|
Sy naam is Rian MalanErns Grundling“Die Stormers is agter,” sug die ou langs my by die kroegtoonbank. Gelukkig reën ons nie nat op Nuweland nie. Die Dorpstraat Teaterkafee op Stellenbosch is ‘n veel meer simpatieke plek om jou Saterdagaand te spandeer. Hier word jou dors geles, fisies en metafories. Veral as Rian Malan en sy band besig is om hul sound check in die agtergrond te doen terwyl ‘n oulike kelnerin vir jou ‘n whiskey in die hand stop. Rian Malan. Waar sal mens begin? Onverskrokke joernalis, hofnar, kakmaker van formaat (dink maar aan sy berugte artikels oor MIV/VIGS in Afrika) en natuurlik skrywer van die haunting My Traitor’s Heart. Daai boek wat die wenkbroue laat lig en die meeste mense die moer in gemaak het. (‘n Onlangse rumour is dat Hunter Kennedy, die kêrel agter Fokofpolisiekar se lirieke, Rian se boek verslind het en dat dit binnekort gaan neerslag vind in hul nuwe songs.) Jy sal Rian se naamlyn vind in al die groot tydskrifte wêreldwyd: Time, Rolling Stone, Esquire, noem maar op. (Hy was self op die voorblad van Esquire in 1985.) Nadat die gewilde Radio Kalahari Orkes verlede jaar agt van sy songs opgeneem het op hul CD Stoom Radio, het hy besluit om self ‘n album te maak. Sy eerste CD, Alien Inboorling, het einde verlede jaar by Lloyd Ross se Shifty Records verskyn. (Einste Shifty Records het destyds André Letoit aka Koos Kombuis se eerste kasset opgeneem.) Alien Inboorling was beslis in my boekies 2005 se CD van die jaar. Chris Chameleon se Ek herhaal jou was sekerlik die mooiste, maar as dit kom by oorspronklike lirieke en ‘n outentieke vibe, was dié album nommer een. In ‘n persverklaring beskryf Rian die album soos volg: “’n versameling selfmoord-ballades, kortverhale, Arthur Murray tango’s en fragmente van sosiale kommentaar”. Amen. It’s nine ‘o clock on a Saturday, die regular crowd begin insettle in die Dorpstraat Teaterkafee, saam met ‘n paar nuwe gesigte. Ek neem stelling in iewers in die middel van die teater. (O ja, nuttige advies vir ‘n toekomstige Dorpstraat Teater-ganger: die klein 2-seater tafeltjie skuins voor die kroeg, naaste aan die mansbadkamer, is gejinx. Vermy dit liefs, veral as jou metgesel eintlik ‘n ander boyfriend of girlfriend het. Trust me on this one ...) Dan betree Rian en sy groep musikante die verhoog. Saam met Rian is Timon Wapenaar (viool – hy het so ‘n Zen-Boeddhistiese vrede oor hom en lyk soos ‘n ekstra in The Passion of the Christ), Lani Pieters (agtergrondsang en onweerstaanbare sexy teenwoordigheid – sy’s die rede dat ek my Sabbat met ‘n babbelas en leë beursie begin het), Roger Bashew (baskitaar – gerugte doen die rondte dat Interpol op sy spoor is; hy is ‘n lang man en het die heel aand mooi geskuil agter Rian en Lani, amper soos ‘n kameelperd wat hurk by ‘n watergat naby Skukuza); Mark Harris (tweede kitaar – die bestendigheid self) en Ross Campbell (tromme – die een helfte van die geniale Benguala, onder andere). Rian self is uitgedos in ‘n hemp en kniebroek; met bietjie verbeelding kan jy hom in ‘n safaripak indink, kam in die kous, pruimtwak in die kies. Alle illusies oor stereotipes vervaag egter as hy begin praat in daai rasperstem wat klink soos:
3 lepels Tom Waits “Life got boring, ek hou daarvan om kak aan te jaag. Ek het ‘n paar songs vir die Radio Kalahari Orkes geklap en dit het gewerk. Nuwe vistas oopgemaak, nuwe vyande, met songs soos hierdie ...” En as ‘n nagedagte voeg hy by: “Here, my Afrikaans is so kak.” Dan trek hy los met “Die Held”, wat ook op RKO se album is. En stel Dorpstraat bekend aan ene Koos du Rant, ‘n Afrikaner-held wat stoere boere se broeke sal laat bewe. Dis ‘n satiriese (en genuine snaakse) blik op die hedendaagse gebrek aan leierskap in Afrikaner-geledere, met Kosie wat alles doen van diamante delf, modelle en die royal family bykom, Madiba bevry en saam met Pienaar se Bokke die rugby-wêreldbeker verower ... om maar net ‘n paar hoogtepunte van sy segetog te noem. Hy los ons met hierdie vraag: Hy’t models genaaiTussen die songs gesels Rian dik stukke. Hy noem sy musiek “Boeremusiek”. Maar dis soveel meer. “Boeremusiek het my lewe gered, alles was dood en saai.” Hy vaar uit oor “Boere wat sleg Rooinekke op Majuba verower” en die “linksgesinde wit mense” wat saam met hom daar in Kalkbaai se valley konkel. Ene Hillary Jacobs (“sy luister net Freshly Ground deesdae”) het hom onlangs aangevat oor sy Afrikaanse musiek, hoe “skandalig dit is dat hy in Tribalism betrokke raak”. Rian besef toe: “Ek is op die regte pad.” Hy dra toe heel gepas sy volgende song, “Transformation”, aan haar op, wat gaan oor ‘n wonderkuur wat jou in ‘n swart man kan verander! Dit klink dalk alles bietjie heavy en is natuurlik allesbehalwe polities korrek, maar Rian se vlymskerp humorsin en aweregse uitkyk skyn deur al die lirieke. Toe is dit tyd vir “Ballade van Coenraad Buys”. Nie sedert Valiant se “Mystic Boer” was daar so ‘n epiese song in Afrikaans nie. Coenraad Buys was ‘n rebelse “Trekboer”, “half mens, half-maanhaar”, wat nie geval het vir die huigelaars aan die Kaap nie, en basies gefokkof het Noorde toe hier rondom die vroeë 1800’s. Rian het in Noel Mostert se lywige boek, Frontiers: The Epic of South Africa's Creation and the Tragedy of the Xhosa People, met dié legendariese figuur in ons geskiedenis kennis gemaak. Rian noem Coenraad Buys sy “favourite Afrikaner van alle tye”. My naam is Coenraad Buys, ek kom van SwellendamOm van die uitdagende koor nie eers te praat nie: Ek konkel met die Xhosa, ek trou hul koninginTussendeur looi Timon die viool vol melankolie, Ross ten volle in beheer van die hipnotiese ritme op tromme. Lani se agtergrondsang vat jou na plekke waar daar nie naamborde is nie en die twee karakters op kitaar kappit uit. Mens wonder of Rian nie dalk die reïnkarnasie (Riankarnasie?) van Buys self is nie. Die waaiers bo ons koppe laat Dorpstraat skielik soos ‘n propperse saloon voel. Mens ruik die Bosveld. Daar’s ‘n tsetse-vlieg in die lug. “Ballade van Coenraad Buys” behoort ‘n anthem te raak. Kyk net die laaste strofe, wat Buys se swanesang verwoord: En laastens wil ek dankie sê vir elk sonsondergaanRian het ‘n ruk terug gechill by ‘n pel se flat in Kalkbaai, “met ‘n doos Tassies, ‘n klomp dagga, twee honde en ‘n mikrofoon”. Hy raak toe lus om ‘n song oor Mbeki te skryf, oor “Mbeki se stryd teen sy eie persoonlike swartman”. Die lirieke het begin met: “Ek suig my pyp en dink diep, diep gedagtes.” Die song het nie die paal gehaal nie, maar die wysie het as inspirasie gedien vir “Alleen”, ‘n beautiful song oor “nie die Kaap se oulikste ou” wat ‘n barshou kan tango en sy hart verloor op Maria. Deel van Rian se sukses is die verskeidenheid van beide die musiek en lirieke. Daar is geen manier dat sy vertoning mens kan verveel nie. Vat nou maar die volgende songs wat hy gesing het: “Eens” (sy “groen” liedjie oor die plaag van gholfbane en gepaardgaande gholf estates wat die natuur uitroei); “Bloekomboom” (oor dié uitheemse boom wat nou uitgeroei word, maar ook ‘n fassinerende parallel met homself wat as “Alien Inboorling” tuis voel in Afrika”); “Lindi” (‘n ontroerende song oor selfmoord), “Verby” (jy sal beter voel oor jou eie break-ups as jy hierna geluister het); “Trekboer” (‘n lament oor die ekspats in Kanada en elders); en “Varimi” (‘n song oor die duiwel se handewerk wat vreemde woorde op ‘n kerk se muur skryf, die tipe goed wat Kobus Jonker en Rodney Seale snags sal wakker hou) ... om maar net ‘n paar te noem. Hy’t die aand afgesluit met ‘n verpligte encore, weer die “Ballade van Coenraad Buys”. Oor een van die helde van “hierdie klein, verlore landjie aan die Suidpunt van Afrika”. Hierdie ou is nie maklik peilbaar nie. Kom ons volstaan by die volgende: sy naam is Rian Malan. Hy kom van Afrika.
Volgende maand oppiestoep by Dorpstraat: Gert Vlok Nel
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |