|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |
|
|
|
The ABSA/LitNet
Chain Interview
|
|
Die Ketting
|
|
Abraham Hermanus De Vries is gebore op die plaas Volmoed in die distrik Ladismith; hy is ook die eerste ereburger van dié dorp. Hy behaal in 1962 Kandidaats en Doktoraal Litt et Phil aan die Gemeentelijke Universiteit, Amsterdam, Nederland, en in 1986 die D Litt van die Universiteit van Stellenbosch.
Braam was van 1963-65 kunsredakteur van Die Vaderland in Johannesburg en is sedertdien 'n gerekende akademikus. Hy is die skrywer van 18 bundels kortverhale, 'n roman, 'n digbundel, drie reisverhale, drie speurverhale, en televisiereekse sonder tal.
Pryse ontvang: die Nederlandse Reina Prinsen-Geerlig-prys, Eugène Marais-prys, Perskorprys, eerste prys in die De Kat-Potpourri-wedstryd, Artes vir die televisiereeks Die Klein Karoo, en die RAU-prys vir skeppende werk.
Hennie Aucamp se Kort
voor lank, WA de Klerk se As die reier noord vlieg en
Alan Paton se Ah, but your land is beautiful is aan hom opgedra. |
|
Hennie
Aucamp is op 20 Januarie 1934 in Dortrecht, Noordoos-Kaapland
gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, waar
hy die volgende kwalifikasies behaal: BA, SOD, MA en DEd. Hy het
ook in België en New York studeer. Aucamp was tot sy uittrede
in 1994 aan die Universiteit van Stellenbosch verbonde.
Toekennings op skryfgebied
sluit onder andere die volgende pryse in: Tafelberg-prys (1970);
WA Hofmeyr-prys (saam met Chris Barnard, 1974); ATKV-toneelprys(1980);
Hertzogprys (1982); Fleur du Cap-prys vir die beste inheemse toneelteks
van die jaar (1987); Recht Malan-prys (1997).
Aucamp verwerf bekendheid
as akademikus, dramaturg, kaberet- en kortverhaalskrywer, en digter.
Hy lewer deur die jare 'n magdom bydraes op hierdie onderskeie
gebiede.
Verlede jaar het die boek
'n Skrywer by sonsopkoms by African Sun Media verskyn,
ter viering van Aucamp se sewentigste verjaarsdag. |
|
Abraham H de Vries gesels met Hennie Aucamp
|
- Ek wil graag wegstuur van die gewone vrae en jou probeer
uitlok. Wat het jy van die dae van jou Wimpie-verhale af tot nou
toe met die skryfwerk self geleer? Van die kortverhaal, ja, maar
ook in breër verband, want ons skryf mos nie net om iets oor skryf
te leer nie.
Daar is twee reëls van DH Lawrence wat dikwels by my spook:
“Never trust the artist. Trust the tale.” Dis die
verhaal self wat besluit wanneer en hoe hy vertel wil word.
Wanneer ons vassteek met die skryf van ’n verhaal, is
dit dikwels omdat die verhaal nog nie ryp of gereed is vir vertel
nie, of omdat die skryfster se huiswerk onvoldoende was, en
die verhaal dus nie die nodige bindinge kon maak nie, of omdat
die skrywer sy eie slimmighede wil afdwing op ’n verhaal
wat dit nie nodig het nie. Iedere verhaal wat jy skryf, wil
jou iets leer, oor die kortverhaal self en oor die kronkelinge
van die menslike gees. Maar jy moet ’n verhaal nie dwing
nie, dan word hy steeks. ’n Kollega van my by Opvoedkunde,
Joan Jordaan, het altyd iets oor die ontstaan van ’n vers
aangehaal wat my aangegryp het, maar wat ek nooit neergeskryf
het nie en dus sleg onthou het. Ná ’n driekwartlewe
ontdek ek dié aanhaling in ’n prosabloemlesing
van sir AJ Quiller-Couch. Dit staan in ’n brief van John
Keats aan John Taylor, en is op 27 Februarie 1818 geskryf. Dié
“aksioom” – Keats se woord – lui só:
“… if poetry comes not as naturally as the leaves
to a tree, it had better not come at all.” ’n Mens
moes baie geskryf en intens geleef het, en alle denkbare foute
begaan het, voordat jy gereed is vir die helder, eenvoudige
raad van Keats en DH Lawrence.
- In elkeen van ons is daar 'n "skrywerstem"; natuurlik is
daar variasies wat deur die verhaalstof self gedikteer word, maar
'n Aucamp-verhaal blý Aucamp. By my het die vertellers van my
kinderjare in Winkelplaas se winkel 'n groot aandeel gehad. Het
daar iemand/mense/boeke in jou jeug ook so 'n invloed gehad?
Braam, onthou jy Uys Krige se raad aan jong skrywers? ’n
Klassieke driepuntplan: (1) vind jou eie stem; (2) ken die meesters;
(3) hou jou wapens blink. En nou is dit, teenstrydig soos dit
mag klink, juis deur die nabootsing van die meesters dat ’n
kunstenaar sy eie stem mag vind; nabootsing deur vertaling,
nabootsing deur náskilder, soos dit al eeue lank praktyk
is. Ek en jy is baie gelukkig dat ons in ’n landelike
omgewing tussen spontane vertellers grootgeword het. Waar sou
ek die stemme vandaan gekry het vir die verhaal “Vir vier
stemme” as ek nie tussen baie soorte (volk-) stemme grootgeword
het nie? Ouma was ’n wonderlike verteller, maar ook oorverteller.
As sy ’n Fanny Eden-verhaal soos Moederloos vir
my vertel het, was dit vir my baie mooier as die boek self,
en het ek my wellustig oorgemaak aan verdriet. Maar daar is
so baie dinge en boeke en mense wat op ’n mens inwerk
in jou smeltkroes-tyd dat dit moeilik, dikwels onmoontlik, is
om jou “eie stem” na bepaalde invloede, na bepaalde
vertellers en skrywers, te herlei. Een invloed uit my puberteit
kan ek wel noem: die merkwaardige populêre skryfster Marius
Gie. Haar nieu-Gotiese vervolgverhaal “Almeloo”
in Die Huisgenoot was vir my ’n stylmodel in
sy swoelheid, maar ook na tema. Aan die universiteit het die
prosa van MER ’n versoberende invloed op my gehad, en
my mentors, dr Con de Villiers, Ernst van Heerden en Eitemal,
het my streng teen “mooiskrywery” gewaarsku, en
my ook gekapittel wanneer dit nodig was.
- Jou enorme algemene kennis, van die gewoonste sake soos boererate,
of boeke, of die breër kulturele wêrelde, of mense, sou 'n mens
laat dink jy sou meer genres toets. Het jy nooit 'n speurverhaal,
liefdesverhaal of so iets onder 'n skuilnaam geskryf nie?
Ek sou dolgraag ’n speurverhaal wou skryf, maar ek is
doodgewoon te dom daarvoor. Ek sal verstrik raak in my eie “plot”,
soos ek keer op keer verstrik raak in die “plots”
van TV-speurverhale. Dis eers wanneer ek ’n tweede of
’n derde keer na dieselfde speurverhaal op die kassie
kyk dat ek agter die kap van die byl kom. Maar ja, iemand móét
’n topspeurverhaal skryf oor al die onopgeloste moorde
op gays in die Kaap – dié op Richard Rive, byvoorbeeld.
Liefdesverhale lê eweneens nie op my pad nie. Dis nie
dat ek sinies oor die liefde is nie, dis eerder dat ek te idealisties
oor die liefde is en dr Rose Franzblau se definisie van liefde
volkome onderskryf: “… the mutual support of two
mature people involved in separate quests for self-realization”.
Dié soort liefde het ek nooit ervaar nie, stellig om
die een of ander defek in eie karakter. Feit is: wie nie die
liefde op sy positiefste ervaar het nie, moet wegbly van liefdesverhale
af.
Nog ’n verswarende ding kom by: ek is ’n kortafstand-atleet.
Die keer of twee dat ek ’n novelle begin skryf het, het
ek teen bladsy 30 vir myself gesê: “Maar nou is
jy mos besig met blote bladvulling.” En daar en dan het
ek my novelle teruggesnoei na ’n kortverhaal.
Maar die behoefte om myself uit te brei, links en regs van
die kortverhaal verby, het van die sewentigerjare van die vorige
eeu toegeneem in krag. Die tagtigerjare het my kabaretperiode
geword, met gepubliseerde vollengte-kabarette en liedteksbundels.
Die negentigerjare het my egodokumentasie-periode geword, met
drie gepubliseerde dagboeke en ’n memorie getiteld In
die vroegte. En tussendeur, ewewydig met my fiksie, was daar
my “bewaringsprojekte” by wyse van bloemlesings,
vyftien altesaam. Party, soos baie van my ondernemings, het
te vroeg in die tyd gebeur. Ek treur veral oor Wys my waar
is Timboektoe (1997), my bloemlesing oor Afrika. Dit het
helaas verskyn voordat nostalgie ’n nasionale neurose
geword het, ook onder buitelandse Afrikaanssprekendes, maar
destyds was die verkope daarvan baie matig. Nou is dit verpulp,
of staan by Africana-handelaars.
Praat van verskuiwende paradigmas: niefiksie het al hoe belangriker
vir my geword – belangriker, by tye, as fiksie. Hiervan
getuig my talle resensies en artikels. Dis of niefiksie die
omringende wêreld vir my beter begin uitsê as fiksie,
ook in my eie werk. Ek is byvoorbeeld verslaaf aan die geskiedeniskanaal
(nr 68) op TV.
- Rust-mijn-ziel ken ons almal teen hierdie tyd, ook as "landscape
of the mind"; die verhaal waarin jou vader die hooffiguur is,
"Nag van die ooms", is een van jou mooistes; maar watter invloed
het jou ma en ander naaste familie gehad op jou as skrywer en
jou skryfwerk?
My ma het ’n groot en blywende invloed op my skryfwerk
gehad. Sy het my aan Langenhoven en Hans Andersen voorgestel,
met voorlesings uit hul werk, en dit nog in my voorskoolse jare.
En sy het vreemde verhale vertel, van perdediewe, dwaalligte,
meisies wat in die moeilikheid raak en selfmoord pleeg, Boere-oorlog-episodes,
soos dié waar haar eie pa genl Smuts een nag in ’n
nou kloof langs die Klaassmitsrivier, onder die Engelse se neuse,
na veiligheid gelei het. My oupa aan moederskant is deur sy
eie mense verraai, en my enigste foto van hom is waar hy in
Graaff-Reinet saam met ander oorlogsgevangenes voor sy tent
sit. Hy het altyd vertel hoe Gideon Scheepers elke man met die
hand kom groet het voor sy teregstelling.
En aan cousin Freda van oom Freek van Penhoek het ek byvoorbeeld
die tema van “Vir vier stemme” te dank. My suster
weer is ’n verbete leser, en maak aantekeninge wanneer
sy lees. Ek het in onlangse tye dankbaar gebruik kon maak van
inligting wat ek van haar gekry het, oor byvoorbeeld ’n
poltergeist, wat in die volksmond “klopgees” heet,
asook inligting oor psigiese honde.
Talle sinsnedes en woorde uit my jeug duik nog by my op, nie
net van familie nie, maar ook van hul vriende. Die taalgebruik
van toe getuig van ’n konkrete kyk na die werklikheid,
veral dié van die natuur. Ek hoor my oom Andries nou
nog praat van “die neus van ’n berg”, en ek
hoor Mona Vorster sug: “Dis so ’n penitensie om
op ’n plankmatstoel te sit.” Gelukkig is daar van
my veel jonger vriende, soos David Pepler van Groen-faam,
en Pieter Strauss, wat wonderlike stories en woorde terugbring
ná hulle vele reise – David van oor die hele land,
saam met ’n filmploeg, en Pieter Strauss van sy hartland
af, Boesmanland. Van Pieter Strauss het ek byvoorbeeld dié
mooi veldblomnaam gehoor: aanskou-my-gou.
- Watter invloed het nie die ouer word self nie, maar die besef
van ouer word op jou skryfwerk?
O, ’n groot invloed, en positief. Die besef van ouer
word is ’n belangrike kreatiewe dryfveer. Dit ruk jou
uit limbo’s en letargieë, en dwing jou terug na “jou
lessenaar en jou lamp”, soos Elize Botha altyd gesê
het. Dit help jou met die seleksie van aktiwiteite. Ek sosialiseer
al hoe minder, omdat dit soveel energie en tyd opeis. Aan die
begin van ’n nuwe jaar vra ek my af wat ek nóg
kan afgee om my met meer tyd en energie te laat. Vanjaar tree
ek, ná ’n halfeeu, uit as resensent. Die paar driekwart-klaar
manuskripte in lêers is nou my hoogste prioriteit. Elke
jaar of twee sluit ek ook die een of ander belangstellingsterrein
af. So het ek ’n paar jaar gelede my kabaretversameling
– boekery en langspeelplate – aan die Universiteit
van Stellenbosch verkoop. Ook het ek my korrespondensie aansienlik
begin afskaal.
Ons gemeenskaplike vriend, dr Hans Ester, het my ’n
boek gestuur met al die wyshede van Herman Hesse oor die ouderdom.
Dis nie aan almal gegee nie, sê Hesse, om hul hele lewe,
tot en met aftakeling, te oorskou. Die vita contemplativa, dis
’n wonderlike seën. Ek wens ek kan dit vir tydgenote
wat nog voortstrompel in die rotteresies aan die verstand bring.
As ons nie aan “deze zijde van de graf” besin, nadink,
oorpeins nie, wanneer dan? Seker in gereïnkarneerde vorm,
sê maar as ’n rot?
- Destyds het jy teenoor André
(Brink) se “engagement” die “personal ache”
gestel en sodoende miskien die idee help skep dat jou werk nie
betrokke is by onreg en politieke gebeure nie. Maar dis tog
doodgewoon ’n vals beeld. By naskou, hoe voel jy nou oor
die eis van “betrokkenheid” van die skrywer? Watter
rol speel jou Dekadensie-trek in hierdie verband?
Ek is betrokke by “die menslike kondisie”
– punt, uit. Wat aangeplak word by hierdie basiese kreatiewe
credo, ontaard spoedig in voorskriftelikheid. So was dit toe
André my midde-in ’n resensie oor ’n ánder
skrywer se werk aangeval het. Not toeing the party line, sien.
Dis hoekom ek heftig gekant geraak het teen alle skrywersgildes,
want in plaas van hul lede geregtelik te probeer beskerm, probeer
’n gilde, of sy heersende voorsitter, die gewetes van
sy lede manipuleer om by “the flavour of the month”
aan te pas. Modegrille, modesimpatieë, dis wat eerbiedig
moet word, vergetende dat internasionale neigings nie noodwendig
universele neigings is nie, en spoedig mag verjaar.
In die praktyk kom dit hierop neer, dat jou “betrokke”
skryf net aanvaar word as jy Big Brother – altyd ’n
ideoloog – klakkeloos napraat. Eiesoortige betrokkenheid
word nie geduld nie en word dus doodgeswyg. Mý politieke
simpatieë staan in my kabaretwerk: in Met permissie gesê
(1980) en bowenal in Slegs vir almal (1986). Laasgenoemde kabaret
het diversiteit vooropgestel lank voordat “diversiteit”
’n leë politieke gonswoord geword het. Ek het ’n
veelrassige en veelkulturige rolbesetting geëis –
en gekry. Maar eensydigheid was toe, soos nou weer, die norm:
jy moet van die Afrikaanssprekende blanke ál skurk in
jou stuk maak, of jou “politiek” – lees ook:
medemenslikheid – word by die agterdeur uitgeskop.
En wat is die slagspreuk van die Nuwe Politieke meningbepalers?
Weer eens, helaas: Die Gedanken sind nicht frei.
Die vermaledyde frase “the private ache” word
altyd uit verband geruk, en ek wil dit vir ’n soveelste
keer in die korrekte perspektief stel. Dit kom uit Arnold Wesker
se toneelstuk The Four Seasons, en die volledige aanhaling lui
só:
Do you want me to feel for starving children? I feel for
them. Do you want me to protest at wars that go on in the
mountains? I protest. But the heart has its private aches.
You must allow the heart its private aches.
Jy vra watter rol my “Dekadensie-trek” in my politieke
betrokkenheid speel? Die Weimar-kabarette, met hul kragtige
Joodse insette, was uiteraard antifascisties, en was my belangrikste
opleiding as kabaretskrywer; sonder hierdie skoling sou my kabarette
’n kosbare dimensie verbeur het. Maar om die “Dekadensie-trek”
meer persoonlik te kry: die gay is jou kwintessensiële
buitestaander, of meer toeganklik gestel, “outsider”.
Omdat hy hom met sy rug teen die muur bevind, weet hy hoe dit
voel om kronies “beleër” te wees; en hieruit
spruit nie noodwendig vrees en bitterheid nie, maar ’n
mededoë met alle minderheidsgroepe op hierdie aarde. En
humor. Dit is tog wat kabaret op sy kunssinnigste ons bybring,
naamlik dat lag die ultieme oorlewingsmeganisme is.
- As jy terugkyk oor jou oeuvre, ook afgehandelde werk, wat
vertel dit vir jou oor die nog ónafgehandelde? Wat wil jy nog
net so graag skryf soos Bruidsbed en Volmink?
Dis nou tien jaar laas dat ek ’n kortverhaalbundel gepubliseer
het, maar skielik – dis nou al ’n jaar of drie aan
die gang – meld verhale hulle weer aan, talle aangestig
deur biografiese en outobiografiese materiaal. Ek voer historiese
figure ten tonele, soos Ernst van Heerden, Carl Nietzsche, Anna
M Louw, Anthony Sher. Party verhale weer is “protobiografies”,
om William Boyd se term te gebruik. Die ander verhale lyk vir
my na konvensionele kortverhale. Die manuskrip heet ’n
Vreemdeling op deurtog. Dis hoogs twyfelagtig of daar hierna
weer ’n kortverhaalbundel sal wees. ’n Mens besef
op ’n dag dat jou toegemete storievoorraad haas opgebruik
is, en dat selfherhaling dreig. Jy aanvaar dié waarskuwingsinjaal
sonder rancune of selfdramatisering, maar as bloot nog ’n
natuurfeit.
Daar is darem nog een bloemlesing wat ek sou wou saamstel
– ek het trouens al baie tyd daaraan bestee – en
dit heet Die Verlorenes: variasies op ’n Bybelse gegewe.
Pleinweg gestel: die Gelykenis van die Verlore Seun, soos dit
hom in die Suid-Afrikaanse letterkunde aangemeld het. Aan die
prosakant is daar byvoorbeeld William Plomer, Elise Muller,
Zoe Wicomb, Margaret Bakkes. Die oorwig lê agter aan die
poësiekant, van WEG Louw tot by TT Cloete.
Dan is daar die manuskripte wat nog in die pylvak is: my opstelle
oor die kabaret van ’n eeu (Koffer in Berlyn);
my opstelle oor homoseksualiteit in die kunste en die letterkunde
(Op die man af); my aforismes en ander halwe waarhede
(Vlugsout).
Meer as genoeg om my lank onledig te hou.
- Die aantal Afrikaanse boeke op rakke word al hoe minder.
Is daar iets wat ons vergeet, oorgesien het, Hennie? Meer wat
ons wááraan kon gedoen het?
Gemarginaliseerde tale en kulture word in baie lande bedreig
deur die “killer language”, soos Engels tans genoem
word, en Afrikaans voel dit pynlik op verkoops- en akademiese
terrein.
Maar Afrikaanssprekendes het ook self skuld aan die krimpende
aantal boeke in Afrikaans wat jaarliks verskyn. Ek sê
dit weer, en selfs heftiger as vroeër: die Afrikaanse boek
het seker tien maal meer lesers as kopers. Geld is daar nog
altyd vir duur uiteet, vir duur motors, vir duur haarkapsels,
vir duur sportgerei, maar wanneer dit by boek koop kom, stap
gegoede lui na die naaste biblioteek. En as dié oor ’n
jaar of vyf nie meer bestaan of nie meer Afrikaanse boeke kan/mag
aankoop nie? “Te laat” is die bekendste refrein
binne die Afrikaner-kultuur.
Neem die boek na die mense toe, lees voor daaruit, en jy het
skielik kopers, soos die nooit volprese Saterdagse oggende in
die Protea Boekwinkel in Stellenbosch telkens bewys. Onthou
jy nog AM Luyt se ontwerp vir ’n boekereeks, van die ou
Nasionale Boekhandel as ek dit reg het? ’n Man kom reg
te perd op die leser aan, en links en regs van die perd is daar
mense wat gretig die hande uitsteek na die boeke wat hy aan
hulle uitdeel. ’n Boekkultuur blý, volgens my,
die fondament van ’n beskawing.
Skrywers moet weer, soos die reisende toneelgeselskappe van
vroeër, die platteland in bussies invaar en hulself –
en in dieselfde asem Afrikaans – verkoop. Smous op die
markplein is op stuk van sake die oudste, en miskien nog altyd
die effektiefste, vorm van handeldryf.
Aktivering van dít wat daar is – Afrikaans en
sy boeke – dít moet die missie wees van elke Afrikaanssprekende
wat gesteld is op geestesgoedere en -waardes. Teen alle “vuil
geskreeu” in. Of anders gaan gebeur wat Jeremy Taylor
by sy vertrek uit Suid-Afrika voorsien het, dat die Afrikaner,
soos die Boesman, ’n tragiese herinnering in dié
wye en droewe land gaan word.
|
|
<< Back to the main chain
<<
LitNet: 09 May 2006
Have your say! Send your feedback to webvoet@litnet.co.za.
boontoe / to the top
|