1. Wanneer, waar en waaroor het jy jou eerste gedig geskryf?
Dit het by ’n klipskooltjie op Mont Pelaan, ’n plekkie tussen Harrismith en Memel in die Oos-Vrystaat, gebeur. Ons moes elke jaar resitasies in ’n bloemlesing oorskryf om voor te dra en by elke resitasie ’n mooi prent inplak of ’n eie tekening maak. Eenkeer het ek ’n gedig in, as ek reg onthou, Die Jongspan of Vonk, gelees, die gedig effens gewysig en toe in die bloemlesing oorgeskryf met my naam onderaan. Hierdie byna terloopse gebeurtenis het ’n indruk op my gemaak. Om iets te skryf met my naam daarby het my gefassineer!
My eerste “ware gedig” het ek egter in standerd vyf aan die Laerskool Harrismith geskryf. Ek was een aand by ’n volkspelebyeenkoms wat deur die skool aangebied is. My kleinniggie Moira Brunsdon (wat vir my soos ’n suster was en oor wie daar in Plaaslike kennis (2004) ’n soveelste gedig is!) was ook daar. Dié aand het ek egter ’n donkerkop meisie met ’n pers rok en spierwit sandale langs die dansvloer sien sit. Sy het onmiddellik my hart gesteel en ek het haar gevra om met my te dans toe ek sien sy kyk ook die heeltyd na my. Daarna het ek en sy lank op die dansvloer rondgespring. Ek was dolverlief, maar het na die tyd verstrooid in die nag verdwyn. Oor dié meisie, Dalene van Rooyen, het ek kort daarna my heel eerste gedig met rym en al geskryf. Sy het dit natuurlik nie geweet nie, al het ek en sy daarna saam na een of twee skoolfunksies gegaan. Mense wat ’n mens skaars ken het soms ’n geweldige en lewensbepalende invloed op jou!
2. Watter boeke het jy as kind gelees en watter boeke lees jy nou?
In die laerskool was ek geen groot leser nie, maar die plaaslewe en die ryk natuurlewe het meer as vergoed daarvoor. Ek was gelukkig dat my pa die natuur en natuurverskynsels waardeer het en my aandag daarop gevestig het. Daarbenewens was daar baie intense ervarings waaroor ek eintlik ’n hele leeftyd sou kon skryf. Ek dink byvoorbeeld aan die lewe in en om die klipplaashuis met sy plankvloere, houtvensters en sinkdak. Augustusmaand met sy winde was onvergeetlik: die geluide by die vensters, die bloekom- en sederbome wat deur die westewinde skuins gewaai word, die vertroosting van die koolstoof, die sensuele teenwoordigheid van die Sesotho-meisies wat my hulle taal geleer het en my ouers wat iewers met hulle dagtaak besig was.
In standerd vyf het my vriend Werner Vermeulen my aangespoor om te begin lees. Hy het immers al ’n lang lys boeke onder die knie gehad. In die hoёrskool het ek verwoed gelees en skrywers soos Eugène N Marais, DF Malherbe, CM van den Heever, PJ Schoeman en Jan J van der Post leer ken. Dit was egter die kennismaking met die Sestigers wat my laat afsien het van my voorneme om eendag in ’n natuurwetenskaplike rigting te gaan studeer. Die taal- en styleksperimente in André P Brink se Lobola vir die lewe (1962) het my verras, terwyl sy reisverhale vir my ’n nuwe wêreld oopgemaak het. Daarby het Brink se resensies en Coenie Slabber se literêre nuus in Rapport my literêre verwysingswêreld verbreed.
Ek het baie van Ingrid Jonker se Rook en oker (1963) en Breyten Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet (1964) gehou, maar die twee bundels wat ek sedert my standerd 9-jaar oor en oor by die Carnegie-biblioteek langs die Harrismithse stadsaal uitgeneem het, was NP van Wyk Louw se Tristia (1962) en DJ Opperman se Dolosse (1963). Veral Opperman met sy Natalse wêreld (waarmee ek vroeg op ons plaas naby die Natalse grens kennis gemaak het) het my aangespreek.
Die een enkele boek wat my die meeste bekoor het, was Chris Barnard se Mahala (1971). Ek onthou nog die dag toe die bibliotekaresse, mev Harriet van der Merwe, vir my gesê het dat Barnard se Duiwel-in-die-bos (1968) en Mahala, waaroor ek navraag gedoen het, opgedaag het. Ek het die boeke met hulle pragtige omslae van die een klas na die ander saam met my gedra en trots en vol verwagting op die bank voor my neergesit. Ek het my bewondering vir Mahala al by meer as een geleentheid bely en later drie referate oor die roman gelewer. ’n Tyd gelede het ek vir Chris Barnard gesê dat ek sy kompulsiewe leser is. Ek het ’n keer geskryf dat ek hierdie roman elke jaar minstens een keer lees; dit is nog steeds so. Graham Greene, dink ek, het vertel dat hy Miguel de Cervantes se Don Quijote minstens een keer per jaar lees.
Oor die jare heen het ek egter nie net letterkunde gelees nie. Ek stel baie belang in die biologiese wetenskappe, wat my oor veral Charles Darwin en sy navolgers laat lees het. Daarbenewens bewonder ek filosowe soos Plato, die Heilige Augustinus, Meester Eckhart, Karl Jaspers, Martin Heidegger, Emmanuel Levinas en JH van den Berg, oor wie ek graag lees. Aan die einde van die jaar vier ek my vyftigste verjaardag. Miskien het dit tyd geword dat ek my belangstellings in die biologiese wetenskappe, die filosofie en ’n Nuwe Testamentiese figuur soos Paulus van Tarsus verder voer. (Jy weet, mense wat jare lank by twee instansies saam met my gewerk het, het nie geweet en weet nog steeds nie dat ek gedigte skryf nie! Ek verkies dit so.)
’n Joernalis het eenkeer die Franse filosoof Jacques Derrida gevra of hy al die boeke in die rakke om hom gelees het. Derrida se antwoord was min of meer soos volg: “Ek het heelwat van hulle gelees, maar ek het vier of vyf van hulle baie goed gelees.” Uiteindelik is daar net vier of vyf boeke wat werklik ’n groot invloed op ’n mens het.
3. Jy het noue kontak met Mosambiek gehad uit hoofde van jou werk. Watter ander Afrikalande het jy al besoek en hoe vind hierdie geografieë neerslag in jou gedigte?
Vir die reisboek wat ek oor Mosambiek geskryf het, Lae wolke oor Mosambiek, het ek nog steeds ’n sagte plekkie. Ek dink ek het met die skryf van hierdie boek besef dat ek aangetrokke is tot reisliteratuur, waarmee ek heelwat van my belangstellings tot hulle reg kan laat kom. Byna twintig jaar se ervaring as navorser by die RGN het my met ’n bepaalde ingesteldheid gelaat wat ek in die skryf van ’n reisboek goed kan benut. Sedert die skryf van Lae wolke oor Mosambiek het ek ’n besoek aan Botswana gebring waaroor ek tans skryf. Botswana is ’n besonderse land en ek beoog om die boek binnekort klaar te hê. Verder het ek ’n afspraak met ’n Sesotho-kollega om in Lesotho te gaan rondreis. Aangesien Sesotho min of meer die eerste taal is wat ek leer praat het, was dit lank reeds ’n ideaal om oor Lesotho te skryf. Wie weet, dalk kom daar nog ’n boek oor Lesotho en sy sendingstasies, Basotho-ponies, berge, forelstrome en Basotho-komberse … Miskien is dit my roeping om oor die ou Suider-Afrikaanse mandaatgebiede en protektorate te skryf! Maar ek skryf ook oor my besoek aan die Matterhorn in Switserland, my reis op die spore van Darwin en ’n verblyf in ’n Franciskaanse klooster in Rome …
Eendag wil ek ook al die plekke besoek waar Paulus gereis het.
Soms skryf ek ’n gedig oor hierdie ervarings, maar die skryf van reisboeke is nou vir my so lekker (al is dit vrek harde werk!) dat ek nie altyd daaraan dink om ’n gedig van my ervarings te maak nie. Die wetenskaplike ingesteldheid het iets van ’n oorhand by my gekry, en die moontlikheid om met ’n wyer en ander publiek te kommunikeer trek my aan. Digters se geselskap is vir my soms bitter vervelig!
4. Hoe skryf jy ’n gedig?
Deesdae altyd met ’n groen pen! Daarna sal ek die gedig op die rekenaar oortik en verder aan die gedig begin skaaf. Dit is vreemd dat dit nou byna as vanselfsprekend aanvaar word dat ’n mens op die rekenaar sal of kan werk. Toe ek in 1988 tydens ’n beraad van die Afrikaanse Skrywersgilde by Broederstroom noem dat ek op die rekenaar werk, het Antjie Krog my dit nogal kwalik geneem en in Lady Anne (1989) soos volg geantwoord:
“The heart is the toughest part of the body.
Tenderness is in the hands.”
jy sê jy skryf al op die skerm van ’n elektriese doos –
terwyl ek nog met meer as net vingerpunte koesterend
vashou/vou/klou aan die punt wat uit my handholte
steek-steek na die taai hart van die roos
Maar goed, miskien meer ter sake. Deesdae benader ek ’n digbundel as iets soos ’n projek. Dit beteken dat ek aan ’n eenheidsbundel soos Aves (2002) sal werk en sal probeer om ’n aantal gedigte oor voёls te skryf. Om hierdie gedigte te kan skryf, is dit noodsaaklik om soveel moontlik oor voёls te wete te kom. Die leerproses as sodanig is belangrik en ek geniet dit baie om so my kennis oor ’n sekere onderwerp uit te brei. Dit is ook belangrik om ’n geskikte versvorm te kry. Tans probeer ek om ’n digbundel oor die see te skryf. Heelwat van die gedigte bestaan uit agt versreёls, want A Roland Holst se Een winter aan zee het my laat besluit om met die agtreёlige vers te eksperimenteer. Maar elke gedig en elke bundel het sy eie buro van standaarde! Dit word ook vir my belangriker om te eksperimenteer en nuwe uitdrukkingsvorme te beproef. Die tienlettergrepige gedig wat ek tot dusver geskryf het, het my egter goed gedissiplineer!
5. Jou siening oor die huidige stand van die (Suid-)Afrikaanse poësie – "style", tematiek, publikasiemoontlikhede en kanoniseringskwessies?
Daarop kan ek kwalik kortliks antwoord. Uit verskillende bydraes van my (waaronder die polemiek in Die Burger oor JC Kannemeyer se Die Afrikaanse literatuur 1652–2004 (2005) aan die einde van verlede jaar en die begin van hierdie jaar) behoort dit duidelik te wees dat ek nie in alle opsigte opgewonde is oor wat vandag in en om die Afrikaanse poёsie gebeur nie. Veral die Afrikaanse poёsie sedert Sestig is nog nie naastenby bevredigend gekarteer nie. Om net één voorbeeld te noem: Volgens Kannemeyer “onderstreep” Willem Boshoff se eksperimente met visuele poёsie in Kykafrikaans (1980) “die beperkte moontlikhede en eksesse van dié ‘genre’”. Om te dink dat ’n wêreldbekende kunstenaar soos Boshoff nie, as hy sou wou, hoogs vernuwend met visuele poёsie sou kon omgaan nie! En het hy dit nie reeds gedoen nie?
Ons mis op die oomblik letterkundiges wat die opwindende landskap van die Afrikaanse poёsie van die afgelope halfeeu kan karteer. Waarom is daar van Sestig af net figure soos Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker wyd bekend? ’n Ganse geslag avant garde-digters en ’n besonder lewenskragtige era in die Afrikaanse poёsie is mettertyd met hoogs aanvegbare norme en kriteria tot die vergetelheid gedoem. Nou onlangs eers het ons besef dat daar dalk meer in Wilhelm Knobel steek, terwyl moontlik die sterkste digter naas Breytenbach van Sestig, DPM Botes (wat Brink in Groot verseboek 2000 literêre amnestie verleen het, maar Kannemeyer so laat as 2005 nié!), ten onregte verwaarloos word.
Kortom, ek mis dinamiese kritiese aktiwiteite rondom die Afrikaanse poёsie. Dit is ook jammer dat ons nie (soos die Nederlanders) meer veel van ’n avant garde-gees behou het nie. Miskien is dit een van die redes waarom ons land se musikante ons mense veel meer opgewonde maak as ons digters! Nog ’n groot jammerte is die min herevaluering van ouer figure. Wanneer kry ons herdrukke van of bloemlesings uit die werk van Totius, CM van den Heever en SJ Pretorius – om slegs enkele name te noem? Ek het waardering vir NB-Uitgewers se Klassieke Reeks, maar waarom is daar nie ’n soortgelyke projek vir die poёsie nie?
Beperkter publikasiemoontlikhede vir digters en aanvegbare uitgewersbesluite het die Afrikaanse poёsie die afgelope jare ’n gevoelige slag toegedien. Diegene wat dit nie kan of wil raaksien nie, het min insig in wat die afgelope jare gebeur het. Ek weet van digters, digbundels en gedigte wat vir Afrikaans verlore is (byna soos dokters wat na Engeland, Kanada of Nieu-Seeland geёmigreer het). Ons sal hulle nooit weer terugkry nie, omdat ons gedink het dat ons wys is, terwyl ons kortsigtig en verwaand was. Dit is hartseer dat ons soveel kanse om die poësie te bevorder, verspeel het.
Aan die positiewe kant kan ek sê dat daar hierdie dekade ook opwindende werk deur digters soos Martjie Bosman, Heilna du Plooy, Louis Esterhuizen, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Charl-Pierre Naudé, HJ Pieterse en Ilse van Staden gepubliseer is. Uit die geledere van hierdie digters sal die vernuwendste werk van die toekoms na alle waarskynlikheid kom. Ek hoop egter dat daar in die toekoms poёsie oor ’n wye verskeidenheid temas geskryf sal word. Op die oomblik is dit vir my asof die verkenning van die seksuele identiteit en eksesse oorbelig word. Natuurlik het ek nie probleme met die feit dat digters oor seks skryf nie (kyk maar na Johannes van Jerusalem se uitdagende mistieke gedigte!), maar daar is ook op Afrikaanse bodem (dit beteken ook “Afrika se bodem”) veel, veel meer om oor te skryf as ons ’n greep op hierdie droewe én opwindende kontinent wil kry. |