Oppiestoep in Dorpstraat
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Gert Vlok Nel se beautiful woorde

Erns Grundling

Hy is al 'n hartseer troebadoer genoem en word gereeld vergelyk met Koos Doep of 'n “Afrikaanse Leonard Cohen”.

Dié wat vir Gert Vlok Nel nog nie lewend sien optree het nie, of hom weer ‘n slag wil sien, kan op Goeie Vrydag (14 April) ‘n draai maak by die Dorpstraat Teaterkafee op Stellenbosch.

Gert Vlok Nel Iemand het al gesien (en gehoor) hoe hy sy toonnaels knip op die Dorpstraat Teaterkafee se stoep. Hy het glo op dieselfde stoep, met 'n bier in die hand, voorgestel dat mens maar eerder “die liefde moet afleer". By ‘n vertoning van Bacchus Nel, waar Bacchus sing “so baie treine hier verpas”, het Gert dit luidkeels van agter die kroegtoonbank bevestig. Hy sing immers oor “vroue, die see en treine”.

Toe hy eenkeer diep geraak was deur 'n dramastudent se voordrag van sy gedigte, het hy haar agterstallige boetes by Kampusbeheer uitgesort, waarna sy kon graad vang.

Sy dissipels brom dat hy vir Theuns Jordaan op die map gesit het met "beautiful op Beaufort-Wes". En nie genoeg erkenning daarvoor kry nie.

Sy kritici kla dat hy jarre laas iets nuuts geskryf het. En party reken bloot hulle kan skaars hoor wat hy sing.

Ek het die eerste keer in 1997 met sy werk te doen gekry. Agter in 'n bus, deur die strate van Johannesburg. Ek was in matriek en 'n girl het sy bundel om te lewe is onnatuurlik (wat in 1995 met die Ingrid Jonker-prys bekroon is) uit haar drasak te voorskyn gebring.

Ek onthou hoe die gedigte my geraak het:

hy’t ‘n skadu opgerig
speel i haunting hohner blues harp
vol vreesaanjaende weemoed
naamloos in afrikaans
(Uit: “die eienaardige verwikkeling op lemoen”, bl 39)
Of die aangrypende “i sagte reën het die agtermiddag” (bl 10) wat ek nou sommer volledig aanhaal:
i sagte reën het die agtermiddag.
ja ons almal het uitgehol, rondgedans in die.
tot Ma natuurlik gesê het kom in julle reën.
julle sal koue.

ekenAttieenPollie en Vlokkie my vertraagde.
het nie geluister vir Ma nie, ons het.
ons het bootjies gery in die sloot langs.
Vlokkie die simpel lag i i i iieeggghh die simpel ding.

in die yard kom Ma uit met die belt kamma.
ons hol in bang kamma. skielik is daar i helse.
in die straat is daar ‘n botsing, i bakkie en i.
i sagte reën het agtermiddag.

So ‘n jaar daarna het Gert begin opslae maak met sy vertoning Om Beaufort-Wes se beautiful woorde te verlaat by die KKNK.

Ek sou hom eers ‘n hele paar maande later sien optree, toe hy ‘n draai gemaak het by die Harbour Sports Café (‘n lieflike, gritty venue in die hartjie van PE se hawe wat helaas weens die dodgy ligging nie te lank bestaan het nie). Ek onthou die skyfievertoning en sy melankoliese songs wat mens heeltemal op ‘n trip gesit het.

In daardie tyd het sy eerste (en dalk enigste) CD, Beaufort-Wes se beautiful woorde, verskyn. Dit bly een van my gunsteling-CD’s in Afrikaans. Van die eerste snit, “beautiful in Beaufort-Wes”, tot by “epitath” neem hy mens op ‘n woordreis wat jou sus én by jou spook:

Laasnag het ek gedroom dat ek weer in 1975 woon, die jaar toe ek laas gelukkig was. Toe het ek afgekom by die trap & vir my water getap in die kombuis dit was so stil in die huis. Die mooiste jare is verby. Anyway & toe het ek gedroom dat ek in ‘n jaar so ver as moontlik van 1998 af gaan woon.
(Uit: “epitaph”)
Sy song vir Koos du Plessis (“waarom ek roep na jou vanaand”) bly een van die mees hartroerende huldeblyke in Afrikaans. Die song is ‘n goeie 12 minute lank, as ek reg onthou, en enige ware fan van Koos Doep moet minstens een keer hoor hoe Gert dit in lewende lywe sing.

Gert was nooit een vir media-aandag (-aanslag?) of die relatiewe bekendheid van die Afrikaanse musiek scene nie. Hy staan nie meer onderhoude toe nie en het my aangeraai om maar enigiets oor hom te skryf.

Iewers in die vroeë 2000’s het ek ‘n show vir hom gereël toe ek nog ‘n student in PE was. Die bus het hom die middag so 17h00 afgelaai buite St George’s Park. Hy het op die sypaadjie staan en wag met sy kitaarkas in die hand. Toe ek hom vra oor sy mondfluitjie, het hy laat weet dat hy die mondfluitjie-staander verloor het en seker maar daarsonder sal moet optree.

Dié ontstellende nuus het ‘n wilde jaagtog na ‘n musiekwinkel aan die ander kant van die stad tot gevolg gehad, en ons kon net betyds ‘n mondfluitjie-staander opspoor. Daardie aand het hy die klein maar waarderende gehoor in ‘n beswyming gehad.

Gert Vlok Nel Sy woorde bly mens by. En dit is beautiful. Saam met Gert wonder mens: “wat het gebeur my pragtig daai desembermaand toe ons geleef het soos jetsetters in gordonsbaai in daai warm overpriced flat bo-op die portofino ice cream parlour within view van die kaai” (uit “timotei sjampoe”). En wie is Dixie van wie hy sing in “moenie my hier vergeet nie, Dixie”? Al wat hy weggee in die CD-omslag is die volgende: “Ons sit op ‘n sypaadjie. Motors, geboue, mense, die wêreld. Ons. Ek huil.”

In hierdie dae van opgewekte doef-doef-, sokkiejol-treffers klink Gert Vlok Nel se woorde vir baie mense seker darem al te veel na ‘n melankoliese geteem. Maar niemand moet sy eiesoortige bydrae tot Afrikaanse musiek onderskat nie. In die hoofstroom wat Afrikaanse musiek vandag is, bied sy werk ‘n broodnodige vertakking waarlangs almal van ons so nou en dan behoort te vaar:

Rivier O Rivier jy’s die diepste woord wat ek
Ken
op jou kon ek vaar na die see & na haar in die
hoop om haar hart
te wen, maar woestyn is die woord waardeur
ek moet reis om haar
hart te wen.
Ja, mens sal graag nuwe woorde uit Gert se pen wil lees en nuwe songs hoor. Bloot omdat dit so beautiful is. Ons is immers ‘n gulsige publiek wat konstant op soek is na nuwe stimulasie, nuwe woorde, nuwe alles.

Maar selfs al neem hy nooit ‘n nuwe CD op nie, bly sy debuutalbum iets wat mens woord vir woord kan koester en elke nou en dan weer herbesoek.

Dieselfde geld sy lewende optredes. Hy is soms laat, soms daag hy nie op nie, soms sing hy net ‘n halfuur. Maar soms, soos wat al ‘n paar keer by die einste Dorpstraat Teaterkafee gebeur het, voer sy woorde en vertolking jou weg na plekke waarvan jy lank reeds vergeet het. Of nog nooit besoek het nie.

Dalk is hierdie Goeie Vrydag weer so ‘n aand. Glo my, it’s worth the gamble.

Gert sing op Vrydag 14 April by die Dorpstraat Teaterkafee. Sy vertoning begin om 20h30 en die kaartjies kos R70 per persoon. Bespreek by 021 886 6107. Besoek www.dorpstraat.co.za vir meer inligting.

Volgende oppiestoep by Dorpstraat is Klopjag. Optredes op 9, 10 en 11 Mei.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.