chop, skop en hard in hulle gesigte gil. Ek sou vlieë met chopsticks vang in kamers vol bonsais, karre afskuur op bevel van my waardige grys sensei. Hmmm. Karate. Ek het al begin voel ek steek af by my vriende, maar uiteindelik is ek toe ook gewelddadig beroof. Ek het die ou in die pad sien staan. Gesien hy loer vir my met so 'n weird kyk in die oë, hand onder sy hemp by sy broekrek ingesteek. Ons het oogkontak gemaak. In my naïwiteit het ek gedink hy is bloot 'n flashing pervert. Ek het aangestap. Wou my nie laat intimideer nie. Maar toe flash die "flasher" 'n mes. So karate het gelyk na die antwoord. En aanvanklik was dit, vir 'n menskyker soos ek, baie interessant. Heelparty kort, aggressiewe mans. 'n Goeie aantal vrouens van gevarieerde dispensasies. Ongesonde magsverhoudings tussen die mense wat die skool bedryf en dié wat betaal om daar te oefen. Ek het maar stadig gevorder. Om die klas en hulle interaksies dop te hou was vir my baie meer pret as om, sê maar, die eerste kata te bemeester. Die sensei was blond en kort en luid en het verkies om sy skoppe en klappe te demonstreer op die groter, stadiger klasmaats. En ek was geen karate natural nie. As ek drooggemaak het, het die sensei oorgestap en my bulderend gewys hoe om dit reg te doen. En omdat hy vóór my gestaan het en dus die spieëlbeeld gedemonstreer het van wat ek moes aanvang, het my half disleksiese brein keer op keer in stotterende overdrive gegaan, kortgesluit en afgeskakel. Maar die werklike probleem was groter as dit. Daar is van my verwag om mense te slaan en te skop en baie hard op hulle te gil. Ek moes myself ook deur ander mense laat slaan, skop en baie hard op gegil word. Twee keer 'n week het ek my wit pakkie aangetrek, 'n snaakse knoop in my belt gemaak en gaan skop en slaan en gil. Dit het simpel gevoel. Dit het my senuweeagtig gemaak. Boonop is ek twee keer per week voor my klasmaats ontbloot as minderwaardige giller, skopper en slaner. Ek was substandaard. Maar ek het aangehou. Tot die dag van die militêre-styl-opfok. Push-ups. Sit-ups. Rondhol soos 'n afkop hoender terwyl jy 'n stokkie bo jou kop moet vashou. As iemand droogmaak (raai wie?), dan moes almal ekstra doen … daai kak. Dit was my laaste klas. Ek was jammer. Ek was dertig. Dit was verby. Ek het na rus en vrede gesmag, vermorste aande in kroeë met my drinkesusters gemis. Ek was moeg geskop, -slaan en -skree. Die Karate Kind was dood. Maar ek was tog tot 'n mate verwonderd oor my onvermoë om 'n bietjie gesonde, selfverdedigende aggressie aan die dag te lê. Dis tog nie asof ek stert-tussen-die-bene lewe nie. Ek was tog, volgens oorlewering, 'n baie stout kind. Die eerste (maar nie die laaste nie) keer wat ek my pa regtig woedend gesien het, was toe ek as sesjarige een nag saam met hom gaan visvang het. Hy het sy visse agter in die bakkie gegooi, waar hulle vir wat soos 'n ewigheid gevoel het, gehyg en rondgeflip het met sulke kille, benoude oë. Ek kan nie onthou hoeveel visse ek met die see herenig het voor my pa besef het wat aan die gang is nie. Ons het opgepak en in stilte teruggery. Ek is nooit weer viswaters toe genooi nie. Mens kan seker argumenteer dat my jammerte vir sterwende kabeljoue eintlik edel was. Maar ek was, as ek heeltemal eerlik moes wees, ook sommer net plein stout. Ek het eenkeer my ouma in die badkamer toegesluit. Die plan was om haar dadelik weer vry te laat, waarna ons saam sou lag oor my skadelose grappie. Haar oombliklike woede het egter my oorlewingsdrang geaktiveer en ek was te bang om die deur weer oop te sluit. Toe sy uiteindelik dreig om my met 'n verestoffer "by te kom", het dit vir my, alles in ag genome, nie na 'n te slegte straf geklink nie. Ongelukkig het ek eers na haar vrylating agtergekom watter end van die verestoffer sy hiervoor in gedagte gehad het. Ek vra 'n vriendin haar opinie. Hoekom is sekere mense kwaaier as ander? Hoekom laat party mense hulle deur net mooi niks ontstel nie, terwyl ander (soos 'n sekere landlord uit my studentejare) oor die kleinste dingetjie op hol kan gaan? "Reinkarnasie," sê sy. "Die jonger siele het nog nie geleer om nie so opgewerk te raak oor fokol nie. Die ouer siele voel 'n veer." "Nee", sê 'n jarelange vriend, "jou wegskram van konfliksituasies, jou patente onvermoë om aggressie te hanteer, is 'n direkte gevolg van 'n oordosis blootstelling aan intense konflik gedurende jou vormingsjare." Ou siel? Produk van diep ongelukkige en uiteraard disfunksionele huwelike? Wie weet. Maar êrens tussen badkamer-gyselaarsdramas en studenterumoer het my stoutigheid verdwyn. Ek is nie seker of daar ooit kwaaigeit was om mee te begin nie. So hier is ek vandag. Aggressieloos, weerloos, onfiks. 'n Bewegende teiken met twee ekstra aande per week om met susters in kroeë te dans en te soen en te … gil. Die Karate Kind is dood. Lank lewe die Karate Kind. Die lewe is mooi. Peace.
Wil jy reageer op hierdie rubriek? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |